Saturday 9 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2003 - Deel 3


Huiswaarts

Van Port Alfred na Johannesburg Langs die Pad van die Groot Trek

Van hier af is ek Port Alfred en Port Elizabeth toe, waar ek agter ander dinge gaan aan-snuffel het vir ‘n week. Port Elizabeth se hoof-museum is ‘n besoekie werd, veral as mens hou van ou skeepskannonne en skeepsmodelle. Ek het met mooipraat en beloftes uitdeel bietjie film in die museum gebrand, totdat ek deur ‘n totale vreemdelik gevra was om asseblief tog ook foto’s van hom te neem. Wat die stomme mens in gedagte gehad het, weet ek nie, want hy sou mos nooit die foto’s weer sien nie? Ek was beslus nie lus om foto’s van ‘n volslae onbekende persoon te loop neem nie. Dis toe dat ek maar met ‘n paar agterdogtige kyke oor die skouer weer weggesluip het terug Port Alfred toe. Die museum het ‘n skeepsmodel van die “Weymouth”—‘n skip waarmee talle van die bekende 1820 families gereis het. Van my voorvaders was op hierdie skip, en ek was baie ingenome om ‘n paar foto’s van die model te kon neem, aangesien ‘n gawe persoon so ‘n klompie maande gelede die skip se logboek vir my gaan afskryf het in Engeland.

Met die terugkom het ek weer langs die Visrivier opgery en gaan kyk of ek op my eie die ou plaas Vanderlindeskraal kon vind. Die pad oor Slagtersnek is nogal ‘n avontuur op ‘n paar plekke, maar dis heel gangbaar mits mens nie te verbouereerd raak wanneer daar lateraan geen padtekens meer is nie. Die plaas kon ek glad nie vind nie, so ek sal maar weer moet teruggaan as ek tyd het. Gideon wou my soontoe vat, maar hy het ander verpligtinge gehad en ek wou hom nie graag daarvan weerhou nie.

Die res was maar bloot ‘n reis van dorpie tot dorpie. Op Cradock kry mens welliswaar nou niks te ete op ‘n Sondag nie, maar dit is regtig ‘n lieflike ou dorp. Johan Pottas moet my maar vergewe as ek ek hieroor my bek rek, maar ek is al die tyd wel ‘n plattelander in murg en been en heeltemal gewoond aan sulke dinge. Mens verwag net dat daar met soveel toerbusse in die dorp, ideaalgewys nog ‘n soort “Ouma se kombuis” sou wees wat afval, gebakte skaapkop, pofadders, blindevinke, souskluitjies en soetpatats sou bedien. Maar dit was my die beskore nie, en meeste moderne siele gril seker deesdae vir sulke kos.

Die enigste verdere voorval was tussen naby Steynsburg toe ek moes stop om sekerlik die grootste bergskilpad wat ek in my lewe gesien het, uit die pad uit te verwyder. Die ou kind van die berge het ewe verontwaardig vir my geblaas toe ek hom wegdra sodat hy nie miskien die volgende motoris se hele verkoeler sou wegslaan nie. Ook sodat die kar wat hom tref, nie dalk die taamlike diep afgronde langs die pad sou intuimel nie. Dis toe dat ek agterkom my kar het iewers met die slaggate se tref, ‘n brandstoflekkasie ontwikkel. Van toe af was dit ‘n gejaag om by ‘n brandstofpomp te kom voordat die tenk leeg was. Al hoe vinniger en vinniger. Tot my ontsteltenis moes ek vind dat Steynsburg nie meer brandstofpompe het nie. Ek is eers later die storie vertel van hoekom die plek nie meer het nie. Tragiese verhaal vir ‘n ander dag, daardie ene.

Op Bethulie kon ek darem met weer die tenk aanvul en gerieflik verder ry tot op Bloemfontein. Die volgende dag het die agenstkap in Bloemfontein so pateties onwillig gereageer, dat ek maar self die lekkasie moes lap en verder aansukkel. Gelukkig kon vriendelike werktuigkundiges in Welkom vir my die probleem sommer vinnig en gratis herstel. As mens die enigste agentskap is wat ‘n ganse stad bedien is die versoeking seker maar altyd daar om diens-standaarde tot ver benede die aanvaarbare norme te laat sak. Dis jammer. Benewens dit was ou Bloemfontein nog altyd vir my ‘n buitengewone aangename en vriendelike stad waaraan ek net die beste herinneringe dra. Die stad brei geweldig uit en heelparty ou landmerke is eenvoudig nie meer daar nie.

By Winburg het ek gestop by die ou Voortrekker bymekaarkom monument waar baie van ons voorvaders op ‘n tyd staanplek gemaak het. My eie voorvaders het byna almal vir ‘n tyd lank by Winburg gaan uitspan om voorrade aan te vul, seile te stop, nawe te ghries, vellings te kort, en alles te doen wat gedoen behoort te word voor mens die volgende been van ‘n lang reis na die onbekende binneland verder sou aanpak. Mens kan jouself maklik voorstel hoe dit moes gelyk het in dae van ouds met dosyne waens wat oral uitgespan gestaan het, en duisende stuks beeste, skape en perde wat die hele vallei volg gewei het. Hier moes saens musiek gemaak gewees het, en tot laat in die nag bespiegel geword het oor ‘n pyp en ‘n beker koffie oor wat die toekoms mag inhou. Ek is seker op ‘n helder maanlig-aand, as mens mooi luister, sal jy dalk nog ‘n paar vrolike note van ‘n konsertina en boereviool kon hoor…

Die museum self is tipies van die jare 60 se verbeeldinglose argitektuur, maar die monument bly darem ‘n interessante landmerk om te besoek. Hoewel dit duidelik verwaarloos is, is daar in die aanliggende museum nog lewe, al is dit maar net-net. Meeste van die uitstallings is verwyder. Of dit deur iets nuuts vervang gaan word, weet ek nie. Omtrent al wat nuut is, is ‘n klein, on-inspirerende uitstalling wat iets te vertel het oor die geskiedenis van Winnie Mandela. ‘n Makabere aanvulling tot Voortrekkergeskiedenis, voorwaar, maar nogtans onweerlegbaar deel van Winburg se stadig-bewegende geskiedenis. 

Die Voortrekkermonument buite Winburg. Elke vleul bevat die naam van ‘n aparte trekleier. In hierdie geval, Andries Hendrik Potgieter.
Wat die stop egter die moeite werd gemaak het, was die feit dat ou President Steyn se geboortehuisie nog daar staan. ‘n Regte ou hartbeeshuisie met misvloere, riet-plafon en dik klipmuure. Met die aankom kon ek nie help om te dink: “Ag, hoe elendig om in so ‘n wind-verwaaide, misrabele ou plekke te moes leef nie.” Tog, as mens die huisie binnekom, val dit jou onmiddelik op dat die atmosfeer buitengewoon vriendelik is. Die meubels is keurig en van goeie kwaliteit stinkhout. Alles dui op wat ‘n baie gelukkige pionierslewe moes gewees het. Van luukshede was daar geen sprake nie, maar ek kon sien dat ‘n mens op so ‘n plekkie kon woon soos ‘n onafhanklike pioniersgees bedoel was om te leef: vry en gelukkig, onaangetas deur die gejaag van  tyd, en ongeraak deur die konstante aanhitsing van eksotiese drome en hoë ideale. Dit is ‘n plek waar mens kon kinders grootmaak. ‘n Waardige plek vir ‘n president om gebore te word. Dit is geen wonder dat President Steyn sy lewe lank ‘n nederige en buitengewoon ordentlike heer gebly het nie. Die hele plek getuig van karakter.

As mens deur Bloemfontein ry is dit die moeite werd om die ou presidensie reg oorkant die magistraatskantore te gaan besoek. Die kontras tussen die twee wonings is baie treffend aangesien die latere presidentswoning ‘n uiters stylvolle gebou is, swierig ingerig en met interessante argitektuur.

Iets wat van meer direkte genealogiese waarde is, is ‘n klein begraafplaas so ‘n 150 meter van die ou presidentshuisie by Winburg. Ek het geen konneksie met die grafte nie, maar het almal maar gaan afneem ingeval dit vir iemand van waarde mag wees. Die name is as volg:

·                     Mattheeuwis Hendrikus Wessels. 11 Julie 1799—10 Mei 1857 naby Winburg.
·                     Gertruida Jacomina (Jacoba?) [onleesbaar verweer] Wessels. (?) Junie 1838(?)—11 Aug 1883.
·                     Johannes Wilhelmus Wessel Wessels. 1 Junie 1818—22 Oktober 1856.
·                     Theunis Cornelus Wessels. 2 November 1835—13 Nov 1891.
·                     Thunis Cornelus Wessels. 29 Jul 1887—22 Augustus 1888. [Kindergraffie]
·                     Cecilia Johanna Wessels. 6 Februarie 1819—20 Augustus 1855.

Wat opvallend is van hierdie grafte, is eerstens die ongewone spelling van die name, en tweedens die feit dat ‘n ster op omtrent die helfte van die grafstene uitgekerf is. Dit lyk baie soos ‘n Ster van Dawid. Mens wonder nou of die familie dalk ‘n prominente ster in hulle familiewapen kon gehad het, en of daar ‘n ander simboliese betekenis kon wees? 
Die geboortehuis van President MT Steyn, net buite Winburg.

Laastens moet ek sê dat dit van die hoofpad af lyk of die voortrekkermonument ongemaklik naby die dorp se groeiende plakkerskamp is. Gelukkig is daar nog genoeg afstand tussen die twee en dit lyk of dit nog heel veilig behoort te wees om hier aan te doen. ‘n Besoek hier van nie baie tyd nie en is beslis iets om aan te beveel vir ‘n reisiger wat lus het om ‘n halfuur lank bene te rek. Wat miskien meer avontuurvol mag wees, is om ‘n besoek aan Winburg se begraafplaas te bring. Die begraafplaas is half omsingel deur ‘n laekostebehuisingskema. Dit lyk nie vir my of ‘n mens sommer sonde goeie rede daar behoort te gaan rondsnuffel nie. Wees dus maar versigtig.

Daarmee was my reis na die Oos-Kaap ook tot ‘n einde. Onthou net die spietkops wat oral langs die N1 naby Winburg sit by daardie geel konstruksie-zone spoed-borde. Hulle vang met kamera’s in die 60, 80 en 100km/h sones en hulle sit sommer so 1, 2 kilometer uitmekaar uit. As ek Freek Bezhuidenhoudt was, sou ek elkeen miskien net daar bygeloop en met ‘n karee tak die loesing van hulle lewens gegee het. Pleks dat hulle die roekelose minibusse in Bloemfontein loop vang wat hulle aan geen wet of reël steur nie, eerder as om toeriste te probeer vang wat geen veiligheidsgevaar kan inhou teen billike spoed nie. In elk geval, ek het dit nie gedoen nie, want ek voel ek is nog te jonk om soos Freek Bezhuidenhoudt in ‘n laaste stand van glorie te moet sterf. Ons sal maar sien of daar later ‘n foto en ‘n spoedkaartjie in die pos aankom.

Al wat ek kan sê is dat ek seker maar ‘n goeie streep van ou Hendrik Potgieter se bloed in my het. As ek die verval moet sien van wat eers ‘n baie goeie platteland infrastruktuur was, en die minagting wat daar vandag vir reg en geregtigheid bestaan, sou ek maklik weer my wa pak en verder trek. Ongelukkig is daar nou nêrens meer om heen te gaan nie. Afrika het bitterlik beknop geword. Al vry wêreld wat oorbly is Antarktika, en ek weet nie of ek nou al reg is om van sneeu en pikkewyneiers te moet leef nie. Miskien later, maar nog nie nou al nie. 

Ooskaapse Reisverslag 2003 - Deel 2


Baviaansvallei na Bathurst en Port Alfred

Op spoor van die Britse Setlaars

Van die Baviaansvallei en omstreke, is ek af Port Alfred toe waar ek meer tyd gaan bestee het aan my ou 1820 Britse voorvaders wat vandag nog ‘n die dorpie Bathurst lê en rus. Daarvan sal ek nie nou veel vertel nie, aangesien meeste GenFormers waarskynlik nie ‘n besonderse groot belangstelling by die Setlaarsgeskiedenis het nie. Wat ek wel mag noem is dat Bathurst ‘n paar interessanthede het wat die moeite werd is om te besoek. Vir diegene wat dink dat die oumense nie ook oud geword het nie—gaan kyk maar in die plaaslike begraafplase. Daar lê een of twee ou tannies wat lag-lag ‘n 100 jaar of meer oud geword het. Mens moet ook maar moeite doen om genoeg tyd heir te spandeer, want die plaaslike mense is vriendelik en as hulle eers begin gesels kom jy nie weg nie.

Daar is ‘n ou boekwinkel (agter in iemand se tuin, langs die grootpad) wat ‘n groot versameling Africana het, en waar ek onbeheerst gaan kwaad doen het. Ook ‘n antieke/snuistery winkel me tdie naam “Pennyfarthing”, waar ‘n ou koper lamp so hard met ope arms gestaan en soebat het dat ek hom moet huis-toe vat, dat ek maar moes ingee. Onthou om hier fudge te koop. Vra vir “Mud Pies.” Ek hou van fudge en het al goeie fudge geniet, maar hierdie fudge is in ‘n klas van sy eie. Dis iets soos R6 ‘n pakkie, maar dis die moeite werd. By die ingang van die dorp is ook ‘n ou landboumuseum wat ‘n redelike goeie versameling ou landbou implimente en masjienerie het. Weereens, maak maar reg vir groot gesels, want die kurators is vriendelik en baie gretig om enige belangstellende alles te gaan wys en alles te verduidelik.

By die dorp se toposkoop het ek heiligskending gepleeg deur vroeg vroeg die oggend bo-op die klip pilaar te klim om 360 grade panorama foto’s te neem. Gelukkig het niemand my gesien nie, behalwe een vrou wat uitgeklim het, baie vinnig rondgekyk het, en toe laat spat het asof sy baie haastig was of groot geskrik het. Daar is een pertinente voordeel daaraan verbonde as mens vroeg by die toposkoop kan opdaag—mens spring op die manier die hordes bedelaartjies vry wat gewoonlik uit die bosse genael kom sodra ‘n motor opdaag. Dan moet jy net keer of jy verloor alles van jou brille tot jou valstande, tensy jy ‘n afkoopsom van kleingeld of toebroodjies betaal. Wees gewaarsku. Ek sien darem iemand het die koper plate wat deur booswigte gesteel was, weer vervang. Die toposkoop, vir die wat nie weet nie, is gebou op die terrein van ‘n ou Britse militêre kamp. Van hier af is die Britse setlaars se plase toegeken en aan hulle uitgewys. Die plek het ‘n pragtige uitsig oor die omliggende gebied.

Die ou Pig & Whistle hotel in Bathurst is intussen ook bietjie opgegradeer. Ongelukkig is baie van die ouwêreldse sjarme myns insiens daarmee verlore, maar miskien moet ek maar eers oordeel wanneer die restaurasiewerk voltooi is. Ek was vertel dat daar tydens die restaurasie ‘n onontdekte kelder onder die vloer van die restaurant gevind is. Daar vind hulle toe ‘n baie, baie ou bottel sjampanje. Ongelukkig was daar ‘n klein gaatjie in die kurkprop en die inhoud het lankal uitgeloop. Dit is jammer. Ek het gehoor dat sjampanje wat baie oud word, uiteindelik in iets taai soos sjerrie verander en wou nog altyd weet of dit waar is.

Die aand toe ek by die Pig & Whistle hotel eet vra die kelnerin my wat ek wil hê. Ek sê toe: “I’ll have what Lord Charles Somerset had the last time he was here.”
Sy kyk my toe so half verslae aan en antwoord: “I’m sorry, I don’t know him.”
Duidelik weet nie almal in Bathurst ewe veel omtrent die dorp se geskiedenis nie. Die kelnerin vra toe waar ek vandaan kom en ek antwoord dat ek van Johannesburg kom—broeiplek van elke sonde wat in die Goeie Boek genoem word, plus nog ‘n hele paar wat die mense vir hulleself gaan uitdink het. Sy sug toe en sê sy is op Bathurst gebore, het daar skoolgegaan, was vir ‘n kort rukkie weg, en nou is sy weer terug. Sy murmereer toe ewe mankoliek ‘n grafskrif vir haar klaaglied: “And nothing EVER happens here!”
Dit kon ek sien, maar oor haar versugting na die liggies van die stad kon ek maar net stilweg prewel: “Poppie, jy moet oppas waarvoor jy wens. Die Chinese het ‘n gesegde wat sê: ‘Oppas waarvoor jy wens—want wense word soms wel waar…’”

Ewenwel, die maaltyd van medium-gaar bestelde biefstuk wat toe baie gaar bedien was, was aangenaam en die nagrus was omtrent dieselfde, ten spyte van sterk wind wat alles geskud het en takke van die bome afgeruk het. Onthou net om gebottelde water saam te bring Bathurst-toe. Die plaaslike kraanwater lyk soos flou rooibos tee en nie eers die inwoners wil dit drink nie. Eet ook maar vroeg, want na 8-uur in die aand verander Bathurst soos enige opregte plattelandse dorpie in ‘n spookdorp wat byna niks verskil van die tyd toe hy gevestig was nie, 184 jaar gelede.

Ooskaapse Reisverslag 2003 - Deel 1


Reisverslag: Besoek aan die Oos-Kaap


Winburg Voortrekkermuseum; Somerset-Oos; Baviaansriviervallei; Tarkastad; Cradock; BathurstPort Elizabeth

Oktober 2003 

My safari op die voetpaaie van die verlede was ongelukkig so bietjie verkort deur werksverpligtinge, maar ek het nogtans minstens een doelwit gehad op my reis: ek wou graag sien of ek Freek Bezhuidenhoudt van Slagtersnek-faam se buurplaas kon vind. Hoewel ek nie kon uitvind wat die plaas se naam was nie, weet ek darem dat dit is waar my tak Labuschagnes gewoon het tydens die Slagtersnek gebeure, en die jare net voor die Groot Trek.

Met die hulp van vriendelike GenFormers het ek met ‘n klein bietjie van ‘n ompad by ‘n baie behulpsame persoon uitgekom wat vir my as gids sou dien. Ek was baie dank verskuldig aan Gideon de Klerk, ‘n boer woonagtig langs die Cradock-Cookhouse pad, wat bereid was om my te gaan rondwys in die omgewing. Gideon se pa was vroeër bekend as ‘n redelike kenner van plaaslike geskiedenis. Wat baie interessant is, is die feit dat Gideon se pa in 1930 begin dagboek hou het, en nooit ‘n enkele dag gemis het nie. Na sy sterwe het Gideon die gebruik voortgesit, sodat hulle nou ‘n onafgebroke daaglikse rekord het van gebeur in en om die omgewing, wat oor ‘n goeie 74 jaar strek. Ook reënval rekords. Die De Klerk familie woon ook al sedert 1871 nog op dieselfde plaas.

Om met Gideon te kon gesels oor sy familiegeskiedenis en die interessante lewe wat hy en sy pa gehad het, was opsigself ‘n belewenis. Alhoewel ek nie eintlik De Klerk konneksies in my familie het nie, was dit vir my aangrypend dat ons binne 15 minuute gevoel het of ons nog al die jare buure kon gewees het. Dit is asof die skeiding van meer as 160 jaar byna nie getel het nie, want ons praat nog steeds dieselfde taal, het dieselfde waardes en norme, dieselfde gewoontes, en min of meer dieselfde uitkyk op die lewe. Wat ook interessant is, is die feit dat dit wil voorkom asof die boere in die omgewing tot ‘n mate ook maar weer sit met die tipe probleme wat ons voorvaders in die vroeë 1800’s gehad het—tewete ‘n ekonomiese en politieke klimaat wat vir boere maar redelik onvriendelik is.

Gideon was so vriendelik om my persoonlik na die plek van die Slagtersnek teregstelling te neem sodat ek kan foto’s neem. Die monumentjie is baie naby aan Cookhouse, maar daar is groot padwerke en die plek is nou so onopvallend dat mens die afdraai byna nie sal raaksien tensy jy weet om daarvoor te soek nie. Ek mag dalk noem, vir die rekord, dat mens moet onthou dat die plek van teregstelling stengesproke nie eintlik die ware “Slagtersnek” was nie. Heelwat mense besef dit nie eintlik nie. Slagtersnek is ‘n hele klompie kilometer hoër op in die Visriviervallei. Dit is waar die handelaars van die kus-omgewing gewoonlik die plaaslike boere kom ontmoet het om slagveë van hulle aan te koop. Hoekom die spesefieke terrein vir die teregstelling gekies was, weet ek nie eintlik nie. Dit is maar bloot ‘n oop stuk aarde met ‘n goeie uitkyk oor ‘n draai van die Visrivier, en ‘n ou plaas wat in daardie dae as “Van Aardspos” bekend gestaan het.

Slagtersnek monument naby Cookhouse. In die agtergrond kan geboue by Van Aardspos gesien word, in 'n bog van die Visrivier. Dit is hier waar die rebelled publiek opgehang is deur die Britse owerhede.
Gideon het my hier vertel hoe die tereggesteldes moes bymekaarkom vir die voltrekking van vonnis. Theunis de Klerk, wat aan Gideon se familie verwant was, se seuntjie het nogal vooruit getreë om sy pa vir die laaste keer te groet. Toe word die sein gegee, en die veroordeeldes word laat val, net om die grond te tref toe die toue breek. Desnieteenstaande die antieke ongeskrewe regs-beginsel wat bepaal dat ‘n gebreekte tou as ‘n teken van onskuld beskou word, is nuwe toue egter laat. Sonder verdere seremonie is die arme manne nogmaals weereens opgehang—hierdie keer vir die laaste maal.

Dit is interessant as mens daaraan dink dat die breek van hierdie toue so ‘n dramatise draaipunt in ons geskiedenis kon veroorsaak het. Was dit nie daarvoor nie, kon die gebeure by Slagtersnek moontlik maklik in die geskiedenis vervaag het as bloot nog ‘n voorval waar ‘n korstondige rebellie betyds ontlont is. Die ophang na die breek van die toue, was egter in baie opsigte ‘n tipe katalis—‘n soort vonk wat ‘n kruitvat van baie ander ongelukkighede aan die brand gesteek het. Soos baie historiese wendings het die volksverhuising wat later plaasgevind het waarskynlik gekom as die sameloop van baie verskillende gebeurtenisse, maar wat my persoonlik aanbetref was Slagtersnek die simboliese plek waar die brug van potensiële versoening finaal verbrand is.

By die monument is daar vir my ‘n misterie opgelos waaroor ek al jare gewonder het. Gideon vertel my dat die balk waaraan die veroordeeldes opgehang was, uiteindelik in een van die geboue op Van Aardspos ingebou was. Ek het wel geweet dat die balk na bewering in 1896 laat haal is met die doel om die rebelle van die Jameson inval daaraan op te hang, maar ek het nog nooit kon uitvind wat toe van die balk geword het nie. Al wat ek geweet het was dat die balk op die ou end in die naam van versoening, nooit vir die beplande doel gebruik was nie. Gideon kon toe aan my vertel dat die balk op die ou end iewers in ‘n pakkamer in Kaapstad opgeespoor is. Daar word blykbaar nou onderhandel om die balk hopelik te kan terugkry om in die Somerset-Oos Museum te bewaar.
Inskripsie op Slagtersnek monument 

Vervolgens het ons die kronkelende paadjie wat langs die Baviaansrivier na Glen Lynden lei, gaan opsoek. Hierdie was die vallei waar so baie van ons gemeenskaplike voorouers gewoon en gewerk het. Dit was baie anders as wat ek my voorgestel het. Ek het welliswaar die vallei gesien ten tye van een van die swaarste droogtes in jare, maar ek kon myself nogtans beswaarlik indink hoekom die trekboere juis hier wou kom woon het. Dit wou tog voorkom asof daar veel meer landbou-vriendelike gebiede sou gewees het om van te kies. Tog moet mens seker onthou dat die streek al reeds van vroeë tye af trekboere moes onderhou en met hulle groot troppe en baie kinders moes die boere groot plase hê. Die uitsoek-grond langs die Visrivier was sekerlik gou afgebaken, en die laatkommers moes seker maar die berge invaar om ‘n heenkome te vind. Die berge rondom die Baviaansvallei sou egter natuurlik ook darem ‘n mate van skuiling bied, sowel as ‘n bietjie hoër reënval van plek-tot-plek. Dit alles moet faktore gewees het wat die rustelose pioniersharte bly aantrek het.

Soos mens die vallei dieper invaar, word mens geleidelik al hoe dieper omvou deur ‘n gevoel van totale vreedsaamheid wat gebore is uit die stille afsondering en natuurskoon van die ou klip-hange. Na die stormagtige jare wat sommige boere onder Britse administrasie ondervind het, moes die vallei moontlik so bietjie soos ‘n Bybelse Petra gevoel het—‘n veilige hawe waar die Engelse hulle nie maklik sou kom pla nie. Ongelukkig het dit natuurlik spoedig geblyk dat hierdie gevoel eintlik ‘n valse gerusstelling was, want veediefstal en burokrasie het soos ‘n slegte spook kort op hulle hakke bly volg, maak nie saak hoe ver hulle getrek het nie.

Naby die begin van die Baviaansvallei maak die pad ‘n skerp draai tussen lieflike kranse deur, beskilder met antieke swart vlekke, en behang met gordyne van spekboom wat ‘n sukkel-bestaan teen die droogte voer. In hierdie ellemboog staan ‘n vreedsame klein roubaksteen huisie, wat voor die Groot Trek glo die woonplek was van Groot Willem Prinsloo. Hier, volgens Gideon, het die Skotse settlaars gestop om kennis te maak met die boere met wie hulle die vallei vir baie, baie jare sou deel. Hier ook, het Willem Prinsloo die moë reisigers verwelkom met lemoene, pampoene en ander ander voedsel uit sy landerye. Die ou huisie blyk nog relatief goed bewaar te wees.


Die huisie van Groot Willem Prinsloo met die Baviaansrivier wat tussen die huis en die pad verby vloei. Hier het Groot Willem die Skotse Setlaars verwelkom met groente en lemoene uit sy landerye.

 Van hier af kronkel die pad male sonder tal heen en weer oor die rivier. Die vallei herinner nogal baie aan die Ohrigstad vallei naby Lydenburg in die ou Transvaal. Die veld het vir my redelik oorbewei voorgekom, maar ek is nie ‘n kenner van Karoo-veld nie, en Gideon het my verseker dat dit eintlik nie in so ‘n slegte toestand is nie. Wat wel seker is, is dat die moderne boere daar, ook maar stadigaan begin agteruit boer. Die Baviaansrivier is vandag slegs ‘n small sand-stroompie, en meeste van die ou landerye staan in onbruik. Die pragtige Kaaps-Hollandse herehuis wat ‘n tak van die Pringle familie gebou het, lyk half-verwaarloos, en mens moet verbeelding gebruik om vir jouself die swierige partytjies voor te stel wat een op ‘n tyd glo daar gehou was. Met die verby ry kon ek nie help om te dink aan ‘n reëltjie uit ‘n ou Anton Goosen liedjie: “Flink draf die slawe om almal te verwelkom…” Ek moes glimlag, want mens kan dit vandag nog maklik voorstel—die geknars van spaaider wiele op die gruis, gewillige hande om wit-gepoeierde dames met kan-handskoene en kalfsleer skoene uit die rytuie te help. Manne met tartans, lang wit kouse, en breë Skotse aksente in skelle kontras met die Afrika-verbrande bruin pioniersvelle.

Nie ver na die ou Pringle herehuis nie, loop die Seekoeirivier min of meer na die noorde. Dit is hier iewers, waar ek vermoed, die plaas van ou Frans Labuschagne kon gewees het. Ongelukkig weet niemand daar van ‘n plek met die naam “Zeekoegat,” wat moontlik die oorspronklike woonplek sou gewees het nie. Die rooi en wit rigtingwysers op ‘n paal lees soos ‘n kosmopolitaanse spyskaart: “HK van Dillen—Ven Grove, 19km. CH Moolman—Belmont, 13 km. WD Pringle—Fair Holt, 5km.”

‘n Entjie verder is Freek Bezhuidenhoudt se ou plaas. Freek se graf is nog afgekamp, maar die hek wat daarheen lei word byna heeltemal versper deur opslag doringboompies. Mens sal dit waarskynlik mis as jy nie weet waarna om te kyk nie. Naby die graf moes sy ou opstal gewees het, maar presies waar weet niemand nie. Daar is vandag nie eers meer ‘n teken van ‘n kraal, ‘n ashoop of ‘n fondasie nie. Dit is asof selfs die tyd saamgesweer het om alle rekord van hierdie moeilike en eiesinnige man te probeer uitwis.
Die graf van Freek Bezhuidenhoudt. Volgens Gideon de Klerk is die gevoel dat Freek se oorspronklike postal min of meer in die omgewing van die graf moes gewees het.

Dat Freek Bezhuidenhoudt waarskynlik nie ‘n gesogde karakter was soos gemeet aan algemeen aanvaarbare sosiale standaarde van die tyd nie, blyk relatief seker te wees. Hy was duidelik nie ‘n man wat hom aan gesag of konvensie gesteur het nie. Dit kan mens aflei aan die feit dat hy nie wettiglik getroud was nie, nie sy kinders laat doop het nie, en uiteindelik heel gemaklik saam met ‘n kleurling hou-vrou gewoon het. Nogtans, moet mens seker ook besef dat tye toe anders was. So maklik as wat dit vandag is om Freek te kon wegmaak as ‘n onnosele rebel met ‘n roekelose hart en ‘n dwase verstand, kan mens hom seker ook uitbeeld as ‘n selfstandige Boere-cowboy wat nog altyd net homself gehad het om op te vertrou, en wat sy plekkie in die wêreld met kaalhand en snaphaan alleen moes oopveg. Waarskynlik was hubare vrouens skaars, en van die wat daar was, sou baie waarskynlik nie in die eensame afsondering van die berge wou gaan woon het nie. Miskien was ou Freek en sy baster familie heel gelukkig. Dit is half moeilik om sy omstandighede voor te stel.

Ten tye van die Slagtersnek gebeure was my ou voorvader, Leendert Labuschagne, en ‘n Erasmus seun werksaam by Bezhuidenhoudt. Die ou landerytjies is nog daar en mens kan jou voorstel hoe die seuns waarskynlik die skape uit die lande moes hou, of moes help ploeg of oes. Leenderd was die tweede jongste uit ‘n groot familie, en dit mag wees dat daar kommer was oor hoe hy en sy jonger broer eendag ‘n lewe sou moes maak, gegewe die feit dat grond al skaars moes gewees het. Min het hulle geweet dat sy lewenspaadjie uiteindelik Transvaal-toe sou lei.

Die dag toe die gereg vir ou Freek uiteindelik na vele waarskuwings en dreigemente kom haal het, het my voorvader Leendert en die Erasmus seun onverklaarbaar verdwyn. Mens kan maar net raai dat hulle ouers, wat Freek se berugde humeur goed sou geken het, lankal gewaarsku het dat hulle nie in sy driftige avontuure betrokke moes raak nie. Sonie, het hulle miskien eenvoudig nie die hart gehad om op jeugdige ouderdom ‘n goed-gewapende oormag goedsmoeds storm te loop vir ‘n saak wat baie maklik vreedsaam geskik kon geword het nie. Natuurlik moes Freek hom seker nie verset het nie, maar daar is altyd twee kante aan ‘n saak. Eers nadat ek self daar was kon ek verstaan hoekom Freek geweier het om bloot op aandrang van die outoriteite Graaff-Reinet toe te reis. Dit moes ‘n geweldige reis gewees het in daardie dae. As Freek werklik gepla was deur rumatiek, soos hy beweer het, kan mens begryp waarom hy geen lus gehad het om op ‘n tog wat seker twee of drie weke sou geduur te moes gaan.
Monument by die plek waar Freek Bezhuidenhoudt gesneuwel het. In die agtergrond is landerye wat waarskynlik oorspronklik deur Freek en sy helpers self bewerk was.


Gideon was jare lank baie betrokke by die Voortekker jeugbeweging en vertel hoe hulle as kinders elke jaar die Slagtersnek gebeure daar gaan naboots het. Ten aanskoue van al die ouers wat op Dingaansdag daar kom uitkamp het, het hy en sy maats dan al skietende die rivier op gevlug langs dieselfde roete wat Feek en sy baster-seun, Hans, sou geneem het. Gideon was gewoonlik Freek—die held in die hele verhaal.

By die klipskeur het almal dan met loskruit Martini-Henri’s geskiet (dit moes eintlik pangewere gewees het), totdat Freek dan kastig deur ‘n klip of wegskrum-koeël teen die kop getref was, en dood neergeslaan het. Die klipskeur waar Freek geskuil het, is nogal interessant en dit lyk heeltemal anders as wat mens jouself uit die geskiedenisboeke voorstel. Dit was nie ‘n watwonderse skuiling nie en Freek moes geweet het hy stry ‘n hopelose stryd. Hy was egter duidelik nie bang vir die dood nie, en het dit waarskynlik verkies bo die vernedering van ‘n geregtelike verhoor. By die klipskeur is ‘n klip monument opgerig wat weereens, maar baie swak sigbaar is van die pad af. Die bordjie is lankal verroes en verblyk sodat min mense dit seker sal raaksien.
Die klipskeur waarin Freek Bezhuidenhoudt homself verskans het tydens die geveg. Van bo af kon klippe maklik in die kuiling afgegooi word, soos die foto aantoon.

Op dieselfde pad kom mens uiteindelik by die veel-beroemde Glen Lynden kerk uit. Ek het nie geweet nie, maar daar is eintlik twee. Die ou oorspronklike een, soos gebou deur die Skotse setlaars, en die veel groter en meer indrukwekkende nuwe een. Dit is interessant hoe die geskiedenis maar telkens herhaal. Aanvanklik het die Skotte die kerk vir hulleself gebou, en toe die Boere uitgenooi om maar te kom deel aangesien hulle tot ‘n groot mate dieselfde uitkyk op basiese geloof gehad het. Later het hulle die kerk vir die Boere gegee toe hulle ‘n nuwe kerk op Bedford gaan bou het. Jare later is die kerk aan ‘n swart gemeente oorgedra, en toe die gemeente te klein gekrimp het, het die plaaslike boere dit terug ontvang en gerestoureer. Die plek word nog relatief goed onderhou, danksy die belangstelling van mense soos Gideon en andere.
Die ou, oorspronklike Glen Lynden kerkie. Die Afrikaanse inskripsie op ‘n brons gedenkplaat teen die muur lees as volg: “OU GLEN LYNDEN-KERK. Deur die invloed van Thomas Pringle het die regering heirdie kerk in 1828 gebou vir die Skotse Setlaars en hul Hollandse bure. In 1899 het dit ‘n Nederduitse Gereformeerde Kerk geword. Opgerig deur die Historiese Monumente-Kommissie.”

Elke jaar met Geloftedag word die ou traporrel nog op Bedford gaan haal, en dan hou die volk weer ‘n diens in die ou kerk, maar behalwe dit staan alles maar leeg. Die ou pastorie wat op sy dag ‘n mooi groot huis moes gewees het is nou ‘n murasie. Die ou De Klerk nagmaalhuis is die enigste een wat nog staan. Die Baviaansrivier, waar ‘n Engelssprekende seuntjie volgens een van die grafstene aldaar verdrink het, vloei amper nie meer nie. Net die strepe teen die kranse langs die rivier vertel nog hoe ons voorvaders, en ook Gideon en sy maats toe hulle klein was, op aalwynblare die styltes afgegly het. Na die tyd was die broeke en knieë natuurlik stukkend en as die oumense van nagmaal af teruggekom het, dan was daar slae uitgedeel en spoeg aangesmeer. Vandag nog sit daar sulke lang, vaal strepe teen die skuins kranse af—die glimlag-wekkende getuienis van meer as twee honderde jaar se kinderpret. 
Die "nuwe" Glen Lynden kerk, na onlangse restaurasie. 

Die graf van die seuntjie wat verdrink het, lê tussen die Glen Lyden kerke en die Baviaansrivier, vlak langs die grondpad. Dit is ‘n klein ommuurde familie kerkhoffie wat effens verwaarloos is. Die grafstene is egter mooi leesbaar en ek het van elkeen ‘n foto geneem. Mens kan maar net wonder watse storie agter hiedie familie se name skuil. Die inskripsies is as volg:

·                     In Affectionate rememberance of Alexander Mitchell Webber eldest of John & Hendrietta Webber who died at Glen Lynden 16th of Novermber 187(?) aged 13 months & 4 (?). [Nog ‘n ekstra lyn op die grafsteen ontbreek. Inskripsie was obskuur deur dooie plantegroei.]
·                     In loving memory of Millicent Ann Webber beloved wife of B.M. Webber who died in her 57th year at Avondale 8th June 1902.
·                     In loving memory of Benjamin Mitchell Webber beloved husband of M.A. Webber, who died in his 47th year at Glen Lynden 2nd April 1893.
·                     In loving remembrance of William Nash son of B.M & M.A. Webber who was drowned while bathing at Glen Lynden Tuesday 20th January 1880 aged 10 years and 3 months. He loved Jesus. [Hierdie graffie is versier met ou seeskulpe].

Volgens Gideon is twee van die Skotse predikante van Glen Lynden, binne die kerk self begrawe, maar ek weet nie wat hulle name was nie.

Hier, in hierdie stil, ver-verlete, maar pragtige vallei, moes baie gelukkige ure oor baie geslagte deurgebring gewees het. Dit is jammer dat alles vandag, na soveel jare van lief en leed, weer deur die stilte van die berge en die eensaamheid van geskiedenis wat besig is om toegewaai te word onder die sand van tyd, teruggeneem word. En tog, miskien is dit paslik. ‘n Waardige uur in die geskiedenis van ons voorvaders se plek van herkoms. Moontlik die laaste uur, want wie nog na Glen Lynden sal omsien na hierdie geslag verby is, kan ons maar net raai. Met die treurige plattelandse verval wat oral te sien is, mag Glen Lynden eendag dalk net ‘n reeks ou, toegegroeide fondasies langs ‘n pad vol slaggate wees. ‘n Pad wat vandag nie eers meer behoorlik op landskaarte aangedui word nie. So maak die tyd maar met die werke van mensehande.

Die pad wat deur die Baviaansvallei kronkel loop van hier af soos ‘n stowwerige slang oor die droë, skurwe berge tot waar die Pringles se nasate vandag nog woon. Hier was ek al vantevore, en dit is ‘n pragtige gebied wat my baie geval. Meer suurveld, beter reënval, en duidelik ook heelwat kouer in die winter. Uiteindelik—na baie verlate kilometers waar mens beslis nie wil hê jou motor moet breek nie, kom die pad weer by Tarkastad uit.

By Tarkastad het ‘n hele klomp van my Labuschagne familie gewoon. Een van die groot familienedersettings was op Bezuidenhoutskraalmond, ‘n plaas wat net-net noord-oos van die dorp geleë was. Ek het daar verby gery, maar kon nie so ‘n plaasnaam sien nie. Dit was al laat en die inligtingsentrum op Tarkastad was al toe, so ek kon ongelukkig nie verdere inligting bekom nie. Ook Honingrivierkrans, nog ‘n Labuschagne plaas, het my ontglip. Tarkastad se weiding is heelwat anders en dit lyk of dit goeie bees-wêreld moes gewees het in dae van ouds. Daar is heelwat meer gras, en in Voortrekkertye mag dit dalk wees dat gras meer dominant was as Karoo bossies. Soos dit vandag is, ly die gebied onder droogte en grootstkaalse oppervlakte erosie. Dit is seker maar die gevolg van jare se boerdery sonder ‘n kampstelsel, en na dit, waarskynlik jarelange oorbeweiding tydens tye van droogte.
Tarkastad in die laat-middag

As mens van Tarkastad af terug Cradock toe ry, kom mens agter dat die berge rondom die Baviaansvallei basies soos ‘n onherbergsame swart eiland in die verte lê—‘n soort misterieuse landmerk wat sy inwoners verwelkom het, en ‘n waarskuwende vinger vir vreemdelinge sou gewys het. Van Queenstown, verby Tarkastad, links af by Cradock, en al die pad verby Cookhouse, weer links na Bedfort en Adelaide loop die pad. Dit omsingel as’t ware die dreigende donker kol berge en klowe waar die Trekkers van ouds gewoon en geleef het. Ongelukkig sou niks die aanslag van politieke geweld, roofsug en tyd kon weerstaan nie, hoe veilig die berge rondom die Baviaansrivier ookal voorgekom het.

Die besoek aan die Baviaansriviergebied was in baie opsigte werklik merkwaardig en oor en oor die moeite werd. Vir een ding, het ek baie geniet om Gideon de Klerk en sy aangename familie te ontmoet. Hy het ‘n ou stamboom van De Klerks, en is altyd gereed om in sy ou geskiedenisboeke of die talle geskiedkundige geskrifte wat sy pa nagelaat het, te gaan soek na antwoorde op vrae. Gideon is ‘n boer van die ou skool, maar nogtans ‘n man met ‘n moderne visie en ‘n self-denkende geaardheid. Die tipe mens wat ons pa’s en oupa’s eens op ‘n tyd was. Dit sal ‘n treurige dag wees as daar eendag nie meer sulke hartlike, gasvrye ou Afrikaners sal wees nie.

Op die dorpie Somerset-Oos het ek oornag in ‘n gastehuis van ‘n buitengewoon-vriendelike tandarts, Dr. Archer. http://www.somerseteast.co.za/archer/ Met Archer, kan mens sit en gesels oor skilder-kuns, fotografie, en tuinmaak tot die hane kraai en dit het ek wel ook gedoen. Ek sal nie huiwer om enigiemand aan te raai om van die Archer gastehuis se akkommodasie gebruik te maak nie. Archer het, interessant-genoeg, in sy tuin ou kaktusse wat al by die 40, 50 jaar oud is en wat hy van klein plantjies af versorg het. Ek het nog nooit sulke enorme kaktusse gesien nie. Party van hulle is so groot soos ou brandewynvate. Diegene wat van plante hou, sal Dr. Archer se geselskap bepaald baie geniet. Tussen al die gebraat deur oor Cotolydons en Mesymbrianthenums gaan tyd egter vinnig om en mens moet jouself behoorlik wegsleur uit Somerset-Oos uit. Ek kon ongelukkig nie tyd inruim om die museum, Walter Battis kunsgallerei, en ander historiese landmerke te gaan besoek nie.

Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 8


En so eindig my besoek aan Bokpost. Die volgende dag is die Karoo koel, stof-loos en vars gereën. Dis absoluut lieflik—soveel so dat ek maar vir oulaas nog ‘n draaitjie onder by die skaapkrale gaan stap. Ver in die Noorde, anderkant die skurwe ysterklipkoppies lê Johannesburg se betonkranse soos rokende berg Moria uit Lord of the Rings. Ek trek behoorlik hoendervel aan die gedagte. Maar dis nou maar eenmaal huis, en ontsnapping van die lewelose plek kom nie sonder sy eie prys nie. Na ‘n laaste groet en beloftes om stamregisters en informasie uit te ruil, trek ek maar weer oop na die N1 toe. Maar op die laaste kry ek dit nie oor my hart om dadelik al op die teer te klim nie. Ek vat sommer ‘n kans en draai links op ‘n onbekende grondpad in wat op die kaart lyk of dit waarskynlik iewers vorentoe weer by die hoofpad sal aansluit. Vir oulaas sit en wonder ek nog hoe dit sal wees om hier te woon. Wat dit sal verg. Dis moeilik om die prys te bereken, want dis ‘n baie onbekende omgewing. Maar dis die moeite werd om daaroor te bly dink, besluit ek.

Die pad Noorde toe...
Wat kan mens van die grootpad noorde toe sê? Dis lank, reguit—en vol spietkops. Bloemfontein lê regs soos ‘n ou vriend, maar ek salueer maar in die verbygaan en druk verby. Ek kan nog twee dae rond ploeter as ek wil, maar mens raak partykeer sommer skielik ongeduldig en dan wil jy voor sononder by die huis wees. Dis Vrydag en as ek vroeg by die huis kom, dan is daar darem nog twee dae se rus om weer tot verhaal te kom en te kyk of Elvis toe mooi geluister het en op die ou end nie die goudvisse vrek gevoer het nie—soos tog al te maklik kan gebeur nie. Daar is ‘n paar honderd kilometer se dinkwerk op die teer—rustige uure van refleksie in die tydmasjien van die verbeelding wat geen grense van tyd hoef te gehoorsaam nie. ‘n Vrugtevolle vakansie is verby, maar ek dink al reeds aan die volgende een. Daar is nog twee plase naby Tarkastad wat ek moet gaan vind. En ‘n ou tante in Colesberg wat ek wil gaan opsoek. Nog ‘n dag op Bokpost… En wat nog? Daar sal altyd iets wees. Die beendere van ons voorvaders roep en as jy oor eers ingestel is daarop, sal mens aanhou terugkeer totdat jy elke enkele een van hulle gevind het—of self by hulle geledere aansluit. Dit is eintlik darem maar ‘n reuse voorreg om so ‘n vervullende sin van identiteit te kan bekom deur die kennismaking met diegene wat voor ons hier was.

Skielik besluit ek dis tyd vir musiek. Ek voel-voel onder dit sitplek rond. Ek het iewers langs die pad ‘n nuwe CD gekoop en skielik wil ek gou weer na die woorde luister. Na ‘n lang gesukkel vind ek hom en hy gly geruisloos die paneelbord in. Ja, dis wat ek wil hoor—Theuns Jordaan wat sug oor iets wat hy in die Karoo moes agterlaat:

Maar ek het gedroom hoe ons in Beaufort Wes gaan woon
En ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie
Nie meer so iets doen nie.. 

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 7


Die oggend breek mildelik aan in Colesberg en ek besluit om eers die dorp te gaan verken eer ek verder gaan. En terwyl ek stadig tussen die statige ou huise deur ry suig die dorp my gedagtes meer as ‘n eeu terug na ‘n helder-mooie Sondag toe ‘n jong koloniale Rebel met die naam van Willie Louw, op dramatiese wyse na sy dood geneem was deur dieselfde strate. Adriana Henrietta Johanna Kolbe, oftewel “Dana” soos haar familie haar genoem het, was maar twintig jaar oud en verloof aan die jong koloniale rebel en 30-jarige seun van Ds. A.A. Louw. Dit was 23 November 1901, ‘n soel sonskyn dag toe die Britse soldate Willie Louw op ‘n karretjie voor sy jong verloofde se huis verbygetrek het. Vir oulaas het hul oë ontmoet, en waarskynlik het Willie se hand in laaste saluut opgegaan terwyl sy die liefde van sy lewe in haarself aan hartstogtelike weemoedigheid oorgegee het. Sy het Willie Louw nooit weer gesien nie. Daar word vertel dat toe die salvo lostrek, die weer op dieselfde tydstip gedreun het, sodat die skote gedemp geword het. En onmiddellik daarna het die helder lug toegetrek en het die hemele geween oor die vergieting van die kosbare bloed van nog ‘n jong Afrikaner held. Willie Louw se verhaal sal vir altyd onthou word soos dit opgeteken was in “Hoe Zij Stierven.” Maar ook sy verloofde sou hom nooit vergeet nie. Hoewel sy uiteindelik wel getrou het, was Willie Louw die enigste ware liefde van haar lewe wat sy ooit sou ken. In 1965 toe sy haar laaste asem uitgeblaas het, is ‘n doos sjokolade bo in ‘n hangkas van Dana se slaapkamer ontdek. Die sjokolade was al tot stof vergaan, mar dit was toegebind met ‘n rooi lint, en binne in was ‘n briefie wat gelees het: “Aan Dana, met al my liefde—Danie.”
'n Verposing nie ver buite Colesberg

Dit was ‘n tragiese verhaal—byna Shakespearies van aard. Snaaks genoeg, die jare het sonder inspanning teruggerol sodat ek in verbeeldingsvlug vir oulaas vir Willie Louw op sy laaste tog deur die strate kon sien. Mens het baie gedagtes wanneer jou pad die voetspore van so ‘n romantiese verhaaltjie kruis. Dit het my getref dat as mense ooit van my die mooi woorde moet sê wat van Willie Louw gesê was by sy heengaan, dan sou ek ‘n buitengewone lewe gelei het. Willie Louw was nie net populêr nie. Hy was ‘n beminde mens gewees. In sy tronksel het hy as gehoorafwagtende sy besoekers verstom met sy buitengewone sielevrede. Hy het hom besorg oor ‘n drankverslaafde wat in die sel langsaan gelei het. Met sy wagte het hy die stand van hulle geloof bespreek, en voor sy laaste groet het hy nog gevra dat daar aan sy bewaarders ‘n mandjie vrugte gestuur sal word wanneer dit ryp was. Sulke mense is skaars op aarde. Sulke harte is goud in die bodem van ons land—en waar syne rus in die stil ou begraafplaas op Eenzaamheid, nie ver van Gary Player se plaas nie, wag hy rustig op die laaste basuin—rustig in die wete dat hy as ‘n ou bekende vriend verwelkom sal word. En so dink ek toe weer aan arme ou Tant Dana wat ek nooit geken het nie. Sonder enige kinders het sy haar rykdom gelaat vir die stigting van ‘n ouetehuis op Wakkerstroom. En daar sal haar naam ook onthou word in die “Dana Tehuis,” waar my ouma sopas haar intrek geneem het, ‘n kort skaduwee van haar negentigste verjaardag af.

Colesberg se NG kerk
Colesberg het mooi ou huise en ‘n pragtige kerk wat die ganse hoofstraat bewaak. Ek maak ‘n stop by die kleiner ou begraafplaas langs die straat en loop elke graf vinnig deur op soek na bekende name wat ek vir my genealogiese vriende kan fotografeer. Tyd om die nuwe begraafplaas te ondersoek was daar ongelukkig nie. Daar is heelwat Britse grafte in die kerkhof en nie regtig iets wat my besonders interesseer nie. So met die terugstap merk ek egter ‘n ou verroeste perdeskoen op en ek buk om dit op te tel. Met ‘n glimlaggie herinner ek my aan die oorsprong van die gebruik om ‘n perdeskoen, hol-kant na bo, teen die voordeur vas te spyker. Die oumense het gesê dis vir geluk, maar ‘n ouer storie het vertel dat dit gedoen was om die huishouding teen hekse te beskerm. Volgens die verhaal het hekse ‘n nimmer-eindigende fassinering met wiskunde en somme maak. Wanneer ‘n heks ‘n voordeur nader om te kom kwaad doen, en sy sien ‘n hoefyster vasgespyker, kan sy glo nie haar nuuskierigheid bedwing om uit te vind presies hoeveel spore die hoefyster al getrap het nie. Dan draai die heks om om eers al die spore te gaan tel, en gewoonlik hou dit haar die hele nag besig tot sy met sonsopkoms weer na huis moet keer. En so moet die heks elke nag weer van voor af begin totdat sy naderhand opgee. Ek het die hoefyster maar in my kar gaan gooi as ‘n ou herinnering aan Colesberg, waar my voorvaders se voetspore ook half-vergete lê onder die waaisand van tyd.

Die bekende Colesberg koppie
Na ‘n kort stoppie om Colesberg se koppie af te neem, en ontbyt by die BJ’s restaurant, wat vir my al ‘n jarelange tradisie geword het, draai ek die motor se neus reghoekig teen die pad van die son, en bekruip die Oranjerivier vanuit die Suide. Die pad is stil en sonder verkeer, maar die hobbels en ongelyke oppervlakte herinner mens nogmaals op die verval van infrastruktuur wat die kanker van ons platteland geword het. Ek het nog altyd ‘n effense treurigheid gevoel om ou Grootrivier oor te steek, en so ook moes ons voorvaders gevoel het toe hulle in die 1830’s hulle land vir goed verlaat het. Dit laat my so terugdink aan hoe hulle die rivier op vlotte oorgesteek het. Daar, kan ek my voorstel, het hulle vir oulaas die harpe aan die wilgers opgehang soos die Israeliete langs die riviere van Babel, en die laaste gesange gesing voor hulle die vreemde aangedurf het.

‘n Ent voor Philippolis draai ‘n grondpad na regs, en die bande knars weer op die miljoene-jare oue modder-skalie wat sag en vriendelik lê en selfs nie eers besonders baie stof maak nie. Dis ‘n wyd-gestrekte wêreld vol mooi Karoo koppies en wuiwende horisonne wat mens altyd naderlok om nog ‘n nuwe uitsig te probeer vind. En so, na ‘n paar myle—want op grondpaaie voel dit of mense nog van “myle” moet praat, vind ek die witgeverfde hekke van Bokpost wat soos wydgestrekte arms die stof-bedekte besoeker nader wink. Die opstal is nie ver nie, en ek kom uiteindelik voor ‘n wit muur en ‘n statige dubbelverdieping woning te staan. ‘n Vriendelike Jack Russel kom kennis maak terwyl ek vyf minute lank met ‘n geelkoper klepel aan die dik voordeur tik. Uiteindelik ontvang ‘n bediende my en lei my na ‘n ronde tafeltjie in ‘n baie groot sitvertrek. En toe kom Rolene Kolver in, half uitasem soos ‘n tipiese boervrou wat altyd agter pligte en verantwoordelikhede aanjaag.

“Ek is die vêraf-familie wat julle nog nooit ontmoet het nie,” stel ek my self bekend.
En toe begin die groot gesels. Haar man, Kolbe Kolver, kom ‘n rukkie later ook in, en ons gesels oor Tant Dana se Kolbes, oor familiegeraamtes, Nguni beeste en oor hoe ons nou eintlik aan mekaar verwant is. Ons is “vyfde neefs,” sou ek later uitwerk—alhoewel ons oor-oor-oupagrootjies seker byna ‘n eeu laas kontak gehad het. Maar dit maak nie saak nie, want ons praat nog dieselfde taal en dink nog dieselfde. Bokpost, vertel Kolbe, is nog deur een van Nico Vermaak se mense van ‘n luitenant van Adam Kok verruil. Hy het uit die Kolonie getrek en toe sy wa en osse oorhandig vir die plaas.

Later het Andreas Tobias Kolver en Anna Sophia Kolbe hier geboer. Onder die Kolvers is grond bygekoop en het die ouwêreldse kultuur van Bokpost wat vandag nog so prominent is, sy gestalte gekry. Kolbe en Rolene beveel toe aan dat ek vinnig nog op Ruigtevlei ‘n draai moet gaan maak. Dit is nog ‘n ou Kolbe plaas, maar heelwat verder, Bethulie se kant toe. Die plaas grens aan die Hendrik Verword dam, en aangesien daar ‘n groot ou familiebegraafplaas is wat ek nog altyd wou fotografeer, willig ek sonder veel aanmoediging in. Ek het nie gedink daar sal tyd wees nie, maar die nodige oproepe word gemaak en ek trek weg, nogmaals verwonderd oor hoe ‘n genealogiese uittog partymaal sulke onvoorspelbare draaie kan maak. Langs die pad stop ek eers ‘n rukkie by ‘n sementdam en ‘n windpomp waar seker ‘n goeie dertig bloukraanvoëls waardig staan en pronk terwyl die vlakte-wind hulle nek-vere oop en toe kam. Dis darem maar mooi—die simbool van ons Ou Suid-Afrika. Snaaks, hier in die diep Karoo voel dit of dinge nog nie eindelik verander het nie en al is die Karoo vir my vreemd, voel die hele omgewing sommer vriendelik en bekend.

Ek verdwaal bietjie by die dam, en toe die polisie padblokkade my stop, sê ek sommer dadelik: “Dagsê! Niks varke aan boord nie. Ek soek eintlik die pad Bethulie toe.”
Die man lag. Ek het nou al genoeg met hierdie padblokkades te make gehad wat probeer keer vir een of ander vark-siekte.
“Meneer, dis eintlik verskriklik—VERSKRIKLIK maklik. Jy mik net so ‘n kort entjie verder aan, dan draai jy regs. Jy kan dit nie mis nie.”
Ek groet die dienaar plegtig en trap die petrol. Sy instruksies is in die kol, maar nou moet ek brand want die dag loop uit. Eintlik het ek half skuldig gevoel, want ek het gesit en biltong eet toe ek gestop word. En ek is gewoond daaraan dat waar die gereg jou stop en jy biltong het, daar gewoonlik moeilikheid is. Die dat ek toe maar die sak biltong onder die sitplek ingestop en die krummels vinnig weggevee het. Ek weet die man soek varkvleis, maar mens kan nooit te versigtig wees nie…

Maar nou is ek dors en kom tot my irritasie agter ek het per ongeluk gegeurde mineraalwater gekoop. Ek haat die goed en rol die bottel om na die etiket te kyk. Nes ek gedink het. Kunsmatige versoetmiddels wat jou beter sal preserveer as wat die balmerings-kundiges van Egipte met die lyk van jong Toetankamen kon regkry. En dis ‘n lietsjie-geur wat waarskynlik uit steenkool gedistilleer word. In my biltong-nadors is al wat oorbly ‘n blikkie rissie en tamatiesap wat ek nog in Johannesburg gekoop het—net omdat die Bybel sê: “beproef alle dinge en behou die goeie.” Ek drink die tamatiesap en besef dat hierdie een van die dinge is wat nie behou hoef te word nie. Nou is ek dors, én ek sit met ‘n bek wat brand… Maar die teer rol op, al op die ver-oewer van die kronkelende dam en ek weet dat ek my nou in Simon du Plooy se wêreld bevind.

Dis mooi hier. My pa en ek het nog altyd gedink dit moet goed wees om hier grond te kan besit. Ek moet nou kyk vir die bordjie “Ruigtevlei” wat “op ‘n’ draai lê,” maar twintig kilometer later is daar nog niks nie. Die pad gee so een kronkel, maar sny dan sonder ‘n kinkel of ‘n knak tot by Bethulie. Kort buite die dorp besef ek ek het die afdraai gemis, of miskien het ek selfvertroue en onnoselheid gekombineer en dalk heeltemal die verkeerde pad geneem. Ek kyk weer na my padkaarte, maar daar is nie lig nie. Ek ry dus maar weer terug—net om te vind dat ek die bordjie misgekyk het op die enigste plek waar die pad wel ‘n knakkie maak.

By Ruigtevlei se opstal maak ‘n jong dame met haar twee seuntjies die deur oop en verras my deur nie die gewone agterdogtige kyk na my lelike “GP” nommerplaat te gee nie. Hulle tuimel ook sommer dadelik die motor in om my die grafte te gaan wys. Ek is nogmaals verbaas oor hoe maklik die Karoo mense vreemdelinge aanvaar. Waar ek vandaan kom uit die Suid-Oos Transvaal se middelveld sou jy eers baie mooi moes verduidelik wie jy is en wat jou besigheid behels. Seker maar omdat ons grensboere was wat jare van moordbendes, landmyne op ons grondpaaie en terroriste in die bosse moes oorleef. Die begraafplaas is egter net so ‘n kort entjie van die opstalle af. Op pad soontoe vra ek uit oor Ruigtevlei se perde stoet. Karien du Plessis verduidelik dat haar skoonpa opgegee het toe byna al sy perde eendag van lamsiekte gevrek het. Maar haar man het stadig weer aangegaan, en vandag is die perde van Ruigtevlei weereens bekend en gerespekteer.

By die begraafplaas tuimel die seuntjies uit en vra onskuldig by die eerste graf: “Mamma, wie is hierdie?”
“Dis oupa se graf,” verduidelik die moeder.
“En hierdie?” vra enetjie, terwyl hy na die grafsteen langsaan wys.
“Dis ouma s’n, vir wanneer sy eendag doodgaan.”
Ek vind die jeugdige onskuld waarmee die vrae gevra word, treffend. Veral toe die seuntjie by-vra: “Sal Mamma ook eendag hiernatoe gebring word?”
En die moeder antwoord met die ongestoorde praktiese natuur van ‘n boervrou wat in die lewenslig van die natuur al vrede gemaak het met die pad van die mens: “Wanneer die tyd kom, ja,” is min-of-meer haar antwoord.

Wat die seuntjies aanbetref, hanteer hulle die inligting met die gelatenheid van jonkheid. Vir hulle is dit eenvoudig anderdag se bekommernis daardie. En skielik verlang ek na die tyd toe ons almal nog so kon voel. Na die jare dat ons geglo het dat kinders onsterflik was en dat net ou-oumense op rype ouderdom die volgende skof aanpak. Daardie illusie is in my 12de jaar vernietig toe ‘n klasmaat in ‘n motorongeluk gesterf het. En kort daarna toe nog ‘n maat se pa verongeluk het. En van daar af het ek geweet dat ook die pad van kinders deur die dal van doodskaduwee loop en dat mens maar liewer nie daaraan moet dink as dit jou gaan pla nie.

“Jy weet,” sê ek vir Karien terwyl ek fotografeer. “Ek het hierdie grafte nog nooit voorheen gesien nie, maar ek ken hierdie name al. Soos ek deur die stene gaan besef ek elke nou en dan ek kan maar knik en groet, want ons ken mekaar al jare lank. Ons het nog net nooit ontmoet nie.”
Baie van die grafte is ou vriende van my wat tot nou toe nog net op ‘n stamregister bestaan het. Maar nou kan ek die foto’s van hulle grafte by hulle name voeg, en die volgende keer wat ek op een van hulle se naam klik, sal daar ‘n foto van ‘n granietsteen verskyn om my te begroet. Sulke dinge word vir my die versiersuiker op die koek.

Terug in Ruigtevlei se opstal wil Karien vir my ‘n klomp ou familie papiere wys, maar die laai waarin dit gebêre word se sleutel is weg. Na ‘n lang soektog groet ek maar my nuwe ver-af niggie en kry my ry. Karien belowe om sommer die volgende dag al kopieë te laat maak en vir my te pos. Min het ek besef dat haar woord so goed soos goud sou wees. Na my tuiskoms het ‘n pakkie my bereik wat ‘n wonderlike bron van genealogiese skatte sou wees. Geslagsregisters wat deur die ou pioniere van Ruigtevlei opgestel was waarmee ek die Kolbe stamregister kon kruis-verifieer, en ryklik kon aanvul. En so het ‘n onbeplande besoek wat amper nie sou plaasgevind het nie, uiteindelik gelei tot een van die hoogtepunt-ontdekkings van die jaar. Ek skud nou nog my kop by gedagte aan al hierdie goeie geluk en vriendelikheid van mense wat my beslis niks skuld nie. In Karien se pakkie lees ek van ‘n wonderlike perd met die naam Sultan, wat volgens oorlewering deur Lord Kitchener gebuit was tydens die Anglo-Boereoorlog. Die perd is Engeland toe geneem as teelmateriaal, maar later-aan is besluit dat die dier so uitsonderlik was dat hy teruggestuur moet word om as teelmateriaal vir die herstel van Suid-Afrika se perde-poel te doen. Maar Sultan se geluk het uitgeloop, want op Kaapstad se hawe was daar ‘n vreeslike storm. Sultan het in die see geval en versuip—en Suid-Afrika moes maar sonder sy beroemde gene sien kom klaar. Maar toe het die romantikus in my begin raai hoekom my Oos-Transvaalse familie al ‘n honderd jaar ons teel-hingste by die Louw familie van Colesberg se wêreld gekoop het: Sê nou maar dis omdat die verdwaalde gene van ou Sultan se perde-familie nog al die jare daar rondgeloop het? Ek sal graag so wil dink—selfs al is dit miskien te vergesog om waar te wees.

Van Ruigtevlei is ek terug Bokpost toe. Ek moes nog die Kolver begraafplaas op die plaas gaan afneem—ook ‘n mooi, goed-versorgde begraafplaas met ‘n lieflike sterk gepleisterde muur om. Ook hier loop ek een of twee bekendes raak wat ‘n teenwoordigheid op die stamregister handhaaf. En hulle stel my weer bekend aan hulle familie wat nog al die tyd daar lê en wag om ook opgeteken te word.
“Wel-te-kenne,” dink ek in die taal van oumense wat lank nie meer gebruik word nie. Ek is nog steeds bly vir die kennismaking. Dis vir my lekker om tog weer op ‘n regte ou Merino plaas te wees. My Labuschagnes en Kolbes was Merino telers sedert die middel- tot laat 1800’s en ons is grootgemaak met ‘n liefde vir skape. Ek herinner my aan hoe groot-oupa Izak Hermanus Labuschagne op ‘n tyd saam met sy maat twee ramme van Spanje ingevoer het—seker so  rondom 1885, skat ek. Met die aankoms is een ram toe ooglopend baie beter as die ander. Soos sy Bybelse naamgenoot se vader met sy neef Lot gemaak het, bied Oupa Izak toe sy vriend maar die eerste keuse aan. En dié kies toe onmiddellik die beter ram. Ook maar goed so, want nes met Lot se keuse wat dit nie ‘n goeie een nie. Die beter ram het binne ‘n paar dae gevrek, en Oupa Izak s’n het bly leef. Die blinde sambok, sou die oumense seker gesê het…
Die opstal van Bokpost

Daardie middag trek ‘n geweldige stofstorm los sodat die hele landskap vergaan in ‘n rooi waas van tierende geweld. Die stof-wolke kom oor die ope vlaktes aangegalop en breek teen huis en boom soos ek nog nooit tevore ervaar het nie. Naderhand weet ek nie meer of dit net stof is en of dit reën ook nie, maar dit lyk na so ‘n mengsel van albei. Ek gaan knip toe maar ‘n uiltjie en hoop daardie driedoring boom val nie op my motor nie. Ten minste het ek wind-op geparkeer, maar dis nogtans ‘n hinderlike gedagte. Ek dink so aan ou Vermaak wat sy wa en osse vir dieselfde plaas verruil het. Ek het nogal dadelik gewonder hoe hy toe met vervoer reggekom het? Sou ek dieselfde pad as hy moes loop?

Gelukkig het die storm uiteindelik bedaar. Kolbe het eers na donker teruggekom, want hy moes gaan vuur slaan in die berge. Seker die weerlig wat die droë veld aan die brand geslaan het. Ek is skoon verstom want ek het nooit geweet Karoo bossies kan brand nie. Maar heimlik oortuig ek myself dat Karoo boere seker ook nie weet wat regte veldbrande is nie. Ken hulle my wêreld se ses voet tamboekiegras wat klink soos masjiengewere op ‘n kommando oefen skietdag? Ken hulle ons dekgras en terpentyngras wat as jy moet vuur slaan in die berge,  jou naderhand so moeg en moedeloos maak dat jy die vuur uit radeloosheid maar met klippe wil doodgooi? Seker nie. Maar laat staan maar,” dink ek. Elke wêreld het sy eie probleme en niks is so irriterend soos ‘n boer wat die heeltyd neul met: “…daar by ons, maak ons mos so-en-so” nie. Hierdie wêreld is nog totaal vreemd vir my.

Kolbe en Rolene was so gaaf om hulle ouers uit te nooi sodat ons mekaar oor aandete kan ontmoet. My oom hou al jare aan dat ek tog op Bokpost moet gaan kuier—oor die beroemde aandetes en stylvolle mense—het hy volgehou. En so is dit ook. Aandete is by loodglas kristal en swaar silwer aan ‘n enorme tafel in ‘n eetkamer met hout paneelwerk wat aan die Titanic se banketsaal herinner. “Hier gaan ete nie net om jou maag vol kos te kry nie,” besef ek. “Dit is ‘n kultuur.” Jare gelede het ‘n Amerikaanse intellektuele reus vir wie ek die wêreld se respek gehad het, eendag gesê: “Every meal should be a learning experience.” Van my beste herinneringe wentel nou nog om lang aande se gesels om ‘n swaar-belaaide eetkamertafel in die groot ou eetsaal op die plaas. Dis hier waar ons ou boere die wêreld se probleme opgelos—en nuwes uitgedink het. En ek eet my Karoo skaaptjops met ‘n privaat glimlaggie van tevredenheid. Iewers in ons Afrikaners se gebeente, loop daar nog ‘n pype waarvan die murg uit goud bestaan. En ek dink ek vind daardie goud nog in die Karoo na ek gedink het dit het al byna uitgesterf.

Bokpost, www.bokpost.co.za  word as ‘n kommersiële skaap- en wild en gasteplaas bedryf. Die plaas is nie so vreeslik ver van die N1 snelweg af nie. Daar waar die pad na die Hendrik Verwoerd dam uitdraai—by die brug waar die spietkops so graag met hulle kamera’s sit en geld in-oes soos die rowerbaronne langs die Rynrivier, draai mens eenvoudig noordwaards, instede van suidwaarts. Die grondpad is nie te sleg nie en die plaas is maklik om te vind. Dit is ouwêreldse vierster elegansie. Swaar-geborduurde linneware op die beddens, donker hout met glimmende geelkoper knoppe, pragtige marmer badkamers met vergulde krane, pootjie-baddens, mooi meubels en tydlose styl. Na Colesberg se treurige akkommodasie voel alles sommer vriendelik en verwelkomend. ‘n Mens doen jouself ‘n skade aan om nie op Bokpost te oornag op die lang reis tussen die Kaap en die Transvaal nie. Ek neem myself ook net daar voor om beslis seker te maak dat Bokpost my weer sal sien.

‘n Plaas kan hoe mooi wees, maar dis die mense wat sy warmte verskaf. So was dit ook met die Kolvers van Bokpost. Tot laat die nag het ons nog gesit en gesels oor die ekonomie van boerdery en toerisme, oor die stand van die wêreld en die toekoms vir ons wat nog nie naby genoeg aftrede is om te kan opsy-staan vir die resies van Afrika nie. Maar ons voorvaders kon Afrika se probleme nie oplos nie, en ons wat hulle kinders is, voel soos hulpelose toeskouers wat ewe onmagtig is om die verloop daarvan te beïnvloed. Afrika van jou heen waar sy wil gaan. Die nie ‘n plek vir sissies nie. Maar Afrika is ook iets wat in jou siel inkruip en hier in die Karoo besef mens opnuut waarom dit so moeilik is om weg te gaan. Dit help nie mens probeer dit beskryf nie, want woordeskat bestaan nog nie om die Karoonagte se sterreprag te besing, of die mankolieke eensaamheid van ‘n tarentaal se roep vroeg in die oggend te besing nie. Ek sou seker lankal in  Nieu-Seeland of Amerika gewoon het as omstandighede makliker daartoe gelei het. Maar die groot kombuis van Bokpost en die mak eland by die agterdeur laat my besef dat ‘n mens iets van jouself sal amputeer as jy hier wegloop. Jy breek nie hier weg sonder om iets te los wat jy nooit weer sal kan vervang nie. Ek sal die skuif maak as die geleentheid daar is, maar op ‘n aand soos hierdie besef ek wat die prys sal wees-een dit is hoog.

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 6


Die pad terug na Aberdeen het gevoel soos vyftien minute en die gesprek het rondom familie gedraai en die dinge waaroor mens praat wanneer die Tweede Wêreldoorlog verby is en nie meer saak maak nie. Ek wonder of die ou dame ooit weer van haar seun gaan hoor? Hy het sedert 1986 nog nie kontak gemaak nie. Ek probeer haar ompraat om vir my ‘n skoendoos vol foto’s en briewe op te maak sodat ek dit eendag vir haar kleinkinders of agter-kleinkinders kan gee as hulle ooit sou belang stel. Dit verg nogal oorredingsvermoë want na soveel jare raak dit moeilik om te glo dat iemand nog in die dinge van die verlede sal belang stel. Maar daar is altyd ‘n geslag wat in die spieëlbeeld van die verlede die refleksie van die toekoms wil probeer sien. En al wil hierdie geslag nie kyk nie, voel ek myself nogtans geroepe om ten minste die kurator van ‘n boks vol herinneringe te word wat moontlik vir ‘n vreemde kind in Duitsland eendag ‘n sin van identiteit mag verskaf. Ons sal maar sien of my voorstel vrugte oplewer. In Aberdeen het die tyd nog steeds stilgestaan asof ‘n week nooit gekom en gegaan het nie. Dit is ‘n tydlose dorpie. Ek help die ou dame om haar rekenaar te orden en ‘n epos adres op te stel sodat ons darem in verbinding kan bly. Haar Engels is van so ‘n aard dat sy nie eintlik kan kommunikeer in Aberdeen nie, en my Duits is so vrot geroes dat dit ook nie veel beter gaan nie, maar met ‘n half-gekraakte koppie en ‘n on-maat piering lyk dit darem of die twee van ons gesels kan kry, ten spyte van die generasiegaping van etlike dekades.

Wanneer ek uit Aberdeen wegkom is dit al half-vyf en die Karoo se strakheid begin versag sodat die bergvalleie glimlag met skaduwee. In die Vallei van Verlatenheid het die spietkops lankal al gekapituleer, hulle spoed-kameras weggepak en huis-toe gegaan voor Sewende Laan begin. Iewers aan die linkerkant van die pad lê daar glo ‘n graf met ‘n ou ysterkatel bo-oor. Na bewering het ‘n ou pionier se vrou tydens die Groot Trek hier gesterf. Hy het haar begrawe en die katel as ‘n grafsteen gelaat—en so staan die ou bed na bewering tot vandag toe nog tussen die eensame Karoo bossies. Maar ek kon nog nooit die katel raaksien nie. Jy kan hom glo van die pad af sien, maar dan moet jy seker weet waar om te kyk. Ek gaan eet my ou gunsteling gereg—Nachos Mexicana—by die Spur, neem die Andries Pretorius monument buite die dorp af, en bewonder die laaste oorblyfsels van ‘n sterwende Karoo-middag. Sou ons Voortrekker voorvaders ook met so ‘n gevoel van teësinnigheid die bergpasse uitgedryf het, of sou die belofte van die vreemde land voor hulle hulle eerder aangetrek het? Seker ‘n mengsel van beide, dink ek. Tussen Middelburg en Colesberg is omtrent geen verkeer nie. Dis skuins voor agt, die motor is op spoedkontrole gestel en op die radio speel “Fairytale of New York”, “Kinders van die Wind,” Theuns Jordaan met “Beautiful in Beaufort Wes,” en Neil Diamond met “I am… I said…” Dis musiek uit my jonger jare toe die nagte van die Suid-Oos Transvaal nog so donker was soos hier in die Karoo. Ek het nog altyd van die woorde gehou. Dit bring ‘n herinnering mee van ‘n wilde reis op die pad tussen Knysna en Mosselbaai, jare gelede op ‘n donker nag wat voel soos ‘n ander tyd in ‘n ander lewe.

Well I'm New York City born and raised
But nowadays, I'm lost between two shores
L.A.'s fine, but it ain't home
New York's home, but it ain't mine no more

Op so ‘n nag maak afstand en uure nie saak nie. Jy kan van Mosselbaai tot in Messina ry en jy kan jouself verbeel dat die pad nog steeds te kort sal wees. En dan begin Leonard Cohem in sy diep stem met, “Suzanne takes you down to her place near the river… And she feeds you tea and oranges that come all the way from China…”

En dan—skielik en sonder waarskuwing—materialiseer ‘n jakkals in die hoofligte van die motor—bewegingloos soos ‘n skimagtige standbeeld van die nag. Nie eers die oë blink nie. En ek reageer op impuls sonder om te dink reg op die laaste oomblik. Dit is dwaas om uit te swaai, maar ek ‘n paar weke gelede ‘n hond raakgery en sewe en ‘n half duisend Rand se skade aan die motor opgetel. Sulke goed maak mens seker maar sensitief. Toe ek besef dit ‘n fout is dit al reeds te laat en die oomblik is verby. Die motor ruk wild in die regter laan maar bly op die teer, en pluk omtrent vanself onmiddellik weer links sodat ‘n klomp los goed saam met die drywer teen die regterkantse deure geslinger word. Dit kon slegs ‘n breukdeel van ‘n sekonde geduur het en die jakkals het seker net ‘n ligstreep en ‘n stroom wind gevoel voor dit weer nag geword het. Maar ek is woordeloos verstom. As dit ou Theuns Jordaan se Ford Fairlane met sy pap vere was, dan het ek miskien nou iewers in die Karoo bossies gelê met al vier wiele wat in die lug draai—soos die ou Voortrekker se vrou wat onder haar katel lê en wag vir die Wederkoms. Maar vir my en daardie motgevrete ou jakkals was dit seker nog nie die vasgestelde uur nie. En so het ons paaie geskei en is die twee van ons elkeen na sy eie wêreld verder sonder om ooit te presies te verstaan hoe gelukkig ons was en watse planne in die wêreld uitgespeel word.

So skuins na twaalf besluit ek om my perd op stal te sit in Colesberg en ek bespreek in by die eerste plek wat adverteer dat hy 24-uur ‘n dag oop is. Ek trek in en vind die plek so vrot gerook dat nie eers ‘n weeluis of ‘n kokkerot ‘n nag daar sou kon oorleef nie. En skuins oorkant my sit ‘n klomp kleurlinge uit die Noord-Kaap en klets met die deure oop, so hard dat dit ‘n dooie jakkals aan die draf sal kan sit al is dit net om iewers elders in stilte van voor af te kan gaan vrek. Ek besluit toe om beleefd te gaan vra vir ‘n stiller kamer op ‘n ander plek. Die ontvangsdame gee my so ‘n lang, ondersoekende kyk en oorhandig toe ‘n ander stel sleutels. En toe daal die vrede van Colesberg neer op aarde.