Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2004 - Deel 4


Van 'n Vermeende Tsotsi tot 'n Gentleman

Die volgende oggend dou-voor-dag het ek my breek-deposito gaan terugvra, en met ‘n sinkende gevoel weer teruggedraai sodat die sekuriteitswag nogmaals inventaris kan neem om te sien hoeveel ek die nag gesteel het.

Nadat hy klaar was en die lys presies geklop het, het ek droogweg opgemerk: “See, I wasn’t a tsotsi after all!”

Hierop het hy breed geglimlag en geantwoord: “No sir, I can see that you are a gentleman!”

Na dit kon ek weer glimlag en die brekende dag in die oë kyk. Ek het nie soos ‘n gentleman gevoel nie, want die pype in die badkamer het gelek en by gebrek aan handdoeke was ek nie lus om in die kar te gaan krap op soek na myne nie, dus het ek maar sonder water die nag deurgebring. Ek doen dit selde, vas oortuig daarvan dat die ontdekking van seep—meer as Gutenberg se drukpers—die beginpunt van ware beskawing op aarde verteenwoordig het.

Somerset-Oos na Graaff-Reinet 

Van die mooie Somerset-Oos na Graaff-Reinet was ‘n mooi pad wat al aan die voet van ‘n lang bergreeks oor die vlaktes gedein het. By Bruintjieshoogte begin die pad klim, en op een of twee plekke kry mens ‘n pragtige panorama oor die uitgestrekte landskap. 20 kilometer verder kon ek die venster oopdraai en die laaste vlieg van Brakfontein formeel vrylaat, naby waar ‘n kraai op die punt was om ‘n platgetrapte jakkals op die teerpad vir ontbyt te kom nuttig. “Daar is geluk by elke ongeluk,” kon ek peins. “Eers word die vlieg ontvoer vanaf sy vriende, familie en bekende landskap, maar dan deponeer die lewe hom weer reg langs ‘n heerlike hoop vrot vleis, en netso werk dinge in die lewe baie keer beter uit as wat dit lyk…”
Die pragtige berge naby Graaff Reinet waar soveel van ons voorvaders gewoon het.
Op ‘n stadium loop die pad deur ‘n verbysterende misbank wat buitengewoon dig en dik aan die voet van die berge lê en wag dat die sonsopkoms sy nukke moet uitsorteer. Die vroeë lig maak die snaakste lig-effek in die misnewels, en met sy skerp kante lyk die spul vir my netsoos die wolk wat die Israeliete bedags deur die woestyn gelei het. Kilometers later spoeg die wolk my weer uit, en kort voor lank trek ek Graaff-Reinet binne. Ek het my met die afstand vergis, en vind die dorp nog haf-sluimerend en grootliks verlate. Dood-honger soek ek ‘n eetplek en kry darem ‘n Steers wat oop is. Ek het eendag iets aakligs in ‘n Steers melkskommel ontdek en eet sederdien nie graag daar nie, maar teen hierdie tyd het ek al net so min kieskeurig gevoel soos die vlieg ten aanskoue van die jakkals.

Ek bestel die grootste ontbyt wat op die spyskaart is, en beplan die dag se roete oor ‘n bord met koue gebakte eiers, en koffie waarmee daar te oordeel aan die smaak duidelik iets bizars verkeerd gegaan het. Miskien was daar Woestersous in die koffiemoer… Die res van die ete is egter goed.

Na ete ry ek bietjie deur die dorp om die groot NG kerk te gaan afneem, en om na die monument oorkant die straat te gaan kyk. Ek word egter deur ‘n lieplapper oorval wat my met alle geweld wil oortuig om my volgelaaide motor aan sy sorg toe te vertrou, terwyl ek binne in die kerk moet gaan rondkyk. Dis miskien die produk van jare-lange agterdog, gekweek in die vuil strate van Johannesburg, maar aan daardie aas byt ek nie. Ek kan nie dink dat die kerk so vroeg al oop sal wees nie, en synde dat die heining om die monument oral toegesluit is en ek nie oor die heining wil kleim en deur die blomme wil ploeter nie, laat ek die lieplapper agter om ‘n ander toeris te gaan lastig val.
Die alombekende NG Kerk in Graaff-Reinet

Aberdeen en 'n Ooggetuie Verslag uit die Tweede Wereldoorlog

Eintlik had ek geen verdere genealogiese ontdekkingstogte beplan vir die dag nie. Ek moes die aand in George wees vir ‘n geleentheid, en sou op Aberdeen stop om ‘n ou dame op te tel sodat ek haar naby George kan gaan aflaai. Ek doen eintlik ‘n vriend ‘n guns, want hy sou andersins van George moes ry om haar te kom haal. Maar eers lees ek van ‘n graf langs die pad, naby die voet van die berge noord van die teerpad, waar daar glo ‘n ou ysterkatel in die veld staan. Blykbaar het ‘n Trekker se vrou langs die pad gesterf, en het hy haar daar begrawe, met die katel wat oor haar graf sou waghou. Volgens die brosjure wat ek lees, staan die katel nou-nog daar. Wel, ek het gekyk en gekyk, maar die katel was nêrens te sien nie. Miskien het ‘n taksi al gestop en hom opgelaai.

Aberdeen is ‘n mooi ou dorpie. In die middel is ‘n NG kerk wat na bewering een van die grootstes in die land is, met ‘n toring wat glo op 50 meter die hoogste in die land is. Die pad maak ‘n sirkel om die kerk sodat jy hom van alle kante kan beskou. Ek neem foto’s van die kerk en die pragtige poskantoor, en verkyk my aan die “Papsak Pub & Grill,” wat met toegerolde garage deure voor die deure en vensters in die oggendson staan en hyg. “Dan maar eerder ‘n pizza by ‘n vuilbek-kelnerin,” sug ek en gaan soek my gas wat ek moet oplaai.

Mevrou Annelise Ihnken is ‘n dame wat haar tagtigs al begin bekruip, en terwyl ek haar bagasie inlaai besef ek al dat hier ‘n groot gesels voorlê wat die pad baie korter gaan maak. Dit was ook so. Haar lewensverhaal was aangrypend. “Ek is ‘n genealoog, en nog nuuskierig daarby,” het Johan Erasmus soms gesê, en wanneer ek my stywe Afrikaner-ordentlikheid waarmee ek grootgemaak is partykeer kan oorkom, kan ek ook nogal nuuskierig genoeg raak om persoonlike vrae te vra. Mevrou Ihnken het beslis nie teleurgestel nie.

'n Pragtige gastehuis in Aberdeen
“I remember it as well as if it were yesterday,” het sy begin, met ‘n krom wysvinger wat voor haar in die lug beduie het. 
“I saw things in that war that you will never, ever forget in you life…” 
So vertel sy my in gebroke Engels met ‘n swaar aksent, breek die Tweede Wêreldoorlog aan toe sy nog ‘n jong tiener dogter was. Teen die einde van die oorlog is Duitsland in chaos, en sy en twee van haar vriende moet vlug na waarheen hulle ookal ‘n heenkome kan vind. Toe hulle in Dresden aankom, moes hulle vind dat daar ‘n reuse invloei van vlugtelinge was, en dat die stad met ‘n volle miljoen hawelose swerwers, basies uit sy nate bars. 

Dieselfde dag nog trek die lugaanval sirenes los, en hulle word van die strate af gejaag na die naaste ondergrondse skuiling. Blykbaar het die stadsbevolking omtrent in enigiets wat onder die grondoppervlakte was, moes skuiling vind. In hulle geval is hulle afgekeer en in ‘n groot kelder onder ‘n gebou ingejaag. Nie lank nie of die bomme het begin val, en toe die aarde begin sidder, het haar vriende skielik rusteloos begin word. Een was ‘n tenkbestuurder wat pas van diens aan die front in Siberië teruggekeer het, en die ander was ‘n radio- of ander tegniese operateur. Om een of ander rede het hulle besluit dat die skuiling nie goed genoeg was nie, en met die meisie aan die arms gesleep, het hulle die gevaarlike straat daarbuite binnegehardloop. Dit ook net betyds, want nie lank daarna nie, val ‘n bom dwarsdeur die hele gebou en ontplof reg binne die kelder waar hulle aanvanklik skuiling gesoek het, sodat nie ‘n enkele siel die ontploffing oorleef het nie.

Anneliese Ihnken - steeds glimlaggend ten spyte van haar droewige lewensverhaal.
“Jy het geen idieë watse angs dit was om in daardie stad rond te hardloop terwyl die bomme val nie,” het sy my vertel. “Oral om ons,” het sy vertel, “het die bomme uit die hemel neergereën en alles onder ons geskud. Die ergste van alles was die rook. Jy kon eenvoudig nie asem kry nie. Ons het in ‘n lang straat beland, en elke huis in daardie hele straat was in vlamme. So het ons blindelings voortgehardloop totdat ons die enigste huis in die hele straat gekry het, wat nog gestaan het.”

Teen hierdie tyd was hulle so moeg dat hulle by die huisinwoners kom vra het of hulle daar asiel mag kry. Die huisinwoners het ingestem, aangesien hulle by die ingange wou waak, en vir haar en haar vriende verlof gegee om in hulle beddens te slaap. Die volgende oggend is hulle egter met ‘n groot geraas uit die huis ontruim nadat daar ontdek was dat ‘n bom wat die huis getref het, nog onontplof deur die muur van die kelder gesteek het. Met dié het die bombardement weer losgetrek, en het hulle doelloos die strate ingehardloop—sy sukkelend om haar geswelde voete in haar enkel-hoë stewels te kan inkry. By ‘n sekere straat het ‘n bom langs hulle ontblof, en die drie het reg langs mekaar op die sypaadjie neergeval. Nog bomme het geval, en toe daar weer bietjie stilte kom, en sy omkyk, het sy haar vriend die tegnikus langs haar gehoor kerm: “My knie—my knie!”

Dresden, na die bombardering.

Dit ontdekking was verskriklik. Sy hele been onderkant sy knie het aan net twee of drie senings gehand, plus die verflenterde oorblyfsels van sy broekspyp se materiaal. Sy knie was vergruis deur ‘n klip so groot soos ‘n pomelo.

Met groot moeite het sy en die tenkbestuurder hulle vriend, hinkend gehelp tot by ‘n groot ou Mercedes wat tussen die puin gestaan het met ‘n houtskool-brander in die kattebak ingebou. Hier moes hulle by die bestuurder smeek en soebat dat hy hulle na die hospitaal moes neem. Sy beswaar was dat hy deur sy werkgewer gestuur was om kos te gaan koop, en dat hy nie nou tyd het om ambulans te speel nie. Hy het hom egter laat ompraat, en hulle vriend het veilig by die hospitaal aangekom.

Ek en Mev. Ihken drink tee by 'n piekniekplek in die Langkloof
Jare na die oorlog, vertel sy, het sy hom weer gaan opsoek. “But he was—you know? Not the same man anymore,” het sy nakenkend vertel terwyl haar vaal-grys oë ver verby die Karoo se vlaktes oor meer as ‘n halwe eeu teruggekyk het. “He was—not pleased because we had not left him there that day. They had put off his leg righ by the hip, you know? And he was not… happy to be alive…”

Maar haar avontuur in Dresden was hierna nog nie op ‘n einde nie. Van die hospitaal af het sy en die tenkbestuurder gehardloop na die stasie sodat hulle kon probeer om uit die vervloekte stad van bomme en skrapnel te kan ontvlug. Toe hulle egter die trein se deur oopmaak was dit tot barstens toe vol vlugtelinge gepak. Hulle was net daar aangesê om te gaan sit en wag vir die volgende trein. So gesê, so gemaak, maar voor die volgende trein eers opgedaag het, het die boodskap hulle bereik: die trein waar hulle sopas weggewys was, het die volgende stad binnegestoom net toe ‘n nuwe lugaanval begin het. Die bomme het die trein reg van bo getref en totaal vernietig. Slegs enkele van die vlugtelinge het die bombardement oorleef. Die meeste ander was gedood of grusaam vermink.

Na hierdie episode het Mev. Ihnken die platteland ingevlug na waar haar tante ‘n plaas gehad het. Hier is hulle later deur die Rusiese soldate oorweldig, en moes hulle elke dag met groot versigtigheid te werk gaan om te oorleef. Haar vader was ‘n Pruissiese offisier gewees, en sy het sy soldatestewels aangehad, wat haar groot moeilikheid kon besorg het. Sy moes derhalwe baie lang rokke dra om altyd haar voete te verberg. So is sy op ‘n stadium deur die Russiese soldate aangesê om die koeie te gaan melk. Sy, wat ‘n stadsmeisie was, kon natuurlik geen druppel melk uitkry nie, en toe die Russe dit sien wat dit vir hulle baie snaak. Sy is summier van haar plig onthef en aangesê om ‘n mishoop met ‘n kruiwa te gaan wegkry. 
“Dít,” het sy met ‘n laggie van trots gesê, “kon ek baie goed doen. Maar op ‘n sekere plek het die voorwiel vasgeval en ek kon die kruiwa nie beweeg nie. Dis toe dat ek vir die naaste soldat gesê het: “Du—hilfen Sie mir!” Dood gedweë het die soldaat haar kom help met die kruiwa.

Op hierdie manier, vertel sy, het sy geleer dat Russiese soldate van nature baie gehoorsaam aan skerp bevele was. Sy het hulle geleer bestuur, vertel sy. Maar wanneer hulle dronk was, het sy onmiddelik die vlaktes ingehardloop, want dan het die soldate geen rede verstaan nie. Naderhand dreun ons om die draai naby Willowmore, en haar storie gaan nog steeds voort. 
“Somtyds het die soldate by ons aangekom, en dan wou hulle kos en ander benodighede hê,” het sy voortgegaan. “Maar dan het ek eenvoudig vir hulle gesê: “Papiere, Kommandant?” en as hulle geen rekwisisie bevel kon toon nie, het ek eenvoudig vir hulle gesê: “Ach, ja-ja—bye-bye!”

Haar ervaringe in Duitsland het tot ‘n einde gekom in 1945 toe sy in ‘n gebroke en werklose Duitsland as 18-jarige ‘n adertensie vir ‘n pos as goewernante in Suid-Wes gesien het. Haar applikasie het misluk, maar toe die aanvanklike applikant siek geword het, is sy tog laat kom. In Suid-Wes het sy op haar eie ‘n nuwe bestaan begin maak. Sy is getroud en het ‘n seun gehad, maar haar man het haar nie lank daarna nie verlaat, en sy weet nie of hy vandag nog leef of wat van hom geword het nie. Selfs haar seun, sê sy, het sy laas in 1986 mee gepraat. Hy woon in Duitsland as radio en TV tegnikus. Dinge het skeefgeloop toe sy geweier het om sy huwelik in ‘n Katolieke kerk by te woon. Ek vra toe of sy nie dink dit is tyd om dalk weer met hom kontak te maak nie, waarop sy net haar kop geskud het. “Nee wat,” dit is al te lank gelede. So vertel sy my van haar lewe in Suidwes. Hoe sy op gevorderde leeftyd vir ‘n paar jaar terug is Duitsland-toe, en daar haar bestuurslisensie bekom het toe sy ‘n paar dae langer vir haar vlug na Suid-Wes moes wag. Sy bestuur vandag nog met daardie Duitse lisensie!


Na al die jare van swaarkry sy nog steeds die hart van 'n jong meisie gehad.
Uiteindelik kon ek nie wag om te vra of sy nie maar haar eksotiese lewensverhaal op skrif wou stel nie.
Hierop het sy dwars gedraai en my met opregte verbasing aangekyk terwyl sy vra: “But why? Who would ever be interested in my stories?”

Ek het probeer verduidelik, maar sy het dit eenvoudig nie ingesien nie. Om vir my haar lewensverhaal te vertel was een ding, maar op die groot skaal van die lewe om haar, kon sy eenvoudig nie sien dat haar ervaringe enigiemand anders sou interesseer nie. Hierop het ek nadenkend in die pad bly staar, terwyl die wolke van die Tweede Wêreldoorlog nog in my gedagtes bly draai het. Dit het terselftertyd na ‘n vreeslike opwindende en ook ‘n besonders-treurige lewensverhaal geklink. Vandag woon sy in Aberdeen omdat sy nie met haar inkomste meer in Duitsland sou kon oorleef nie. Sy het geen vriend daar nie, en het eenvoudig op Aberdeen besluit toe Suid-Wes onafhanklik geword het. Sy het gehoor dat die berge naby Aberdeen soos die berge van Suid-Wes lyk, en dit was vir haar genoeg.

Ek dink amper my oupa het op ‘n dag vir my gesê, “my kind, die lewe is nie jou maat nie.” Ek het aan Mevrou Ihnken se lewe bly dink en ek het geweet dat die woorde waar was. Hy is waaragtig partykeer net nie jou maat nie.

No comments:

Post a Comment