Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2004 - Deel I


Ek en My Joernale

Sedert my kinderjare het ek die gewoonte gehad om tydens vakansies dagboek te hou van my wedervaringe. Oor die jare heen, het ek min of meer ‘n tipe dagboek lewendig kon hou, wat by tye ‘n paar maande, of selfs ‘n jaar oorslaan. Maar een of ander tyd tel ek altyd die pen weer op, en gaan daarmee voort. Eintlik was ek ‘n kompulsiewe nota-maker sedert ‘n baie jong ouderdom. Ek het nou nog bokse vol sakboekies en notatjies en ou geskrifte wat waarskynlik teruggaan tot die ouderdom van tien of so. Ek het nooit daaraan gedink tot vandag toe nie, maar my oupa was netso. Langs die bokse wat my eie dagboeke en nota’s bevat, staan ‘n boks waarin sy talle notaboekies ook lê. Sy skrif, helaas feitlik onleesbaar, tot my diep teleurstelling. Een daarvan is ‘n dagboek omtrent sy jagtogte in ou Portugees-Oos Afrika. Hoe jammer tog, dat mens byna geen woord daarvan kan ontsyfer nie…

Somtyds lees mens egter weer terug in jou eie joernale, briewe en nota’s en besef jy dat so ‘n dagboek-houery tog die moeite werd is. Dit is asof jy op hiedie manier weer ‘n tipe venster kan oopmaak, waarmee mens kan terugkyk in die verlede. Ek is maar ‘n “sucker” vir die verlede, soos die kinders sê. Dis ‘n plek waar ek baie van my tyd spandeer. My reisverslae is basies ‘n produk van my dagboekhouery wanneer ek op reis gaan. Ander mense rook, vloek, vang vis of verneuk met hulle belasting vir ‘n stokperdjie. Ek vang min vis, rook sedert ek ses jaar oud is nie meer nie en is nie genoeg van ‘n spesialis om suksesvol met belasting te knoei nie. Maar ek doen tog ook iets vir ‘n tydverdryf. Behalwe ‘n reeks ander stokperdjies, verdiep ek myself by voorkeur in die verlede. Dis ‘n snaakse stokperdjie, maar dit kan darem seker nie so baie kwaad doen nie. Ten minste, ek hoop nie so nie.

Nie ‘n Einbestemming nie, Maar ‘n Reis

Daar word somtyds deur die tandlose wyses van hierdie wêreld opgemerk dat die lewe nie ‘n bestemming is nie, maar ‘n reis. Wanneer mens jou geluk altyd in een of ander eindbestemming probeer vind, vergeet mens al te maklik dat ware plesier eintlik eerder langs die pad te vinde is as in een of ander eksotiese droom wat agter die horizon van begeerte verskuil lê. Om drome na te jaag is dikwels soos om te probeer naaldekokers vang. Meerendeels vang mens hulle nooit nie, en soms as jy hulle wel uiteindelik gevang kry, is jy half teleurgesteld. Dis eers in latere jare dat mens verstaan dat die groot vreugde van naaldekokers vang lê in die avontuur van hardloop en jaag, en die gelag wanneer jy in die lang gras neerslaan met ‘n geskeurde net, klitse in jou kouse, blare in jou hare en grasvlekke op jou beste nuwe kerklangbroek. Met verloop van die jare leer mens dat dit uiteindelik gaan oor die versameling van herinneringe—nie insekte nie.

Vir diegene wat hulle bemoei met genealogie en familiegeskiedenis, is dit gewoonlik so. Ons jaag almal die droom van waarheid en kennis na. Ons jaag teen tyd. Die beweging van ‘n horlosiehand wat soos ‘n valbyl elke sekonde wat stukkies van ons lewens onherroeplik afkap en ons gereeld daaraan herinner dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor ons self ook ‘n blote inskrywing iewers op ‘n stamboom sal word. En dat dit wat ons dán nog nie gedoen het nie, moontlik vir ewig ongedaan sal bly. Só probeer baie van ons altyd dieper in die verlede in delf op soek na die genealoog se droom: ‘n stamboom wat regdeur die gryse verlede loop, sny soos ‘n Spaanse lem deur die grense van tyd en afstand, om uit-eindelik op ‘n plek uit te kom wat meeste van seker nie sal herken as ons dit vind nie.

Gewoonlik praat ons van die soeke na ons “wortels.” En hoekom dit in elk geval so belangrik moet wees, kan niemand regtig verklaar nie. Ek wonder baie dikwels wat die rede is dat die mens die enigste spesie is wat so behep is met sy koorsagtige gesoek na wortels. Is dit miskien omdat ons hoop om in ons wortels ‘n verklaring te kan vind van wie ons werklik is? Of is dit moontlik omdat ons hoop dat ons in ons wortels die antwoord sal vind op wat ons uit-eindelik eendag gaan wórd?

Ek glo graag dat dit ‘n mengsel van beide is. Dat ons in die verlede, die spieëlbeeld van ons toekoms sien, omdat die verlede altyd herhaal. Maar dit bly nogtans ‘n droom. En na jare van soek en arbeid, kom mens altyd opnuut tot die gevolgtrekking dat ons soeke nooit voltooi sal word in hierdie wêreld nie. Ver in die verlede lê die droom van ons harte as genealoeë. Ons mag hierdie drome wel dalk nooit bereik nie, maar van waar ons staan, kan ons hulle darem op ‘n afstand beskou. So kan ons, in die woorde van Louisa May Alcott, “hulle skoonheid sien, so kan ons in hulle glo, en so kan ons volg waar hulle ookal heen mag lei.”

Vir ‘n genealoog lê die pad na die droom van ontdekking vol begeerlike oomblikke. Die wonder van nuwe ontdekkings, die skoonheid van oomblikke van waarheid, en die fassinering van oomblikke van stille verwondering, wanneer mens skielik uitvind dat die stukkies en brokkies wat oor jare versamel is, meteens saamsmet om ‘n wonderlike geheelbeeld te vorm. Ek glo graag dag genealoë tyd-reisigers is. Wetende dat ons nooit by ons bestemming sal uitkom nie, hou ons nogtans entoesiasties by ons drome—want ons drome is ons padkaart. En langs die weg lê ons plesier. En dit, hoe onverstaanbaar dit ookal vir buitestaanders mag klink, is hoekom ons doen wat ons doen.

Die Oos-Kaap as Area van Belangstelling

Op die kaart van die verlede, waarop die koers na my wortels lê, speel die Oos-Kaap ‘n belangrike rol. Dit is hier waar my voorouers, en ook die van baie ander Afrikaner families, ‘n belangrike herkoms gehad het. Iewers rondom die jaar 1754 het ‘n oer-oumagrootjie van my, Gesina Steenkamp, op haar plasie Pontak, vlak buite die Paarl gesit. Om ‘n rede wat net ons Maker sal verstaan, was sy meteens ‘n jong weduwee wat nou sewe kinders alleen moes beskerm en bewaar teen die geweld van die lewe. ‘n Paar maande later trou haar dogter met Willem Nel, ‘n burger van Swellendam. Van hier af, moes die moeder waarskynlik af en toe gehoor het van ‘n pioniersland, wild en totaal anders as die Kaap met sy mooi berge en rustige diep valleie, sy beskawing en orde. Tog, moes daar iets gewees het wat die harte van mense getrek het, want enkele maande later trou die moeder met Willem Nel se ouer neef, en verhuis ook na die destydse reusagtige streek van Swellendam. Min sou die familie weet dat Gesina Steenkamp en haar verwese familietjie nog hier baanbrekerspore sou trap in die toekoms van ‘n volk wat nog maar besig was om gebore te word.

Pontak - waar die Labuschagnes vandaan kom

Hier, langs die Oosgrens, het die Labuschagnes geplant geraak. Saam met die avonturiers van hulle tyd, het hulle ‘n vreemde wêreld begin tem, en plesier gevind in die strewe om selfbeskikking in ‘n streek waar burokrasie en amptenary nie ‘n meulsteen om die nek sou wees nie. Na die stil valleie van die Oos-grens het ek nou al meer as een of twee jare teruggekeer om te peins, te dink, te bespiegel, en te probeer om die patrone en gebeurtenisse van die verlede weer terug te verf op die palet van die teenswoordige tyd. “Waar het hulle gewoon? Wat het hulle gedoen? Waar rus hulle moeë beendere vandag?” vra ek myself onophoudelik. Oor welker vraaie uitsigte het hulle hulle oë laat wei, waaruit is hulle drome gebore, en waar lê vandag die klei wat gevorm het onder die druppels van hul trane? Dit is hierdie vrae, en nog baie ander, wat my telkens weer terugbring om nogmaals te kom soek na spore in die verlede.

Johannesburg na Burgersdorp, via Bethulie

My vertrek uit Johannesburg was laat in September. Droog en vaal op die hoëveld, maar met ‘n vroeë lente wat reeds skaam-skaam begin glimlag het in die groen sprietjies wat op die vars veldbrande begin dei. Hierdie jaar stop ek nie by Vegkop waar Gesina Steenkamp se nakomelinge jare later aan die Slag van Vegkop sou deelneem nie. My pad loop langs die moeggetrapte N1 snelweg, skuins verby Vegkop, en kruis die Vaalrivier op ‘n plek waar ‘n groot geel bord ‘n nommer vertoon waarby verkeers-korrupsie gerapporteer kan word. Ek glimlag, half spyt dat ek verby is voordat ek ‘n foto kon neem. Begryp jou. Dieselfde korrupsie wat in Simon van der Stel se tyd die burgers se gemoedsrus bederf het, blom na twee eeue nog soos ‘n giftige kaktus op die uiterste grens van Transvaal! Die motor dreun verby, en van korrupte amptenary sien ek geen teken nie, maar ek weet hulle is daar. Soos maba’s in die bos. Jy hoef hulle nie altyd te sien om te weet dat hulle jou een of ander tyd gaan byt as jy nie baie versigtig is nie.

By Kroonstad hou ek fyn dop, want daar kruip hulle mos agter klippe en bosse weg soos adders in die dorsland. Ek herinner my aan die holderstebolder gevlug van die Boere kommando’s toe die Britse militêre stoomroller die gesamentlike Boeremagte teen die draai van die 18de eeu bymekaargemaak en begin terugstoot het. Die desperate gekeer van klein groepies dapper helde, wat die agterhoede by Kroonstad gedek het, terwyl ons banger voorvaders met reusagtige stofkolomme dag vir dag oor die verre horisonne bly vlug het. Die koorsagtige oppak van die Vrystaatse regering uit sy tydelike setel in Kroonstad, voor Roberts se magte hulle kon vang. Skande en eer. My voormense was daar, en terwyl my oë oor die droë mielielande streel, sien ek hulle daar. Donderend in hul vlug, dreunend in hul verweer. Langs die treinspoor trek in my geestesoog ‘n groot sampioenwolk stadig die lug in, en ek weet die Boere het nog ‘n treinbrug die lug laat inspring. Ek glimlag. Iewers naby Brandfort sou my oupagrootjie wees, dink ek. Daar sou sy perd eendag tydens ‘n wilde vlugtog in ‘n gat trap en oupagrootjie soos ‘n vrot vel oor die veld laat rol. Wetende dat hy met sy swak sig vir die res van die oorlog buite aksie sou wees as sy bril gebreek het, storm sy broer en vriende op hom af. Onbesorgd oor sy veiligheid is die enigste ding wat hulle van hom wil weet, “Len, is jou bril nog heel?”

Die gedagte is half snaaks, en ek dink aan hoe oupagrootjie van hier af elke dag verder gedryf was. Soveel so dat hy van staanplek tot staanplek met sy groepie se pot warm pap in die hand moes jaag. Waar hulle ookal stop, moes hy gou ‘n vuurtjie aanslaan om die pap verder te laat kook. En wanneer dit by skiet kom, het sy vriende met groot vermaak vertel, het oupagrootjie ‘n lepel pap geeët, ‘n skoot geskiet, weer ‘n leper pap gesluk, en reg gemaak vir sy volgende skoot. ‘n Pap-etende Mauser-skut met ‘n dodelike akkurate oog, ten spyte van die dik brille wat hy lewenslank moes dra. Hy het nog altyd ‘n sin vir humor gehad…

By Bloemfontein dink ek aan my studentejare, en aan wat ou President Steyn moes voel toe hy sy setel, huis en hoofstad vir die laaste keer moes verlaat. In sy hart het hy gehoop vir ‘n oorwinning wat hom eendag weer tuis sou lei, maar in sy verstand was daar oomblikke waarin hy sekerlik moes vermoed het dat die stryd voor die mag van die grootste ryk in die geskiedenis van die aarde, heel moontlik nie volhou sou kon word nie.

Ek doen teen middagete aan by ‘n ou vriend naby Tempe in Bloemfontein en gesels oor tye van gister. Waar sy huis vandag staan, was ‘n opleidingskamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Daar het sy ou buurman my eendag vertel, het hy tydens die oorlog geleer motorfiets ry, en daar is hy op ‘n goeie dag met ‘n groot gejuig dwarsdeur ‘n doringdraad wat hy te laat in die veld gesien opdoem het. Maar min mense weet dit vandag. Ou Oom Lankey Keys self is reeds tot stof vergaan, en saam met hom heen is ‘n leeftyd vol stories wat ek in my dwaasheid nooit belangrik genoeg geag het om op te teken nie. Dis jammer. Hy het die lewe beleef soos ‘n mens dit moet beleef—met passie en oorgawe. Sy avontuure sou boeke kon vul. Wat ek kan onthou het ek in latere jare opgeskryf, maar dis maar min.

Na ‘n middagete wat te lank geduur het vir so ‘n lang reis, draai my motor se neus weer suidwaarts, en skeer ek weer oor die snel-veranderende landskap. My doelwit vir die dag is Bethulie se omgewing, waar ‘n ander voorvader se spore lê. George Augustus Kolbe het in 1820 nie as ‘n setlaar nie, maar as ‘n onafhanklike imigrant in Suid-Afrika aangekom. Iewers is ‘n slang in die gras met sy lewensverhaal, want op sy en sy bruid se doopsertifikaat gee hy hulle ouderdomme as 21 aan, maar ons weet vandag beslis dat hulle albie intlik net 19 jaar oud was. Hulle het dus oor hulle ouderdom gelieg, en dit nogal binne in die kerk. Mens kan maar net raai dat hy sonder sy ouers se medewete getroud is. Daar is rede om te vermoed dat een of beide van die families nie noodwendig baie gediend met die huwelik sou wees nie. Aangesien hulle wederregtelik as minderjariges getroud is, kan mens weereens raai dat hulle plan sou wees om so vinnig so ver as moontlik van hul familie af weg te kom voordat die families van die huwelik sou uitvind en dit laat ontbind.
Stamvader George Augustus Kolbe

Wat ookal die geval was, George Kolbe bekom in 1820 ‘n pos as sendeling, en word spoediglik na ‘n Franse sendingstasie naby Bethulie gestuur. Daar wil bestaande getuienis dit laat blyk asof hy nie volgens die uiters negrofilistiese deuntjie van die sendelinge van sy tyd wou dans nie, en na etlike jare van struweling en moeilikheid word hy uit-eindelik uit sy sendingspos ontslaan. Nie dat dit teen daardie tyd ook meer veel hoef saak te gemaak het nie. Groot-oupa George was moontlik ‘n meer suksesvolle boer as wat hy ‘n sendeling was. Hoe dit ookal sy, sy plaas Eenzaamheid, lê vandag nog aan die voet van ‘n rantjie digby Agtertang treinhalte, en slegs ‘n klipgooi van Gary Player se perdeplaas af.


Ek doen by Bethulie aan, maar besef dadelik dat alles nie so meer so heilsaam in Blommeland is nie. Die Suid-Vrystaat het oseane vol reën gekry en waar ek ookal gaan, is dit ‘n gegly en ‘n gesuig in die modder. Ek ry heen en weer deur die dorpie maar vind nie die begraafplaas nie. Ek stop langs ‘n swart vrou en vra haar waar die begraafplaas is. Sy beduie iets in die trant van “nee, ek weet nie,” maar swaai haar arm in die teenoorgestelde rigtnig om ten minste vir my te wys dat ek heeltemal verkeerd mik. Hmm. Ek het so gedink. Met die omdraaislag bemerk ek ‘n omie wat aangestap kom. Ek draai uit, en ek dink hy dink aanvanklik eers dat ek wil hom omry, maar toe besef hy meteens dat ek eers wil gesels. Hy steek ‘n hand uit om te groet met ‘n palm wat voel soos ‘n rou-baksteen—hard en vriendelik soos die veld.
“Die begraafplaas?” sê die oom. “Man, as ek kan saamry gaat wys ek jou sommer gou waar dit is. Wat sê jy is jou naam nou weer?”
“O, ja, my ma was ‘n Labberskagnie. Ja, hier wás van hulle, maar nou nie meer so baie nie. Hulle is mos meer Steynsburg se kant toe, jy weet?”
Ek maak die deur oop en die omie klim in met skoene wat soos Hollandse klompe lyk, so dik is hulle sole van die modder. Ek het die kar laat skoonmaak net voor ek weg is, maar ek dag toe, “ag laat los. Dis wêreldsgoed, en jy is nou besig met belangriker dinge.”
Die oom lig sy karaktervolle vinger en beduie vorentoe: “Man, kyk, jy ry nou hier op, en daar voor links, en dan sal ek jou wys hoe nou vorentoe.”
Ek draai die wiel gehoorsaam en vra: “Hoe lank bly oom al hier?”
“Jongie, al sewen-in-dertig jaar.”
“En is dit ‘n goeie plek om te woon?”
“Bethulie? Ja man, dis ‘n baie lekker plek hierdie. Hier gebeur nou nie so baie nie, maar soos ek sê, ek bly al sewen-in-dertig jaar hier, en mens word vir die plek nie moeg nie.”

Die oom gaan wys my die begraafplaas en ek ry terug na die ander kant van die dorp om hom te gaan aflaai. “Wel, ten minste weet ek dat Bethulie één vriendelike gesig het,” sê ek vir myself terwyl ek weer begraafplaas toe ry. Die wolke is grys en die wind kerf aan die gebeente soos ‘n skeermeslemmetjie. Dis dertien grade en ek sien die temperatuur bly val, ‘n halwe graad op ‘n slag. Ek het tyd verloor en is haastig want ek weet nog nie waar ek gaan oornag nie, en dit gaan nou-nou donker word. Op Bethulie, kry ek die gevoel, gaan ek nie op ‘n Sondag blyplek vind nie, en ek neem my foto’s by die ou Voortrekker monumentjie so vinnig as wat ek kan, en daarna gaan grawe ek my baadjie op die agtersitplek uit tussen my boeke en leêrs.
Inskripsie: Ter herennering aan Ben Kruger gebore 20-06-1866 en Jan Harm Coetzer gebore 16-08-1876. Verdrink gedurende 'n geveg op Oudefontein. Als Kaapse rebelle onder Komdt. Van Reenen op 2de April 1901. Namens Dingaans Fees Komitee Oudefontein.

Die begraafplaas van Bethulie is in ‘n minder goeie toestand. Die onkruid word op ‘n manier van soorte beheer, maar eintlik maar meer in die letter van die wet as in die gees van die wet, soos die Bybel sou sê. Of miskien is dit andersom. Ewenwel, die bossies groei asof die dood nie bestaan nie. Die reën het alles ‘n pappery gemaak en ek voel hoe my eksotiese stads-voorkoms begin om kolle en strepe van plattelandse kamoeflering op te tel. Ek pluk die kamera uit en begin bibberend foto’s neem. Ek snuffel al die Kolbe’s uit en neem hulle af. By ‘n ou tannie se graf staan ek ‘n oomblik stil. Dis ‘n ou graf, maar die stormreën het ‘n gat langs die steen laat inval, en ek loer morbied in die donker duisternis in om te sien of daar dalk bene lê. Ek kan niks sien nie, maar ek wonder so in my sondigheid of die ou tannie geskrik het die die stroom yswater so skielik deur haar ribbebene trek. Vir ‘n oomblik wonder ek of dit disrespekvol is om so te dink, maar dan besluit ek dat die lewe nie die moeite werd sou wees sonder humor nie, en dat die dood maar netsowel af en toe kan deel neem aan die oefening.

Ek rammel die fotonemery maar vinnig af, en wriemel verlig in die warmte van die motor in. Ek ry weg met klonte modder wat vrolik teen die motor se onderstel vasklots totdat ek die dorp verlaat en begin spoed vang. Met die dag se laaste lig wil ek nog by Knapdaar verby ry, so daar is nie tyd vir duime rol nie. Op die brug oor die Oranjerivier stop ek egter eers, want sover ek kan onthou is dit die langste brug in Afrika, en die uitsig is regtig merkwaardig mooi. Ek neem ‘n stel foto’s in die huiwerende lig, en probeer myself voorstel hoe dit sou gelyk het in die dae toe enorme troppe olifante nog vreedsaam in die rietbeddings gestaan en wei het. As mens so rondkyk is dit maklik om jou te verbeel dat jy deur die eeue heen kan terugstaar. Al wat jy hoef te doen is om Bethulie se dorp se buitelyne mis te kyk, groot trope wild op die landskap terug te plaas, en jou tydmasjien is perfek.

Van die brug af versleg die situasie vinnig soos die pad na Burgersdorp verander in ‘n grondpad. Verby is die dae toe vriendelike ou omies met grys-groen pap velt hoedjies hulle trotse padskrapers gereeld oor die lewensare van ons plattelandse infrastruktuur geskraap het. Skielik mis ek hulle met nostalgie soos die middelmannetjie van die grondpad al hoër word totdat dit elke nou en dan teen die motor se onderstel begin vasslaan. Ek verbinder spoed, lig een wiel op die middelmannetjie, en ploeg dan moedig voort terwyl die motor sy stert heen en weer waggel in ‘n rebelse obsessie om die pad te verlaat en die veld in te foeter. Op ‘n draai lê ‘n doodgetrape meerkat en die karkas van ‘n dooie lammetjie, en ek sê vir myself, “Self, as jy wéér sien is jy van die pad af, en as die boere jou uit die modder kom sleep gaan hulle vir jou sê, ‘vir wat neuk jy op so ‘n pad met ‘n simpel stadsmotor?’” Ek vervies my vir die duisendste maal omdat ek ‘n stadsmens geword het. Mens weet mos as iets nie werklik jou plek is nie.
Die pad na Knapdaar, iewers tussen Bethulie en Burgersdorp
In die laaste lig is die wêreld verruklik mooi. Ek neem foto’s sommer so deur die vooruit in die ry, want daar is nie tyd om te stop nie. Die omie in Bethulie het gesê hulle het drie duim reën gehad, en selfs meer op plekke. Oral staan plate water in die veld, en die boere se damme staan tevrede vol grys water. Op hierdie pad is nie eintlik padaanwysings nie, maar ek hou maar so suid-oos se kant, en kry ten minste die gevoel dat dit nie te ver verkeerd kan wees nie. Die heel tyd verkyk ek my aan die mooi wêreld en balanseer my vrede met ‘n gevoel van ontsteltenis dat die owerhede ons plattelandse infrastruktuur so laat verval het. En dan, terwyl ek nog sit en werk aan my bloeddruk, rye ek Knapdaar binne. Ten minste, mens ry hom uit omtrent die oomblik wanneer jy hom binne ry. By die ou spoorwegstasie wat eers Knapdaar was, is nou knap niks. Die geboue staan almaal eensaam en verlate, en oral is die ruite vol gate soos die booswigte klippe deurgegooi het. Daar is nie veel om na te kyk nie, en ek gaan nie tyd mors om te soek nie. Na Knapdaar se ou Kolbe plaas sal ek later kom soek. Miskien volgende jaar. Vir eers moet ek op Burgersdorp uitkom waar die ou Kolbe stamvader en sy eggenote geduldig in die kerhof lê en wag op die laaste basuin om te blaas.

Snaaks hoe mens teerpad met ‘n mengsel van blydskap en afsku begroet wanneer jou wiele dit skielik weer tref. Ek kan nie besluit of die motor nou meer of minder ratels het nie, maar dit maak ook nie saak nie. Ek moet druk vir Burgersdorp. Die omie van Bethulie het my gewaarsku: “Burgersdorp lê in ‘n gat. Dis vriesend koud in die winter en hel-uit warm in die somer.” Ek tref Burgersdorp ewe skielik en sonder waarskuwing. Op die regterkant begroet ‘n ou klip blokhuis uit die Boere-oorlog die reisiger met ‘n stywe buiging, en oomblikke later ontvou die hele dorp voor jou. In die verbygaan kyk ek die blokhuis so met een oog en ‘n skewe kop soos ‘n hoenderhaan wat die son meet om te besluit of dit al tyd is om ‘n sit-stok te gaan uitsoek en ek dink by myself: “Vir jou kom ek môre afneem as die son uit is!”

Burgersdorp

Burgersdorp ry ek van hoek tot kant deur. Dis ‘n pragtige ou dorpie vol mooi ou geboue en groot bome. Soos gewoonlik kan ek nie besluit watter gastehuis om te probeer nie. Ek en ‘n Toyota bakkie, blykbaar ook vol vreemdelingeuit ‘n ander oord, ry van plek tot plek, en vind vinnig uit dat jy nie maklik plek in ‘n gastehuis kry so laat op ‘n Sondag in Burgersdorp nie. Ek begin al klaar sien hoe my aand in ‘n bron van teleurstelling begin ontaard, maar gaan klop uiteindelik aan by ‘n groot, statige woning. ‘n Lui Labrador begroet my koms, en ek stap versigtig deur die absolute pappery in die parkeerarea. ‘n Dame kom uiteindelik te voorskyn, maar dit lyk nie of sy bly is om besigheid te sien nie. Moeg, verduidelik sy dat sy net een kamer oop het want daar was die naweek ‘n bruilof in die dorp en alles is nog chaos na die gaste weg is. “Kom kyk maar of jy daarvan hou.”

Ek stap deur, maar sommer van ver af begin iets aan my nekvelle krap. Die akkommodasie is heeltemal billik, maar ek voel beslis nie welkom nie, en toe die dame aankondig dat sy nie etes aanbied nie, ten spyte van wat die bordjie in die straat adverteer (“restaurant”), begin die irritasie van ‘n lang dag my ongeduldig maak. “Waar anders kan mens probeer vir ‘n maaltyd,” vra ek beleefd.
“Nee, ek weet nie,” antwoord die dame. “Ry maar rond en kyk of jy iets sien.”
Ek kyk die dame so, en besluit toe dat ek ‘n ander reëling sal tref. My ma het my geleer ons Boere moet oorloop van warmte en gasvryheid. Dit is ons kultuur en dit is ons heilige plig. Baie keer vandat ek ‘n kleuter was het sy ons vermaan, “want mens weet nooit wanneer jy dalk eendag ‘n engel in jou huis ontvang nie.”
Met ‘n paar komplimente oor die mooi huis, dui ek beleefd aan dat ek liewers maar nog so bietjie sal rondkyk. Ek doen nie maklik so iets nie, maar nou ja. Mens wil nie voel of jy ‘n oorlas is nie wanneer jy nog bonop ‘n betalende gas is nie…

Uiteindelik tref die geluk my om ‘n klein kothuisie met die naam “The Nook[1] raak te loop. Anita Joubert is die eienares en aan haar stem kan ek onmiddelik hoor dat sy “een van “onse mense” is, soos my ma altyd gesê het. Dis die ene warmte en sorg en sy klink presies netsoos ‘n veraf-groot tante van my.
“Die bed is nog nie opgemaak nie, sê sy, maar as jy bietjie sal wag, maak ek dit gou reg.” Ek steek vinnig die hande op.
“Nee wag, wag. Ek het duisende beddens in my lewe opgemaak en ken van beddens regmaak op kort kennisgewing as die gaste jou skielik toesak. Ek vat gou een kant, dan is dit vinnig klaar.”

Anita verduidelik verskonend dat ‘n gas die vorige nag ten spyte van regulasies in die kamer gerook het, en dat sy die stank met geen geweld kon uitkry nie. Ek sê dit maak nie saak nie, maar later besef ek, wat die vrou ookal gerook het, dit moet uit Van Hunks se eie tabaksak gekom het. Dit kon netsowel donkiemis gewees het. Ek is nie sensitief oor sulke goed nie, maar dit is skielik uiters irriterend om te dink dat iemand so ‘n ordentlike mens se gasvryheid met sulke minagtende disrespek begroet het. Min het ek geweet, maar die hele nag sou ek nog lê met wraakgedagtes teenoor ‘n anonieme roker wat geen respekte vir ander had nie. In ieder geval, Anita beduie waar die beste ete op ‘n Sondag-aand verkry kan word, en ek stap sommer soontoe. Biefstuk en eier, soos dit ‘n goeie Boer betaam, terwyl die bestuurder vir my ‘n TV so groot soos ‘n snoekertafel op die sportkanaal stel. Wel, nie heeltemal so groot nie, maar groot genoeg. Ek het wel verduidelik dat ek regtig nie belang stel in TV nie, maar toe hy sien ek kyk nie Sewende Laan nie, toe dink hy seker sport sal beter afgaan. Ek kan nie onthou wat gewys het nie, maar ek is amper seker dit was rugby van soorte. Iemand wat iemand anders bespeel het—haaie of katvisse of seekatte of enigeen van die snaakse nuwe name wat ons spanne vandag dra. Ek het my belangstelling total verloor vandag geld en politiek ons sport beduiwel het. Ek was die enigste gas, en daardie aand was my gedagtes 180 jaar terug in die verlede, wat die rugbyspelers ookal probeer bereik het op hulle modderige sportveld.

Daardieselfde aand sit ek en Anita en nog ‘n gas, en gesels oor die land, die verlede, en die toekoms. Die ander gas is op pad terug van ‘n besoek aan Nieu Seeland. Sy sê sy teken etniese volksmusiek op, en ek luister belangstellend. Ek het nie werklik ‘n buitengewone belangstelling in etniese kultuur nie, maar dit het my nog altyd vreemd voorgekom dat die mense so bitter min belangstelling in die behoud van hulle eie kultuur getoon het. Die bewaring van ou musiek-erfenis klink vir my interessant, want ek en die pianiste Anna Bender, het al lekker daaroor gesels. Dis iets wat haar ook ná aan die hart lê. Ons ontdek dat ons al drie so tussen ons, vaagweg dieselfde mense in die kuns en kultuur bedryf ken. Die ander gas stel ook in genealogie belang, en kort voor lank begin ons die beendere op die tafel uitpak om te sien waar ons stambome dalk ‘n raakpunt maak. Ek en Anita is via die Jouberts met ‘n lang, lang ompad verwant, maar ek en die ander gas spook so bietjie en gee die stryd dan gewonne. “Die gemeenskaplike skakel lê seker nader aan Adam en Eva as wat dit aan ek en jy is,” dink ek net voordat ek verskoning maak en bedwaarts keer.


[1] The Nook Bed & Breakfast. Kerkstraar 35, Burgersdorp. Tel/Faks: 051 653 1318 of 082 620 4758. http://www.thenook.co.za

No comments:

Post a Comment