Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 5


In Glentana sou ons ‘n aangename tien dae deurbring met vriende en familie van oor die hele land. Dit is soms nodig om moeite te doen om ‘n belegging in vriendskap en verhoudinge tussen mense te belê. Ek het eendag een van my beste vriende—‘n mediese spesialis hieroor gevra. Waaroor lê mense en verwyt hulleself wanneer hulle alleen in ‘n hospitaalbed lê met die aasvoëls wat bokant draai—wagtend op die laaste asemteug. Is dit omdat hulle nie harder gewerk het, of meer geld gemaak het, of beter kon leef nie?
Glentana se hoofstrand
“Nee,” het my vriend geantwoord. “Wanneer die aasvoëls draai, dan druk ‘n pasiënt jou hand en beklae hoofsaaklik net twee dinge—die feit dat hulle nie meer tyd met hulle geliefdes gespandeer het nie. En ook dat hulle nie meer kanse in die lewe gevat het nie. Hulle is nie jammer oor hulle foute nie. Dis die kanse wat hulle nooit gevat het nie. Die vakansie wat hulle nooit geneem het toe die kinders nog klein was nie. Die aandag wat hulle nie aan hulle ouers bestee het nie, of die dinge wat hulle altyd saam wou doen, maar nooit kans voor gehad het nie. Dít is waaroor mense in hulle laaste uur die grootste spyt het.”

Ek het hierdie woorde nooit vergeet nie, en ek haal hierdie storie dikwels aan. Wat is die belangrikste inskripsie op ‘n grafsteen? Die persoon se naam? Of sy geboorte of sterfdatum, miskien? Of is dit dalk die Bybelversie wat soms onderaan geskryf staan. Al hierdie dinge is tog belangrik. Maar die heel belangrikste van alles is die klein strepie wat die geboorte datum van die sterfdatum skei. Die klein woorde “tot” wat 1928 van1988 skei. Want daardie strepie of woordjie verteenwoordig die somtotaal van ‘n mens se hele bestaan. Alles wat tel lê opgesluit in die diskrete spasie tussen die uur van ‘n geboorte en die sekonde van ‘n sterfte. En as ons nie tyd maak om daardie gaping te vul nie, word die spyt later dalk te groot. Ek ken ‘n tagtigjare oue dame wat hierdie feit met oortuiging sal beaam…

Die weer in Glentana was onverbeterlik. Soggens het dolfyne in die golwe baljaar en walvisse naby die strand het besoekers vermaak deur die water se oppervlakte met hul sterte te slaan. Ek wil my verbeel dat ek iewers gelees het dat dit iets te doen het met hofmakery of geboorte skenk, maar miskien onthou ek verkeerd. Dalk is dit maar net wat walvisse doen wanneer hulle ‘n lotery kaartjie sonder wen-nommers gekoop het. In elk geval, ek het oral rondgevra waar ek ‘n walvis-jag lisensie kon koop, in die hoop dat ek ‘n bewaringsbehepte Kapenaar kan kwaad maak, maar niemand het my ernstig opgeneem nie. Nou ja, ek het probeer, maar wanneer die Derde Boereoorlog uitbreek sal dit klaarblyklik nie as gevolg van my agitasie wees nie. Snags het ek dikwels gestaan en kyk na die ligte van Mosselbaai wat vrolik anderkant die water lê en blink het. Die lighuis se sein—blink—donkerte, blink-blink, gevolg deur nog ‘n lang donkerte. ‘n Unieke sein wat deur enige skip op aarde geïdentifiseer kan word. Iewers tussen daardie ligte woon Ben Cilliers, weet ek. Ek het gehoop ek sou geleentheid kry om vir Ben te gaan opsoek om oor Voortrekker beendere te gaan uitlê, maar ek het geweet tyd sal dit waarskynlik nie toelaat nie. Soos gewoonlik was ek reg omtrent dinge waaroor ek nie graag reg sou wou wees nie.

Alle dinge kom tot ‘n einde en uiteindelik was dit weer tyd om vir Mev. Ihnken te gaan haal.
“My bags are ready,” het sy gesê, “but I’m not!”
Glentana teen sonsondergang
Ja, dan glimlag ons maar. Ek ken ouer mense. Ek het dus maar eers langs die strand gaan parkeer en toe vir ‘n tyd lank op die sand gaan sit en kyk na die see met die oë van ‘n Transvaler wat spoedig weer die skoon lug vir die stank van Johannesburg moet verruil. Toe ek ‘n kind was het ek gedink dat ek graag ‘n matroos sou wou word. Ek het baie boeke oor see-verhale gelees en ek dink ek sou op die water kon aard. Die see en Antarktika is tog die laaste vry plekke wat oor is op aarde. Met die jare saam het ek begin besef dat iets van my oor-groot neef Andries Hendrik Potgieter se geaardheid nog in my bloed bruis. Noem dit maar die verset teen ingehoktheid. Het ek byna twee eeue gelede op Brakfontein gewoon, sou ek seker onder die eerstes gewees het wat sou saamstem dat ons heil anderkant die Grootrivier gesoek moes word. Maar vandag is daar nie meer ‘n Grootrivier waaroor ‘n man kan trek wat genoeg gehad het van ‘n samelewing vol misdadigers wat gekenmerk word deur die stadige kanker van die verval van moraliteit en beskawing nie. Vandag bly nog net die see en die wildernis van die suidpool oor en beide hiervan is nie eintlik veel van ‘n opsie nie. Nee, Johannesburg met haar koue hart van goud het geroep en haar onwillige slaaf moes maar gehoor gee. ‘n Klomp jellievisse het op die strand uitgespoel na die vorige twee dae se storms. Ek voel-voel aan een en rol sy dooie vlees om met die voet. “Cheers, ou pêl. Ek sien jou soort eers volgende jaar weer.” En toe draai ek maar die rug op die bloue horison en stap die duin weer uit. My ou passasier was by hierdie tyd gereed, en in ‘n japtrap brand ons weer die berge uit op pad na die noorde toe.

No comments:

Post a Comment