Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 6


Die pad terug na Aberdeen het gevoel soos vyftien minute en die gesprek het rondom familie gedraai en die dinge waaroor mens praat wanneer die Tweede Wêreldoorlog verby is en nie meer saak maak nie. Ek wonder of die ou dame ooit weer van haar seun gaan hoor? Hy het sedert 1986 nog nie kontak gemaak nie. Ek probeer haar ompraat om vir my ‘n skoendoos vol foto’s en briewe op te maak sodat ek dit eendag vir haar kleinkinders of agter-kleinkinders kan gee as hulle ooit sou belang stel. Dit verg nogal oorredingsvermoë want na soveel jare raak dit moeilik om te glo dat iemand nog in die dinge van die verlede sal belang stel. Maar daar is altyd ‘n geslag wat in die spieëlbeeld van die verlede die refleksie van die toekoms wil probeer sien. En al wil hierdie geslag nie kyk nie, voel ek myself nogtans geroepe om ten minste die kurator van ‘n boks vol herinneringe te word wat moontlik vir ‘n vreemde kind in Duitsland eendag ‘n sin van identiteit mag verskaf. Ons sal maar sien of my voorstel vrugte oplewer. In Aberdeen het die tyd nog steeds stilgestaan asof ‘n week nooit gekom en gegaan het nie. Dit is ‘n tydlose dorpie. Ek help die ou dame om haar rekenaar te orden en ‘n epos adres op te stel sodat ons darem in verbinding kan bly. Haar Engels is van so ‘n aard dat sy nie eintlik kan kommunikeer in Aberdeen nie, en my Duits is so vrot geroes dat dit ook nie veel beter gaan nie, maar met ‘n half-gekraakte koppie en ‘n on-maat piering lyk dit darem of die twee van ons gesels kan kry, ten spyte van die generasiegaping van etlike dekades.

Wanneer ek uit Aberdeen wegkom is dit al half-vyf en die Karoo se strakheid begin versag sodat die bergvalleie glimlag met skaduwee. In die Vallei van Verlatenheid het die spietkops lankal al gekapituleer, hulle spoed-kameras weggepak en huis-toe gegaan voor Sewende Laan begin. Iewers aan die linkerkant van die pad lê daar glo ‘n graf met ‘n ou ysterkatel bo-oor. Na bewering het ‘n ou pionier se vrou tydens die Groot Trek hier gesterf. Hy het haar begrawe en die katel as ‘n grafsteen gelaat—en so staan die ou bed na bewering tot vandag toe nog tussen die eensame Karoo bossies. Maar ek kon nog nooit die katel raaksien nie. Jy kan hom glo van die pad af sien, maar dan moet jy seker weet waar om te kyk. Ek gaan eet my ou gunsteling gereg—Nachos Mexicana—by die Spur, neem die Andries Pretorius monument buite die dorp af, en bewonder die laaste oorblyfsels van ‘n sterwende Karoo-middag. Sou ons Voortrekker voorvaders ook met so ‘n gevoel van teësinnigheid die bergpasse uitgedryf het, of sou die belofte van die vreemde land voor hulle hulle eerder aangetrek het? Seker ‘n mengsel van beide, dink ek. Tussen Middelburg en Colesberg is omtrent geen verkeer nie. Dis skuins voor agt, die motor is op spoedkontrole gestel en op die radio speel “Fairytale of New York”, “Kinders van die Wind,” Theuns Jordaan met “Beautiful in Beaufort Wes,” en Neil Diamond met “I am… I said…” Dis musiek uit my jonger jare toe die nagte van die Suid-Oos Transvaal nog so donker was soos hier in die Karoo. Ek het nog altyd van die woorde gehou. Dit bring ‘n herinnering mee van ‘n wilde reis op die pad tussen Knysna en Mosselbaai, jare gelede op ‘n donker nag wat voel soos ‘n ander tyd in ‘n ander lewe.

Well I'm New York City born and raised
But nowadays, I'm lost between two shores
L.A.'s fine, but it ain't home
New York's home, but it ain't mine no more

Op so ‘n nag maak afstand en uure nie saak nie. Jy kan van Mosselbaai tot in Messina ry en jy kan jouself verbeel dat die pad nog steeds te kort sal wees. En dan begin Leonard Cohem in sy diep stem met, “Suzanne takes you down to her place near the river… And she feeds you tea and oranges that come all the way from China…”

En dan—skielik en sonder waarskuwing—materialiseer ‘n jakkals in die hoofligte van die motor—bewegingloos soos ‘n skimagtige standbeeld van die nag. Nie eers die oë blink nie. En ek reageer op impuls sonder om te dink reg op die laaste oomblik. Dit is dwaas om uit te swaai, maar ek ‘n paar weke gelede ‘n hond raakgery en sewe en ‘n half duisend Rand se skade aan die motor opgetel. Sulke goed maak mens seker maar sensitief. Toe ek besef dit ‘n fout is dit al reeds te laat en die oomblik is verby. Die motor ruk wild in die regter laan maar bly op die teer, en pluk omtrent vanself onmiddellik weer links sodat ‘n klomp los goed saam met die drywer teen die regterkantse deure geslinger word. Dit kon slegs ‘n breukdeel van ‘n sekonde geduur het en die jakkals het seker net ‘n ligstreep en ‘n stroom wind gevoel voor dit weer nag geword het. Maar ek is woordeloos verstom. As dit ou Theuns Jordaan se Ford Fairlane met sy pap vere was, dan het ek miskien nou iewers in die Karoo bossies gelê met al vier wiele wat in die lug draai—soos die ou Voortrekker se vrou wat onder haar katel lê en wag vir die Wederkoms. Maar vir my en daardie motgevrete ou jakkals was dit seker nog nie die vasgestelde uur nie. En so het ons paaie geskei en is die twee van ons elkeen na sy eie wêreld verder sonder om ooit te presies te verstaan hoe gelukkig ons was en watse planne in die wêreld uitgespeel word.

So skuins na twaalf besluit ek om my perd op stal te sit in Colesberg en ek bespreek in by die eerste plek wat adverteer dat hy 24-uur ‘n dag oop is. Ek trek in en vind die plek so vrot gerook dat nie eers ‘n weeluis of ‘n kokkerot ‘n nag daar sou kon oorleef nie. En skuins oorkant my sit ‘n klomp kleurlinge uit die Noord-Kaap en klets met die deure oop, so hard dat dit ‘n dooie jakkals aan die draf sal kan sit al is dit net om iewers elders in stilte van voor af te kan gaan vrek. Ek besluit toe om beleefd te gaan vra vir ‘n stiller kamer op ‘n ander plek. Die ontvangsdame gee my so ‘n lang, ondersoekende kyk en oorhandig toe ‘n ander stel sleutels. En toe daal die vrede van Colesberg neer op aarde.

No comments:

Post a Comment