Saturday, 9 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2003 - Deel 1


Reisverslag: Besoek aan die Oos-Kaap


Winburg Voortrekkermuseum; Somerset-Oos; Baviaansriviervallei; Tarkastad; Cradock; BathurstPort Elizabeth

Oktober 2003 

My safari op die voetpaaie van die verlede was ongelukkig so bietjie verkort deur werksverpligtinge, maar ek het nogtans minstens een doelwit gehad op my reis: ek wou graag sien of ek Freek Bezhuidenhoudt van Slagtersnek-faam se buurplaas kon vind. Hoewel ek nie kon uitvind wat die plaas se naam was nie, weet ek darem dat dit is waar my tak Labuschagnes gewoon het tydens die Slagtersnek gebeure, en die jare net voor die Groot Trek.

Met die hulp van vriendelike GenFormers het ek met ‘n klein bietjie van ‘n ompad by ‘n baie behulpsame persoon uitgekom wat vir my as gids sou dien. Ek was baie dank verskuldig aan Gideon de Klerk, ‘n boer woonagtig langs die Cradock-Cookhouse pad, wat bereid was om my te gaan rondwys in die omgewing. Gideon se pa was vroeër bekend as ‘n redelike kenner van plaaslike geskiedenis. Wat baie interessant is, is die feit dat Gideon se pa in 1930 begin dagboek hou het, en nooit ‘n enkele dag gemis het nie. Na sy sterwe het Gideon die gebruik voortgesit, sodat hulle nou ‘n onafgebroke daaglikse rekord het van gebeur in en om die omgewing, wat oor ‘n goeie 74 jaar strek. Ook reënval rekords. Die De Klerk familie woon ook al sedert 1871 nog op dieselfde plaas.

Om met Gideon te kon gesels oor sy familiegeskiedenis en die interessante lewe wat hy en sy pa gehad het, was opsigself ‘n belewenis. Alhoewel ek nie eintlik De Klerk konneksies in my familie het nie, was dit vir my aangrypend dat ons binne 15 minuute gevoel het of ons nog al die jare buure kon gewees het. Dit is asof die skeiding van meer as 160 jaar byna nie getel het nie, want ons praat nog steeds dieselfde taal, het dieselfde waardes en norme, dieselfde gewoontes, en min of meer dieselfde uitkyk op die lewe. Wat ook interessant is, is die feit dat dit wil voorkom asof die boere in die omgewing tot ‘n mate ook maar weer sit met die tipe probleme wat ons voorvaders in die vroeë 1800’s gehad het—tewete ‘n ekonomiese en politieke klimaat wat vir boere maar redelik onvriendelik is.

Gideon was so vriendelik om my persoonlik na die plek van die Slagtersnek teregstelling te neem sodat ek kan foto’s neem. Die monumentjie is baie naby aan Cookhouse, maar daar is groot padwerke en die plek is nou so onopvallend dat mens die afdraai byna nie sal raaksien tensy jy weet om daarvoor te soek nie. Ek mag dalk noem, vir die rekord, dat mens moet onthou dat die plek van teregstelling stengesproke nie eintlik die ware “Slagtersnek” was nie. Heelwat mense besef dit nie eintlik nie. Slagtersnek is ‘n hele klompie kilometer hoër op in die Visriviervallei. Dit is waar die handelaars van die kus-omgewing gewoonlik die plaaslike boere kom ontmoet het om slagveë van hulle aan te koop. Hoekom die spesefieke terrein vir die teregstelling gekies was, weet ek nie eintlik nie. Dit is maar bloot ‘n oop stuk aarde met ‘n goeie uitkyk oor ‘n draai van die Visrivier, en ‘n ou plaas wat in daardie dae as “Van Aardspos” bekend gestaan het.

Slagtersnek monument naby Cookhouse. In die agtergrond kan geboue by Van Aardspos gesien word, in 'n bog van die Visrivier. Dit is hier waar die rebelled publiek opgehang is deur die Britse owerhede.
Gideon het my hier vertel hoe die tereggesteldes moes bymekaarkom vir die voltrekking van vonnis. Theunis de Klerk, wat aan Gideon se familie verwant was, se seuntjie het nogal vooruit getreë om sy pa vir die laaste keer te groet. Toe word die sein gegee, en die veroordeeldes word laat val, net om die grond te tref toe die toue breek. Desnieteenstaande die antieke ongeskrewe regs-beginsel wat bepaal dat ‘n gebreekte tou as ‘n teken van onskuld beskou word, is nuwe toue egter laat. Sonder verdere seremonie is die arme manne nogmaals weereens opgehang—hierdie keer vir die laaste maal.

Dit is interessant as mens daaraan dink dat die breek van hierdie toue so ‘n dramatise draaipunt in ons geskiedenis kon veroorsaak het. Was dit nie daarvoor nie, kon die gebeure by Slagtersnek moontlik maklik in die geskiedenis vervaag het as bloot nog ‘n voorval waar ‘n korstondige rebellie betyds ontlont is. Die ophang na die breek van die toue, was egter in baie opsigte ‘n tipe katalis—‘n soort vonk wat ‘n kruitvat van baie ander ongelukkighede aan die brand gesteek het. Soos baie historiese wendings het die volksverhuising wat later plaasgevind het waarskynlik gekom as die sameloop van baie verskillende gebeurtenisse, maar wat my persoonlik aanbetref was Slagtersnek die simboliese plek waar die brug van potensiële versoening finaal verbrand is.

By die monument is daar vir my ‘n misterie opgelos waaroor ek al jare gewonder het. Gideon vertel my dat die balk waaraan die veroordeeldes opgehang was, uiteindelik in een van die geboue op Van Aardspos ingebou was. Ek het wel geweet dat die balk na bewering in 1896 laat haal is met die doel om die rebelle van die Jameson inval daaraan op te hang, maar ek het nog nooit kon uitvind wat toe van die balk geword het nie. Al wat ek geweet het was dat die balk op die ou end in die naam van versoening, nooit vir die beplande doel gebruik was nie. Gideon kon toe aan my vertel dat die balk op die ou end iewers in ‘n pakkamer in Kaapstad opgeespoor is. Daar word blykbaar nou onderhandel om die balk hopelik te kan terugkry om in die Somerset-Oos Museum te bewaar.
Inskripsie op Slagtersnek monument 

Vervolgens het ons die kronkelende paadjie wat langs die Baviaansrivier na Glen Lynden lei, gaan opsoek. Hierdie was die vallei waar so baie van ons gemeenskaplike voorouers gewoon en gewerk het. Dit was baie anders as wat ek my voorgestel het. Ek het welliswaar die vallei gesien ten tye van een van die swaarste droogtes in jare, maar ek kon myself nogtans beswaarlik indink hoekom die trekboere juis hier wou kom woon het. Dit wou tog voorkom asof daar veel meer landbou-vriendelike gebiede sou gewees het om van te kies. Tog moet mens seker onthou dat die streek al reeds van vroeë tye af trekboere moes onderhou en met hulle groot troppe en baie kinders moes die boere groot plase hê. Die uitsoek-grond langs die Visrivier was sekerlik gou afgebaken, en die laatkommers moes seker maar die berge invaar om ‘n heenkome te vind. Die berge rondom die Baviaansvallei sou egter natuurlik ook darem ‘n mate van skuiling bied, sowel as ‘n bietjie hoër reënval van plek-tot-plek. Dit alles moet faktore gewees het wat die rustelose pioniersharte bly aantrek het.

Soos mens die vallei dieper invaar, word mens geleidelik al hoe dieper omvou deur ‘n gevoel van totale vreedsaamheid wat gebore is uit die stille afsondering en natuurskoon van die ou klip-hange. Na die stormagtige jare wat sommige boere onder Britse administrasie ondervind het, moes die vallei moontlik so bietjie soos ‘n Bybelse Petra gevoel het—‘n veilige hawe waar die Engelse hulle nie maklik sou kom pla nie. Ongelukkig het dit natuurlik spoedig geblyk dat hierdie gevoel eintlik ‘n valse gerusstelling was, want veediefstal en burokrasie het soos ‘n slegte spook kort op hulle hakke bly volg, maak nie saak hoe ver hulle getrek het nie.

Naby die begin van die Baviaansvallei maak die pad ‘n skerp draai tussen lieflike kranse deur, beskilder met antieke swart vlekke, en behang met gordyne van spekboom wat ‘n sukkel-bestaan teen die droogte voer. In hierdie ellemboog staan ‘n vreedsame klein roubaksteen huisie, wat voor die Groot Trek glo die woonplek was van Groot Willem Prinsloo. Hier, volgens Gideon, het die Skotse settlaars gestop om kennis te maak met die boere met wie hulle die vallei vir baie, baie jare sou deel. Hier ook, het Willem Prinsloo die moë reisigers verwelkom met lemoene, pampoene en ander ander voedsel uit sy landerye. Die ou huisie blyk nog relatief goed bewaar te wees.


Die huisie van Groot Willem Prinsloo met die Baviaansrivier wat tussen die huis en die pad verby vloei. Hier het Groot Willem die Skotse Setlaars verwelkom met groente en lemoene uit sy landerye.

 Van hier af kronkel die pad male sonder tal heen en weer oor die rivier. Die vallei herinner nogal baie aan die Ohrigstad vallei naby Lydenburg in die ou Transvaal. Die veld het vir my redelik oorbewei voorgekom, maar ek is nie ‘n kenner van Karoo-veld nie, en Gideon het my verseker dat dit eintlik nie in so ‘n slegte toestand is nie. Wat wel seker is, is dat die moderne boere daar, ook maar stadigaan begin agteruit boer. Die Baviaansrivier is vandag slegs ‘n small sand-stroompie, en meeste van die ou landerye staan in onbruik. Die pragtige Kaaps-Hollandse herehuis wat ‘n tak van die Pringle familie gebou het, lyk half-verwaarloos, en mens moet verbeelding gebruik om vir jouself die swierige partytjies voor te stel wat een op ‘n tyd glo daar gehou was. Met die verby ry kon ek nie help om te dink aan ‘n reëltjie uit ‘n ou Anton Goosen liedjie: “Flink draf die slawe om almal te verwelkom…” Ek moes glimlag, want mens kan dit vandag nog maklik voorstel—die geknars van spaaider wiele op die gruis, gewillige hande om wit-gepoeierde dames met kan-handskoene en kalfsleer skoene uit die rytuie te help. Manne met tartans, lang wit kouse, en breë Skotse aksente in skelle kontras met die Afrika-verbrande bruin pioniersvelle.

Nie ver na die ou Pringle herehuis nie, loop die Seekoeirivier min of meer na die noorde. Dit is hier iewers, waar ek vermoed, die plaas van ou Frans Labuschagne kon gewees het. Ongelukkig weet niemand daar van ‘n plek met die naam “Zeekoegat,” wat moontlik die oorspronklike woonplek sou gewees het nie. Die rooi en wit rigtingwysers op ‘n paal lees soos ‘n kosmopolitaanse spyskaart: “HK van Dillen—Ven Grove, 19km. CH Moolman—Belmont, 13 km. WD Pringle—Fair Holt, 5km.”

‘n Entjie verder is Freek Bezhuidenhoudt se ou plaas. Freek se graf is nog afgekamp, maar die hek wat daarheen lei word byna heeltemal versper deur opslag doringboompies. Mens sal dit waarskynlik mis as jy nie weet waarna om te kyk nie. Naby die graf moes sy ou opstal gewees het, maar presies waar weet niemand nie. Daar is vandag nie eers meer ‘n teken van ‘n kraal, ‘n ashoop of ‘n fondasie nie. Dit is asof selfs die tyd saamgesweer het om alle rekord van hierdie moeilike en eiesinnige man te probeer uitwis.
Die graf van Freek Bezhuidenhoudt. Volgens Gideon de Klerk is die gevoel dat Freek se oorspronklike postal min of meer in die omgewing van die graf moes gewees het.

Dat Freek Bezhuidenhoudt waarskynlik nie ‘n gesogde karakter was soos gemeet aan algemeen aanvaarbare sosiale standaarde van die tyd nie, blyk relatief seker te wees. Hy was duidelik nie ‘n man wat hom aan gesag of konvensie gesteur het nie. Dit kan mens aflei aan die feit dat hy nie wettiglik getroud was nie, nie sy kinders laat doop het nie, en uiteindelik heel gemaklik saam met ‘n kleurling hou-vrou gewoon het. Nogtans, moet mens seker ook besef dat tye toe anders was. So maklik as wat dit vandag is om Freek te kon wegmaak as ‘n onnosele rebel met ‘n roekelose hart en ‘n dwase verstand, kan mens hom seker ook uitbeeld as ‘n selfstandige Boere-cowboy wat nog altyd net homself gehad het om op te vertrou, en wat sy plekkie in die wêreld met kaalhand en snaphaan alleen moes oopveg. Waarskynlik was hubare vrouens skaars, en van die wat daar was, sou baie waarskynlik nie in die eensame afsondering van die berge wou gaan woon het nie. Miskien was ou Freek en sy baster familie heel gelukkig. Dit is half moeilik om sy omstandighede voor te stel.

Ten tye van die Slagtersnek gebeure was my ou voorvader, Leendert Labuschagne, en ‘n Erasmus seun werksaam by Bezhuidenhoudt. Die ou landerytjies is nog daar en mens kan jou voorstel hoe die seuns waarskynlik die skape uit die lande moes hou, of moes help ploeg of oes. Leenderd was die tweede jongste uit ‘n groot familie, en dit mag wees dat daar kommer was oor hoe hy en sy jonger broer eendag ‘n lewe sou moes maak, gegewe die feit dat grond al skaars moes gewees het. Min het hulle geweet dat sy lewenspaadjie uiteindelik Transvaal-toe sou lei.

Die dag toe die gereg vir ou Freek uiteindelik na vele waarskuwings en dreigemente kom haal het, het my voorvader Leendert en die Erasmus seun onverklaarbaar verdwyn. Mens kan maar net raai dat hulle ouers, wat Freek se berugde humeur goed sou geken het, lankal gewaarsku het dat hulle nie in sy driftige avontuure betrokke moes raak nie. Sonie, het hulle miskien eenvoudig nie die hart gehad om op jeugdige ouderdom ‘n goed-gewapende oormag goedsmoeds storm te loop vir ‘n saak wat baie maklik vreedsaam geskik kon geword het nie. Natuurlik moes Freek hom seker nie verset het nie, maar daar is altyd twee kante aan ‘n saak. Eers nadat ek self daar was kon ek verstaan hoekom Freek geweier het om bloot op aandrang van die outoriteite Graaff-Reinet toe te reis. Dit moes ‘n geweldige reis gewees het in daardie dae. As Freek werklik gepla was deur rumatiek, soos hy beweer het, kan mens begryp waarom hy geen lus gehad het om op ‘n tog wat seker twee of drie weke sou geduur te moes gaan.
Monument by die plek waar Freek Bezhuidenhoudt gesneuwel het. In die agtergrond is landerye wat waarskynlik oorspronklik deur Freek en sy helpers self bewerk was.


Gideon was jare lank baie betrokke by die Voortekker jeugbeweging en vertel hoe hulle as kinders elke jaar die Slagtersnek gebeure daar gaan naboots het. Ten aanskoue van al die ouers wat op Dingaansdag daar kom uitkamp het, het hy en sy maats dan al skietende die rivier op gevlug langs dieselfde roete wat Feek en sy baster-seun, Hans, sou geneem het. Gideon was gewoonlik Freek—die held in die hele verhaal.

By die klipskeur het almal dan met loskruit Martini-Henri’s geskiet (dit moes eintlik pangewere gewees het), totdat Freek dan kastig deur ‘n klip of wegskrum-koeël teen die kop getref was, en dood neergeslaan het. Die klipskeur waar Freek geskuil het, is nogal interessant en dit lyk heeltemal anders as wat mens jouself uit die geskiedenisboeke voorstel. Dit was nie ‘n watwonderse skuiling nie en Freek moes geweet het hy stry ‘n hopelose stryd. Hy was egter duidelik nie bang vir die dood nie, en het dit waarskynlik verkies bo die vernedering van ‘n geregtelike verhoor. By die klipskeur is ‘n klip monument opgerig wat weereens, maar baie swak sigbaar is van die pad af. Die bordjie is lankal verroes en verblyk sodat min mense dit seker sal raaksien.
Die klipskeur waarin Freek Bezhuidenhoudt homself verskans het tydens die geveg. Van bo af kon klippe maklik in die kuiling afgegooi word, soos die foto aantoon.

Op dieselfde pad kom mens uiteindelik by die veel-beroemde Glen Lynden kerk uit. Ek het nie geweet nie, maar daar is eintlik twee. Die ou oorspronklike een, soos gebou deur die Skotse setlaars, en die veel groter en meer indrukwekkende nuwe een. Dit is interessant hoe die geskiedenis maar telkens herhaal. Aanvanklik het die Skotte die kerk vir hulleself gebou, en toe die Boere uitgenooi om maar te kom deel aangesien hulle tot ‘n groot mate dieselfde uitkyk op basiese geloof gehad het. Later het hulle die kerk vir die Boere gegee toe hulle ‘n nuwe kerk op Bedford gaan bou het. Jare later is die kerk aan ‘n swart gemeente oorgedra, en toe die gemeente te klein gekrimp het, het die plaaslike boere dit terug ontvang en gerestoureer. Die plek word nog relatief goed onderhou, danksy die belangstelling van mense soos Gideon en andere.
Die ou, oorspronklike Glen Lynden kerkie. Die Afrikaanse inskripsie op ‘n brons gedenkplaat teen die muur lees as volg: “OU GLEN LYNDEN-KERK. Deur die invloed van Thomas Pringle het die regering heirdie kerk in 1828 gebou vir die Skotse Setlaars en hul Hollandse bure. In 1899 het dit ‘n Nederduitse Gereformeerde Kerk geword. Opgerig deur die Historiese Monumente-Kommissie.”

Elke jaar met Geloftedag word die ou traporrel nog op Bedford gaan haal, en dan hou die volk weer ‘n diens in die ou kerk, maar behalwe dit staan alles maar leeg. Die ou pastorie wat op sy dag ‘n mooi groot huis moes gewees het is nou ‘n murasie. Die ou De Klerk nagmaalhuis is die enigste een wat nog staan. Die Baviaansrivier, waar ‘n Engelssprekende seuntjie volgens een van die grafstene aldaar verdrink het, vloei amper nie meer nie. Net die strepe teen die kranse langs die rivier vertel nog hoe ons voorvaders, en ook Gideon en sy maats toe hulle klein was, op aalwynblare die styltes afgegly het. Na die tyd was die broeke en knieë natuurlik stukkend en as die oumense van nagmaal af teruggekom het, dan was daar slae uitgedeel en spoeg aangesmeer. Vandag nog sit daar sulke lang, vaal strepe teen die skuins kranse af—die glimlag-wekkende getuienis van meer as twee honderde jaar se kinderpret. 
Die "nuwe" Glen Lynden kerk, na onlangse restaurasie. 

Die graf van die seuntjie wat verdrink het, lê tussen die Glen Lyden kerke en die Baviaansrivier, vlak langs die grondpad. Dit is ‘n klein ommuurde familie kerkhoffie wat effens verwaarloos is. Die grafstene is egter mooi leesbaar en ek het van elkeen ‘n foto geneem. Mens kan maar net wonder watse storie agter hiedie familie se name skuil. Die inskripsies is as volg:

·                     In Affectionate rememberance of Alexander Mitchell Webber eldest of John & Hendrietta Webber who died at Glen Lynden 16th of Novermber 187(?) aged 13 months & 4 (?). [Nog ‘n ekstra lyn op die grafsteen ontbreek. Inskripsie was obskuur deur dooie plantegroei.]
·                     In loving memory of Millicent Ann Webber beloved wife of B.M. Webber who died in her 57th year at Avondale 8th June 1902.
·                     In loving memory of Benjamin Mitchell Webber beloved husband of M.A. Webber, who died in his 47th year at Glen Lynden 2nd April 1893.
·                     In loving remembrance of William Nash son of B.M & M.A. Webber who was drowned while bathing at Glen Lynden Tuesday 20th January 1880 aged 10 years and 3 months. He loved Jesus. [Hierdie graffie is versier met ou seeskulpe].

Volgens Gideon is twee van die Skotse predikante van Glen Lynden, binne die kerk self begrawe, maar ek weet nie wat hulle name was nie.

Hier, in hierdie stil, ver-verlete, maar pragtige vallei, moes baie gelukkige ure oor baie geslagte deurgebring gewees het. Dit is jammer dat alles vandag, na soveel jare van lief en leed, weer deur die stilte van die berge en die eensaamheid van geskiedenis wat besig is om toegewaai te word onder die sand van tyd, teruggeneem word. En tog, miskien is dit paslik. ‘n Waardige uur in die geskiedenis van ons voorvaders se plek van herkoms. Moontlik die laaste uur, want wie nog na Glen Lynden sal omsien na hierdie geslag verby is, kan ons maar net raai. Met die treurige plattelandse verval wat oral te sien is, mag Glen Lynden eendag dalk net ‘n reeks ou, toegegroeide fondasies langs ‘n pad vol slaggate wees. ‘n Pad wat vandag nie eers meer behoorlik op landskaarte aangedui word nie. So maak die tyd maar met die werke van mensehande.

Die pad wat deur die Baviaansvallei kronkel loop van hier af soos ‘n stowwerige slang oor die droë, skurwe berge tot waar die Pringles se nasate vandag nog woon. Hier was ek al vantevore, en dit is ‘n pragtige gebied wat my baie geval. Meer suurveld, beter reënval, en duidelik ook heelwat kouer in die winter. Uiteindelik—na baie verlate kilometers waar mens beslis nie wil hê jou motor moet breek nie, kom die pad weer by Tarkastad uit.

By Tarkastad het ‘n hele klomp van my Labuschagne familie gewoon. Een van die groot familienedersettings was op Bezuidenhoutskraalmond, ‘n plaas wat net-net noord-oos van die dorp geleë was. Ek het daar verby gery, maar kon nie so ‘n plaasnaam sien nie. Dit was al laat en die inligtingsentrum op Tarkastad was al toe, so ek kon ongelukkig nie verdere inligting bekom nie. Ook Honingrivierkrans, nog ‘n Labuschagne plaas, het my ontglip. Tarkastad se weiding is heelwat anders en dit lyk of dit goeie bees-wêreld moes gewees het in dae van ouds. Daar is heelwat meer gras, en in Voortrekkertye mag dit dalk wees dat gras meer dominant was as Karoo bossies. Soos dit vandag is, ly die gebied onder droogte en grootstkaalse oppervlakte erosie. Dit is seker maar die gevolg van jare se boerdery sonder ‘n kampstelsel, en na dit, waarskynlik jarelange oorbeweiding tydens tye van droogte.
Tarkastad in die laat-middag

As mens van Tarkastad af terug Cradock toe ry, kom mens agter dat die berge rondom die Baviaansvallei basies soos ‘n onherbergsame swart eiland in die verte lê—‘n soort misterieuse landmerk wat sy inwoners verwelkom het, en ‘n waarskuwende vinger vir vreemdelinge sou gewys het. Van Queenstown, verby Tarkastad, links af by Cradock, en al die pad verby Cookhouse, weer links na Bedfort en Adelaide loop die pad. Dit omsingel as’t ware die dreigende donker kol berge en klowe waar die Trekkers van ouds gewoon en geleef het. Ongelukkig sou niks die aanslag van politieke geweld, roofsug en tyd kon weerstaan nie, hoe veilig die berge rondom die Baviaansrivier ookal voorgekom het.

Die besoek aan die Baviaansriviergebied was in baie opsigte werklik merkwaardig en oor en oor die moeite werd. Vir een ding, het ek baie geniet om Gideon de Klerk en sy aangename familie te ontmoet. Hy het ‘n ou stamboom van De Klerks, en is altyd gereed om in sy ou geskiedenisboeke of die talle geskiedkundige geskrifte wat sy pa nagelaat het, te gaan soek na antwoorde op vrae. Gideon is ‘n boer van die ou skool, maar nogtans ‘n man met ‘n moderne visie en ‘n self-denkende geaardheid. Die tipe mens wat ons pa’s en oupa’s eens op ‘n tyd was. Dit sal ‘n treurige dag wees as daar eendag nie meer sulke hartlike, gasvrye ou Afrikaners sal wees nie.

Op die dorpie Somerset-Oos het ek oornag in ‘n gastehuis van ‘n buitengewoon-vriendelike tandarts, Dr. Archer. http://www.somerseteast.co.za/archer/ Met Archer, kan mens sit en gesels oor skilder-kuns, fotografie, en tuinmaak tot die hane kraai en dit het ek wel ook gedoen. Ek sal nie huiwer om enigiemand aan te raai om van die Archer gastehuis se akkommodasie gebruik te maak nie. Archer het, interessant-genoeg, in sy tuin ou kaktusse wat al by die 40, 50 jaar oud is en wat hy van klein plantjies af versorg het. Ek het nog nooit sulke enorme kaktusse gesien nie. Party van hulle is so groot soos ou brandewynvate. Diegene wat van plante hou, sal Dr. Archer se geselskap bepaald baie geniet. Tussen al die gebraat deur oor Cotolydons en Mesymbrianthenums gaan tyd egter vinnig om en mens moet jouself behoorlik wegsleur uit Somerset-Oos uit. Ek kon ongelukkig nie tyd inruim om die museum, Walter Battis kunsgallerei, en ander historiese landmerke te gaan besoek nie.

No comments:

Post a Comment