Die Pad na Cradock
Die volgende
oggend volg ‘n groot ontbyt en nog gesels om die ontbyt tafel. Ons ruil adresse
uit. Anita vertel my van ‘n ou oom wat ‘n treindrywer was, wat Labuschagne
familiegeskiedenis opgeteken het, en sy beduie my waar sy dogter in die dorp
werk. Herma Bosch is haar naam en sy werk by die dorp se oogkundiges. Ek maak
‘n nota en beloof om haar te gaan sien. Maar eers wil ek begraafplaas toe.
Burgersdorp se begraafplaas is nogal groot, en ek begin hom moedig deurstap.
Hier en daar lê ‘n bekende steen wat ek dadelik op film vasvang, maar baie van
hulle is Engelse soldate, vroeë emigrante en vreemdes wat vir altyd vanaf die
horison van onthou verdwyn het. Die gedagte is treurig vir my. Party grafte is
gevandaliseer, sommige val in, en party is al so totaal verweer dat die
inskripsies onleesbaar is. Die ergste is dat sommige grafte nooit ‘n steen
opgehad het nie, en nou al so goed soos gelyk met die grond is. Ek het al reeds
verneem dat die begraafplaasregisters op ‘n stadium verbrand het, en dus is
diegene wie se name nie in graniet opgeteken is nie, nou moontlik vir ewig vir
die geskiedenis en die nagedagtenis verlore.
Hoe verder ek
loop, hoe langer word ek soos die modder op my skoensole saampak. Ek stap elke
enkele graf van die duisendes deur en sien nie my stamvader nie. Later voel ek
al heel knorrig en erg teleurgesteld, en begin toe maar kar toe stap, terwyl ek
vererg my hare deurmekaar krap om te dink waarom ek die graf dan nie kan kry nie.
Anita bel egter
net toe ek die stryd finaal gewonne gee. “Herman—jy het jou leêr by die
gastehuis vergeet!”
Ek bedank en
verwens myself vir my agterlosigheid met iets wat vir my persoonlik, nogal ‘n
kosbare bron is. Maar toe tref ‘n ingewing tref my. In die vergete leêr is ‘n
foto van die graf. Miskien sal dit help. Ek gaan haal die foto, en jou
waarlik—van ver af sien ek die onmiskenbare vaas bo op die hoë grafsteen. Dis
van daardie moeilik-leesbare pienk graniet en ek het hom eenvoudig misgekyk.
Die graf het ‘n ornamentele staal heining om, maar een kant is afgesteel. Seker
nou al die hek van ‘n hoenderhok, dink ek. Ek neem fotos en maak eerbiedig
kennis met my stamvader. Dan kyk ek respekvol boontoe en glimlag met ‘n
woordjie van dankbaarheid dat die man wie se beendere hier in stof rus, lank
gelede na Afrika gebring was, en dat sy nageslagte teen alle verwagting in,
behoue gebly en gespaar was sodat ek vandag hier kan staan. ‘n Volle sirkel is
voltooi na net so neffens die 200 jaar. Dan neem ek afskeid van die egpaar wat
ek nooit geken het nie. Om te dink—ver van die groen landskap van Engeland en
die vaal strate van London ,
om hier te kom rus van alle plekke. Arme ou George Kolbe en Margaret Downing
het hulle families in Engeland nooit weer gesien nie…
Die grafsteen van George Augustus Kolbe en Margaret Downing, waarna ek so lank moes soek... |
Ek lê besoek af
by die vriendelike dorpsmuseum, waar die kurator my met alle hartlikheid
toestemming gee om foto’s te neem van ‘n kaart wat ou plaasgrense aandui. Dit
sal handig te pas kom vir latere navorsing. Ek gaan fotografeer die blokhuis,
en die taalmonument op die stadsplein, terwyl ‘n klomp lieplappers in die park
my aankyk asof ek daar is om nog ‘n kop van een van die standbeelde te kom
afbreek (een standbeeld se kop is naamlik deur die Britse soldate tydens die
Anglo-Boereoorlog afgebreek). Dan gaan sien ek die ou treindrywer se dogter,
Herma Bosch, by Philip de Wet Oogkundiges. Hartlike, vriendelike mens. Sy
verduidelik dat haar broer, Frans Labuschagne, die kenner is, maar hy bly in Oudshoorn.[1]
“Toemaar, glimlag
ek, ek gaan van tyd tot tyd daardeur. Gee my sy nommer, dan maak ek later
kontak.”
Toe ek
Burgersdorp vaarwel toeroep, kry ek die gevoel dat miskien nooit weer daar sal
kom nie. Dit sal jammer wees, want dit was ‘n vriendelike en ‘n mooi dorp vir
my. Maar mens weet nooit. Miskien gaan kuier ek weer eendag vir ou George Kolbe
en Margaret Downing, net om seker te maak dat hulle nog daar is.
Burgersdorp na Cradock
Van hier af word
die wêreld erg Karoo . Oral is panne water, en
die woestyn blom soos ‘n narsing sodat mens jou verlustig in die uitsig na alle
kante, en skaars kan wag om oor elke nuwe
horizon te kan
kom. Ver in die weste lê die berge wit van die sneeu, en ek probeer my verbeel
dat hulle nog presies netso lyk soos toe my voorvaders daar verby getrek het.
Die reis geskied sonder voorval, behalwe dat ek myself vervies oor ek nie
gedink het om padkos saam te bring nie. Steynsburg se hotel oortuig my nie om
aan te doen vir ontbyt nie, en die volgende dorpie het geheel niks om aan te
bied nie. Nou ja dan. Dan vas ons maar so bietjie, besluit ek. Dis tog goed vir
die gesondheid en my oupa’s moes dit seker dikwels doen. Teen middagete stoom
ek Cradock warm en effens moeg binne. In hierdie distrik is baie van ons almal
se voorvaders gebore, gedoop en getroud. Ek fotografeer die uiters indrukwekkende
ou kerk, en ontdek dan ‘n tweedehandse snuistery winkel wat as ‘n antieke
winkel maskereer.
Die kêrel agter
die toonbank groet familiêr en uitbundig: “Lat weet ma’ as ek vi’ jou met iets kan help!”
Ek knik en mik
onmiddelik vir ‘n bank meestal onbekende ou familiefoto’s wat eenkant te koop
aangebied word. Aan die gelaatstrekke kan
ek dadelik sien dat dit nie my familie is nie. Nou ja. Ek hét probeer…
Daar is
interresante goed, maar op die ou end stap ek net uit met ‘n hand vol
dof-aangeslane ou silwerware wat werklik ‘n winskopie was, en ‘n ordentlike
klein gasverwarmer vir Johannesburg se winter. Die res van die dag spandeer ek
om die dorp te verken. ‘n Besoek aan die museum bring my in aanraking met
vriendelike mense.
“You need to
speak to Mr Furgeson,” sê die kurator met sy groot militêre snôr vir my. “He
knows everything about the history of Cradock.”
A! Ek wou hom
juis kom besoek, maar het sy nommer verloor. Ek skakel hom, en die foon word
beantwoord met ‘n growwe en emosielose: “Hello. Mr Ferguson speaking.”[2]
Mr. Ferguson het
ongelukkig al klaar middagete gehad, en wil nie dat ek hom ‘n tweede keer
uitneem nie, maar nooi my oor om in sy argiewe te gaan delf. Sonder berou skryf
ek middagete af en gaan soek sy nederige huisie in Hospitaalstraat op. Mens kry
dit maklik. Hy loop my tegemoed. ‘n Karaktervolle figuur in ‘n ou growwe
materiaal Britse sportbaadjie en ‘n trui. Hy dra ‘n swartraam bril, en sy grys
hare is agteroor gekam. Mr. Ferguson praat nie koeitjies en kalfies nie. Hy is
‘n praktiese man. Ek is hier om iets te soek, en hy is hier om my te help. Ek
word ingenooi in ‘n huis wat sekerlik presies dieselfde daar uitsien as 40 jaar
gelede. Die linoleum is deurgeloop in die gang, en oral is die muure met
boekrakke uitgelê—selfs tot by die voordeur. Ek meet altyd ‘n man aan sy boeke,
en kyk dus vinnig deur. Militêre geskiedenis, gewone geskiedenis,
aardrykskundige, genealogie… En dan word ek in ‘n sykamer van sy studeerkamer
ingelei. Nog meer boeke, ‘n vertoonkas vol oudhede en aandenkings, en ‘n reeks
artikels op die vloer, die muure en tot teenaan die dak, wat alles stories
vertel van die goeie ou dae. Ek vind vinnig uit dat Mr. Ferguson ál Cradock se doop-, huweliks- en ander
registers oor die jare heen getranskribeer en oorgetik het.
“I’ve worn out
several typewriters already,” voeg hy droogweg by, terwyl my kakebeen sak in
stille bewondering.
En dan begin hy
laaie ooptrek.
“I’ve already
drawn my files that contain Labuschagnes,” sê hy vir my. “What other surnames
from here are you also interested in?”
“Well, Potgieter,
Pieterse en one Van der Merwe,” antwoord ek.
Mr. Ferguson dink
so bietjie na. “Well, you’ll find some in here,” sê hy, en begin nog stapels
uit sy argiewe aandra.
Duisende rekords,
alles deur sy vingers getik. Ons gaan hulle teen ‘n vinnige pas deur. Alles wat
belowend lyk, fotografeer ek onmiddelik—Mr. Ferguson gee glad nie om nie. Om die waarheid te sê, dit lyk asof sy lewe daaruit
bestaan om ander mense met navorsing van alle soorte te help. Hy kla so bietjie
omdat hy dikwels baie moeite doen vir mense wat hom nooit weer bedank of ooit
erkenning gee vir sy hulp nie, maar stem saam dat dit op die ou end ook nie so
belangrik is nie. Ek kry minder inliting as wat ek gedink het ek sou, maar
versamel nogtans ‘n hele string rekords wat ek later kan deurgaan. Dis nie eintlik total unieke
inligting nie, maar ek kan
darem my bestaande rekords kruis-vergelyk en probeer bevestig. En dit spaar my
miskien om in die Kaapse argief daarvoor te moet gaan soek—iets wat ek nog
nooit die geleentheid voor gehad het nie.
Kort voor lank
bring Mr. Ferguson ‘n reeks boeke en pamflette om ook na te kyk. Dan neem hy my
terug museum toe om ander papiere te gaan fotokopieër. Terug by sy huis, takel
ons die Boereoorlog en sy belangstelling in spoorweg-geskiedenis, waarin ek in
‘n klein mate ook deel. Ons lag bietjie oor die ou dae, en hy vertel my hy was
sy lewe lank ‘n spoorwegwerker. En hy doen al diep in die dertig jaar genealogiese
navorsing, en omtrent niks anders nie. Hy was nooit getroud nie, en het al die
tyd in die wêreld. Ons werk deur verskeie boeke, ruil nota’s en gedagtes uit,
en hy wys my bronne wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Dit voel of Mr.
Ferguson alles weet daar is om te weet, maar hy weet darem nie hoe mens
Generaal Pole-Carew se naam uitspreek nie.
“Pollie-kêrrie”,
beduie ek.
Hy skud sy kop en
sê niks nie, maar ek besef dat Mr. Feguson alles absorbeer waarmee hy in
aanraking kom. Ek glo nie hy is ‘n man wat maklik iets vergeet nie.
My tyd is helaas
heeltemal te kort met Mr. Ferguson, en na ons kontakbesonderhede uitgeruil het,
neem ek teësinnig afskeid om ‘n nuwe gastehuis te gaan soek. Soos gewoonlik kan ek nie besluit nie
en ry heen-en-weer totdat die hele dorp seker al praat van die geheimsinnige
wit motor wat stadig op en af ry en suspisieus optree. Teen skemer besluit ek
op Annie’s House,[3] ‘n baie
ordentlike gegradeerde gastehuis, sommer baie naby die dorp se enorme groot
begraafplaas. Weereens is dit ‘n hartlike Boere-ontvangs. Baie vinnige kom dit
aan die lig dat ek op ‘n ontdekknigsreis is langs die paaie van die verlede, en
ons begin opnuut bene op die tafel uitpak. Die dame klink belangstellend oor my
aardige stokperdjie.
“Sê my, is dit ‘n
siekte?” vra sy.
Ek dink so
bietjie en antwoord huiwering: “Hmm. Ja-a-a…”
Is dit soos ‘n
verslawing?” wil sy weet.
Ek skud my kop.
“Nee, nie regtig nie… Dis baie
erger!”
[1] Frans Labuschagne. Villa Ora Gastehuis, Oudshoorn. Tel: 044 272
8371. http://www.villaora.co.za/
[2] Mr. Ferguson. Hospitaal Straat 89, Posbus 368, Cradock, 5880. Tel:
048 881 3206.
[3] Annie’s House. Kontak: Anneliese. 112 Adderley Straat, Cradock.
Tel: 082 649 1838. www.anniesguesthouse.co.za
No comments:
Post a Comment