In Glentana sou ons ‘n aangename tien dae
deurbring met vriende en familie van oor die hele land. Dit is soms nodig om
moeite te doen om ‘n belegging in vriendskap en verhoudinge tussen mense te
belê. Ek het eendag een van my beste vriende—‘n mediese spesialis hieroor
gevra. Waaroor lê mense en verwyt hulleself wanneer hulle alleen in ‘n
hospitaalbed lê met die aasvoëls wat bokant draai—wagtend op die laaste asemteug.
Is dit omdat hulle nie harder gewerk het, of meer geld gemaak het, of beter kon
leef nie?
Glentana se hoofstrand |
“Nee,” het my vriend geantwoord. “Wanneer
die aasvoëls draai, dan druk ‘n pasiënt jou hand en beklae hoofsaaklik net twee
dinge—die feit dat hulle nie meer tyd
met hulle geliefdes gespandeer het nie. En ook dat hulle nie meer kanse in die lewe gevat het nie. Hulle
is nie jammer oor hulle foute nie. Dis die kanse wat hulle nooit gevat het nie.
Die vakansie wat hulle nooit geneem het toe die kinders nog klein was nie. Die
aandag wat hulle nie aan hulle ouers bestee het nie, of die dinge wat hulle
altyd saam wou doen, maar nooit kans
voor gehad het nie. Dít is waaroor mense in hulle laaste uur die grootste spyt
het.”
Ek het hierdie woorde nooit vergeet nie, en
ek haal hierdie storie dikwels aan. Wat is die belangrikste inskripsie op ‘n
grafsteen? Die persoon se naam? Of sy geboorte of sterfdatum, miskien? Of is
dit dalk die Bybelversie wat soms onderaan geskryf staan. Al hierdie dinge is
tog belangrik. Maar die heel belangrikste van alles is die klein strepie wat
die geboorte datum van die sterfdatum skei. Die klein woorde “tot” wat 1928
van1988 skei. Want daardie strepie of woordjie verteenwoordig die somtotaal van
‘n mens se hele bestaan. Alles wat tel lê opgesluit in die diskrete spasie
tussen die uur van ‘n geboorte en die sekonde van ‘n sterfte. En as ons nie tyd
maak om daardie gaping te vul nie, word die spyt later dalk te groot. Ek ken ‘n
tagtigjare oue dame wat hierdie feit met oortuiging sal beaam…
Die weer in Glentana was onverbeterlik.
Soggens het dolfyne in die golwe baljaar en walvisse naby die strand het
besoekers vermaak deur die water se oppervlakte met hul sterte te slaan. Ek wil
my verbeel dat ek iewers gelees het dat dit iets te doen het met hofmakery of
geboorte skenk, maar miskien onthou ek verkeerd. Dalk is dit maar net wat
walvisse doen wanneer hulle ‘n lotery kaartjie sonder wen-nommers gekoop het.
In elk geval, ek het oral rondgevra waar ek ‘n walvis-jag lisensie kon koop, in
die hoop dat ek ‘n bewaringsbehepte Kapenaar kan kwaad maak, maar niemand het my ernstig
opgeneem nie. Nou ja, ek het probeer, maar wanneer die Derde Boereoorlog
uitbreek sal dit klaarblyklik nie as gevolg van my agitasie wees nie. Snags het
ek dikwels gestaan en kyk na die ligte van Mosselbaai wat vrolik anderkant die
water lê en blink het. Die lighuis se sein—blink—donkerte, blink-blink, gevolg
deur nog ‘n lang donkerte. ‘n Unieke sein wat deur enige skip op aarde
geïdentifiseer kan
word. Iewers tussen daardie ligte woon Ben Cilliers, weet ek. Ek het gehoop ek
sou geleentheid kry om vir Ben te gaan opsoek om oor Voortrekker beendere te
gaan uitlê, maar ek het geweet tyd sal dit waarskynlik nie toelaat nie. Soos
gewoonlik was ek reg omtrent dinge waaroor ek nie graag reg sou wou wees nie.
Alle dinge kom tot ‘n einde en uiteindelik
was dit weer tyd om vir Mev. Ihnken te gaan haal.
“My bags are ready,” het sy gesê, “but I’m not!”
Glentana teen sonsondergang |
Ja, dan glimlag ons maar. Ek ken ouer
mense. Ek het dus maar eers langs die strand gaan parkeer en toe vir ‘n tyd
lank op die sand gaan sit en kyk na die see met die oë van ‘n Transvaler wat
spoedig weer die skoon lug vir die stank van Johannesburg moet verruil. Toe ek
‘n kind was het ek gedink dat ek graag ‘n matroos sou wou word. Ek het baie
boeke oor see-verhale gelees en ek dink ek sou op die water kon aard. Die see
en Antarktika is tog die laaste vry plekke wat oor is op aarde. Met die jare
saam het ek begin besef dat iets van my oor-groot neef Andries Hendrik
Potgieter se geaardheid nog in my bloed bruis. Noem dit maar die verset teen
ingehoktheid. Het ek byna twee eeue gelede op Brakfontein gewoon, sou ek seker
onder die eerstes gewees het wat sou saamstem dat ons heil anderkant die
Grootrivier gesoek moes word. Maar vandag is daar nie meer ‘n Grootrivier
waaroor ‘n man kan
trek wat genoeg gehad het van ‘n samelewing vol misdadigers wat gekenmerk word
deur die stadige kanker van die verval van moraliteit en beskawing nie. Vandag
bly nog net die see en die wildernis van die suidpool oor en beide hiervan is
nie eintlik veel van ‘n opsie nie. Nee, Johannesburg
met haar koue hart van goud het geroep en haar onwillige slaaf moes maar gehoor
gee. ‘n Klomp jellievisse het op die strand uitgespoel na die vorige twee dae
se storms. Ek voel-voel aan een en rol sy dooie vlees om met die voet. “Cheers,
ou pêl. Ek sien jou soort eers volgende jaar weer.” En toe draai ek maar die
rug op die bloue horison en stap die duin weer uit. My ou passasier was by
hierdie tyd gereed, en in ‘n japtrap brand ons weer die berge uit op pad na die
noorde toe.
No comments:
Post a Comment