Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2004 - Deel 3


Van Cradock na Somerset-Oos - die Wye Ompaaie Langs...

Die nag op Cradock is koud, maar uiters aangenaam en die akkommodasie laat niks te wense oor nie. Die volgende oggend se ontbyt ontlok ‘n nuwe genealogiese diskussie en die dame gee raad omtrent my reisplanne, terwyl ek ‘n bottel van haar tuisgemaakte marmalade uitsoek om as ‘n geskenk saam te neem.
“Jong, ek het met my man gepraat en hy sê jy moet liefs nie in die berge ingaan nie. Hulle sê naby Queenstown het dit plekke so ses duim gereën, en Tarkastad se kant toe was daar ook baie reën.”
Ek is teleurgesteld. Dit beteken my hele besoek na Tarkastad en die reis langs die Baviaansrivier en Glen Lynden is buite die kwessie. Ek het baie werk wat ek nog daar wil gaan doen, maar ek verstaan. Dit help nie jy gaan grawe jouself in ‘n drif vol modder in en dan moet jy daar sit en stokkies kerf vir drie dae voor die volgende trekker verby kom nie. Dan maar liefs met die Visrivier langs.

Daar kan maklik gevra word hoekom mens dit doen. Waarom loop krap sommiges alewig in die verlede? Hoekom blaas party van ons alewig op die sand van tyd in die hoop om lank-verlore voetspore onder dit te vind? Hierop kan ek maar net glimlag en beleefd wegbuig. Daar is tog nie regtig ‘n antwoord nie. Al wat ek kan sê is dat daar party mense is wat verder as die huidige kyk. Party van ons sien gedurig iets in die newelrige sagtheid van ‘n vroeë sonsopkoms. Dit is ons wat kort-kort iets sags hoor in die fluistering van die aandwind, of wat ‘n storie sien afspeel in die warm gloed van ‘n kampvuur. Party mense sit langs ‘n leë slagveld waarvan die wonde lank reeds weer toegegroei is met veldgras en wilde blomme. Maar ‘n oomblik later, hoor ons nog steeds die perde runnik, voel die koeëls gons, luister na die gedruis van die krygsrumoer, die krete, en die geroep na hulp of genade.

Party van ons sit langs die graf van ‘n onbekende, en sien nie ‘n hoop grond nie, maar ‘n moeder wat bemind was, en bemin het. Dat sy aan ons bekend is of dalk nie, maak nie regtig saak nie, want ons het haar soort geken, ‘n honderd maal reeds. In die datum op haar grafskrif sien ons nie syfers nie, maar ‘n tragedie. ‘n Jong vrou wat in die greep van die Spaanse Griep van 1918 die lewe moes aflê, om ‘n huis vol klein kindertjies verwilderd en verlore agter te laat. Ons sien die hand van ‘n voortydige dood soos ‘n swart wolk na ‘n klein familie gryp, om ‘n negentig grade draai in die pad van ‘n hele geslag neer te lê. Tussen die vervalle muure van die dig-oorrankde ruïnes van ‘n plaashuis, hoor ons die gelag van kinders, die glimlag van ‘n pa wat van die lande af tuiskom om sy kinders te groet. Hoed in die hand, ‘n glimlag so wyd soos die horizon, en oë so vaal soos die winterse hoëveld lug. Op die gebarste stoep met sy kakiebos en verwaaide droë mielieblare in die hoek, sien ons nog die skommelstoel en gevoude, knoetsige hande van ‘n gryse grootmoeder. Onder die uitgebrande latei van ‘n venster, sien ons ‘n kat lê en spin in die oggendson, die oggend voor Kitchener se kolonne met hul vuur kom besoek af lê het. In die konsentrasiekamp kerkhowe hoor ons die gesug van elende. In die monumente sien ons die mylpaalmerke op die pad na die bou van ‘n nasie. En so, kry ons drome gestalte.

Later gaan ons na die argiewe waar vragmente van gister bewaar word. Met koorsagtige haas en jarelange geduld belê ons ons lewens in die tydsame proses om substansie aan ons drome te gee. Om getuienis te vind vir die beelde wat voor ons geestesoog afgespeel het, en materiaal te vind waarmee ons nuwe drome kan bou. Miskien is ‘n ware geskiedkundige of genealoog, op die ou end, wat Koos du Plessis sou genoem het: “’n droomswendelaar.” Dit is ‘n mooi woord. Dit is iets wat mens bybly as jy deur die Groot Karoo krys met ‘n naald wat huiwer rondom die perk waar spietkops met kamera’s vir jou wil begin kyk.

Op soek na Voortrekkerplase 

Met gemengde gevoelens draai ek die motor se neus skuins en mik suidwaarts. Ek voel aan die een kant ek is nog lank nie klaar met Cradock en sy ryk geskiedenis nie, maar aan die ander kant roep die moontlikheid van nuwe ontdekkings vrolik. Soos die horisonne ons voorvaders alewig bly roep het met ‘n fluistering van ‘n beter belofte. Ek was nie seker wat die dag gaan oplewer nie. Om die waarheid te sê, ek was nie eers seker presies wat ek gaan soek het nie. Om reguit deur te ry na Somerset-Oos sou my moontlik met te veel tyd laat. En om af te draai en in die Baviaansriviervallei op te ry mag onder die nat omstandighede dalk moeilikheid soek wees, maar ek het besluit om maar te kyk waarheen my neus my lei. Die ander opsie was natuurlik om te gaan soek na Van der Lindeskraal, wat relatief naby die pad in ‘n kromming van die Groot Visrivier moes lê. Ek het voor die tyd die kaarte mooi bestudeer met die oog op ‘n besoek aan Van der Lindeskraal, en het welliswaar selfs die vorige jaar al daarna gaan soek. Maar dit moet almal vir eens en vir altyd weet—ek kon nog nie ‘n padkaart kry wat die Visriviervallei en omstreke behoorlik uitlê nie. Ek dink dit moet wees omdat baie van die ou grondpaaie vandag al so verwaarloos is dat dit omtrent nie meer as ware nasionale paaie beskou word nie. Hoe dit ookal sy, selfs Gideon de Klerk, wat nie ver daarvandaan af boer nie, het die vorige jaar sy kop geskud met frustrasie en uitgevaar oor hoe onakkuraat my splinternuwe kaart-boek was—die misrabele een waarvoor ek R50 betaal het, net om uit te vind dat dit nog presiés dieselfde inligting bevat as die een wat ek reeds 13 jaar gelede bekom het. En dit het my verwonde ego darem ietwat gesalf en my laat voel dat ek miskien nie heeltemal so rigting-onnosel was as wat dit begin lyk het nie.

Van der Lindeskraal is die plaas waar my oor-oupagrootjie se oupa, Leonardus Petrus Labuschagne, in alle waarskynlikheid sy wederhelfte gaan haal het. Leonardus Petrus Labuschage is op 2 Mei 1790 in die distrik Swellendam gedoop. In daardie dae was die distrik van Swellendam enorm groot, en het ‘n reuse gebied ingesluit wat met verloop van tyd in verskeie onafhanklike distrikte opgedeel sou word.

Leonardus Petrus het aan die Oosgrens grootgeword en soos in die geval van die ander seuns van sy tyd, sou ‘n baie harde jeugtyd waarskynlik gebalanseerd gewees het deur die bekoorlikhede van ‘n wilde, avontuurryke woongebied vol bekoorlike natuur-skoonhede en nuwe ontdekkings. Sy pa, Frans, was in die Kaap gebore, en het as jong seun saam met sy weduwee moeder na die Oos-Kaap verhuis toe sy moeder met die vrydenkende trekboer, Jan Nel, getroud is. Een van “ou Frans,” soos hy soms later genoem sou word, se beste vriende was Andries Hendrik Potgieter se pa, Hermanus Potgieter (wie se statebybel vandag in die Voortrekkermonument te sien is). Hy is ook met Hermanus Potgieter se suster Cornelia, getroud, sodat die Labuschagnes en die Potgieters dus aangetroude familie was. Van veral Andries Hendrik Potgieter se avontuurlustigheid en vrydenkende gees, is daar heelwat bekend, en mens kan aanneem dat die koorsagtige wanderlust van die Potgieters sekerlik ook tot ‘n mate op die Labuschagnes moes afgevryf het. Mens kan dit aflei aan die feit dat die Labuschagnes se name aan verskeie plase op die Oosgrens gekoppel kan word, sonder dat mens kan aflei dat hulle noodwendig aan ‘n spesifieke een verknog was. Moontlik het hulle ook soos baie ander boere tydens hierdie stormagtige jare, gedurig bly versit na gelang van veranderende omstandighede, voordoen van nuwe geleenthede, en verskeining van nuwe gevare. Van een leningsplaas tot die ander.

Ons weet dat Frans Labuschagne al in Mei 1775 ‘n boer van die Oos-grens was, saam met boere soos Louis Nel, Jacob Potgieter, Willem Prinsloo senior, Hendrik Kriegler, Claas Prinsloo junior, Johannes Kloppers, Hendrik Klopper, en Johannes Nortje senior, en dat hulle blykbaar teen hierdie tyd al verhuis het na die Bruintjieshoogte omgewing. Die gebied van Bruintjieshoogte, wat vandag as die Somerset-Oos distrik bekend staan, is Karoo-wêreld. Van Cradock af mik die Groot Visrivier min-of meer suid, en aan weerskante van die rivier verreis ‘n wildernis berge wat die rivier soos vlerke aan die ooste en weste begrens. Wes van die Visrivier loop die berge in ‘n aaneenlopende lyn oor Pearston na Graaff-Reinet. Oos van die rivier lê die berge weer soos ‘n groot ronde eiland, met Winterberg wat misterieus en onverbiddelik oor die hele massa waghou.

My veronderstelling is dat die Boere aanvanklik effens skrikkerig sou gewees het, en eers wes van die Visrivier sou gewoon het, maar dat hulle baie vinnig onder die versoeking sou geswig het om die rivier oor te steek en ook die berggebied ten ooste van die rivier te koloniseer—totdat sekere boere soos die latere Voortrekkerleier Piet Retief, uiteindelik baie ver oos sou gaan vasskop.

Wat die Labuschagnes aanbetref, weet ons net dat hulle waarskynlik teen die laat 1700’s al in die Visrivier omgewing gewoon het, en dat hulle teen 1795 buure was van die wel-bekende Freek Bezuidenhout van Slagtersnek-faam. Die Potgieters het verder noord in die rigting van Tarkastad gewoon, en alhoewel die afstand tussen hulle betreklik groot was, moes die twee families nogtans van tyd tot tyd kontak gehou het, gesien aan die feit dat hulle lotgevalle in later jare baie nou aan die van die Potgieters verbind sou wees.

Die gedagte dat die Oosgrens nog ‘n baie wilde en ongerepte gebied was, kan afgelei word van die feit dat Frans se een broer, Casper, reeds in 1791 deur Hottentotte vermoor was. Inderdaad het die Labuschagnes ook soos ander boere, gereeld onder die moord-en-strooptogte van die Khosas en Fingos deurgeloop. Die wêreld was nog vol grootwild, en dit sou logies wees dat die Labuschagne seuns almal op vroë ouderdom reeds goeie skuts en perderuiters sou gewees het.

Leonardus Petrus Labuschagen en sy kleinboet Adriaan was nog maar jong seuns tydens die Slagtersnek-gebeure. Op hierdie stadium het die Labuschagnes reeds oos van die Visrivier gewoon in die Baviaansriviervallei, wat soos ‘n klein slagaar deur die droë half-Karoo berge loop. Leonardus Petrus en Adriaan was ten tye van die opstand werksaam gewees by Freek Bezuidenhout. Freek, wat herhaadelik opdragte verontagsaam het om weens klagtes van beweerde aanranding en veediefstal in die hof op Graaff-Reinet te verskyn, het geweet dat hy een of ander tyd moeilikheid te wagte kon wees. Derhalwe het hy Leonardus Petrus en Adriaan, sowel as sy ongedoopte basterseun, Hans, opdrag gegee om op die uitkyk vir die gereg te wees. Uiteindelik het die gereg wel op Freek toegesak, en in die skietgeveg wat gevolg het, het die drie seuns ‘n minimale rol gespeel. Veral die aandeel van die Labuschagne seuns is onbekend. Mens kan maar net raai dat hulle vader hulle vroegtydig aangesê het om hulle uit die voete te maak as daar moeilikheid sou kom, of dat hulle eenvoudig die rieme neergelê het toe die pandoers op Freek Bezuidenhout toesak.

Ongelukkig kon ek nog nie die presiese plaas, “Zeekoegat,” vind, waar die Labuschagnes blykbaar langs Freek Bezuidenhout sou gewoon het nie. Baie naby Freek se ou plaas loop wel die “Zeekoerivier,” maar die huidige plaasname langs hierdie onbeduidende klein stroompie bied geen leidraad nie. In alle waarskynlikheid het die vroeë inwoners hulle plase ongeregistreerde name gegee, wat òf later deur nuwe eienaars verander was, òf eenvoudig nuut geregistreer was toe die lenignsplase meer formeel opgeteken was deur die naderkruipende Britse burokrasie.

Aangesien die soeke na Zeekoegat aan die Baviaansrivier na bewering te riskant was weens die nat paaie, het ek langs die pad besluit om maar liewer na Van der Lindeskraal te mik. Van der Lindeskraal was eintlik ‘n Pieterse plaas wat behoort het aan Johannes Theodorus Pietersen (1785-1836) x Anna Maria Bezuidenhout. Johannes Theodorus was weer die seun van Bartel Pietersen en Anna Christina Minne. Bartel was ‘n Deense matroos wie se skip aan die Kaapse kus gestrand het, en wie toe deur goewerneur Simon van der Stel verlof gegee as om fortuin te gaan soek waar hy dit ookal kon vind. Of Bartel nog geleef het teen die tyd dat sy seun Van der Lindeskraal bewoon het, is te betwyfel, maar dit kan ook nie summier aangeneem word nie.

Na afloop van die aaklige gebeure rondom die Slagtersnek opstand, het Leonardus Petrus op 3 Februarie 1811 getrou met Magteld Margaretha van der Merwe. Presies wie sy was, weet ons nie, want sy verskyn maar in ‘n enkele huweliksinskrywing, en ek kon nog nooit enige verdere gegewens omtrent haar opspoor nie. Sy moes egter vroeg gesterf het, want kort daarna trou Leonardus Petrus met Margarita Pieterse, ‘n dogters van Van der Lindeskraal. Sy kon moontlik ook redelik vroeg gesterf het, want in 1815 of 1827 hetroud hy weer met haar suster, Anna Wilhelmina Christina Pieterse. Dit is heel waarskynlik dat die Labuschagnes en die Pieterse mekaar gereeld by nagmaal sou gesien het wanneer boere van heinde en verre die Baviaansriviervallei ingetrek het om by die ou Glen Lynden kerkie geestelike versterking te soek. Vir die Labuschagnes was so ‘n nagmaal trek niks besonders nie, want die kerk was naby hulle plaas. Vir die Pieterses was dit egter ‘n baie langer trek, wat sonder twyfel, besonders rof en stowwerig sou gewees het.

Van der Lindeskraal moes destyds reeds ‘n spog-plaas gewees het. Die Visrivier gebied het oor groot dele nie juis merkwaardige goeie grond nie, maar Van der Lindeskraal lê in ‘n rivier-bog wat besonderse mooi diep, ryk rooi alluviale grond bevat. Dit kon ek reeds by vorige geleenthede op landkaarte aflei. Hierdie keer het ek gehoop om darem met my eie oë die feit te kan bevestig. Sonder akkurate kaarte het ek maar gehoop om met geduld en geluk hopelik die regte pad te kan vind, en ek het my voorgeneem om die eerste en die beste wat wat regs afdraai te neem. Die eerste afdraaopad het inderdaad redelik droog en netjies gelyk, en ek het vol selfvertroue afgedraai. Soos meeste plattelandse paaie is dit egter misleidend. Die eerste paar kilometer lyk alles mooi, maar dan vernou die pad tot ‘n enkelspoorwydte op verskeie plekke, en as jy jou weer kan kry, dan moet jy woes uitswaai vir klippe, gate en modderpotte. My rigting het darem reg gevoel, dus het ek besluit om voort te gaan tot ek nie meer anders kon nie. Ek het darem so bietjie tyd gehad.
Na etlike kilometers kom ek op twee boere bakkies af by ‘n stoor waar ‘n klompie werkers besig was om hooi-bale te stapel. Ek besluit net daar en dan om die teuels in te trek en eers rigting te loop vra. Van ver af kon ek sien hoe meet die boere my verfoeilike GP nommerplaat, en ek lees sommer op ‘n afstand die wantroue in hulle gedagtes. Ek kon my omtrent indink wat die boere sit en raai: “Hier kom seker nou een van daardie verdomde ANC grondeise prokereurs wat vir ons kom moeilikheid maak…”

Ek stop in ‘n wolk van stof, draai die vensters oop, haal die sonbril af om minder na ‘n skurk te lyk, en kom nadergestap met ‘n vrome gesig. Ek, wat self ‘n boer was, probeer my beste boere-glimlag ten toon stel, maar ek weet al klaar dat my wit gelaatskleur en netjiese klere my klaar laat uitstaan soos ‘n neon-pink verkleurmannetjie op ‘n groen boomvaring.
“Môre, môre!” probeer ek, terwyl ek my sagte kantoor-handpalm vriendelik uitsteek. “Ek is Herman Labuschagne. Ek wonder of julle my kan help. Ek is is ‘n familiegeskiedenis navorser en ek probeer ‘n plaas met die naam Van der Lindeskraal vind waar my voorouers gewoon het voor die Groot Trek.”
“Willem Marais,” antwoord die jong boer. “Dan moet jy met dié man praat,” sê hy, terwyl hy na die groot man in die dubbelkajuit bakkie beduie. “Hy weet álles in die distrik.”

Die ander meneer stel homself ook bekend en beluister my storie so met een oog half-toe, terwyl ek die gevoel kry dat hy my nog steeds so bietjie aansien vir ‘n grondeisespioen. Maar ek druk braaf voort en hoop om die wantroue met boere clichés dood te versmoor. Uiteindelik laat val ek dat die plek wat ek soek langs die plase Kanaän, Erfdeel en Paradys is.
“O-o-o-o-ja-a-a,” sê Willem. “Nou weet ek wat jy soek. My broer boer op Kanaän, en Van der Lindeskraal is daar naby. Dit behoort aan Michael Vermaak.”
Ek knik my kop. Van Michael het ek al gehoor, maar ek had my nommer vir hom verloor. Nou word ek egter ingelig dat ek nie op die regte pad is nie.
“Nee kyk, jy moet nou omdraai,” sê die groot man in die wit dubbelkajuit. “Ry nou weer t’rug grootpad toe soos jy gekom het, want jou kar gaan dit nooit hier deur maak nie. Hier lyk dit nog orraait, maar daar voor word dit lelik. Dan ry jy nou so daar by Daggaboersnek af, tot jy sulke groot wit pilare kry.”
“Is dit nou by De Klerksdal?” vra ek, want ek was al daar gewees. Dis waar die vriendelike Gideon de Klerk woon, wat my verlede jaar so mooi gehelp het.
“Ja, netso,” sê Willem. “Nou daar draai jy regs. Jy sal sien, dis ‘n grondpad. Nou hou jy met hom net re-e-e-guit aan. Die pad gaan later oor ‘n brug, maar jy hou net regs. Dan sal jy sien jy kom by ‘n vreeslike mooi plek so aan die voet van die berge. My broer is daar en ek gaan hom nou bel en sê jy kom. En dan kan hy jou miskien sommer met sy fô-baai-fô plekke gaan wys waar jy nie met jou kar sal kan kom nie.”

Tevrede dat die onheilspellende vreemdeling met sy GP nommerplaat darem nou weet hoe om sy pad weer uit die vallei uit te kry, groet die groot boer in sy wit bakkie, en verdwyn in ‘n stofwolk om die draai. Ek vra nog verder uit omtrent die pad-aanwysings, en Willem vertel my meer. Sy broer het Klein Kaanaan gekoop nadat dit erg verwaarloos was. Hy het baie werk in die plaas gesit, en het persimmon boorde aangelê.
“Nou,” sê Willem, “is die plaas ‘n juweel vir die streek.”
“Persimmons,” sê ek, “dis vir my ‘n simpele vrug. Dit proe so iets soos ‘n laf tamatie wat pap geword het. Ek het ‘n vriendin wat vir ‘n Jood gewerk het naby Swellendam en Bonnievale en sy sê as jy die goed kunsmatig ryp maak, dan word dit ‘n heerlike lekkerny en ‘n peperduur uitvoerproduk.”
Willem stoot sy blou pet agteroor, en lek oor sy lippe, en ek kan sien die bottel se prop skiet los. Ja, hy weet van die Jood, en dit wil voorkom asof sy broer ook iets met die konneksie te doen het. Skielik besef ek dat die GP spioen nou as vriend aanvaar word, en die ys smelt oor die Karoo bossies. Ek en Willem Marais staan daar en gesels vir byna twee uure lank. Die gesprek gaan oor familie, oor die “goeie ou dae,” oor die foute wat ons pa’s en oupa’s in ons opinie gemaak het in hul pogings om toe te sien dat hulle nageslagte finansieël onafhanklik die wêreld ingestuur kan word, en toe kerm ons oor grondeise, politiek en arbeidsonrus. Ons praat presies dieselfde taal, en nes die vorige jaar met Gideon de Klerk, voel dit na 20 minuute of ons al jare lank buure kon gewees het. Ek vra nog uit omtrent die voor-Groot Trek se plase, en Willem beduie dat ek vir ‘n Tannie Pieterse moet gaan opsoek.
Paradys
“Voor jy nou by my broer or Paradys kom, sê hy, “—dis nou voor jy oor die brug gaan, maar nes jy oor die brug oor die rivier gaan, jy weet? Nou ja, dan kyk jy so skerp terug, en daar sal jy ‘n bord sien met haar naam op. Daar draai jy nou in, en dan ry jy net reguit aan vir so paar kilometer. Jy sal naderhand haar huis sien. Dan vra jy die tannie sommer self. Daar is iewers nog grafte op ‘n plaas en sy behoort jou meer te kan sê.”
Ek maak nota’s, skryf telefoon nommers af, en hou my stories vas wanneer Willem kort-kort haastig na die hooimiedens toe stap om te gaan raas omdat die werkers die bale verkeerd pak. Willem vertel my toe ‘n snaakse storie. Hy sê iemand van sy geweste het eendag ‘n werker gehad wat so sleg was dat hy later nie meer met hom kon saamwerk nie. Mens kan vandag in elk geval nie meer net iemand afdank net omdat hy nutteloos-sleg is nie, dus die persoon maar besluit om vir die kêrel ‘n werk te gee wat hom ten minste net onder sy oë uit sou hou.

“Daar oorkant,” beduie Willem, “vat hy toe die ou na die middel van sy lusernland toe, en hy wys hom ‘n gat in die grond.
‘In dié gat,’ sê hy toe, ‘woon ‘n muis. Ek wil hê jy moet nou hier sit met hierdie hamer en wag, en as die muis uitkom, dan slaan jy hom dood. Verstaan jy vir my?’”
Blykbaar het die stomme kêrel uure lank in die son gesit en wag vir die muis met die hamer in sy hand, en toe besluit die lewe bied beter geleenthede op ander plekke. Vies het hy huis-toe gestap, die hamer neergesmyt en aangekondig dat die baas nou maar sy werk kan hou, want hy het ander planne…
Ek het lekker gelag en my weereens daaraan herinner dat vandag se grensboere weer sit en sukkel met presies dieselfde probleme as 200 jaar gelede: onveillige woontoestande, ‘n onvriendelike regering, ‘n geregstelsel wat nie die vermoë besit om sy landsburgers se lewens en besittings te beskerm nie, en ‘n sisteem wat boere egter aktief vervolg wanneer hulle gereg in eie hande neem ten einde hulleself behoorlik te beskerm. Dan ook nog verkreupelende belastings, vervallende infrastruktuur, en ekonomiese insinking. Dit is ‘n lang lys probleme…

Toe ek en Willem omtrent twee uure later groet, besef ek helaas te laat dat ek myself staan en verbrand het in die Karoo son. Ek kan my al klaar voorstel hoe ek later die velle van my gesig sal moet sit en aftrek, soos wanneer ‘n grillerige buitelander droëwors se velle so vieserig aftrek. Maar gelukkig was dit nie so erg nie.

Ek het baie tyd gespandeer, en nou moes ek vinnig ry om in te haal. Gly-gly om die draaie, en elke nou en dan ‘n nare geskuur soos die motor se ABS remme inskop wanneer ek probeer om modderpotte en slaggate te omseil. ‘n Genealoog het nie tyd vir stadig ry op so ‘n dag nie. Dan terug op die teerpad, en ‘n klompie kilometer op teer, terwyl ek aandagtig sit en luister om te besluit of die motor nou meer of minder kraakgeluide het as vantevore. “Dieselfde,” besluit ek—net toe die wit hekke van De Klerksdal wys dat ek nou moet regs draai op ‘n nuwe grondpad.
Paradys
Om Klein Kaanaan te vind was nie so moeilik nie. Die pad is net hier-en-daar lelik, maar ongelukkig op so ‘n manier dat jy dit eers te laat sien en met geweld deur elke derde beproewing moet ploeg. Ek probeer ontspan en myself herinner dat mens jouself nie die opfoeter van wêreldsgoed te erg moet aantrek nie, maar dit gaan maar swaar. Mens gaan by ‘n paar werklike mooi plase verby, en as jy weer sien steek jy die enkelwydte brug oor die Visrivier met ‘n groot gejuig oor. Ek stop en neem ‘n foto, want mens wil darem vir die nageslagte wys hoe het die rivier gelyk wat oor-oupagrootjie se oupa moes oorsteek as hy wou gaan vry. Die water is nog wild van die vloede en ek glimlag as ek dink dat ek nog nooit van ‘n wilde rivier gehoor het wat ‘n jongman kon keer as hy by ‘n nooi wou gaan opsit nie…

Spoedig maak my aanwysings nie meer sin nie, en ek ry so voel-voel terwyl ek probeer klarigheid soek aan die plaas-naambordjies. Uiteindelik vind ek Klein Kanaan se bordjie en draai in. Mooi plaas. Lyk nes Willem dit beskryf het, maar ongelukkig is die eienaar nie tuis nie. Ek neem maar ‘n paar foto’s en draai toe om. “Sal maar vir Tannie Pieterse gaan soek,” neem ek myself voor.
Selfs dit, neem ‘n bietjie konsentrasie, maar kort voor lank vind ek haar uidraaibord, en durf die plaaspaadjie aan. Die pad is nogal mooi, tot naby die einde waar dit in ‘n pappery ontaard. Soms het jy net ‘n paar sekondes om te besluit of jy jou reis net daar gaan kort-knip deur in ‘n vernederende stofwolk met druisende ABS remme tot stilstand te kom voor jy die drek tref, en of jy maar gaan vet gee en probeer deurploeg. Ek besluit ‘n Voortrekker-nakomeling skrik nie om ‘n kans te vat nie en ek trap die diesel. Die motor grawe gruis en tref die modder soos ‘n nat biefstuk op ‘n blokman se tafel meergeklap word. Sy draai haar neus links en regs, gooi haar agterstewe rond, maar nog voor daar enige rede vir teleurstelling ontstaan breek sy deur, en die volgende oomblik is ek op die tante se werf.

Ek stop, en van ver af sien ek vir Moeilikheid. Ek weet nie wat is die hond se regte naam nie, maar Moeilikheid sou ‘n goeie keuse wees. Ek gaan staan beleefd by die hekkie en wag dat die hond se lawaai die huismense moet nader trek. Na ‘n paar minuute kom ‘n skraal, ouerige dame te voorskyn, en sy begin met die hond raas.
“Staan net so, laat ek hom eers gaan toemaak,” sê sy. “Dis deesdae so onveilig op die plase. Tot die dominee weet al hy kan nie hier inkom voor ek nie die hond gaan toemaak het nie.”
“Nee, dis reg so Tannie,” verklaar ek. “Mens kan nooit te versigtig wees vandag nie.”
‘n Rukkie later kom die tannie weer te voorskyn en luister my storie aan. Sy kyk my diep-aandagtig, so asof sy probeer besluit of ek pas uit die tronk ontsnap het, en of ek maar net ‘n armsalige drommel is wat ‘n varkie vermis. Een van daardie treurige mense wat mens liefs met Bybelse deernis moet probeer ontvang. Genadiglik besluit sy blykbaar op laasgenoemde opsie en nooi my in.
“Kom, ek maak eers vir ons iets om te drink,” sê sy. “Drink jy koffie of tee?”
Ek glimlag. Dis die Boere-gasvryheid wat ek ken. Eintlik verkies ek tee, maar by boere-mense is dit altyd veiliger om koffie te kies, en ek dui my keuse so aan. “Swart en bitter, soos die siel van Afrika.” Die tannie vang nie die grappie nie, maar sy dra die orders aan die kombuis oor, en kom dan langs my sit.
“Gee jy om as ek rook?” vra sy. “Ek kry die goed nie gelos nie. Nou-die-dag, toe sien die dominee my rook, en toe sê hy vir my, ‘ag wat Tannie, as dit jou plesier gee, ROOK maar!”
Ek glimlag weer en maak my leêrs oop terwyl ek liefs niks sê oor my filosofie dat die enigste ding waarvoor sigarette goed is, is om tabak-tee van te trek waarmee jy gogga’s op jou groente kan doodspuit nie.

Ek verduidelik dat my oer-oupagrootjie met ‘n Pieterse getroud was van die omgewing, en dat ek nou hulle voetspore probeer navolg. Die tannie sit agteroor en dink so bietjie terwyl sy aan haar sigaret suig.
“Ja kyk, my man se mense was Pieterses, né? Nou, ek is seker nie heeltemal die regte persoon om jou te help nie, maar wag so bietjie. Ek gaan bietjie mense bel en uitvind. Sit jy nou eers hier. Verskoon tog maar dat die plek so lyk. Ek trek na my dogtertoe want dit het te onveilig hier geword. Nou is alles deurmekaar van die inpakkery…”

Ek sit en wag, en kyk by die venster uit terwyl ek wonder hoe dit vir my voormense was om hier te gewoon het. Ek hoor die tannie op die telefoon praat: “Jong, ek het nou ‘n man hier, en hy sê hy doen navorsing oor families en goeters. Nou, hy wil graag weet van Pieterses…”
Ek luister geduldig terwyl die tannie ‘n opsomming gee van wat sy van my verstaan het, maar ek kan dadelik hoor dat ons nou agter die verkeerde Pieterse aan mik. Maar ek weet ook dat ‘n genealoog se besigheid die soek van naalde in hooimiedens behels, en al weet ek al klaar dat hierdie besoek waarskynlik nie die verlangde goudklont gaan oplewer nie, sal dit nogtans seker darem iets positief oplewer. Dit was ook so. Na ek nog name en telefoon nommers afskryf en my koffie beleefd drink, bekom ek darem aanwysing oor hoe om by die grafte uit te kom. Jy gaan weer links in die grootpad, dan draai jy regs by die brug, gaan die bultjie uit, en dan sal jy later ‘n afdraai aan die een kant kry, so naby waar daar ‘n ou skooltjie was. En dis waar die grafte is. Ek bedank hartlik en opreg. Diep dankbaar vir die ouwêreldse gasvryheid en hartlikheid wat ek so hoop ons volksgenote darem minstens vir nog een geslag sal kan vashou voor dit ook uitsterf. Dit is goeie mense hierdie, besef ek toe ek wegry en weer mik om deur die modderpoel te ploeg. Sout van die aarde. Die motor klief die modder, en skeur die gemors oop soos die walle water van die Rooi See toe die Israeliete deurgemasjeer het. Net baie vinniger. En ek het nog iets om oor dankbaar te wees—dat ek nie verleë moes terugstap om ‘n trekker te loop vra om my uit te sleep nie.

Om die grafte te vind sou ‘n avontuur van soorte word. Laat ons maar net sê dat ek moontlik die tannie se aanwysings in totaliteit heeltemal verkeerd verstaan het. Of miskien het die tannie te veel staat gemaak op my nugtere redeneringsvermoë en bekendheid met die terrein. Die punt is dat ek toe ‘n baie lang tyd spandeer om heen en weer te ry op grondpaaie wat skielik heelwat leliker geword het, en wat blykbaar almal behep daarmee is om na etlike kilometers die verkeerde rigting in te draai. My eerste poging eindig in ‘n tweespoor paadjie wat oor ‘n treinsoor loop op ‘n plek waar ek geen hoop het om met my lae GP motor oor te kom nie. Ek kan nie onthou of ek toe gevloek het nie, maar die kanse was goed. Nie hardop nie, want ek is nie so grootgemaak nie. Maar miskien darem so effens binnemonds, want perfek is ek ook nog nie. Toe maar omdraai en weer probeer. Ek stop op verskeie plekke en vra plaaslike voetgangers. Hulle beduie noord, oos, wes, suid—omtrent die hele wêreld vol, en almal skep die indruk dat ek sommer baie naby is. Uiteindelik raak ek regtig geïrriteerd en ongeduldig en sien al klaar hoe ek ‘n hele halwe dag se tyd kom mors het. Ek ry al hoe vinniger en vinniger, en elke klip wat ek tref, laat my wonder of die nuwe bande wat ek opgesit het, die beproewing gaan deurstaan. Skielik wens ek myself geluk dat ek van daardie nuwes opgesit het, wat die vervaardiger beloof om te vervang as hulle binne ‘n sekere tyd verwoes raak om enige rede op aarde, oorlog en massa-aksie uitgesluit. Dit was omtrent R100 meer, maar dit voel vir my soos ‘n winskopie onder die omstandighede. Die bande hou egter. Dis net die onderstel wat keer op keer bly deurstamp en my laat wens dat ek liewer nog in ‘n goeie, stemmige boere Hilux bakkie gekom het.

Ek stop by nog ‘n ou siel, wat my vrolik beduie ek moet berg-op gaan. Heeltemal anders as wat ek verwag het. Ek ry. Eintlik jaag, want die son tuimel al verkeerde kant toe. En die pad word al hoe kleiner en nouer en leliker. Uitendelik is dit net ‘n tweespoor plaaspad wat tussen die doringbome inkronkel. By ‘n melkery lê daar ‘n bank kraalmis wat oor die pad gespoel het, en die lorriespore daardeur is so diep, kan kan van ver af sien dit is dieper as wat my wiele hoog is. “De hel daarmee,” dink ek weer in ‘n breukdeel van ‘n sekonde terwyl ek die huiwering tersyde vee. “Hier gaan ek deur al moet ek onder deur die spul ploeg.”
Die volgende oomblik is ek in die mis, en seil-seil so half onderdeur, half bo-oor. Ek luister en sug verlig toe ek hoor die uitlaatpyp is nog vas.

Van hier af ry ek maar so vra-vra, totdat ‘n bediende by ‘n verlate plaashuis my uiteindelik inlig dat ek moet omdraai want ek het nou te ver gegaan. Na ‘n lang gesukkel kom ek by ‘n dame uit wat sê haar man is nie nou tuis nie, maar ek kan agter daardie wit Venture aanry, want die mense gaan ook nou grafte toe. Ek kon my geluk omtrent nie glo nie. Uiteindelik het ek nie net die grafte gevind nie, maar selfs iemand gekry om soontoe te volg! Ek spring dus dadelik in en sit die wit Venture agterna voordat dit my dalk kan ontglip en weer oorlaat aan die genade van misdrifsels en wel-menende aanwysings wat my dalk nog in Koekenaap sal uitbring voor die son onder is.

Die kerkhof was ook nie baie verder nie. Jy ry so skraap-skraap oor ‘n groot wal, en sukkel dan ‘n entjie ondertoe na waar ‘n klompie bome ‘n vierkant maak. Dis ‘n groterige begraafplaas vir ‘n plaas. Ek merk dat die familie in die wit Venture reeds by ‘n graf doenig is met blomme, en voel half soos ‘n skurk om op hul oomblik van privaatheid inbreuk te maak. Ek knik egter beleefd, en loop so bietjie rond. In die verste hoek merk ek dat dit ‘n baie bedroefde geleentheid vir die familie is, en die dame ween bitterlik by ‘n vars hopie grond, terwyl sy blomme in ‘n vaas rangskik. Met dié voel ek toe baie gemeen om met ‘n kamera tussen grafte te moet rondloop, en ek stap nader om te sober te gaan kennis maak. Ek verduidelik dat ek hier is om die grafte te kom fotografeer om genealogiese redes, maar ek is heeltemal bereid om eers ‘n ander draai te gaan ry, en later weer terug te kom. Die familie groet my egter heel vriendelik, en die man verduidelik dat dit vandag presies ‘n jaar gelede is dat hulle dogter deur ‘n dronk vent in Johannesburg gedood is in ‘n motor ongeluk. Dit is haar onopgemaakte graf wat hulle kom beween het. So iets laat mens altyd ‘n bietjie van ‘n knop in jou keel wegsluk. Om te sê hoe jammer jy is om sulke nuus te verneem klink altyd so lamlendig, maar mens hoop maar dat die mense darem kan aflei dat daar werklik simpatie is—al is ons vreemdelinge vir mekaar.
Die treurige begraafplaas
Die man vertel my dat hy in die geweste grootgeword het, en dat hy betrokke was by die ontwikkeling van die Visrivier se besproeiingsbedrywighede. Ek het nie ‘n naam gevra nie, maar ek vermoed dat hulle moontlik verwant aan die Vosloos kon gewees het. In ieder geval, hulle vra toe dat ek asseblief moet voortgaan om foto’s te neem, want hulle sal nie lank bly nie. Ons groet broederlik en inniglik, en ek verskoon my om my met fotografie te gaan bemoei terwyl die bedroefde ouers hul eer betoon aan die herinnering van hulle 21-jarige dogter. So in die afnemery dink ek weer dat dit nou net mooi bewys wat ek so baie kere dink: agter die steriele name en datums en feite op geslagsregisters, skuil ‘n wêreld van lag en vreugde, verdriet en verlore liefde. Elke grafsteen getuig van die lewe van ‘n geliefde wat eens op ‘n tyd geliefd was, en by sy of haar heengaan, meestal met diepe droefheid beween was. Dit is ‘n aangrypende oomblik om so iets weer vars te moet beleef.

Ek voltooi die fotografiese sessie betreklik vinnig, en sukkel-sukkel maar so om my nuwe digitale kamera behoorlik te leer gebruik. Baie van die grafstene is van daardie vreeslike blink graniet, en in die skaduwee van die bome weet ek al klaar dat mens die foto’s later baie moeilik gaan lees. Dit was ook presies die geval toe ek later die foto’s aanskou het. Ongelukkig het ‘n paar grafte geen inskripsie op nie, en die baie ou grafte wat daar was, se stene ontbreek meestal. Die begraafplaas is in betreklike goeie toestand, maar dit is vir my nogtans ‘n groot teleurstelling. Ek het werklik gehoop om Pieterses of Labuschagnes daar raak te loop, wat dalk my Pieterse/Labuschagne verbintenis kon help toelig. Die kans is seker goed dat daar van hulle mog wees, maar by gebrek aan enige stene en inskripsies het die hele besoek my net mooi niks nie. Die meer moderne Pieterses, so het die egpaar by die vars graf my verduidelik, woon al baie lank in die omgewing, maar hulle is natuurlik uit ‘n baie meer onlangse geslag, en dateer beslis nie uit die voor-Groot Trek era nie. Ek neem die kerkhof se stene maar af vir die Nasionale Begrafnisprojek, en troos my daaraan dat van die informasie dalk meer van waarde mag wees vir sommige van my ander genealogiese vriende. En ook dat die fotografering van die grafte, hopelik ‘n laaste verwysingsbron kan word indien verdere grafstene met verloop van tyd verweer of vernietig word.

Teen hierdie tyd akuut bewus van die verloop van tyd, moes ek vinnig op pak en weer in die pad val. My volgende oogmerk was om te gaan soek na die plaas Van der Lindeskraal, waar my Labuschagne voorvader, Leonardus Petrus, sy twee Pieterse vrouens gaan haal het. So vinnig as wat die pad my toelaat, beur ek weer terug met die pad soos ek gekom het. By die T-aansluiting is ‘n groot tipe van ‘n fabriek op linkerkant, en die ou jong wat ek daar gevra het, het vir my mooi beduie: “Draai nou hier links (noord), en ry aan op die Witmos pad totdat jy die groot naambord sien op jou regterkant.” Ek mik soontoe, en vir een maal kan ek begin sien hoe die aanwysings en die topografie ooreenstem. Die eerste plaas op regterkant is Paradys van Schalk Vermaak. Daarna kom die Klipfontein spoorweghaltetjie, nou vervalle en verlate, maar karaktervol en mooi vir die oog van ‘n fotograaf.

Nee veel verder nie, kom die grondpad en die spoorlyn bymekaar uit op ‘n plek waar die Groot Visrivier ‘n draai maak wat reg in die berge insny. Hierlangs is die pad aan die berhang uitgegrawe, terwyl die spoorlyn self met ‘n sierlike brug oor die draai van die rivier sny. En net na die draai verkondig ‘n stel imposante hekke met trots: “Michael Vermaak. Van der Lindeskraal.” Ek draai vrypostig af en ry deur. Onmiddelik kan ek sien dat dit die regte plek is, want hier lê die plaas lewensgroot soos ‘n groot rooi vinger van voorspoed in die vriendelike elmboog van die Visrivier. Die plaaspad is rond-geskraap en ‘n plesier om op te ry. Sonder buig of draai loop dit reguit na ‘n netjiese werf waar ‘n moderne huis waghou oor ‘n kompleks skuure waar blink-skoon plaasimpilmente en bottel-groen John Deere trekkers in die son staan en blink. Dit is altyd ‘n plesier om ‘n netjiese plaaswerf aan te tref, waar dit lyk of net kan goed gaan. Rondom die opstal pryk die diep rooi grond van landerye in alle rigtings, netjies gedis sodat die rye parallel lê soos kam-strepe in die olie-deurweekte hare van Ducktail.
Die ingang na Vanderlindeskraal
Ek stop so ‘n diskrete afstand van die Lexus wat in die garage pryk, en nader die agterdeur (wat blykbaar ook diens doen as voordeur). ‘n Klein seuntjie onder ‘n afdak is besig om te speel met een of ander troetelder in ‘n kampie. Ek kan my nie nou onmiddelik herinner of dit ‘n eend of ‘n makou of dalk ‘n hond was nie. Brein-gaping… By die agterdeur word ek vriendelik ontvang deur ‘n persoon wat voorkom asof hy dalk die plaasbestuurder kan wees. Hy beduie dat Michael Vermaak—wat ek nog nooit suksesvol kon kontak nie—nie op die oomblik daar is nie, maar sy vrou sal nou-nou hier wees. Ek kan gerus vir haar wag. Ek sien die man is besig met ‘n middagete van brood en stroop, en ek bied aan om buite te gaan staan en wag.

Tien minuute later daag ‘n jongerige dame op en vra hoe sy kan help. Ek verduidelik dat my oor-oor-oor oupagrootjie op hierdieselfde plaas gewoon het, en dat ek vreeslik graag wil kom hoor of hier dalk nog bouvalle van ‘n ou postal, of dalk grafte kon wees, wat dalk uit die Groot Trek era sou dateer. Sy dink so bietjie na en skud haar kop. Nee wat, vertel sy my, die ou opstal is net daar anderkant die skuure, maar selfs op ‘n afstand kan ek sien die huis lyk nie baie oud nie. En van enige grafte weet sy niks nie. Sy stel voor dat ek maar alter vir Michael moet bel en vra of hy dalk iets weet. So tussen die landerye deur kan ek sien dat meeste van die oppervlakte van Van der Lindeskraal se land-tong, van hoek tot kant reeds bewerk is, en ek kan sien dat die kans van enige argeologiese oorblyfsels van my voorvaders see teenwoordigheid, ‘n skrale hoop moet wees. Half teleurgesteld, knik ek maar die hoof, en bied ‘n bedanking aan vir die oudiënsie. Na twee of drie jaar se gesoek kon ek darem vir eens Van der Lindeskraal vir myself sien. Ek het geweet dat die droom van grafstene met die name van my voorvaders, en ou klip-muure waar hulle moontlik kon gewoon het, maar ‘n skrale hoop was. Met foto’s van Van der Lindeskraal sal ek maar tevrede moet wees.

Met die terugry bewonder ek weer die netheid en goeie indruk wat die plaas skep. Op so ‘n mooi leningsplaas, hoop ek, kon die Pieterses en hul Labuschagne skoonseun, dalk vooruitstrewend geraak het. Maar mens weet ook nooit. Dit is diep, ryk alluviale grond, maar die rivierbog se rug is hoog, en ek twyfel of die oumense leiwater uit die rivier sou kon bekom. Miskien was hulle nie eers werklik ernstige saaiboere nie. Wie weet? In elk geval, vooruitgang in boerdery hang van meer af as net goeie grond en ‘n vriendelike reënbui op sy tyd. Die Pieterse testament se inventaris gee maar ‘n relatiewe diskrete lys bates op, dus mag dit wees dat die alewige geroof en plunder of die Oosgrens in elk geval die vooruitgang van ook hierdie familie bederf het. Met die terugry stop ek om ‘n paar foto’s te neem, en ek glimlag heimlik as ek dink hoe ek die foto’s met Gerda Pieterse—my mede-belangstellende genealoog in hierdie plaas—sal kan deel.

Met die lange ambisie van ‘n besoek aan Van der Lindeskraal uiteindelik vervul, draai ek die motor se neus suidwaats en trap die diesel. Dit raak-raak so aan die verkeerde kant van middagete, en ek besef dat as ek vinnig maak, mag ek dalk nog ‘n besoek of twee iewers kan inruim. Die volgende stap, dus, is Somerset-Oos. Met ‘n gebruil en ‘n wolk van stof, wik ek om die groot vragmotors wat die paaie snuif trap, hoog gelaai met lifelike ronde lusernbale. So, na gruime tyd, tref ek weer die teerpad by De Klerksdal, en raak die gekraak en gekletter van grondpaaie vir eers iets van die verlede.

Innig jammer omdat ek nie tyd het om gou eers vir Gideon de Klerk en sy hartlike familie te gaan groet nie, brul ek tot by Cookhouse, waar die pad weswaarts aftak na Somerset-Oos. Dit is naby die plek waar die Slagtersnek rebelle opgehang was, en ek trek kortstondiglik weer my mus van wrewel aan om te dink hoe die Britse owerhede die stomme mense sommer twee maal gaan hang het. Maar dit is dinge van die verlede, en die pad na Somerset-Oos wink vrolik aan.

‘n Soeke in Somerset-Oos 

Somerset-Oos is ‘n mooi dorpie, geleë aan die voet van die Bosberg, byna 1200 km sedert ek Johannesburg verlaat het. Hier kry die dorp ortografiese reën, wat die Karoo koel, lowerryk en vriendelik daar laat uitsien. Ek besluit om hierdie keer nie weer tot skemer te wag voor ek akkommodasie soek nie, maar die Archer gastehuis waar ek die vorige jaar gebly het, is ongelukkig vol. Ek besluit om maar eers ‘n draai by die dorp se museum te gaan maak. Die museum word gehuisves in ‘n indrukwekkende ou herehuis aan die voet van die berg, so entjie van die middedorp af. Die lang gras in die grasperk getuig van baie reën, maar die parklandskap van ‘n tuin is weelderig en oordek met blomme. Langs ‘n groen dam sit ‘n groepie toeriste en piekniek hou, en hulle kyk my nuuskierig aan terwyl ek voordeur toe stap. Ek mis die voordeurklokkie en moet naderhand agter by die kombuisvenster gaan aandag trek. ‘n Korterige dame maak die deur oop en nooi my vriendelik binne.
“Wat bring jou hier na ons dorp toe?” word ek gevra.
Ek glimlag en probeer skadeloos voorkom, terwyl ek nogmaals geduldig verduidelik dat my oor-oor oupagrootjie se geboorteplek as “Somerset-Oos” opgegee word, en dat ek sy voetspore kom soek het.
“O, dan moet jy met ons kurator praat,” sê sy. “Hier kom gedurig mense soos jy aan, en ons het baie goed om hulle mee te help.”

Sy lei my plegtig na die kurator se kantoor en laat my sit. Ek word koffie en tee aangebied, maar ek wys dit vriendelik van die hand. Die dame verdwyn in die gang af terwyl sy roep: “Emile! Emi-i-i-ile! Hier is ‘n meneer wat met jou wil praat oor familiegeskiedenisse!”
Ek sit ‘n rukkie lank in stilte, tot ‘n groterige besoeker met ‘n kort broek ingestap kom. Hy kom vra belangstellend na die rede van my besoek, en toe ek hom inlig word ek plegtig gewaarsku dat mens versigtig moet wees om te diep te krap. Netnou, sê die besoeker, kry ek swartes in my voorgeslagte, en sulke goed wil ‘n mens tog nie van weet nie. Ek knik die hoof vol erns terwyl ek my glimlag moet wegsluk oor die stukkie ou Suid-Afrika wat so braaf hier voor my staan.
“Toemaar,” antwoord ek, “genealoë is gewoond aan sulke ontdekkings. Daarmee moet mens maar vrede maak. Ons kan ongelukkig nie ons voorgeslagte self uitsoek nie.”
Die omie maak later verskoning, en vertrek weer op sy weg. Die vriendelike museum-dame kom in en verduidelik dat die omie maar nog so bietjie rassisties ek.
“Ag wat,” sê ek, “eerder dit as wat mens skynheilig is oor wat jy werklik voel.”

Emile Els is die kurator se naam. Baie vriendelik jong man wat dadelik vra waar ek beplan om tuis te gaan. Ek antwoord dat ek ‘n plek soek waar daar stilte en veilige parkering is. Hy dink so bietjie aan en bied toe die dorp se natuurresservaat aan.
“Dis baie nice,” sê hy. “Jy sal daarvan hou.”
Met dié skakel hy sommer ook en vra of daar plek is. Daar is glo nog een hut beskikbaar, en hy vra die beampte om dit vir my uit te hou. Ietwat oorbluf oor die vriendelikheid bedank ek vir die behulpsame gebaar en bied aan om maar gou te gaan in-bespreek terwyl dit nog vir my uitgehou is. Emile sê hy het baie goed wat ek kan deurwerk, en hy sal dit vir my regsit wanneer ek terugkom.

Ek vertrek toe met die nodige spoed en vind die grondpaadjie wat langs die berhang uitwentel, verby die gholfbaan (wat glo spog dat dit een van die mooiste in die land is), en toe in ‘n stukkie woud in wat netsowel in Knysna kon gewees het—geelhoutbome en al. Ek kon sien dit is tipiese ou-parkeraad standaard, maar ek het vir navorsing gekom, en sonder om te gaan kyk, bespreek ek solank. Ek moet R200 deposito vir moontlike toekomstige breekskade betaal, en wou my eers daaroor wip, toe ek maar besluit om hoflik en instemmig te wees. Die beampte belowe dat hulle die geld onmiddelik sal terugbetaal, selfs al vertrek ek 04:00 die oggend.

Ek haas my hierna weer terug na die museum, waar ‘n hele reeks bokse al reeds op die eetkamertafel uitgepak is. Die vriendelike dame dra vir my tee en varsgebakte soetkoekies met rosyne aan—dieselfde koekies wat hulle ook te koop aanbied. By hierdie tyd is ek al meer honger as nuuskierig, en dit word met groot waardering aanvaar. Terwyl ek my nog so verstom dat ek by die museum-tafel tussen al die kosbare breekware mog sit en navorsing doen, kom sit die dame langs my.
“Ag jong, ek het niks anders om te doen na werk nie. Kom ek help jou sommer bietjie. Na wie sê jy soek jy hierso?”
Half verbaas mompel ek: “Labuschagnes, Pieterses of Pietersens, een Van der Merwe dame, en miskien ook Potgieters. O, en ‘n Bester ook, maar hy is nie so belangrik nie.”
Sy skud haar reg en skuif ‘n doos nader. Dit is die dorp se begraafplaasregister en nuweliksregisters, wat deur ‘n vriendelike vrywilliger in duisende indeks-kaartjies gekataloguseer is. Dit is nie eintlik die tipe rekords wat ek in gedagte gehad het nie, maar gedagtig daaraan dat dit in elk geval nut mag inhou, val ek gulsig weg, notaboek in die hand.

Na ‘n lange gesoek was daar eintlik verbasend min om op te teken. Op die ou end is die nuttigste rekords wat ek kon uithaal, bloot die volgende:

Begraafplaasregister:
66. JHM Labuschagne (nota lees: “vermoedelik”) bl. 56 – L5 – no 34.
81. LD Labuschagne. Oorl. 16/2/1985. Bl. 65. Perseel M3 – no. 47.
82. CJ Labuschagne. Oorl. 24/1/1978. Bl. 65. Perseel M3. No. 48.
94. T Labuschagne. Bespreek. Bl. 68.
95. T Labuschagne. 16/3/1982. Bl. 68. M4 – no. 56.

Huweliksregisters:
Anna Francina Labuschagne x 1881 Cornelius Francois De Lange
Gert Van Deventer x 5 Mar 1826 Susana (sic) Labuschagne
Wessel Johannes Vosloo x 4/12/1836 Anna Maria Labuschagne

Verder is daar niks nie, en van die Pieterse inskrywings kon ek duidelik sien dat hierdie nie “onse mense” is, soos my ma graag sê nie.

Wilde Kans op die Ingewing van die Oomblik: Brakfontein 

Teen hiedie uur was dit al na toemaaktyd, en hoewel ek seker nog maklik ‘n uur daar kon gesit en snuffel het, was die rekords basies deurgewerk en my taak dus volbring. Op die ingewing van die oomblik skat ek die hoeveelheid daglig wat nog oor is en besluit om ‘n wilde kans te waag. My ou Leonardus Petrus Labuschagne het volgens die Pieterse boedel, die helfte van ‘n plaas Brakfontein van sy skoonvader gekoop. Die ander helfte het aan die Bester behoort waarna ek graag sou wou soek. Op hierdie plaas is Adriaan Labuschagne gebore, my voorvader Leonardus Petrus se 18-jarige jonger broertjie, wat saam met hom by die Slagtersnek opstand betrokke was. Al wat ek weet is dat hy tydens die verhoor aangedui het dat hy op sy vader se plaas “Brakrivier aan de Vischrivier” gebore was.

Ek het wel geweet dat daar aldus die plaaslike boere, baie “Brakfonteine” in die omgewing was, maar op die padkaart kon ek ‘n Brakfontein sien wat langs die Klein Visrivier geleë was. Ek het gewonder of die verwysing moontlik na hierdie plaas kon verwys, en het besluit om die moontlikheid te gaan ondersoek. Toe die museum-dame van my plan hoor wou sy my onmiddelik daarvan afraai. Nee wat, het sy beswaar gemaak, dis ‘n baie slegte pad daardie, dit loop langs die lokasie verby, en dit word nou-nou donker.

Ek het maar voorgegee dat die raad aanneemlik was, maar het onmiddelik suidwaarts gedraai om hierdie naald in die hooimied te gaan opsoek. Die pad was eintlik glad nie so vrot sleg nie, en op ‘n stadium was hy selfs vars geskraap, dus kon ek daaroor nie kla nie. Die lokasie was ook nie ‘n bedreiging nie, en benewens dit was dit half ‘n plesier om oor die groot plat vlaktes van die Karoo te kan skeer. Ver suid het Grahamstad gelê, en my rigting was daarheen. Vinniger as wat ek verwag het, het ek uiteindelik by ‘n plaasbordjie uitgekom wat “Brakfontein” lees.

“Nog ‘n gruwelike plaaspad,” het ek innerlik gesug, en uitgeklim om die geroesde hek oop te maak. Die geskraapte pad het spoedig versleg sodat ek moes vleg tussen klippe en modder-potte deur. Op een plek moes ek so voel-voel aan die een kant van ‘n modder dam deurry, en gehoop ek val nie daar vas nie, want hier—het dit vir my gevoel—is geen lewe in die omgewing nie. Alles was stil en verlate. Na ‘n tyd het die pad egter na ‘n eensame plaashuis gelei, ‘n weerbarstige gebaar geplant in ‘n klein groen oasis van ‘n tuin en pasgemaak op ‘n groot vaal vlakte. Van hek tot hek het ek gevorder en toe voor die tuinhekkie stilgehou. Onmiddelik word jy bestorm deur ‘n bende vriendelike honde. Die ou grote was so ‘n ou langneus teef met geel oë wat my herinner het aan ‘n ou tante wat ek jare gelede geken het. By die huis was daar egter geen verdere teken van lewe nie, maar net toe ek wou ry, toe kom ‘n ou jong aangeloop. Met ‘n glimlag vol lang geel tande wat enige tandarts ‘n visioen van kreatiewe rekonstruksiemoontlikhede sou besorg, het hy beduie dat die baas “by die beeste is daar annerkant.”

Ek vra toe maar uit oor grafte, en hy knik sy kop. Hy wys weer na “daar annerkant,” waar hulle volgens hom glo nog redelik die “miesies ge-bagrawe het.” Ek bedank toe en besluit om maar huis-waarts te keer, maar net toe ek by die krale uitry, toe kom die plaasboer se bakkie ingedraai. Nee, wys hy my, ek moet na die ander Brakfontein gaan wat aan sy buurman oorkant die pad behoort. En hy gee my sy nommer sodat ek hom kan skakel. Hennie Marais[1] is sy naam. Terwyl ek en hy staan en gesels oor grafte en oor my vae teorie, glip van sy koeie egter by die oop hek in, en daar trek hulle agter die speenkalwers aan. Dankbaar dat hy my tot dusver nog nie vir ‘n amptenaar van die grondeisekommissaris se kantoor aangesien het nie, bied ek toe maar aan om in my netjiese klere te gaan help koeie terugjaag. Nou, ek van alle mense weet hoe is ‘n koei oor haar kalf as dit by skemer kom, maar hierdie Karoo koeie was iets van ‘n ander planeet. Ek had my motor geparkeer so skuins voor die hek om te help met die uitkeerdery, en om die gaping nog kleiner te maak het ek sommer die deur laat oopstaan. Dit het vir my gelyk of daardie koeie van plan was om by die een deur in te bars en by die ander uit, maar op die ou end is hulle weer verby, en al in sirkels moes ons hardloop deur die mis, modder en stof, terwyl die beeste van uitkeer niks wil weet nie. Na ‘n lang gespook het ons ‘n paar uitgekeer, maar die ou jong sê toe ons kan maar loop want hy sal die kalwers by die kraal gaan uitkeer. Half verstom dat hy dit nie eerder voorgestel het nie, bedank ek nogmaals en val in die pad.

Hier moes ek egter vir my dag se sondes betaal deur verpes te word deur elke vlieg wat nooit die Groot Trek uit die Karoo mee kom maak nie. Daardie dag het ek gesien dat niks so mooi vir ‘n Karoo vlieg is nie as ‘n wit motor met ‘n swart interieur, want hoe ek ookal klap en skel, uit wou die vuilgoed nie. Dit het gevoel of daar 400 vlieë saam met my in die kajuit was, maar miskien was dit meer soos 40. Ewenwel, veertig is al erg genoeg.

Tussen-deur kon ek darem vir Hennie Marais skakel.
“Waar is jy nou?” wil hy dadelik weet. “OK, nou wag vir my by die grootpad se hek. Ek is naby jou en is nou-nou daar.”
Half-teleurgesteld druk ek die foon dood. Teen hierdie tyd was ek moeg en honger en befoeterd, en al wat ek eintlik wou geweet het is watse grafte is daar op sy plaas. Nou lyk dit vir my of daar nog ‘n veldbesoek lê en wag. Hennie Marais het getrou aan sy woord so 15 minuute later sy opwagting gemaak, en beveel dat ek hom moet volg. Waarheen wis ek nie. Ek laat ‘n diskrete afstand tussen hom en myself vir die stof (iets wat stadsmense mos nooit doen nie), en ry rustig aan. Na ‘n lang ruk besef ek dat hy lankal moes afgedraai het, want ek kry die gevoel dat ek nou al die suidpool nader. Dit as ook so. Met die omdraai het ek hom ‘n paar kilometer verder naby sy hek gevind, wagtend op my terugkeer. Hy het al die tyd afgedraai net toe ek ‘n vragmotor verbygesteek het en met kenmerkende plaaslike wysheid geweet dat ek een of ander tyd seker weer sou omdraai en terugkom…

By Hennie se huis word die voorvaderbeendere plegtig uitgelê. Eers word daar uitgevra wie ek is en waar ek vandaan kom en watter roeping my op my eksotiese weg gebring het. Dan word daar uitgelê van watter Maraise hulle nou afstam, en ek word ingelig dat sy ouma darem ook ‘n Pieterse was. Sy buurman “van daar annerkant,” soos hy himself voorgestel het, is ook daar met sy familie, en almal vis belangstellend uit. Ek mag nie ry voordat ons koffie en beskuit genuttig het nie, en dis eers met verloop van tyd dat ek agterkom dat dit regtig nie lyk of ek hier op die regte spoor is nie. Maar maak nie saak nie. Die Karoo mense kry nie altyd baie kuiergaste nie, en die blink vreemdeling met sy eksotiese stories oor die ou tyd was seker darem ‘n bietjie afleiding om die dag mee af te rond. Hennie gaan grawe ‘n stapel ou Huisgenote uit vanuit die 1950’s, en daar word eers vir die vreemdeling gewys wat die wolpryse in daardie dae was, en hoe min trekkers gekos het. Ons verkyk ons aan die skoonheidsmiddels wat nes vandag se “L’Oréal-wat-g’n-mens-kan-betaal,” aangebied word as die mees-effektiefste diepa’s om plooie weg te hou, skurfheid te laat verdwyn, en tien-teen-een nog brandsiek kolle op die hond se ore ook sal genees. Ek vra of hulle boklammertjies verloor het met die reën en kou.
“Ja, maar nie so baie soos van die ander boere nie,” antwoord Hennie.
Ek vertel hulle ek het naby Cradock gehoor dat van die boere 700 tot selfs oor die duisend bokkies verloor het. Die boere klik-klik simpatie en skud die kop. Dis maar hard om ‘n boer te wees…

Ons kuier duur totdat die maan al hoog hang, en toe ons uiteindelik van mekaar afskeid neem, het ek nogmaals geweet dat die hart van my nasie in ‘n duisend soortgelyke plase in die platteland lê. Daar waar selfoonseine swak is, waar jy net een sneeu-besmeerde TV kanaal kan opvang as jy gelukkig is, en waar die Lister enjins saans nog dreun—dáár woon die Afrikaners waarvan vandag so min nog oor is. Ek mis hulle. Dis my mense daardie.

Onder ‘n reuse geel maan, een dag van volmaan af, ry ek stadig en nadenkend oor die uitgestrekte vlaktes van die Karoo. Eensaam en stil lê die bekoorlike ou wêreld en glimlag ongeërg vir die besoeker. “Jy kan maar kom of jy kan maar bly, dit maak nie aan my saak nie,” wil-wil die landskap amper vir my sê. Sommige mense sal sê dat dit veral hier maar ‘n bra lelike wêreld is. Maar daar is iets omtrent die vreedsame landskap wat mens tog raak. Jy kan jou nie teen die roep verset nie. “Daar is tog baie mans wat met ‘n lelike vrou gedroud is,” dink ek, “maar dan is die ou ding se hart so goed en wonder-mooi dat die spatare, bakbene en bakore later mos glad nie meer saak maak nie…”

Somerset-Oos bekruip my reg van voor, en dis half teleurgesteld wat ek die dorp binne ry om ‘n eetplek te loop soek. Iewers langs die hoofstraat maak ek myself as enigste gas tuis in ‘n restaurantjie met breë ou plankvloere en stok-ou, vog-beskadigde muure. ‘n Mollige kelnerin kom neem my bestelling vir pizza, en laat my dan in vrede. Vir die volgende halfuur totdat die pizza gaar is, moet ek luister na haar luidrugtige koketterige gesprek met die sjef.
Tussen die moegheid glimlag ek toe ek terugdink aan wat my ma gesê het oor goeie maniere: “My kind, manne wat op tafels sit gaan ‘n vuil vrou kry…” Ek neem nog ‘n slukkie van my biertjie en wonder of dit “vuilBEK” vrouens ook insluit.

Na die ete stap ek half vies vir myself uit omdat ek die kelnerinnetjie ‘n 10% fooitjie gegee het. “Sy was darem baie vriendelik,” probeer ek myself troos, maar die afstootlike sê-goed het my tog geïrriteer en ek het dan juis gedink ek gaan haar niks gee nie. Op die laaste oomblik het ek egter vermurwe en tog maar ingegee, en ek kan nie dink waarom nie. “Jy is besig om simpel te word,” dink ek, en skuif agter die koue stuurwiel in.

My akkommodasie vir die nag was ‘n mengsel van uiterstes. In die buitengewone koel woud-atmosfeer, was alles diep-stil en rustig—hemels. Buite druis ‘n watervalletjie, en daar is geen verdere teken van lewe nie, behalwe dié van die sekuriteitswag wat saamstap om inventaris te kom neem van die hele hut se inhoud. Elke koppie, vurk, kussing en laken word getel—selfs die broodplank, mikrogolf, asblik, en vier of vyf items wat seker deur die vorige gaste gesteel was, word plegtig opgeskryf. Teen hierdie tyd was ek al so uitgeput dat ek die prosedure maar in ‘n versteende toestand van verwondering gaan sit en beskou het. Die binnekant van die hut was skoon, maar een of ander buitengewoon on-aardige mens-reuk het jou onmiddelik aan die keel gegryp en begin wurg, en ek het myself al klaar begin skel oor ek nie eerder kom ondersoek instel het nie. Ek onderneem egter om met ‘n wolsak vol waardigheid stil te bly en in te kruip. “Dis tog net vir een nag,” troos ek myself. As ek ‘n nag van galsterige rookdampe kon uitoorleef sal ek ‘n mens-walm ook kan deurstaan. Ek het darem al baie, baie erger avonture as dit beleef in my lewe.

Ek gesels so bietjie met die sekuriteitswag. Hy sê hy kom van Graaff-Reinet, maar hy gaan môre bedank en Rustenburg toe waar sy broer dink hy werk op ‘n platinum myn kan kry.
“Jong,” sê ek vir hom, “weet jy hoe lyk dit onder in ‘n myn?”
Hy skud sy kop, maar sê dat enigiets beter kan wees as nagdiens diens vir ‘n slaweloon in so ‘n vervelige plek soos ‘Somerset-Oos. Ek knik maar net my kop en waarsku hom dat hy homself in ‘n slang-put gaan begewe. “Maar stamp maar jou eie kop,” dink ek. Persoonlik kon ek nie dink aan baie meer bekoorlike plekkie om te woon, as in die pragtige eksotiese woud aan die voet van Bosberg nie, nagdiens of te nôt. Die nag was vrek koud, maar die oliverwarmer wat by eerste aanraking onmiddelik uitmekaargeval en met oopgesperde drade gestaan en wieg het, het ten minste gewerk. Ek het op my sorgvuldig-getelde beddegoed neergeduik en my muwwe verstand entoesiasties afgeskakel tot eerste lig.


[1] Hennie Marais. Tel: 082 879 2584.

No comments:

Post a Comment