En so eindig my besoek aan Bokpost. Die
volgende dag is die Karoo koel, stof-loos en
vars gereën. Dis absoluut lieflik—soveel so dat ek maar vir oulaas nog ‘n
draaitjie onder by die skaapkrale gaan stap. Ver in die Noorde, anderkant die
skurwe ysterklipkoppies lê Johannesburg
se betonkranse soos rokende berg Moria uit Lord of the Rings. Ek trek behoorlik
hoendervel aan die gedagte. Maar dis nou maar eenmaal huis, en ontsnapping van
die lewelose plek kom nie sonder sy eie prys nie. Na ‘n laaste groet en
beloftes om stamregisters en informasie uit te ruil, trek ek maar weer oop na
die N1 toe. Maar op die laaste kry ek dit nie oor my hart om dadelik al op die
teer te klim nie. Ek vat sommer ‘n kans
en draai links op ‘n onbekende grondpad in wat op die kaart lyk of dit
waarskynlik iewers vorentoe weer by die hoofpad sal aansluit. Vir oulaas sit en
wonder ek nog hoe dit sal wees om hier te woon. Wat dit sal verg. Dis moeilik
om die prys te bereken, want dis ‘n baie onbekende omgewing. Maar dis die
moeite werd om daaroor te bly dink, besluit ek.
Die pad Noorde toe... |
Skielik besluit ek dis tyd vir musiek. Ek
voel-voel onder dit sitplek rond. Ek het iewers langs die pad ‘n nuwe CD gekoop
en skielik wil ek gou weer na die woorde luister. Na ‘n lang gesukkel vind ek
hom en hy gly geruisloos die paneelbord in. Ja, dis wat ek wil hoor—Theuns
Jordaan wat sug oor iets wat hy in die Karoo
moes agterlaat:
Maar ek het gedroom hoe ons in Beaufort Wes
gaan woon
En ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag
nie
Nie meer so iets doen nie..
No comments:
Post a Comment