Die volgende dag het gebreek soos dagbreek
dikwels in die Karoo kom—vaal en stil met die
gekrys van fisante en die gesketter van tarentale iewers langs die rivier.
Fourie het ‘n nuwe plaas gekoop en moes vroeg roer om daar te begin dinge doen.
Joan moet Cradock toe, en voor ek die hek gaan oopmaak waar ‘n rooi perd aan
die veld-vygies staan en peusel, kom sy aangestap met ‘n pakkie padkos. Joan is
van Engelse afkoms, maar sedert Voortekkertye al het Engelsprekendes en Boere
dieselfde taal gepraat in die grensgebiede. Die kultuurverskille maak hier nie
saak nie, want hier staan almal rug teen rug teen die natuur en wat ookal
anderkant die berge met die tande ontbloot lê en wag. Dit is hoe ek my mense
nog altyd geken het—ware Afrikaners. Gasvry, hartlik en vol van die liefde van
ou Afrika. Ons groet soos ou familie en ek moet belowe om kontak te hou. Dit is
iets wat mens met graagte doen by hierdie wêreld se mense.
Van Commandodrift af kronkel die pad seker
‘n goeie 40 km of meer verby Lake Arthur, om uitendelik weer by die
Tarkastad-Cradock teerpad met sy onnosele spoedgrens aan te sluit. Langs die
pad kom ek net een bakkie teë, en in die ry sit ek en dink wat Fourie my
omtrent die ekonomie van die streek vertel het. Hier kan jy goed leef, het hy gesê, solank jy nie
meer spandeer as wat jy maak nie. “Ek sal jou in hierdie valleie huise wys wat
soos South Fork lyk.” Ek weet. Ek het al van hulle gesien, en dit hoort so. So
‘n waardige landstreek verdien waardige tuistes.
Op Cradock was geen kans vir stop nie. Almal waarsku my in elk
geval elke jaar om nie sommer met goed in die kar in Cradock te stop nie, want
die dorp het maar sy eie kompliment grypdiewe en tsotsi’s. Dit kan seker nie erger as Johannesburg wees nie, maar ek is nie lus om
die bagasie op die agtersitplek weg te steek nie, en ek is in elk geval te
haastig. Ek het ‘n afspraak om 9-uur op Aberdeen
te wees. Van Cradock af is dit ‘n baie mooi pad Graaff-Reinet toe. Ek verlustig
my in die uitgestrekte skoonheid van die Karoo
wat dynend die verte inrol totdat dit tussen pastel-blou bergreekse oplos en in
die sagte oggendlig verdwyn. Die spietkops slaap nog hierdie tyd van die
oggend, maar ek hou iewers naby die verspotte spoedgrens en dit voel vir een
maal vinnig en vry. Die motor brand sorgeloos oor die breë horisonne terwyl
Joan Baez op die radio sing:
May
God bless and keep you always
May
your wishes all come true
May
you always do for others
And
let others do for you
May
you build a ladder to the stars
And
climb on every rock
And
may you sta-a-a-a-y forever young!
Dit laat mens voel asof die Voortrekkertye
en die ruimte eeu hier, op die teerpad alles saam kan
meng, en asof daar uiteindelik tog ‘n toekoms vir ons stom-vernielde land kan wees. Miskien nie
dadelik nie, maar uiteindelik tog—al is dit in die verre toekoms in. “Forever
young—forever young—forever young—may you sta-a-a-a-y forever young…!” Dis ‘n
mooi lied en ‘n mooi pad en mens wens teen die verwagting van redelikheid in
dat dit nooi sal ophou nie. Maar dan kom die volgende snit aan die beurt.
Melankonies en rustig. “Well I’ll be damned—here comes you ghost again. But
that’s not unusual. It’s just that the moon is full and you happened to call…”
Graaff-Reinet lê soos hy nog altyd gelê
het—waardig beskut in die beskermende ellemboog van berge wat gebore was in die
tyd toe dinosourusse die aarde bewandel het. Ek het te min klere ingepak in my
oornagtassie, en kom een hemp kort—tensy ek lus is om onder al die bagasie my
groot tas uit te sleep. Ek stop en loop gou die klerewinkels deur wat al oop
is, maar daar is niks wat my geval nie. A wit cowboy hemp wat te klein is, en
‘n klomp sintetiese skeppings wat meer geskik lyk vir tieners en strand-hippies.
My sin vir avontuur is nie groot genoeg om die generasiegaping suksesvol te
oorbrug nie, dus betaal ek die parkeermeter-kêrel wat bakhand met ‘n ding in sy
hand staan wat lyk soos ‘n sakrekenaar wat rekord hou van wie hoe lank waar
geparkeer het.
Ek het al vantevore geleer dat
Graaff-Reinet nie eintlik ontbyt bied so vroeg in die oggend nie, en vir ‘n
Steers ontbyt sien ek regtig nie daardie dag kans nie. Dus dreun ons maar deur die ou
dorp waar reisigers vir 200 jaar lank op die rand van beskawing gehuiwer het
nie. Aan die regterkant troon Spandaukop vol misterie, en dan rol die berge
glorieryk en majestieus terwyl die teerpad suidwaarts golf in die groeiende
somerhitte. Hier weet ek sit die spietkops ook graag, dus stel ek maar die
motor se spoedkontrole versigtig in en sit agteroor sodat tegnologie die
versoeking elimineer om die gesag van die wet uit te daag. Nee, daar is nie
nodigheid op so ‘n mooi dag nie.
Op hierdie manier maak ou Aberdeen homself bekend, omtrent so diskreet
soos altyd. Die dorp het in ‘n hele jaar nog niks verander nie, en ek glo dit kan seker van die laaste
tien jaar ook gesê word. ‘n Wilde draai om die statige ou NG Kerk met sy
buitengewone hoë toring, en dan ‘n stop langs die huisie van Annelise Ihnken.
Ek het verlede jaar van haar geskryf, en het besluit dat dit in orde sal wees
om haar maar weer saam te neem kus toe. Ek arriveer op die minuut 9:00 uur, en
vind haar reeds wagtend op die stoep—asof enige persoon wat van ver gekom het
sonder uitsondering altyd betyds sal wees. En dan draai ons die neus weer
suidwaarts en skeur die breë Karoo oop terwyl
die jare terugrol. Dis die Vallei van Verlatenheid, maar binne die motor word
dit 1943 terwyl Geallieerde bomme op Duitsland neer reën.
Mev. Ihnken se tagtig somers word weer 18,
en ek luister met verwondering hoe ‘n jong meisie van haar ouers geskei moet
veg om te oorleef. Die hitte-gloed terwyl Dresden
brand, die angs van Russiese soldate wat haar sou doodskiet as hulle kon sien
dat sy die soldatestewels van haar vader dra—‘n Pruisiese offisier in die
Duitse Geheimediens op die front van Siberië. Die hongersnood en gevoel van
verlatenheid terwyl sy verwese deur die strate van verkrummelende stede
rondswerf op soek na herberg en ‘n maaltyd. Aan weerskante van die pad lê die
wêreld grys en eensaam in die enormiteit van die landskap. Die horisonne staan
gesmelt sodat hulle vormloos in die hittegolwe en deinserigheid hang. Hitler, vertel sy my, het aan hulle ‘n
nasie-trots en selfrespek gegee. En dit daarvoor, ten minste, kan niemand hom verkwalik nie. Ek stry nie,
maar maak tog melding van die skadu-kant van sy karakter. Daar is goed in selfs
die boosaardigste moordenaar wat ‘n muis met tere liefde grootmaak in sy sel
van eensame afsondering, maar soms is die geweld van ‘n man se karakter so
groot dat dit moeilik is om die sprank van goedheid raak te sien. “You must
remember,” sê sy my, “no matter what the history books say—I was there. I personally
heard Hitler speak…”
Mev. Anneliese Ihnken voor haar huisie in Aberdeen |
Die woorde herhaal myle ver nog in my
gedagtes terwyl die ou dame se verhaal verby ‘n verpletterde Duitsland in laat
1945 verby loop en dan mik na ‘n advertensie vir ‘n goewernante in
Duitswes-Afrika. ‘n Nuwe lewe en ‘n nuwe hoop na ‘n verbryselde volk waar
vrouens mans soms met 10 tot 1 oortref het. En daar, in die sonverbrande sand
van Luderitz, Karabib en Windhoek
het ‘n nuwe lewe begin. Liefde en leed wat oor die jare herhaal het soos in die
lewens van so baie oorlogverwaaide swerwers wat elders ‘n heenkome moes soek.
Die gespartel van ‘n enkel-ouer om ‘n kind suksesvol groot te maak. Ongeluk en
elende. Die oorlewingstryd van 1945 sou dekades lank nog voortduur. Dit is ‘n
treurige lewensverhaal vol tragedie. Maar oumense het soms ‘n manier om oor
sulke dinge te praat asof die jare die trauma daarvan versag het.
Ek luister vervoerd terwyl ons by Uniondale verbyskuur. Alta Roux se stories oor die
Spookmeisie van Uniondale maak ‘n danspassie deur my gedagtes en ‘n glimlag
speel oor my gemoed as ek haar vertelling uit die ou GenForum dae onthou. Vir
‘n oomblik is ek terug op ‘n donker, stormagtige nag in Oktober, 2000. Ek het
daardie dag die Outeniekwaberge met sononder oorgesteek en op hulle kruin het
dik wolke en duisternis my ingesluk. In die Langkloof was dit reeds middernag-donker
met rukwinde en ‘n bitsige ysreën wat teen die motor se ruite getimmer het soos
die krom naels van ‘n onsigbare swart kat wat wil binnekom. Daar sou daardie
nag nie slaap wees nie, want ek moes skuins na sonop die oggendvlug na Amerika
op Jan Smuts haal en ek het geweet dit sou ‘n uitmergelende reis wees. Die
perfekte resep vir ‘n ontmoeting met die Spookmeisie van Uniondale. Hoe het Anton
Goosen se storie nou weer gegaan?
Blommetjie
gedenk aan my, en sy lig haar duim na bo.
Blommetjie
gedenk aan my, sing die spook van die Klein Karoo …
Ek het nogal daardie aand uitgekyk, maar al
was die tyd en omstandighede perfek, het die Kamanassie berge nie “geil
gespook” by daardie geleentheid nie. Ook maar beter so, dink ek, want daar was
nie tyd vir stop en speletjies nie. Dis ‘n lang pad na die Goudstad toe.
Maar dis maar een van vele gedagtes terwyl
die ou dame onophoudelik praat. By Willowmore was my ou vriend, Dr. Don
Diespecker in Australië, se pa die bevelvoerder tydens die Boereoorlog. Ek het
nog net eenmaal daar gestop om brandstof in te gooi en toe het dit nogal gelyk
of daar nog nie veel kon verander het sedert die Boereoorlog nie. Dit tref my
elke keer om te besef hoe futiel die struwelinge van die mensdom tog is. Dat ou
Don en ek nou vriende moet wees terwyl ons voorouers skaars ‘n eeu gelede so
hard probeer het om mekaar om die lewe te bring. Die ou dame langs my se
verhale bevestig hierdie gedagte as ek dink hoe haar pa en my oupa sou
gereageer het as hulle mekaar oor die oop visier van ‘n geweer sou moes gesien
het. En vandag maak dit eenvoudig nie meer saak nie. Ek deel wat op my gemoed
is, maar ek is nie seker of sy my mooi verstaan nie, dus besluit ek om maar
liewer weer stil te bly. Met die ouer geslag is dit soms geriefliker om eerder
luister as om te praat.
So tussen die gesels deur sprei die Langkloof
onverwags en ontvang twee vreemde reisigers ontvang asof nog twee siele geen
verskil aan sy rus en vrede gaan maak nie. Dis sommer grys van die droogte soos
ons verbyry. In die Langkloof luister ek hoe my ou vriendin se bejaarde ouers
in Duitsland in ‘n woonstel teruggetrek het met hulle herinneringe aan die
verlede en hulle verbittering oor verpletterde drome en ideale. ‘n Ou geheime
diens offisier van die Derde Ryk wat verfrommel weggegooi word, onopgemerk deur
die boeke van geskiedenis, en sy eggenote. Die een half-doof en die ander
half-blind sodat hulle vreemdelinge in dieselfde huis geword het. En dan die
afsterwe en die verdriet wanneer die irriterende ou lewensmaat van soveel
dekades skielik nie meer daar is nie. Kort daarna, het die ou offisier ook
gevolg—soos so dikwels die geval was. ‘n Familie uitmekaargedryf deur die
Tweede Wêreldoorlog en ‘n enkele dogter in Suid-Wes Afrika wat opgespoor kon
word om haar vader ter see in die gebiedswaters van moderne Duitsland te gaan
begrawe.
Dit herinner my opnuut daaraan hoe vlietend
die lewe is. En hoeveel pathos en ironie daar so dikwels agter die name, datums
en plekke op elke genealogiese geslagsregister lê. Agter elke stel datums, so
klinies afgerond en netjies, skuil die skadu van ‘n siel wat eens op ‘n tyd ‘n
mens was. Iemand wat liefgehad en verloor het, wat gelag het, en uit hierdie
lewe alleenlik kon saamneem dit wat hy geslaag het om agter te laat. Alles ‘n
gejaag na wind, het die Prediker gesê, maar ook net as mens jou oë toelaat om
die horisonne van ‘n menslike lewe as die finale grensgebied te beskou. Vir my
was horisonne nog altyd ‘n illusie. ‘n Misterie waaroor ek bly wonder het
sedert ek ‘n kind was. Horisonne is altyd sigbaar, en tog bestaan hulle nie
werklik nie. Want solank mens vorentoe bly beur, sal horisonne altyd plek maak
voor jou, en nuwe wêrelde sal bly ontvou vir solank as wat daar beweging
is—selfs in die Langkloof met sy skurwe ou berge en droë landerye waar vaal
volstruise met oop bekke in die son staan en hyg.
Mev. Ihnken se lewensverhaal rol met die
gemaklike tempo van iemand wat wil seker maak dat haar lewe deur ten minste een
ander mens op aarde onthou sal word. En ek luister geduldig want ek weet eendag
sal daar nie weer ‘n geleentheid wees nie, en elke woord is kosbaarder as wat
dit juis nou voorkom. Jare in die geselskap van oumense het my geleer dat die
grootste geskenk vir ‘n oumens dikwels net ‘n gewillige oor is. Geld en goed
het sy in elk geval tog nie nodig het nie.
“Look my dear, I’m nearly eighty,” het sy
aan my verduidelik. “What do I want with money?”
En met daardie woorde kom die lieflike
hops-lande van die Klein Karoo in sig, en begin die pad die statige Outeniekwa
berge uitkronkel. Ek wens altyd ek kon net vir ‘n oomblik ‘n paar honderd
miljoen jaar terugkyk toe daardie berge gebore was. Maar nou kan ons maar net die majestueuse hoogtes
aanskou en stilweg wonder. Dit is ‘n plesier om te voel hoe moderne tegnologie
die styltes opvreet sonder om te huiwer. Die pad loop die vlies-agtige wolke
binne, en dan bars jy oor die toring-hoë bergpieke in ‘n ander wêreld in.
“Look—the sea!” beduie die ou dame met haar
vinger en ek moet glimlag.
In elke tagtig-jarige skuil opsluit nog
steeds ‘n klein dogtertjie wat borrelend kan
lag by die aansig van die blou water in die vertes. Elke jaar wens ek ek kon
stop en eers proteas en heide gaan pluk in die berge, en elke jaar doen ek dit
nie. Dis tog ‘n jammerte, want eendag sal ek terugkyk en wens dat ek dit tog
maar gedoen het.
Tyd is egter almal se vyand, en die dag se ure
loop al weer stadig-aan leeg. Ons gaan koop die noodsaaklikhede vir ‘n week by
die see en sak dan rustig af Glentana toe. Dit is ‘n lieflike kus-dorpie wat
onder die haaslip van ‘n landkors verskuil lê. Mooi groot, nuwe huise sonder ‘n
deurloop van vreemdelinge, of die aantrekking van winkels. Daar is geen
branderplankryers wat sit en bier drink op die strand, of verveelde sonverbrande
vleispaleise in spieël-glas sonbrille wat ruik na klapper-sonbrandolie nie. Ook
geen wit-haar blondines met tattoeërmerke van skoenlappers en Chinese tekste op
hulle skouers, en ringe deur hulle oogbanke, neusvleuels en naeltjies nie. Ek
is progressief wat denke aanbetref met baie dinge, maar liggaamsperforasies en
ink onder die vel, duinebesies en hare wat net een maal per maand onder die
volmaan gewas word het my nog nooit beïndruk nie. Dis maar die ou Boer in my,
dink ek. Iets wat resoneer met die waardes van ons voorvaders—ten goede of ten
kwade, dit kan
elkeen maar vir homself besluit.
No comments:
Post a Comment