Saturday 9 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2003 - Deel 3


Huiswaarts

Van Port Alfred na Johannesburg Langs die Pad van die Groot Trek

Van hier af is ek Port Alfred en Port Elizabeth toe, waar ek agter ander dinge gaan aan-snuffel het vir ‘n week. Port Elizabeth se hoof-museum is ‘n besoekie werd, veral as mens hou van ou skeepskannonne en skeepsmodelle. Ek het met mooipraat en beloftes uitdeel bietjie film in die museum gebrand, totdat ek deur ‘n totale vreemdelik gevra was om asseblief tog ook foto’s van hom te neem. Wat die stomme mens in gedagte gehad het, weet ek nie, want hy sou mos nooit die foto’s weer sien nie? Ek was beslus nie lus om foto’s van ‘n volslae onbekende persoon te loop neem nie. Dis toe dat ek maar met ‘n paar agterdogtige kyke oor die skouer weer weggesluip het terug Port Alfred toe. Die museum het ‘n skeepsmodel van die “Weymouth”—‘n skip waarmee talle van die bekende 1820 families gereis het. Van my voorvaders was op hierdie skip, en ek was baie ingenome om ‘n paar foto’s van die model te kon neem, aangesien ‘n gawe persoon so ‘n klompie maande gelede die skip se logboek vir my gaan afskryf het in Engeland.

Met die terugkom het ek weer langs die Visrivier opgery en gaan kyk of ek op my eie die ou plaas Vanderlindeskraal kon vind. Die pad oor Slagtersnek is nogal ‘n avontuur op ‘n paar plekke, maar dis heel gangbaar mits mens nie te verbouereerd raak wanneer daar lateraan geen padtekens meer is nie. Die plaas kon ek glad nie vind nie, so ek sal maar weer moet teruggaan as ek tyd het. Gideon wou my soontoe vat, maar hy het ander verpligtinge gehad en ek wou hom nie graag daarvan weerhou nie.

Die res was maar bloot ‘n reis van dorpie tot dorpie. Op Cradock kry mens welliswaar nou niks te ete op ‘n Sondag nie, maar dit is regtig ‘n lieflike ou dorp. Johan Pottas moet my maar vergewe as ek ek hieroor my bek rek, maar ek is al die tyd wel ‘n plattelander in murg en been en heeltemal gewoond aan sulke dinge. Mens verwag net dat daar met soveel toerbusse in die dorp, ideaalgewys nog ‘n soort “Ouma se kombuis” sou wees wat afval, gebakte skaapkop, pofadders, blindevinke, souskluitjies en soetpatats sou bedien. Maar dit was my die beskore nie, en meeste moderne siele gril seker deesdae vir sulke kos.

Die enigste verdere voorval was tussen naby Steynsburg toe ek moes stop om sekerlik die grootste bergskilpad wat ek in my lewe gesien het, uit die pad uit te verwyder. Die ou kind van die berge het ewe verontwaardig vir my geblaas toe ek hom wegdra sodat hy nie miskien die volgende motoris se hele verkoeler sou wegslaan nie. Ook sodat die kar wat hom tref, nie dalk die taamlike diep afgronde langs die pad sou intuimel nie. Dis toe dat ek agterkom my kar het iewers met die slaggate se tref, ‘n brandstoflekkasie ontwikkel. Van toe af was dit ‘n gejaag om by ‘n brandstofpomp te kom voordat die tenk leeg was. Al hoe vinniger en vinniger. Tot my ontsteltenis moes ek vind dat Steynsburg nie meer brandstofpompe het nie. Ek is eers later die storie vertel van hoekom die plek nie meer het nie. Tragiese verhaal vir ‘n ander dag, daardie ene.

Op Bethulie kon ek darem met weer die tenk aanvul en gerieflik verder ry tot op Bloemfontein. Die volgende dag het die agenstkap in Bloemfontein so pateties onwillig gereageer, dat ek maar self die lekkasie moes lap en verder aansukkel. Gelukkig kon vriendelike werktuigkundiges in Welkom vir my die probleem sommer vinnig en gratis herstel. As mens die enigste agentskap is wat ‘n ganse stad bedien is die versoeking seker maar altyd daar om diens-standaarde tot ver benede die aanvaarbare norme te laat sak. Dis jammer. Benewens dit was ou Bloemfontein nog altyd vir my ‘n buitengewone aangename en vriendelike stad waaraan ek net die beste herinneringe dra. Die stad brei geweldig uit en heelparty ou landmerke is eenvoudig nie meer daar nie.

By Winburg het ek gestop by die ou Voortrekker bymekaarkom monument waar baie van ons voorvaders op ‘n tyd staanplek gemaak het. My eie voorvaders het byna almal vir ‘n tyd lank by Winburg gaan uitspan om voorrade aan te vul, seile te stop, nawe te ghries, vellings te kort, en alles te doen wat gedoen behoort te word voor mens die volgende been van ‘n lang reis na die onbekende binneland verder sou aanpak. Mens kan jouself maklik voorstel hoe dit moes gelyk het in dae van ouds met dosyne waens wat oral uitgespan gestaan het, en duisende stuks beeste, skape en perde wat die hele vallei volg gewei het. Hier moes saens musiek gemaak gewees het, en tot laat in die nag bespiegel geword het oor ‘n pyp en ‘n beker koffie oor wat die toekoms mag inhou. Ek is seker op ‘n helder maanlig-aand, as mens mooi luister, sal jy dalk nog ‘n paar vrolike note van ‘n konsertina en boereviool kon hoor…

Die museum self is tipies van die jare 60 se verbeeldinglose argitektuur, maar die monument bly darem ‘n interessante landmerk om te besoek. Hoewel dit duidelik verwaarloos is, is daar in die aanliggende museum nog lewe, al is dit maar net-net. Meeste van die uitstallings is verwyder. Of dit deur iets nuuts vervang gaan word, weet ek nie. Omtrent al wat nuut is, is ‘n klein, on-inspirerende uitstalling wat iets te vertel het oor die geskiedenis van Winnie Mandela. ‘n Makabere aanvulling tot Voortrekkergeskiedenis, voorwaar, maar nogtans onweerlegbaar deel van Winburg se stadig-bewegende geskiedenis. 

Die Voortrekkermonument buite Winburg. Elke vleul bevat die naam van ‘n aparte trekleier. In hierdie geval, Andries Hendrik Potgieter.
Wat die stop egter die moeite werd gemaak het, was die feit dat ou President Steyn se geboortehuisie nog daar staan. ‘n Regte ou hartbeeshuisie met misvloere, riet-plafon en dik klipmuure. Met die aankom kon ek nie help om te dink: “Ag, hoe elendig om in so ‘n wind-verwaaide, misrabele ou plekke te moes leef nie.” Tog, as mens die huisie binnekom, val dit jou onmiddelik op dat die atmosfeer buitengewoon vriendelik is. Die meubels is keurig en van goeie kwaliteit stinkhout. Alles dui op wat ‘n baie gelukkige pionierslewe moes gewees het. Van luukshede was daar geen sprake nie, maar ek kon sien dat ‘n mens op so ‘n plekkie kon woon soos ‘n onafhanklike pioniersgees bedoel was om te leef: vry en gelukkig, onaangetas deur die gejaag van  tyd, en ongeraak deur die konstante aanhitsing van eksotiese drome en hoë ideale. Dit is ‘n plek waar mens kon kinders grootmaak. ‘n Waardige plek vir ‘n president om gebore te word. Dit is geen wonder dat President Steyn sy lewe lank ‘n nederige en buitengewoon ordentlike heer gebly het nie. Die hele plek getuig van karakter.

As mens deur Bloemfontein ry is dit die moeite werd om die ou presidensie reg oorkant die magistraatskantore te gaan besoek. Die kontras tussen die twee wonings is baie treffend aangesien die latere presidentswoning ‘n uiters stylvolle gebou is, swierig ingerig en met interessante argitektuur.

Iets wat van meer direkte genealogiese waarde is, is ‘n klein begraafplaas so ‘n 150 meter van die ou presidentshuisie by Winburg. Ek het geen konneksie met die grafte nie, maar het almal maar gaan afneem ingeval dit vir iemand van waarde mag wees. Die name is as volg:

·                     Mattheeuwis Hendrikus Wessels. 11 Julie 1799—10 Mei 1857 naby Winburg.
·                     Gertruida Jacomina (Jacoba?) [onleesbaar verweer] Wessels. (?) Junie 1838(?)—11 Aug 1883.
·                     Johannes Wilhelmus Wessel Wessels. 1 Junie 1818—22 Oktober 1856.
·                     Theunis Cornelus Wessels. 2 November 1835—13 Nov 1891.
·                     Thunis Cornelus Wessels. 29 Jul 1887—22 Augustus 1888. [Kindergraffie]
·                     Cecilia Johanna Wessels. 6 Februarie 1819—20 Augustus 1855.

Wat opvallend is van hierdie grafte, is eerstens die ongewone spelling van die name, en tweedens die feit dat ‘n ster op omtrent die helfte van die grafstene uitgekerf is. Dit lyk baie soos ‘n Ster van Dawid. Mens wonder nou of die familie dalk ‘n prominente ster in hulle familiewapen kon gehad het, en of daar ‘n ander simboliese betekenis kon wees? 
Die geboortehuis van President MT Steyn, net buite Winburg.

Laastens moet ek sê dat dit van die hoofpad af lyk of die voortrekkermonument ongemaklik naby die dorp se groeiende plakkerskamp is. Gelukkig is daar nog genoeg afstand tussen die twee en dit lyk of dit nog heel veilig behoort te wees om hier aan te doen. ‘n Besoek hier van nie baie tyd nie en is beslis iets om aan te beveel vir ‘n reisiger wat lus het om ‘n halfuur lank bene te rek. Wat miskien meer avontuurvol mag wees, is om ‘n besoek aan Winburg se begraafplaas te bring. Die begraafplaas is half omsingel deur ‘n laekostebehuisingskema. Dit lyk nie vir my of ‘n mens sommer sonde goeie rede daar behoort te gaan rondsnuffel nie. Wees dus maar versigtig.

Daarmee was my reis na die Oos-Kaap ook tot ‘n einde. Onthou net die spietkops wat oral langs die N1 naby Winburg sit by daardie geel konstruksie-zone spoed-borde. Hulle vang met kamera’s in die 60, 80 en 100km/h sones en hulle sit sommer so 1, 2 kilometer uitmekaar uit. As ek Freek Bezhuidenhoudt was, sou ek elkeen miskien net daar bygeloop en met ‘n karee tak die loesing van hulle lewens gegee het. Pleks dat hulle die roekelose minibusse in Bloemfontein loop vang wat hulle aan geen wet of reël steur nie, eerder as om toeriste te probeer vang wat geen veiligheidsgevaar kan inhou teen billike spoed nie. In elk geval, ek het dit nie gedoen nie, want ek voel ek is nog te jonk om soos Freek Bezhuidenhoudt in ‘n laaste stand van glorie te moet sterf. Ons sal maar sien of daar later ‘n foto en ‘n spoedkaartjie in die pos aankom.

Al wat ek kan sê is dat ek seker maar ‘n goeie streep van ou Hendrik Potgieter se bloed in my het. As ek die verval moet sien van wat eers ‘n baie goeie platteland infrastruktuur was, en die minagting wat daar vandag vir reg en geregtigheid bestaan, sou ek maklik weer my wa pak en verder trek. Ongelukkig is daar nou nêrens meer om heen te gaan nie. Afrika het bitterlik beknop geword. Al vry wêreld wat oorbly is Antarktika, en ek weet nie of ek nou al reg is om van sneeu en pikkewyneiers te moet leef nie. Miskien later, maar nog nie nou al nie. 

No comments:

Post a Comment