Saturday, 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 1


In die film Gladiator het Maximus aan sy troepe gesê: “What we do in life echoes in eternity.”

Ek dink soms hieraan as ek met die tydsame moeite van ‘n argeoloog vee oor die spore van ons voorvaders wat begrawe lê in die waai-sand van tyd. Mens kan nie help om te wonder hoeveel van ons antieke voorouers se dade nog in ons tyd ‘n impak het nie. Gewone mense kyk in ‘n spieël en sien bloot hulle eie beeld—‘n twee-dimensionele beeld wat vlak en eentonig terugstaar sonder emosie. Hulle sien nie want hulle oë is dof en blind van onkunde. Maar ons wat genealoë is kyk in die spieël en sien ons voorvaders—en hulle vaders en vaders se vaders—wat agter ons gesigte terugstrek tot in die grysheid van ons verlede.

Daar kyk ons na ons eie beelde en soek na die tekens wat ons voorvaders vir ons laat beërwe het—gelaatstrekke en karaktereienskappe. In ons eie gesigte soek ons met ‘n mengsel van opwinding en vrees na oorblyfsels van die heldhaftigheid en skandes wat ons vaders en hulle vaders oor tyd laat eggo het. Dit, ten minste, is een van die redes waarom ek maar altyd bly terugkeer na die studie van name en datums van persone wat lank reeds gesterf het. Vir baie is hulle blote inskripsies op grafstene. Maar vir my, en vir diegene wat deur die lense van die bril van die genealoog kan sien, verteenwoordig elke persoon nie ‘n dood nie, maar ‘n lewe. Iemand wat gebore was om spore in tyd te trap, wat kon liefhê en vrees, wat kon droom oor die toekoms waarvan ons vandag die gevolg is, en wat ook maar menslik bly wonder het oor die verlede. Ek wonder dikwels wat ons ou stamvaders sou gesê het as hulle kon weet watse groot nageslag hulle eendag sou hê—hulle wat dikwels self so amper-amper deur die traumatiese gebeurtenisse van die geskiedenis ingesluk en uitgewis kon gewees het.

Elke jaar in Oktober probeer ek dus ‘n reis onderneem na streke waar my voorvaders gewoon, geleef, gewerk en gesterf het. Weliswaar is die spore van hulle inwoning dikwels nie meer daar nie. Die hopies grond van hulle grafte is lank reeds gelyk gespoel, en die stene wat hulle moes merk, het lankal reeds verdwyn. Maar tog bly daar ‘n konneksie. Iets wat die stroom van tyd oorbrug en wat dit moontlik maak om die oumense van die verlede weer die hand te reik—en kennis te maak. Al is dit ook hoe newelagtig. Daar bly nogtans iets wat aan mens roer wanneer jy op grond staan waar jou voorvaders geleef het. Dit laat mens rondkyk na die hemel en die berge en woordeloos knik, soos ‘n Zoeloe by ‘n voorvadergraf wat saggies prewel: “Sawubona Baba”—Ek sien jou my vader.

My eerste skof was op ‘n winderige, stormagtige aand. Ek sou vroeër die middag al ry, maar daar was te veel sake om af te handel en ek mos omdraai om vir iemand iets te gaan optel wat vergete gebly het. Dit het my mooitjies in die 4-uur spitsverkeer geplaas en gemaak dat die reis na Bloemfontein redelik inspannend was. Neute en biltong het die pyn verdoof maar dit kon ongelukkig nie slaag om die frustrasie te demp van talle motortjies en bakkies en bussies met naweekgangers wat bestuur ‘n toets van geduld maak nie. Ek noem dit die kokkerot verkeer. Na sononder op Vrydag en Sondag-aande kruip al wat ‘n onpadwaardige en oorlaaide voertuig is mos versigtig uit—nes kokkerotte na die ligte-uit sein. Veilig in die wete dat die spietkops rustig by die huis lê en Sewende Laan kyk. Dan poer hulle teen 60 die opdraandes uit en snel teen 80 die afdraandes af met een geel, flikkerende hoof-lig en ‘n gestert-waggel wat getuig van skokbrekers wat in Jan van Riebeeck se tyd al van ‘n ossewa afgesteel was. Die nuwe geslag onder hulle jaag weer verby teen 140, rem dan skerp en daag jou uit om hulle, plus drie lorries wat kop aan stert sit en aankruip weer verby te steek sonder om deel van die land se ongeluk statistiek te word. Dis nogal ‘n ervaring, om drie lorries en ‘n kokkerot-motor verby te steek sonder om die klankgrens te breek en die spietkops wakker te maak. Die adrenalien het darem ‘n opkikkerings-effek—veral op ‘n donker nag met donderstorms en plek-plek reën naby Ventersburg en Winburg.

So kom ek uiteindelik Bloemfontein ingesluip met ‘n motor wat die middag gewas was, maar nou vuil en vol strepe is. Elke vetkol, bloedsmeer en wags-streep die selfmoord-briefie van omtrent twaalf duisend motte, muggies en muskiete tussen die Goudstad en die Rosestad. My plan was om die eerste twee aande by die gastehuis van Marthinus Jordaan tuis te gaan. Marthinus, soos meeste van ons weet, is een van die ou aristokrate van genealogie met sy asembenemende groot Jordaan geslagsregister wat onlangs publikasie gesien het. Die kennismaking was inderdaad ook meer as die moeite werd. Marthinus se “DieStatige Gastehuis,” is in ‘n rustige, boomryke straat van Universitas geleë—gerieflik naby die snelweg en digby die hospitaal, universiteit en ander aantrekkings. 

Marthinus was so hoflik om my met Vrystaatse koffie te ontvang en tot laat te sit en gesels oor die verlede. Ek wens Marthinus geluk met sy doktorsgraad wat hy nie lank gelede verwerf het nie, en die gesprek draai spoedig na ons gemeenskaplike belangstellingsveld—ons Waldensiese voorvaders. Betreklik min mense dra meer as net ‘n oppervlakkige kennis omtrent hierdie uiters interessante voorvaders van ons Afrikaners, deels waarskynlik omdat hulle deur populêre geskiedenisbronne hoofsaaklik onder die meer generiese vaandel van “Hugenote” geklassifiseer was.
Marthinus Jordaan voor Die Statige Gastehuis

Die Waldense was natuurlik ‘n uiters interessante groep mense wat vir hulleself ‘n enorme hoofstuk uit die Europese geskiedenis gekerf het. Inderdaad is die Waldensiese era met soveel onskuldige martelaarsbloed gewas dat dit ‘n monumentale verhaal nagelaat het wat eenvoudig nie misgekyk kan word nie. Ongelukkig is by verre die meeste Waldensiese geskrifte lank reeds vernietig is. Tog kan mens selfs uit die annale van hulle vyande aflei dat hierdie dapper manne en vroue epiese lewenservarings deurgemaak het wat sonder enige oordrywing, net so aangrypend en dramaties was as enigiets wat Hollywood al op die silwer-doek kon vaslê. Die Waldensiese beweging se oorsprong lê baie ver terug in tyd—en die wortels daarvan kon volgens antieke skrywers soos biskop Sylvester, tot na die Apostoliese era teruggefors word. 

As ‘n geloofsgroep, het die Waldense baie kontrasterend van hulle mede-landsgeote in die streke van Piedmont, Angrognia, Luberon Provance en Languedoc in die suide van Frankryk verskil. Inderdaad was die Waldensiese beweging op ‘n stadium so groot dat die oor dele van die Italië, Duitsland en Switzerland gestrek het, en selfs tekens gelaat het sover as die oos-Europese state. Die Waldensiese beweging van was die staanspoor af gekant teen baie tradisionele Katolieke gebruike, en was veral ingestel op ‘n buitengewone hoë peil van sedelikheid, werksetiek, eerlikheid, opvoeding en geloofs-reinheid. Om die waarheid te sê, die eerbaarheid van die Waldense was so bekend dat die Nobla Leycon die volgende inskrywing opgeteken het: "If there be an honest man, who desires to love God and fear Jesus Christ, who will neither slander, nor swear, nor lie, nor commit adultery, nor kill, nor steal, nor avenge himself of his enemies, they presently say of such a one he is a Vaudes [sinomiem met “Waldenser], and worthy of death."

Deur die eeue heen het die Waldensiese beweging verskeie denkrigtings deurgegaan, en die oorwegende doktrines het dikwels van streek-tot-streek en van groep-tot-groep verskil tussen die afgeleë bergvalleie. Nietemin, van die mees-opvallendste kenmerke van die Waldense was die feit dat hulle die Sabbat dag onderhou het, dat hulle die Nuwe Testamentse teëkanting teen militêre diens gehoorsaam het, dat hulle die Bybel self oorgeskryf en persoonlik bestudeer het, en dat hulle die Skrif letterlik geïnterpreteer het. Ook dat alhoewel hulle by tye florerend was, hulle ‘n najaag van geld en materialisme en die verdrukking van armes ten sterkste afgekeur het. Verder het hulle hulleself ook die gramskap van die Roomse kerk op die hals gehaal deur nie die doktrine van pouslike onfeilbaarheid ondersteun het nie, en deur ander sienings rondom die doop, die hiernamaals, en Katolieke kerk-tradisies soos die vrykoping van sonde te huldig. Dit het die kerkvaders ook nie geval dat hulle predikers in tale gepreek het wat gewone mense kon verstaan nie, en die Bybel beskikbaar gemaak het aan die massas nie.

Een van die inkwisisielede, Rainier Sacco, het geskryf hoe Waldense geïdentifiseer kon word. “By their manners and their language,” kon hulle geïdentifiseer word, het hy geskryf, “for they are well-ordered and modest in their manners; they avoid pride in dress... They do not amass wealth, but content themselves with what is necessary. They are chaste... temperate in eating and drinking... [and] do not frequent taverns or dances... They labour constantly... they may also be known by their concise and modest discourse; they guard against indulging in jesting, slander, or profanity.[1]

Die Waldensiese beweging het natuurlik die Protestantse Reformasie met geslagte voorafgegaan, en het daar by tye oorvleueling met die Reformasie sodat die geskiedenis soms sukkel om ‘n akkurate onderskeid tussen die twee bewegings te tref. Nietemin, uit hierdie groep verdruktes wat vir honderde jare lank ‘n vlugtelingsbestaan in die voetheuwels van die Pireneë en Alpe gevoer het, het baie van ons Suid-Afrikaanse families gestam. So kan ons verwys na my eie familie Minnaar/Mesnard/Maynard, sowel as Le Grange, en ander families soos Cordier, Durant, Faure, Hugo, Lombard, Malan, Meyer, Olivier en Roux, waarna Marthinus in sy proefskrif verwys. 

Verskeie van hierdie families het in 1688 na Suid-Afrika gekom op die HOIK spiegelschip, die “China.” Hierdie skip word betreklik algemeen verkeerdelik as die “Berg China” geïdentifiseer in byna alle geskiedenisbronne. In die suide van Frankryk het die Waldense verskeie oorloë en kruistogte teen hulle deurstaan. Die wat gevang was, is op onmenslike wrede wyse doodgemartel of mishandel. Deur die eeue heen sou duisende lewendig verbrand word, of in kookende olie sterf. Party sou gehang word, of as teiken deur boogskutters gebruik word. Ander was op die wiel gebreek of lewend in stukke gesaag en vir wilde honde gegooi om verskeur te word. Sommiges is uit torings gegooi en ander is gestenig of op diaboliese wyse stadig met gloeiende ysters doodgefolter. Die tonge is uitgeruk, oë is uitgesteek, en ore en neuse is afgesny. En tog, getuig geskrif op geskrif van die heldedood wat hierdie martelaars vir hulle geloof gesterf het. So bv is die Dauphinese en Piedmontese Waldense in 1488 deur ‘n gepeupel van 18,000 soldate en gewerfde moordenaars en opportuniste aangeval en in die Aigue-Froid grot vasgekeer en uitgerook. Die wat gevlug het, is voor die voet van kant gemaak. Na die tyd is 3,000 Waldense dood gevind in die grot—waaronder 400 babas, en talle oumense en kinders. 
Waldensiese gevangenis in 'n kerker in Frankryk

In 1558 weer, is een van die Waldensiese leraars, Geofroi Varaile van Busco, in Piedmont, op die brandstapel verbrand. Met luide stem het hy bly sing terwyl die vlamme gebrand het, sodat selfs die skare rondom hom trane in die oë gekry het. Twee jaar voor hom het ‘n boekhandelaar op soortgelyke wyse omgekom omdat hy Bybels versprei het. Hugu Chiamps van Finestrelle se ingewande is lewend uitgeryg, en so ook in die geval van Peter Geymarali, waarna ‘n wilde kat in sy buik geplaas is om hom verder te krap en te byt. Maria Romano was lewendig begrawe by Rocco-patia, Susan Micheleni is dood deur honger en koue, Barholomew Fache is met sabels stukkend gekap, en die wonde toe met ongebluste kalk ingevryf, en Daniel Michelini se tong is uitgeskeur omdat hy God geprys het. Vuurhoutjies is in die vlees van James Baridari se gesig ingedruk en toe is dit aan die brand gesteek. Daniel Revelli se mond is met buskruit gevul en ontlont, waarna dit sy hele kop aan stukke geblaas het. Maria Monnen se wang en ken is van vlees oopgeslag, waarna sy gelaat was om so in gruwelike lyding te sterf.[2] 

So het die wrede moordsug geslagte lank voortgeduur. Soldate en kruisvaarders het by tye onverwags op onverdedigde dorpies toegesak en honderde inwoners brutaal om die lewe gebring, geslaan, in die tronk gegooi en verkrag. Dit was ‘n skrikbewind soos wat die Hugenotebeweging in sy hele geskiedenis nooit geken het nie. Uit hierdie heldhaftige manne en vroue het baie van ons voorvaders gekom—mense wat tot die dood toe getrou gebly het aan dit waarin hulle geglo het.

Met hierdie sobere geskiedenis in ons gedagtes kon ek en Marthinus kuier totdat hy sy seuns na die middernagtelike feesfieringe van Grey Kollege se eeufeesherdenking kon neem. Na ‘n vol dag het Grey Kollege se makietie nie vir my veel aantrekking ingehou nie, dus het ek die aftog geblaas na ‘n gerieflike kamer met ‘n pragtige ou dubbel gietyster bed met koperknope—nes ouma s’n op die plaas.


[1] Monastier, Antoine., A History of the Vaudois Church., New York., 1849., 98.
[2] History of the Waldenses., Wylie., J.A., Cassell and Company., London., 1860.

No comments:

Post a Comment