Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 3


Na ‘n vrugtevolle nag van genealogiese kruisbestuiwing waar ek helaas by verre die grootste ontvanger was, kon ek weer terugkeer na ‘n rustige in die Statige Gastehuis. Die volgende oggend het Marthinus reeds in die gastehuis se restaurant gereed gestaan met ‘n uitgebreide ontbyt en ‘n lekker geselsie vir oulaas. Die restaurant het heelwat gaste wat vroeg ontbyt eet en die oom en tannie langs my sê hulle is op pad Pretoria toe van die Kaap af. Ek waarsku dat die spietkops van Gauteng aggresief is. Ek het vyf stelle van hulle teëgekom voor dit donker geword het. Dis soos die rowerbaronne langs die Rynrivier in Duitsland. Langs elke tweede brug sit een en kyk deur ‘n kamera op ‘n driepoot. Die oom en tannie sê egter dat hulle nie gepla is nie want hulle is nie haastig nie. Ek knik en begin kriewel om self te ry. Daar is nog ‘n lang pad vorentoe.

Met my vertrek voel dit soos dit gewoonlik voel na ‘n ontmoeting met ‘n genealogiese mede-navorser. Mens voel so bietjie soos ware familie. Ek hoop om Marthinus Jordaan en sy vriendelike gastehuis vorentoe weer te besoek, en ry weg met my nuut-gekoopte eksemplaar van sy uiters leersame proefskrif: “Die Jordaan Familie. ‘n Historiese ontleding van hulle genealogie en die vestiging van ‘n toerismeroete.” Iets om lekker te lees wanneer die spoke die slaap verdryf in nagte wat kom.

Na Bloemfontein draai die pad slap links en dan weer regs na Dewetsdorp - ‘n tipiese klein, vaal Vrystaatse dorpie. Stil en verlate op ‘n Sondag-oggend. Ek stop by ‘n monument in die hoofstraat en neem foto’s om met Fotki te deel. Dis maar ‘n kort stoppie. Die dorp se trekker-museum is toe so ek vertrek dan weer—sig-sag om die gate in die teerblad. Die pad dra omtrent geen verkeer nie maar die spoedgrens is ‘n misrabele 100km/h. Een van daardie onbegryplike onnoselhede wat die verduideliking van alle logika sekerlik ontwyk. Ek wonder wie het die pad se spoedgrens oorspronklik uitgedink? Seker een van daardie dik-raam bril omies met borselkop hare vol Brylcreem wat lankal al pakket gevat en by die see gaan aftree het. Die held van geslagte van spietkops wat motoriste kan beboet waar hulle geen gevaar vir enigiets anders as ‘n meerkat inhou nie.

Daarna kom Smithfield aan die beurt. Nog ‘n slaperige, aantreklike ou dorpie. Ek stop by ‘n monumentjie langs die hoofstraat en neem sommer deur die venster ‘n foto of twee. ‘n Kombi vol skoolkinders ry verby, waai en skree vriendelik woorde van groete of aanmoediging. Of miskien het ek verkeerd gehoor en was dit eerder, “wat kyk jy, ou Gautenger?” Ewenwel, ek verwens opnuut my wit en blou GP nommerplaat wat vir die hele heelal aankondig dat ek ‘n ontsnapte inwoner van die Hoofstad van Misdaad en Universiteit van Tsotsi’s is.

Van hier af begin die wêreld geleidelik interessanter word. Aliwal-Noord is ver suid maar die “enjin word dromerig stil,” soos Laurika Rauch sing, en ek hou aan foto’s neem—sommer so in die ry. Al is dit net om te wys hoe die wêreld hierlangs lyk. Aliwal-Noord self lyk of dit in die nuwe Gestapo hoofkwartier omskep is en ek begin al voel hoe ek die hele kar sal moet afpak by ‘n pad blokkade—totdat hulle dalk ‘n vergete pakkie .22 patrone ontdek, of enigiets waarvoor ‘n onskuldige naïewe Suid-Afrikaner ‘n naweek in die tronk kan spandeer. Dis egter maar net ‘n vragmotor wat in die hoofstraat gebreek het. Ek is nogal beïndruk. In Johannesburg gebeur sulke goed elke dag en geen spietkop of polisieman verwerdig homself om in te gryp nie. Die verkeer kan maar van Johannesburg tot in Pietersburg opdam en  dis maar goed want as die vragmotor nie vanself verdwyn nie sal hy in elk geval na 800 jaar weggeroes wees. Maar in Aliwal-Noord word alles afgesper, vriendelike polisiemanne kanaliseer die verkeer langs ‘n ander roete, en laat mens weer voel of jy in ‘n beskaafde land woon. Volpunte vir Aliwal-Noord!
Die konsentrasiekamp gedenkterrein op Aliwal-Noord

Net buite die dorp stop ek by die konsentrasiekamp gedenktekens. Die ou grafstene is binne die gebou agter hekke toegesluit teen vandale. En op hierdie manier kon ek hulle nie lees of fotografeer nie. Treurig. Ek word egter wel bygeloop deur ‘n ryloper met die naam van Shane wat begin deur te sê, “mooi né?”
Wel, ek weet nie of ek persoonlik die woord “mooi” sou gebruik het nie, maar daar is wel iets spesiaals aan hierdie gedenk terrein waar soveel onskuldige lewens so onnodig verlore gegaan het. Die man verduidelik sy voertuig is in Bloemfontein gesteel en hy soek ‘n geleentheid Port Elizabeth toe. Na die vyfde keer wat ek met sulke sop-stories gevang is het ek myself belowe dat ek nie weer ‘n teiken gaan wees nie, dus moet ek maar simpatiek vir die man verduidelik dat ek enige tyd vir hom hulp per selfoon sal ontbied, maar rylopers met lang stories en ek het nie meer ‘n toekoms saam nie. Niks persoonliks nie, maar dis die land waarin ons woon. Die ryloper trek sy skouers op en gaan staan weer by die kruispad. Ek dag ek sou hom later ‘n pak soutige aartappelskyfies gee, maar ek kry ‘n vuil kyk met die uit-draai en toe dog ek miskien sal die skyfies hom dors maak en dan vloek die man my eers. Ek huiwer tot die motor in tweede rat is, en toe is dit te laat om te stop, dus druk ons maar deur Queenstown toe.

Van Aliwal af raak die wêreld al mooier en mooier en ek is altyd jammer dat ek die geweste nie eintlik ken nie. Sonder verkeer vorder alles vlot en kort voor lank daal die pad af na Queenstown toe. Daar kruip die gebruiklike spietkop weer agter ‘n kamera weg soos ‘n bosluis op ‘n grashalm wat wag om die bloed uit ‘n agtelosige toeris te suig. Ek wonder wie het spoedkamera’s uitgevind en sukkel om my gedagtes rein te hou. Uit protes besluit ek om nie brandstof in Queenstown in te gooi nie. Laat hulle dan maar hulle valuta uit spoekaartjies verdien. Die pad draai na regs af Tarkastad toe, en weereens is dit ‘n belaglike 100km/ spoedgrens op ‘n pad waar ek presies drie voertuie teëkom. Dit is om van gek te word as die son begin water trek en mens is haastig. Ek dink weer aan die dikraam bril omie wat die reëls uitgedink het en hoop die seelug het sy kar al drie maal vrot laat roes.

Tarkastad is soos hy nog altyd was. Ek gooi brandstof in by die garage, omring deur Taxis en luidrugtige Xhosas wat doef-doef musiek speel sodat die hele ekologie ineenkrimp. Dis my straf omdat ek nie op Queenstown wou brandstof ingooi nie. Vies probeer ek onthou waar ek my traangas kannetjie gebêre het, maar dis nou te laat. Dis iewers onder al die bagasie. In die hoofstraat van Tarkastad loop ‘n bruin koei, rustig en sonder stres. ‘n Klompie kinders kyk my skeef aan soos ek kruis en dwars ry om die regte uitdraai pad te kry, en dan vind ek hom—reg verby die lokasie en suid-wes, Commandodrift toe. Dis waar ek wil wees. Dis so 25 km of so iets, die plaasmense was nie baie definitief nie, maar die pad is betreklik seker.
Slang-stert langs die pad. As hy jou byt...

Ek stop om ‘n enorme geel slang met ‘n swart stert af te neem. Ek weet nie wat dit is nie, maar ek is seker as hy jou byt gaan jy die Tarkastad Herald se voorblad haal—of wat hulle koerant ookal heet. Na hom is daar ‘n bietjie ape in die pad maar verder is dit afgesonder en verlate. Grondpad. Nie te goed nie en nie te vrot nie. Eg Suid-Afrikaans. En dan moet ek begin motorhekke tel. Net voor die derde motorhek moet ek regs draai na die Commandodrift Reservaat, maar dit lyk nie soos ek my voorgestel het nie, en ek ry eers verby totdat ek besef dit was ‘n fout. Omdraai en terugry, dan links draai en uiteindelik by die eerste plaaswerf stop. ‘n Groot man in kakie klere kom uitgestap en beduie ek moenie onder die doringboom parkeer nie want hy vertrou nie die boom se wortels nie. Ons groet. Fourie Schoeman is die naam, sê hy. “Kom binne dan drink ons iets.”

Ek is heel opgewonde om te kon arriveer. Die huis lyk modern maar die hart daarvan is nog dieselfde huis waarin die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter en sy familie gewoon het. Dit is vir my ‘n besonderse historiese ervaring en ‘n ware voorreg. Ek beduie nog dat ek net gou moet reëlings tref vir akkommodasie op ‘n gasteplaas daarnaby, maar Fourie waai die voorstel onmiddellik af. “Op my plaas ry niemand na 12:00 nie. Ons vat nou jou goed spaarkamer toe.”

En dit was die einde van die argument. Een ding het ek al van Karoo boere geleer. As jy nie oppas nie sal hulle jou stukkend kuier. Dis hartlike mense daardie. Sout van die aarde. Mense van karakter soos daar onder die moderne geslag nie meer baie van bestaan nie. Dis my soort mense met gewoontes en maniere waarmee ons nog grootgemaak is. Sy vrou is Engels en haar naam is Joan, maar sy bring koffie en tee op ‘n skinkbord met beskuit, netsoos dit in die Potgieters se tyd sou gedoen gewees het. Ek verkyk my aan die huis. Die muure is baie dik en Fourie verduidelik dat daar omtrent enigiets in die muure ingebou was, van klippe tot planke en ander rommel.

Die huis is natuurlik oor die jare baie verander, maar hulle wys my foto’s van hoe die huis oorspronklik gelyk het en ons raai dat dit seker ‘n rietdak en –plafon sou gehad het. In die eetkamer staan ek voor ‘n ou voorlaaier teen die muur en wonder: hoeveel keer sou my oupagrootjie se oupagrootjie se oupagrootjie Frans Labuschagne hier met sy Potgieter familie gekuier het? Hoeveel jagstories is tussen hierdie vier muure vertel? Hoeveel keer is daar gekla en gesug oor die Xhosa aanvalle, die verval van infrastruktuur, die sukkelende landbou kommoditeitspryse, die stygende insetkostes, veediefstal, burokrasie en politieke dubbelsinnigheid? Dit is alles tema’s wat ons daardie middag in die sitkamer sit en herhaal asof byna 195 jaar nooit verbygegaan het nie. En toe sê Fourie: “Nou kom ek gaan wys jou my ysters en dan gaan kyk ons bietjie by Brakfontein.”

Eintlik is ek verskriklik haastig want die son sak en die lig word min en ek wou nog foto’s by Brakfontein neem. Maar ek kyk eers na die lapa wat Fourie twee jaar lank aan gebou het. Ongelooflik. Gebou uit karaktervolle stukke hout van die plaas af, en die oorskot van ou ossewaens wat op die plaas gestaan het. Elke plank en balk diep verweer deur rysmiere en die elemente soos die plooie op die voorkop van ons oupas en oumas. In een hoek is ‘n ry geelkoper krane waaruit jy drank kan tap soos water in ‘n wasbak. “Booze on tap,” dog ek by myself. Daarnaas staan ‘n yskas wat Fourie verniet gekry het, en toe met yster beslaan het en opgedollie het sodat dit na iets tussen Art Deco en X-files lyk. Regtig oorspronklik. Die braaiplek is tussen die vellings van wawiele gebou, en aan een muur is ‘n spit-braai es waarin jy ‘n lang maer vark met elegansie op die spit sal kan braai. Wel, seker ‘n bok of ‘n skaap, maar dit is groot genoeg vir ‘n lang maer vark. Regtig. Die ligte is uit koedoe horings gemaak. En oral is kleinighede en dekor wat wys dat die Boere van die Karoo nog die kuns verstaan om dinge uit niks te kan maak op so manier dat dit vir stadskinders na iets lyk wat baie geld moes gekos het.

En dan die ysters. Dis Fourie se 1950’s Unimog wat hy vir R2,000 op ‘n skrootwerf gekoop en byna perfek gerestoureer het. En ‘n pragtige ou John Deere trekker wat bottel-blink nuutgemaak is en vandag weer so goed ploeg soos toe hy nuut was—lank voordat ek gebore was. En toe ry ons Brakfontein toe. My belangstelling in Brakfontein berus op ‘n raaiskoot en lê gewortel in die fassinering met die woonplekke van ons voorvaders. Tydens die Slagtersnekverhore in 1815, het my oupagrootjie se oupagrootjie se jonger broer getuig dat hy gebore was op sy vader se plaas Brakfontein aan die Groot Visrivier. Hierdie plaas Brakfontein was weliswaar nie besonders naby die Groot Visrivier nie, maar by gebrek aan ander ooglopende plase met dieselfde naam moes ek raai dat met “Groot Visrivier” eintlik ‘n generiese streeksverwysing bedoel was. Maar daar was nog ‘n potensiële leidraad.

My oupagrootjie se oupagrootjie was Leendert Labuschagne. En dié se pa was Frans, of “Ou Labuschagne,” soos hy tydens die Slagtersnekverhore genoem was. “Ou Frans” Labuschagne was goed bevriend met Hermanus Potgieter, die vader van Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter. Hy was ook met Hermanus Potgieter se suster, Cornelia, getroud gewees, en het jare gelede saam met die Potgieters in die Bruintjieshoogte gebied gevestig. Daar was dus bande van familie, vriendskap en die verlede wat die Labuschagnes en die Potgieters aan mekaar verbind het. En toevallig lê die plaas Brakfontein langs die Potgieter plaas, Commandodrift aan die Tarka. Sou dit bloot toevallig wees, of kon daar ‘n verbintenis wees? Op Brakfontein het ek gehoop om minstens ‘n leidraad te vind.

Genealogie is baie soos ‘n speurverhaal en ongelukkig is die verlede nie noodwendig altyd oorgretig om kritiese leidrade bekend te maak nie. Hierdie was so ‘n geval. Die son het al laag begin sak toe ons die pad Brakfontein toe gevat het. Netsoos in die Baviaansriviervallei, nie ver daarvandaan nie, is Brakfontein in ‘n lang, smal kloof geleë wat diep die berge in kronkel en op verskeie plekke ‘n droë rivierlope kruis. In die swak lig moes ek maar my foto’s so in die ry neem terwyl Fourie Schoeman vertel van die streek en sy mense. Aan regterkant lê ‘n ou murasie van klip en mens kan maar net wonder wie het eens op ‘n tyd daar gewoon en watter familie se heil en trane is hier gevorm. Verder aan staan ‘n ou kerkie—nog goed behoue, maar dig gesluit en sonder lewe. Hier in die Palmkloof kerkie, vertel Fourie my, is tot in sy dae nog bymekaargekom deur die mense van die omgewing. Rondom staan nog die oorblyfsels van nederige klein nagmaalshuisies—droog gebakte muure wat ‘n lêplek vir wilde diere van die veld geword het, met leë vensters wat soos die oogkaste van ‘n skedel oor die Karoo tuur. Tyd vir stop was daar egter ongelukkig nie, want Brakfontein lê nie veel verder aan nie, en die lig begin kwyn.

By Brakfontein self was daar egter ongelukkig nie veel om te sien nie. Die ou opstal wat eens op ‘n tyd hier gestaan het, is tot op die grond afgebreek. Agter hom is ‘n nuwe huis in die 1950’s gebou, en dit het beteken dat daar nie juis vêrdere leidrade was nie. Geen grafte nie, niks. Dit is eintlik nie heeltemal verbasend nie, want in alle waarskynlikheid was die Labuschagnes soos baie ander pionier families maar betreklik nomadies van aard. Heel moontlik was hulle verblyf op Brakfontein—as ons eers van dieselfde Brakfontein praat—relatief kortstondig. Hoe dit ookal sy, daar was nie werklik getuienis van inwoning wat pertinent dui op ‘n voor-Groot Trekse teenwoordigheid nie, en dus was dit ook nie moontlik om verdere afleidings te maak nie. Ewenwel, ek het so in die ry maar ‘n paar foto’s afgedruk en gehoop dat indien daar later dalk vêrdere helderheid gevind kan word, die foto’s miskien iets sou kon beteken.

Op Brakfontein is daar egter wel iets wat redelik uniek is. Naby die opstal staan ‘n taamlike groot, moderne minerale water fabriek. Dit lyk baie skoon en gesofistikeerd. Die groot wit gebou kom egter byna as ‘n skok van kontras in die stil vallei waar mens net jou oë hoef te sluit om die geklap van Voortrekker swepe en die geknars van wawiele te kon hoor. Van hier af loop die pad verder die berge in, om uiteindelik by die Baviaansrivier vallei se grondpad aan te sluit, nie ver berg-op van die historiese ou Glen Lynden kerkie waar so baie bekende Boere families se wortels lê nie. Ons het egter op Brakfontein omgedraai want Fourie wou my nog in die laaste lig gou die Commandodrift dam gaan wys. Dit was vir my jammer om so gou te moes omdraai, want ek sou graag nog eers wou rondstap en dink en wonder. Maar ek wou darem die dam ook graag sien, en die besoek was inderdaad die moeite werd. Dit is ‘n verbasende groot dam met ‘n reusagtige opvanggebied.

Rondom die dam is mooi klein Parkeraad kliphuisies—regtig basies, maar baie skoon en netjies. ‘n Paar vissermanne het rondgestaan en begin gereed maak om huis-toe te gaan terwyl die Tarka se Karoo stil en waardig in ‘n sagte salm-kleur gebaai was deur die ondergaande son. Dis ‘n ander tipe wêreld hierdie wat ek nie ken nie, maar ek kon sien dat mens vir hom sou kon lief word. Fourie Schoeman het eens op ‘n tyd naby Ermelo geboer, maar die Karoo is waar hy wortel geskiet het. “Jy sien, dis winter en dis groogte, maar kyk net hoe vet is die vee nog,” het hy beduie. Vir my is dit ‘n paradoks, want vir my oog was daar byna niks om te vreet nie. Maar dit is maar net omdat die land van my voorvaders vir my vreemd geword het. Om te Karoo te leer ken is duidelik om hom te leer lief kry.

Daardie aand gesels ons tot 10:00 in die sitkamer—langs die ou Voortrekker Potgieters se eetkamer. Fourie en sy pragtige vrou, Joan, laat my toe om hulle foto-album te kopieer. Hierin is ‘n klomp foto’s van hoe die huis oorspronklik gelyk het. Dit is ‘n tipiese ou pioniershuisie—dik muure, spits dak—‘n stil en waardige plek waar ‘n groot familie saans om ‘n olielamp sou boeke gevat het. ‘n Rietdak-bedekte hawe waarin hulle snags moes lê en luister of daar nie miskien die geluid van Xhosa voete om die hoek kom nie, of die sagte rumoer wanneer Fingos die beeste uit die kraal kom steel nie. En laat-aand, wanneer ou Hermanus Potgieter uitgestap het om bekommerd ‘n pypie te gaan rook in die aand-bries, sou hy sekerlik die donker bosse ingetuur het op soek na die glim van die maan se lig op ‘n staal assegaai lem. Dit was nog vreemd vir my om behoorlik in te dring. Die wêreld van my voorgeslagte. Die grond van hulle liefde en die produk van hulle verset teen verdrukking en vreemde oorheersing.

Fourie vertel my hoe ryk die aarde hierlangs is. Sy plaas lê op die walle van die Tarka rivier en ek kon nie help om my verwondering oor die sterk struktuur en mooi kleur van die grond uit te spreek nie. “Jy weet,” het hy gesê, “ek het hierdie landerye, laat ek sien… omtrent vyftig jaar gelede gemaak. En ek het nog nooit ‘n enkele keer kunsmis toegedien nie.” Dis nie groot landerye by die standaarde waaraan ek gewoon is nie, maar ek kon sien dis grond waar lusern geil kon groei. Vir my wat gewoond is aan suur grond waar niks meer as ‘n jaar behoorlik wil groei sonder bemesting nie, klink dit soos die Paradys soos dit was voor Adam en Eva alles vir ons loop en opfoeter het.

Vir ‘n Voortrekker familie sou dit ‘n vriendelike land gewees het. Voedingsryke weiding, mildelike water, diep grond wat groot oeste sou kon lewer, en ‘n gevoel van vryheid, maar ook ‘n gevoel van verborgenheid so diep tussen die berge. Hier sou mens jou maklik kon verbeel dat die moordlustige hordes in die ooste en die inmengerige Engelse in die suide en weste nie bestaan het nie. Maar die realiteit was heel anders. Selfs hier, het die lang arm van Imperiale Brittanje bygekom, en selfs hier het die gejil van Xhose krygskrete die stilte verstoor. En toe wonder ek of dit vir die Potgieters en die Labuschagnes dieselfde gevoel het as wat dit vir baie Afrikaner families vandag voel om eendag oor hulle land heen te kyk en te besef dat hulle dit al reeds verloor het. Vir ‘n vader om eendag aan tafel die moeder se hand te druk en te vra hoe die familie sal voel om na die onbekende vreemde te verhuis. Vir my, as buitestaander, is dit deels moeilik en deels maklik om in te dink. Ek het nie die emosionele verknogtheid aan hierdie valleie nie—maar ek kan my die verlies nogtans indink. ‘n Boer en sy grond is een, want in baie gevalle definieer die een die ander. Dit kon nie maklik gewees het nie.

Eintlik is dit belangrik dat mens moet onthou dat die Voortrekkers nie net getrek het weens een enkele rede nie. Die Engelse regering se inbraak op hulle waardigheid en selfbeskikking was ‘n faktor. Die jarelange geplunder van wilde nasies was nog ‘n groot rede. Die eensydige wetstoepassing, die droogtes, die gesukkel met landbou kommoditeitspryse, die beperkings op die selfverdedigingsregte van geteisterde families—die verbysterende klap in die gesig van Slagtersnek-dit was alles goeie redes. Maar daar was nog ‘n rede en Fourie Schoeman het my hieraan herinner. Die Trekkergesinne was groot, en die Tarka, die Visrivier en die Baviaansrivier was nie onbeperk nie. Selfs tot in onlangse jare was plase klein—veels te klein om ‘n gemiddelde gesin ‘n goeie lewe te kon besorg. Die Voortrekkers moes al hierdie dinge mooi besef en versigtig opgeweeg het voor hulle hulle dramatiese besluit geneem het om die land vir altyd vaarwel te roep. En soos in jare vantevore kon ek nie help om op te merk dat al hierdie tekens vandag weer herhaal word nie. En dat ons volk eenvoudig voortgaan om te trek na nuwe horisonne, netsoos 160 jaar gelede nie. Waar mens ookal kom kan jy maar vra. Een kind sit in London. Nog een in Kanada. Die kleinkinders woon in Nieu Seeland, en die ander studeer in Amerika. Miskien vir goed, en hoewel die ouers verlang, is dit nie altyd dat hulle die kinders ‘n terugkeer toewens nie.

Ons nasie kyk vorentoe en hy sien sy donker wolke op die horison. Miskien met ‘n onbewustelike drang na selfbehoud stuur die volk toenemend sy kinders na nuwe lande sodat sy voortbestaan meer seker sal wees. Maar is daar ‘n voortbestaan wanneer die nuwe geslagte in nuwe lande noodwendig hulle taal, kultuur en gewoontes sal verloor? Dit is vrae wat te groot is vir een aand se gesprek, en netsoos in die Potgieters se tyd kon die Tarka geen raad gee nie.

En so bring ek die nag deur in die historiese woning van Andries Hendrik Potgieter se familie, in ‘n slaapkamer so groot soos ‘n muurbalbaan. In die laat-nag wil mens lê en luister of jy nie nog ou Blouberg se stem saggies kan hoor soos hy en sy bejaarde ou vader Hermanus die meriete van ‘n volksverhuising anderkant die Grootrivier sit en bespreek nie. Maar Commandodrift se opstal sou daardie nag sy stil geheime vir homself hou. Ek kon maar net lê en wonder totdat die nagwind my gedagtes kom bymekaarmaak en stil in die Tarka rivier laat afdryf na ‘n toekoms wat vir my nog net so duister en onseker lyk soos in die tyd van die Potgieters, die Labuschagnes, die Nels, die Vosloos, die Bothas, die Kloppers, Fabers, Krugers, Groblers en ander families wat lank gelede hier gewoon het nie.

No comments:

Post a Comment