Saturday 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2004 - Deel 5


George, Glentana, en die Swartbergpas

Die res van my verhaal het nie veel met genealogie en geskiedenis te make nie en ek sal dit maar uitlaat. Langs die kus in Glentana het ek en die familie bymekaargekom om ‘n week in die soutlug te spandeer om hopelik van die binneland se roet uit die longe te kan spoeg. Omtrent al wat van genealogiese belang was, was toe ek een middag teen sonsondergang gaan stap het, en op die rotse langs Glentana ‘n gedenkmonumente ontdek het van ‘n gestorwe persoon wie se as waarskynlik daar in die see gestrooi is. Dit lees as volg:

In memory of our beloved son and Boet
Gary Thomas Nefdt
01/01/1969 – 03/03/201
Rest in peace Gaz

Ek is saam met die familie, en ‘n groepie vriend van Amerika wat uitgevlieg het vir die kuier, op ‘n dag uit na dis Swartbergpas, oor na Prins Albert, en toe via Meyringspoort weer terug. Die wonderlike skoonheid van die hele reis het die Amerikaners totaal oorweldig en in ekstase gehad.

Skuins Draai by Colesberg Verby 

Met my terugreis het ek weer vir Mev. Ihnken opgelaai, en haar gesels het die pad terug na Aberdeen grootliks verkort. Ek het eintlik beplan om ‘n paar dae te spandeer op pad huis-toe, maar teen hierdie tyd het ek al boodskap ontvang dat ‘n werker by die werk gevang is toe hy produkte probeer steel het, en dat ‘n ander een byna sy vingers in ‘n ongeluk verloor het. Ek was haastig om terug te kom. Naby Smithfield wou ek oornag by die gastehuis Bokpost, waar ek ‘n ou Kolbe—Kolver verbintenis wou gaan opvolg en familiegrafte wou fotografeer, maar die vriendelike dame het teleurgesteld verduidelik dat hulle besig was met opgraderings en verbouiings, en dat dit nie moontlik was nie. Gevolglik het ek in ‘n Karoo gastehuis naby Middelburg oornag, waar die kamers se geyser nie gewerk het nie, en waar ‘n vriendelike resiesperd vrypostiglik hooi uit jou hande kom vreet. Nogmaals sonder ‘n ordentlik dosis van my aller-belangrike seep agter die ore is die reis hervat. By Colesberg het ek afgedraai om halfpad tussen die Verwoerd-dam en Colesberg, by my ou 1820 Kolbe stamvader se plaas, Eenzaamheid, verby te ry. Dit is altyd vir my mooi wêreld. Ek wonder of ou George Augustus Kolbe en Margaret Downing ooit sou kon dink dat hulle nakomeling nog eendag hulle ou opstal sou kon vind nie. Die pad loop van hier oor die Oranjerivier by Norvalspont, en mens se gedagtes dwaal onwillekeurig terug na die gebeur wat hier rondom plaasgevind het tydens die Anglo-Boereoorlog.

Onze Rust van President MT Steyn 

Net voor Bloemfontein het die honger my weer oorval, en ek het besluit om tog vir eenmaal op Onze Rust, president MT Steyn se ou familieplaas te gaan aandoen vir ete. Onze Rust is jare lank al bekend vir sy gasvryheid en goeie etes. Daar aangekom kon ek egter sien dat daar een of ander geleentheid aan die gang was. Tussen die blink motors het ek my stof-besmeerde wa gaan intrek, en toe die dig-begroeide opstal gaan bekruip. Sommer by die ingang van die tuin het twee of drie kaalvoet-seuntjies verbygekom met windbukse in die hand en het ek geweet: hier is my mense weer! So mik-mik na muisvoëls en tiptolle is die brawe penkoppe die bosse in, terwyl ek restaurant toe gemik het.
Onze Rust - die ou woning van President Steyn
Onze Rust is duidelik ‘n eet- en kuierplek van kwaliteit. Die restaurant is besonders smaakvol en deftig ingerig met goeie porselein en kristal, en pragtige silwerware op die tafel. Gelukkig was ek nie te toiingrig in voorkoms nie, die gebrek aan seep van die vorige nag ten spyte—of so het ek myself ten minste wysgemaak. Diskreet het ek gaan vra of daar ‘n privaat funksie aan die gang was, en die dame het bevestig dat dit so was.

“Maar kom gerus vir ‘n gratis koppie koffie in die kroeg hieragter,” het sy dadelik vriendelik genooi. “Dit is die minste wat ons kan doen.”
Ek wou nog bedank en my heil elders loop soek, maar is behoorlik nie die kans gegun nie. Op die ou end ook maar ‘n goeie ding. Die kroeg was ‘n belewenis op sy eie. Van vloer tot plafoen bedek in ou foto’s uit die Anglo-Boereoorlog, verroesde ou gewere teen die muure, Vrystaatse- en Vierkleurvlae teen die plafon. By die ingang het Colin Steyn—wyle regter Tinie Steyn se seun—se bekende Bittereinder jas van leer, aan ‘n kapstok gehang, met die ou koper verkyker daarom gedrapeer.
Dit was nie hoe lank nie, of ek het ‘n koppie koffie ontvang, en boonop ‘n bord volgelaai met regte boerekos wat van die onthaal langsaan oorgebly het. Die dame het van tyd-tot-tyd kom inloer en so bietjie kom gesels. Sy het vertel dat Onze Rus nog as ‘n familie besigheid bedryf word. Die grond word meestal uitverhuur, en die seuns, wat advokate is, woon almal nog daar.
“Jy moes eintlik hier gewees het as Colin hier was,” het sy gesê. “Hy vertel die mees-interessantste stories omtrent die oorlog.”
”Ek weet,” het ek geglimlag. “Ek het Colin al ontmoet. Volgens familie-legende is ons so vêrlangs familie.”
En is dit nie ‘n aardigheid nie—omtrent oral in die land kan ons Afrikaners inloop en geraamtes begin uitlê, en kort voor lank sal ons seker familiebande vind.
Die kroeg van Onze Rust

Slot 

Onze Rust en sy gulhartige gasvryheid was ‘n wonderlike manier om ‘n lang en aangename reis mee af te sluit. 3,200 kilometer, baie stofpad en so ‘n bietjie moeite en kanse waag, het darem ‘n hele paar herinneringe opgelewer. Wie weet? Miskien, wanneer ons eendag in die katel lê en kyk vir die aasvoëls wat bo ons draai, wagtend op die laaste asem se uitblaas, is hierdie dalk die soort gedagtes wat ons sal koester. Herinneringe aan gebeurtenisse op paaie wat somtyds afgedraai het van die autobahn van die lewe. Dit en familie is kosbaarder as wat ons dink. Ons vergeet soms, maar eintlik behoort ons almal elke geleentheid aan te gryp om ons huidige lewens aan die stories van die verlede te verkleef. Uit die verlede word die toekoms gebore, en in die newels van geskiedenis, sien ons dikwels die sonsopkoms van ons toekoms.

Hier in Johannesburg sien ons dit nie altyd nie. Partymaal moet mens eers terugdink en so bietjie jou verbeelding gebruik.

No comments:

Post a Comment