Ek en My Joernale
Sedert my
kinderjare het ek die gewoonte gehad om tydens vakansies dagboek te hou van my
wedervaringe. Oor die jare heen, het ek min of meer ‘n tipe dagboek lewendig
kon hou, wat by tye ‘n paar maande, of selfs ‘n jaar oorslaan. Maar een of
ander tyd tel ek altyd die pen weer op, en gaan daarmee voort. Eintlik was ek
‘n kompulsiewe nota-maker sedert ‘n baie jong ouderdom. Ek het nou nog bokse
vol sakboekies en notatjies en ou geskrifte wat waarskynlik teruggaan tot die
ouderdom van tien of so. Ek het nooit daaraan gedink tot vandag toe nie, maar
my oupa was netso. Langs die bokse wat my eie dagboeke en nota’s bevat, staan
‘n boks waarin sy talle notaboekies ook lê. Sy skrif, helaas feitlik
onleesbaar, tot my diep teleurstelling. Een daarvan is ‘n dagboek omtrent sy
jagtogte in ou Portugees-Oos Afrika. Hoe jammer tog, dat mens byna geen woord
daarvan kan
ontsyfer nie…
Somtyds lees mens
egter weer terug in jou eie joernale, briewe en nota’s en besef jy dat so ‘n
dagboek-houery tog die moeite werd is. Dit is asof jy op hiedie manier weer ‘n
tipe venster kan oopmaak, waarmee mens kan terugkyk in die
verlede. Ek is maar ‘n “sucker” vir die verlede, soos die kinders sê. Dis ‘n
plek waar ek baie van my tyd spandeer. My reisverslae is basies ‘n produk van
my dagboekhouery wanneer ek op reis gaan. Ander mense rook, vloek, vang vis of
verneuk met hulle belasting vir ‘n stokperdjie. Ek vang min vis, rook sedert ek
ses jaar oud is nie meer nie en is nie genoeg van ‘n spesialis om suksesvol met
belasting te knoei nie. Maar ek doen tog ook iets vir ‘n tydverdryf. Behalwe ‘n
reeks ander stokperdjies, verdiep ek myself by voorkeur in die verlede. Dis ‘n
snaakse stokperdjie, maar dit kan
darem seker nie so baie kwaad doen nie. Ten minste, ek hoop nie so nie.
Nie ‘n Einbestemming nie, Maar ‘n Reis
Daar word somtyds
deur die tandlose wyses van hierdie wêreld opgemerk dat die lewe nie ‘n
bestemming is nie, maar ‘n reis. Wanneer mens jou geluk altyd in een of ander
eindbestemming probeer vind, vergeet mens al te maklik dat ware plesier eintlik
eerder langs die pad te vinde is as in een of ander eksotiese droom wat agter
die horizon van begeerte verskuil lê. Om drome
na te jaag is dikwels soos om te probeer naaldekokers vang. Meerendeels vang
mens hulle nooit nie, en soms as jy hulle wel uiteindelik gevang kry, is jy
half teleurgesteld. Dis eers in latere jare dat mens verstaan dat die groot
vreugde van naaldekokers vang lê in die avontuur van hardloop en jaag, en die
gelag wanneer jy in die lang gras neerslaan met ‘n geskeurde net, klitse in jou
kouse, blare in jou hare en grasvlekke op jou beste nuwe kerklangbroek. Met
verloop van die jare leer mens dat dit uiteindelik gaan oor die versameling van
herinneringe—nie insekte nie.
Vir diegene wat
hulle bemoei met genealogie en familiegeskiedenis, is dit gewoonlik so. Ons
jaag almal die droom van waarheid en kennis na. Ons jaag teen tyd. Die beweging
van ‘n horlosiehand wat soos ‘n valbyl elke sekonde wat stukkies van ons lewens
onherroeplik afkap en ons gereeld daaraan herinner dat dit net ‘n kwessie van
tyd is voor ons self ook ‘n blote inskrywing iewers op ‘n stamboom sal word. En
dat dit wat ons dán nog nie gedoen het nie, moontlik vir ewig ongedaan sal bly.
Só probeer baie van ons altyd dieper in die verlede in delf op soek na die
genealoog se droom: ‘n stamboom wat regdeur die gryse verlede loop, sny soos ‘n
Spaanse lem deur die grense van tyd en afstand, om uit-eindelik op ‘n plek uit
te kom wat meeste van seker nie sal herken as ons dit vind nie.
Gewoonlik praat
ons van die soeke na ons “wortels.” En hoekom dit in elk geval so belangrik
moet wees, kan
niemand regtig verklaar nie. Ek wonder baie dikwels wat die rede is dat die
mens die enigste spesie is wat so behep is met sy koorsagtige gesoek na
wortels. Is dit miskien omdat ons hoop om in ons wortels ‘n verklaring te kan vind van wie ons
werklik is? Of is dit moontlik omdat ons hoop dat ons in ons wortels die
antwoord sal vind op wat ons uit-eindelik eendag gaan wórd?
Ek glo graag dat dit
‘n mengsel van beide is. Dat ons in die verlede, die spieëlbeeld van ons
toekoms sien, omdat die verlede altyd herhaal. Maar dit bly nogtans ‘n droom.
En na jare van soek en arbeid, kom mens altyd opnuut tot die gevolgtrekking dat
ons soeke nooit voltooi sal word in hierdie wêreld nie. Ver in die verlede lê
die droom van ons harte as genealoeë. Ons mag hierdie drome wel dalk nooit
bereik nie, maar van waar ons staan, kan
ons hulle darem op ‘n afstand beskou. So kan
ons, in die woorde van Louisa May Alcott, “hulle skoonheid sien, so kan ons in hulle glo, en so kan ons volg waar hulle ookal heen mag lei.”
Vir ‘n genealoog
lê die pad na die droom van ontdekking vol begeerlike oomblikke. Die wonder van
nuwe ontdekkings, die skoonheid van oomblikke van waarheid, en die fassinering
van oomblikke van stille verwondering, wanneer mens skielik uitvind dat die
stukkies en brokkies wat oor jare versamel is, meteens saamsmet om ‘n
wonderlike geheelbeeld te vorm. Ek glo graag dag genealoë tyd-reisigers is.
Wetende dat ons nooit by ons bestemming sal uitkom nie, hou ons nogtans
entoesiasties by ons drome—want ons drome is ons padkaart. En langs die weg lê
ons plesier. En dit, hoe onverstaanbaar dit ookal vir buitestaanders mag klink,
is hoekom ons doen wat ons doen.
Die Oos-Kaap as Area van Belangstelling
Op die kaart van
die verlede, waarop die koers na my wortels lê, speel die Oos-Kaap ‘n
belangrike rol. Dit is hier waar my voorouers, en ook die van baie ander
Afrikaner families, ‘n belangrike herkoms gehad het. Iewers rondom die jaar
1754 het ‘n oer-oumagrootjie van my, Gesina Steenkamp, op haar plasie Pontak,
vlak buite die Paarl gesit. Om ‘n rede wat net ons Maker sal verstaan, was sy
meteens ‘n jong weduwee wat nou sewe kinders alleen moes beskerm en bewaar teen
die geweld van die lewe. ‘n Paar maande later trou haar dogter met Willem Nel,
‘n burger van Swellendam. Van hier af, moes die moeder waarskynlik af en toe
gehoor het van ‘n pioniersland, wild en totaal anders as die Kaap met sy mooi
berge en rustige diep valleie, sy beskawing en orde. Tog, moes daar iets gewees
het wat die harte van mense getrek het, want enkele maande later trou die
moeder met Willem Nel se ouer neef, en verhuis ook na die destydse reusagtige
streek van Swellendam. Min sou die familie weet dat Gesina Steenkamp en haar
verwese familietjie nog hier baanbrekerspore sou trap in die toekoms van ‘n
volk wat nog maar besig was om gebore te word.
Pontak - waar die Labuschagnes vandaan kom |
Johannesburg na Burgersdorp, via Bethulie
My vertrek uit Johannesburg was laat in
September. Droog en vaal op die hoëveld, maar met ‘n vroeë lente wat reeds
skaam-skaam begin glimlag het in die groen sprietjies wat op die vars
veldbrande begin dei. Hierdie jaar stop ek nie by Vegkop waar Gesina Steenkamp
se nakomelinge jare later aan die Slag van Vegkop sou deelneem nie. My pad loop
langs die moeggetrapte N1 snelweg, skuins verby Vegkop, en kruis die Vaalrivier
op ‘n plek waar ‘n groot geel bord ‘n nommer vertoon waarby verkeers-korrupsie
gerapporteer kan word. Ek glimlag, half spyt dat ek verby is voordat ek ‘n foto
kon neem. Begryp jou. Dieselfde korrupsie wat in Simon van der Stel se tyd die
burgers se gemoedsrus bederf het, blom na twee eeue nog soos ‘n giftige kaktus
op die uiterste grens van Transvaal! Die motor dreun verby, en van korrupte
amptenary sien ek geen teken nie, maar ek weet hulle is daar. Soos maba’s in
die bos. Jy hoef hulle nie altyd te sien om te weet dat hulle jou een of ander
tyd gaan byt as jy nie baie versigtig is nie.
By Kroonstad hou
ek fyn dop, want daar kruip hulle mos agter klippe en bosse weg soos adders in
die dorsland. Ek herinner my aan die holderstebolder gevlug van die Boere
kommando’s toe die Britse militêre stoomroller die gesamentlike Boeremagte teen
die draai van die 18de eeu bymekaargemaak en begin terugstoot het. Die
desperate gekeer van klein groepies dapper helde, wat die agterhoede by
Kroonstad gedek het, terwyl ons banger voorvaders met reusagtige stofkolomme
dag vir dag oor die verre horisonne bly vlug het. Die koorsagtige oppak van die
Vrystaatse regering uit sy tydelike setel in Kroonstad, voor Roberts se magte hulle
kon vang. Skande en eer. My voormense was daar, en terwyl my oë oor die droë
mielielande streel, sien ek hulle daar. Donderend in hul vlug, dreunend in hul
verweer. Langs die treinspoor trek in my geestesoog ‘n groot sampioenwolk
stadig die lug in, en ek weet die Boere het nog ‘n treinbrug die lug laat
inspring. Ek glimlag. Iewers naby Brandfort sou my oupagrootjie wees, dink ek.
Daar sou sy perd eendag tydens ‘n wilde vlugtog in ‘n gat trap en oupagrootjie
soos ‘n vrot vel oor die veld laat rol. Wetende dat hy met sy swak sig vir die
res van die oorlog buite aksie sou wees as sy bril gebreek het, storm sy broer
en vriende op hom af. Onbesorgd oor sy veiligheid is die enigste ding wat hulle
van hom wil weet, “Len, is jou bril nog heel?”
Die gedagte is half
snaaks, en ek dink aan hoe oupagrootjie van hier af elke dag verder gedryf was.
Soveel so dat hy van staanplek tot staanplek met sy groepie se pot warm pap in
die hand moes jaag. Waar hulle ookal stop, moes hy gou ‘n vuurtjie aanslaan om
die pap verder te laat kook. En wanneer dit by skiet kom, het sy vriende met
groot vermaak vertel, het oupagrootjie ‘n lepel pap geeët, ‘n skoot geskiet,
weer ‘n leper pap gesluk, en reg gemaak vir sy volgende skoot. ‘n Pap-etende
Mauser-skut met ‘n dodelike akkurate oog, ten spyte van die dik brille wat hy
lewenslank moes dra. Hy het nog altyd ‘n sin vir humor gehad…
By Bloemfontein dink ek aan
my studentejare, en aan wat ou President Steyn moes voel toe hy sy setel, huis
en hoofstad vir die laaste keer moes verlaat. In sy hart het hy gehoop vir ‘n
oorwinning wat hom eendag weer tuis sou lei, maar in sy verstand was daar
oomblikke waarin hy sekerlik moes vermoed het dat die stryd voor die mag van
die grootste ryk in die geskiedenis van die aarde, heel moontlik nie volhou sou
kon word nie.
Ek doen teen
middagete aan by ‘n ou vriend naby Tempe in Bloemfontein en gesels oor
tye van gister. Waar sy huis vandag staan, was ‘n opleidingskamp tydens die
Tweede Wêreldoorlog. Daar het sy ou buurman my eendag vertel, het hy tydens die
oorlog geleer motorfiets ry, en daar is hy op ‘n goeie dag met ‘n groot gejuig
dwarsdeur ‘n doringdraad wat hy te laat in die veld gesien opdoem het. Maar min
mense weet dit vandag. Ou Oom Lankey Keys self is reeds tot stof vergaan, en
saam met hom heen is ‘n leeftyd vol stories wat ek in my dwaasheid nooit
belangrik genoeg geag het om op te teken nie. Dis jammer. Hy het die lewe
beleef soos ‘n mens dit moet beleef—met passie en oorgawe. Sy avontuure sou
boeke kon vul. Wat ek kan
onthou het ek in latere jare opgeskryf, maar dis maar min.
Na ‘n middagete
wat te lank geduur het vir so ‘n lang reis, draai my motor se neus weer
suidwaarts, en skeer ek weer oor die snel-veranderende landskap. My doelwit vir
die dag is Bethulie se omgewing, waar ‘n ander voorvader se spore lê. George
Augustus Kolbe het in 1820 nie as ‘n setlaar nie, maar as ‘n onafhanklike
imigrant in Suid-Afrika aangekom. Iewers is ‘n slang in die gras met sy
lewensverhaal, want op sy en sy bruid se doopsertifikaat gee hy hulle ouderdomme
as 21 aan, maar ons weet vandag beslis dat hulle albie intlik net 19 jaar oud
was. Hulle het dus oor hulle ouderdom gelieg, en dit nogal binne in die kerk.
Mens kan maar
net raai dat hy sonder sy ouers se medewete getroud is. Daar is rede om te
vermoed dat een of beide van die families nie noodwendig baie gediend met die
huwelik sou wees nie. Aangesien hulle wederregtelik as minderjariges getroud
is, kan mens
weereens raai dat hulle plan sou wees om so vinnig so ver as moontlik van hul
familie af weg te kom voordat die families van die huwelik sou uitvind en dit
laat ontbind.
Stamvader George Augustus Kolbe |
Wat ookal die
geval was, George Kolbe bekom in 1820 ‘n pos as sendeling, en word spoediglik
na ‘n Franse sendingstasie naby Bethulie gestuur. Daar wil bestaande getuienis
dit laat blyk asof hy nie volgens die uiters negrofilistiese deuntjie van die
sendelinge van sy tyd wou dans nie, en na etlike jare van struweling en
moeilikheid word hy uit-eindelik uit sy sendingspos ontslaan. Nie dat dit teen
daardie tyd ook meer veel hoef saak te gemaak het nie. Groot-oupa George was
moontlik ‘n meer suksesvolle boer as wat hy ‘n sendeling was. Hoe dit ookal sy,
sy plaas Eenzaamheid, lê vandag nog aan die voet van ‘n rantjie digby Agtertang
treinhalte, en slegs ‘n klipgooi van Gary Player se perdeplaas af.
Ek doen by
Bethulie aan, maar besef dadelik dat alles nie so meer so heilsaam in Blommeland
is nie. Die Suid-Vrystaat het oseane vol reën gekry en waar ek ookal gaan, is
dit ‘n gegly en ‘n gesuig in die modder. Ek ry heen en weer deur die dorpie maar
vind nie die begraafplaas nie. Ek stop langs ‘n swart vrou en vra haar waar die
begraafplaas is. Sy beduie iets in die trant van “nee, ek weet nie,” maar swaai
haar arm in die teenoorgestelde rigtnig om ten minste vir my te wys dat ek
heeltemal verkeerd mik. Hmm. Ek het so gedink. Met die omdraaislag bemerk ek ‘n
omie wat aangestap kom. Ek draai uit, en ek dink hy dink aanvanklik eers dat ek
wil hom omry, maar toe besef hy meteens dat ek eers wil gesels. Hy steek ‘n
hand uit om te groet met ‘n palm wat voel soos ‘n rou-baksteen—hard en
vriendelik soos die veld.
“Die
begraafplaas?” sê die oom. “Man, as ek kan
saamry gaat wys ek jou sommer gou waar dit is. Wat sê jy is jou naam nou weer?”
“O, ja, my ma was
‘n Labberskagnie. Ja, hier wás van hulle, maar nou nie meer so baie nie. Hulle
is mos meer Steynsburg se kant toe, jy weet?”
Ek maak die deur
oop en die omie klim in met skoene wat soos Hollandse klompe lyk, so dik is
hulle sole van die modder. Ek het die kar laat skoonmaak net voor ek weg is,
maar ek dag toe, “ag laat los. Dis wêreldsgoed, en jy is nou besig met
belangriker dinge.”
Die oom lig sy
karaktervolle vinger en beduie vorentoe: “Man, kyk, jy ry nou hier op, en daar
voor links, en dan sal ek jou wys hoe nou vorentoe.”
Ek draai die wiel
gehoorsaam en vra: “Hoe lank bly oom al hier?”
“Jongie, al
sewen-in-dertig jaar.”
“En is dit ‘n
goeie plek om te woon?”
“Bethulie? Ja
man, dis ‘n baie lekker plek hierdie. Hier gebeur nou nie so baie nie, maar
soos ek sê, ek bly al sewen-in-dertig jaar hier, en mens word vir die plek nie
moeg nie.”
Die oom gaan wys
my die begraafplaas en ek ry terug na die ander kant van die dorp om hom te
gaan aflaai. “Wel, ten minste weet ek dat Bethulie één vriendelike gesig het,”
sê ek vir myself terwyl ek weer begraafplaas toe ry. Die wolke is grys en die
wind kerf aan die gebeente soos ‘n skeermeslemmetjie. Dis dertien grade en ek
sien die temperatuur bly val, ‘n halwe graad op ‘n slag. Ek het tyd verloor en
is haastig want ek weet nog nie waar ek gaan oornag nie, en dit gaan nou-nou
donker word. Op Bethulie, kry ek die gevoel, gaan ek nie op ‘n Sondag blyplek
vind nie, en ek neem my foto’s by die ou Voortrekker monumentjie so vinnig as
wat ek kan ,
en daarna gaan grawe ek my baadjie op die agtersitplek uit tussen my boeke en
leêrs.
Die begraafplaas
van Bethulie is in ‘n minder goeie toestand. Die onkruid word op ‘n manier van
soorte beheer, maar eintlik maar meer in die letter van die wet as in die gees
van die wet, soos die Bybel sou sê. Of miskien is dit andersom. Ewenwel, die
bossies groei asof die dood nie bestaan nie. Die reën het alles ‘n pappery
gemaak en ek voel hoe my eksotiese stads-voorkoms begin om kolle en strepe van
plattelandse kamoeflering op te tel. Ek pluk die kamera uit en begin bibberend
foto’s neem. Ek snuffel al die Kolbe’s uit en neem hulle af. By ‘n ou tannie se
graf staan ek ‘n oomblik stil. Dis ‘n ou graf, maar die stormreën het ‘n gat
langs die steen laat inval, en ek loer morbied in die donker duisternis in om
te sien of daar dalk bene lê. Ek kan
niks sien nie, maar ek wonder so in my sondigheid of die ou tannie geskrik het
die die stroom yswater so skielik deur haar ribbebene trek. Vir ‘n oomblik
wonder ek of dit disrespekvol is om so te dink, maar dan besluit ek dat die
lewe nie die moeite werd sou wees sonder humor nie, en dat die dood maar
netsowel af en toe kan deel neem aan die oefening.
Ek rammel die
fotonemery maar vinnig af, en wriemel verlig in die warmte van die motor in. Ek
ry weg met klonte modder wat vrolik teen die motor se onderstel vasklots totdat
ek die dorp verlaat en begin spoed vang. Met die dag se laaste lig wil ek nog
by Knapdaar verby ry, so daar is nie tyd vir duime rol nie. Op die brug oor die
Oranjerivier stop ek egter eers, want sover ek kan onthou is dit die langste brug in Afrika,
en die uitsig is regtig merkwaardig mooi. Ek neem ‘n stel foto’s in die
huiwerende lig, en probeer myself voorstel hoe dit sou gelyk het in die dae toe
enorme troppe olifante nog vreedsaam in die rietbeddings gestaan en wei het. As
mens so rondkyk is dit maklik om jou te verbeel dat jy deur die eeue heen kan terugstaar. Al wat
jy hoef te doen is om Bethulie se dorp se buitelyne mis te kyk, groot trope
wild op die landskap terug te plaas, en jou tydmasjien is perfek.
Van die brug af
versleg die situasie vinnig soos die pad na Burgersdorp verander in ‘n
grondpad. Verby is die dae toe vriendelike ou omies met grys-groen pap velt
hoedjies hulle trotse padskrapers gereeld oor die lewensare van ons
plattelandse infrastruktuur geskraap het. Skielik mis ek hulle met nostalgie
soos die middelmannetjie van die grondpad al hoër word totdat dit elke nou en
dan teen die motor se onderstel begin vasslaan. Ek verbinder spoed, lig een
wiel op die middelmannetjie, en ploeg dan moedig voort terwyl die motor sy
stert heen en weer waggel in ‘n rebelse obsessie om die pad te verlaat en die
veld in te foeter. Op ‘n draai lê ‘n doodgetrape meerkat en die karkas van ‘n
dooie lammetjie, en ek sê vir myself, “Self, as jy wéér sien is jy van die pad
af, en as die boere jou uit die modder kom sleep gaan hulle vir jou sê, ‘vir
wat neuk jy op so ‘n pad met ‘n simpel stadsmotor?’” Ek vervies my vir die
duisendste maal omdat ek ‘n stadsmens geword het. Mens weet mos as iets nie
werklik jou plek is nie.
Die pad na Knapdaar, iewers tussen Bethulie en Burgersdorp |
In die laaste lig
is die wêreld verruklik mooi. Ek neem foto’s sommer so deur die vooruit in die
ry, want daar is nie tyd om te stop nie. Die omie in Bethulie het gesê hulle
het drie duim reën gehad, en selfs meer op plekke. Oral staan plate water in
die veld, en die boere se damme staan tevrede vol grys water. Op hierdie pad is
nie eintlik padaanwysings nie, maar ek hou maar so suid-oos se kant, en kry ten
minste die gevoel dat dit nie te ver verkeerd kan wees nie. Die heel tyd verkyk ek my aan
die mooi wêreld en balanseer my vrede met ‘n gevoel van ontsteltenis dat die
owerhede ons plattelandse infrastruktuur so laat verval het. En dan, terwyl ek
nog sit en werk aan my bloeddruk, rye ek Knapdaar binne. Ten minste, mens ry
hom uit omtrent die oomblik wanneer jy hom binne ry. By die ou spoorwegstasie
wat eers Knapdaar was, is nou knap niks. Die geboue staan almaal eensaam en
verlate, en oral is die ruite vol gate soos die booswigte klippe deurgegooi
het. Daar is nie veel om na te kyk nie, en ek gaan nie tyd mors om te soek nie.
Na Knapdaar se ou Kolbe plaas sal ek later kom soek. Miskien volgende jaar. Vir
eers moet ek op Burgersdorp uitkom waar die ou Kolbe stamvader en sy eggenote
geduldig in die kerhof lê en wag op die laaste basuin om te blaas.
Snaaks hoe mens
teerpad met ‘n mengsel van blydskap en afsku begroet wanneer jou wiele dit
skielik weer tref. Ek kan
nie besluit of die motor nou meer of minder ratels het nie, maar dit maak ook
nie saak nie. Ek moet druk vir Burgersdorp. Die omie van Bethulie het my
gewaarsku: “Burgersdorp lê in ‘n gat. Dis vriesend koud in die winter en
hel-uit warm in die somer.” Ek tref Burgersdorp ewe skielik en sonder
waarskuwing. Op die regterkant begroet ‘n ou klip blokhuis uit die Boere-oorlog
die reisiger met ‘n stywe buiging, en oomblikke later ontvou die hele dorp voor
jou. In die verbygaan kyk ek die blokhuis so met een oog en ‘n skewe kop soos
‘n hoenderhaan wat die son meet om te besluit of dit al tyd is om ‘n sit-stok
te gaan uitsoek en ek dink by myself: “Vir jou kom ek môre afneem as die son uit
is!”
Burgersdorp
Burgersdorp ry ek
van hoek tot kant deur. Dis ‘n pragtige ou dorpie vol mooi ou geboue en groot
bome. Soos gewoonlik kan
ek nie besluit watter gastehuis om te probeer nie. Ek en ‘n Toyota bakkie, blykbaar ook vol
vreemdelingeuit ‘n ander oord, ry van plek tot plek, en vind vinnig uit dat jy
nie maklik plek in ‘n gastehuis kry so laat op ‘n Sondag in Burgersdorp nie. Ek
begin al klaar sien hoe my aand in ‘n bron van teleurstelling begin ontaard,
maar gaan klop uiteindelik aan by ‘n groot, statige woning. ‘n Lui Labrador
begroet my koms, en ek stap versigtig deur die absolute pappery in die
parkeerarea. ‘n Dame kom uiteindelik te voorskyn, maar dit lyk nie of sy bly is
om besigheid te sien nie. Moeg, verduidelik sy dat sy net een kamer oop het
want daar was die naweek ‘n bruilof in die dorp en alles is nog chaos na die
gaste weg is. “Kom kyk maar of jy daarvan hou.”
Ek stap deur,
maar sommer van ver af begin iets aan my nekvelle krap. Die akkommodasie is
heeltemal billik, maar ek voel beslis nie welkom nie, en toe die dame aankondig
dat sy nie etes aanbied nie, ten spyte van wat die bordjie in die straat
adverteer (“restaurant”), begin die irritasie van ‘n lang dag my ongeduldig
maak. “Waar anders kan
mens probeer vir ‘n maaltyd,” vra ek beleefd.
“Nee, ek weet
nie,” antwoord die dame. “Ry maar rond en kyk of jy iets sien.”
Ek kyk die dame
so, en besluit toe dat ek ‘n ander reëling sal tref. My ma het my geleer ons
Boere moet oorloop van warmte en gasvryheid. Dit is ons kultuur en dit is ons heilige
plig. Baie keer vandat ek ‘n kleuter was het sy ons vermaan, “want mens weet
nooit wanneer jy dalk eendag ‘n engel in jou huis ontvang nie.”
Met ‘n paar
komplimente oor die mooi huis, dui ek beleefd aan dat ek liewers maar nog so
bietjie sal rondkyk. Ek doen nie maklik so iets nie, maar nou ja. Mens wil nie
voel of jy ‘n oorlas is nie wanneer jy nog bonop ‘n betalende gas is nie…
Uiteindelik tref
die geluk my om ‘n klein kothuisie met die naam “The Nook”[1]
raak te loop. Anita Joubert is die eienares en aan haar stem kan ek onmiddelik hoor dat sy “een van “onse
mense” is, soos my ma altyd gesê het. Dis die ene warmte en sorg en sy klink
presies netsoos ‘n veraf-groot tante van my.
“Die bed is nog
nie opgemaak nie, sê sy, maar as jy bietjie sal wag, maak ek dit gou reg.” Ek
steek vinnig die hande op.
“Nee wag, wag. Ek
het duisende beddens in my lewe opgemaak en ken van beddens regmaak op kort
kennisgewing as die gaste jou skielik toesak. Ek vat gou een kant, dan is dit
vinnig klaar.”
Anita verduidelik
verskonend dat ‘n gas die vorige nag ten spyte van regulasies in die kamer
gerook het, en dat sy die stank met geen geweld kon uitkry nie. Ek sê dit maak
nie saak nie, maar later besef ek, wat die vrou ookal gerook het, dit moet uit
Van Hunks se eie tabaksak gekom het. Dit kon netsowel donkiemis gewees het. Ek
is nie sensitief oor sulke goed nie, maar dit is skielik uiters irriterend om
te dink dat iemand so ‘n ordentlike mens se gasvryheid met sulke minagtende
disrespek begroet het. Min het ek geweet, maar die hele nag sou ek nog lê met
wraakgedagtes teenoor ‘n anonieme roker wat geen respekte vir ander had nie. In
ieder geval, Anita beduie waar die beste ete op ‘n Sondag-aand verkry kan word, en ek stap
sommer soontoe. Biefstuk en eier, soos dit ‘n goeie Boer betaam, terwyl die
bestuurder vir my ‘n TV so groot soos ‘n snoekertafel op die sportkanaal stel.
Wel, nie heeltemal so groot nie, maar groot genoeg. Ek het wel verduidelik dat
ek regtig nie belang stel in TV nie, maar toe hy sien ek kyk nie Sewende Laan
nie, toe dink hy seker sport sal beter afgaan. Ek kan nie onthou wat gewys het nie, maar ek is
amper seker dit was rugby van soorte. Iemand wat iemand anders bespeel
het—haaie of katvisse of seekatte of enigeen van die snaakse nuwe name wat ons
spanne vandag dra. Ek het my belangstelling total verloor vandag geld en
politiek ons sport beduiwel het. Ek was die enigste gas, en daardie aand was my
gedagtes 180 jaar terug in die verlede, wat die rugbyspelers ookal probeer
bereik het op hulle modderige sportveld.
[1] The Nook Bed & Breakfast. Kerkstraar 35 , Burgersdorp. Tel/Faks:
051 653 1318 of 082 620 4758. http://www.thenook.co.za
No comments:
Post a Comment