Saturday, 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 7


Die oggend breek mildelik aan in Colesberg en ek besluit om eers die dorp te gaan verken eer ek verder gaan. En terwyl ek stadig tussen die statige ou huise deur ry suig die dorp my gedagtes meer as ‘n eeu terug na ‘n helder-mooie Sondag toe ‘n jong koloniale Rebel met die naam van Willie Louw, op dramatiese wyse na sy dood geneem was deur dieselfde strate. Adriana Henrietta Johanna Kolbe, oftewel “Dana” soos haar familie haar genoem het, was maar twintig jaar oud en verloof aan die jong koloniale rebel en 30-jarige seun van Ds. A.A. Louw. Dit was 23 November 1901, ‘n soel sonskyn dag toe die Britse soldate Willie Louw op ‘n karretjie voor sy jong verloofde se huis verbygetrek het. Vir oulaas het hul oë ontmoet, en waarskynlik het Willie se hand in laaste saluut opgegaan terwyl sy die liefde van sy lewe in haarself aan hartstogtelike weemoedigheid oorgegee het. Sy het Willie Louw nooit weer gesien nie. Daar word vertel dat toe die salvo lostrek, die weer op dieselfde tydstip gedreun het, sodat die skote gedemp geword het. En onmiddellik daarna het die helder lug toegetrek en het die hemele geween oor die vergieting van die kosbare bloed van nog ‘n jong Afrikaner held. Willie Louw se verhaal sal vir altyd onthou word soos dit opgeteken was in “Hoe Zij Stierven.” Maar ook sy verloofde sou hom nooit vergeet nie. Hoewel sy uiteindelik wel getrou het, was Willie Louw die enigste ware liefde van haar lewe wat sy ooit sou ken. In 1965 toe sy haar laaste asem uitgeblaas het, is ‘n doos sjokolade bo in ‘n hangkas van Dana se slaapkamer ontdek. Die sjokolade was al tot stof vergaan, mar dit was toegebind met ‘n rooi lint, en binne in was ‘n briefie wat gelees het: “Aan Dana, met al my liefde—Danie.”
'n Verposing nie ver buite Colesberg

Dit was ‘n tragiese verhaal—byna Shakespearies van aard. Snaaks genoeg, die jare het sonder inspanning teruggerol sodat ek in verbeeldingsvlug vir oulaas vir Willie Louw op sy laaste tog deur die strate kon sien. Mens het baie gedagtes wanneer jou pad die voetspore van so ‘n romantiese verhaaltjie kruis. Dit het my getref dat as mense ooit van my die mooi woorde moet sê wat van Willie Louw gesê was by sy heengaan, dan sou ek ‘n buitengewone lewe gelei het. Willie Louw was nie net populêr nie. Hy was ‘n beminde mens gewees. In sy tronksel het hy as gehoorafwagtende sy besoekers verstom met sy buitengewone sielevrede. Hy het hom besorg oor ‘n drankverslaafde wat in die sel langsaan gelei het. Met sy wagte het hy die stand van hulle geloof bespreek, en voor sy laaste groet het hy nog gevra dat daar aan sy bewaarders ‘n mandjie vrugte gestuur sal word wanneer dit ryp was. Sulke mense is skaars op aarde. Sulke harte is goud in die bodem van ons land—en waar syne rus in die stil ou begraafplaas op Eenzaamheid, nie ver van Gary Player se plaas nie, wag hy rustig op die laaste basuin—rustig in die wete dat hy as ‘n ou bekende vriend verwelkom sal word. En so dink ek toe weer aan arme ou Tant Dana wat ek nooit geken het nie. Sonder enige kinders het sy haar rykdom gelaat vir die stigting van ‘n ouetehuis op Wakkerstroom. En daar sal haar naam ook onthou word in die “Dana Tehuis,” waar my ouma sopas haar intrek geneem het, ‘n kort skaduwee van haar negentigste verjaardag af.

Colesberg se NG kerk
Colesberg het mooi ou huise en ‘n pragtige kerk wat die ganse hoofstraat bewaak. Ek maak ‘n stop by die kleiner ou begraafplaas langs die straat en loop elke graf vinnig deur op soek na bekende name wat ek vir my genealogiese vriende kan fotografeer. Tyd om die nuwe begraafplaas te ondersoek was daar ongelukkig nie. Daar is heelwat Britse grafte in die kerkhof en nie regtig iets wat my besonders interesseer nie. So met die terugstap merk ek egter ‘n ou verroeste perdeskoen op en ek buk om dit op te tel. Met ‘n glimlaggie herinner ek my aan die oorsprong van die gebruik om ‘n perdeskoen, hol-kant na bo, teen die voordeur vas te spyker. Die oumense het gesê dis vir geluk, maar ‘n ouer storie het vertel dat dit gedoen was om die huishouding teen hekse te beskerm. Volgens die verhaal het hekse ‘n nimmer-eindigende fassinering met wiskunde en somme maak. Wanneer ‘n heks ‘n voordeur nader om te kom kwaad doen, en sy sien ‘n hoefyster vasgespyker, kan sy glo nie haar nuuskierigheid bedwing om uit te vind presies hoeveel spore die hoefyster al getrap het nie. Dan draai die heks om om eers al die spore te gaan tel, en gewoonlik hou dit haar die hele nag besig tot sy met sonsopkoms weer na huis moet keer. En so moet die heks elke nag weer van voor af begin totdat sy naderhand opgee. Ek het die hoefyster maar in my kar gaan gooi as ‘n ou herinnering aan Colesberg, waar my voorvaders se voetspore ook half-vergete lê onder die waaisand van tyd.

Die bekende Colesberg koppie
Na ‘n kort stoppie om Colesberg se koppie af te neem, en ontbyt by die BJ’s restaurant, wat vir my al ‘n jarelange tradisie geword het, draai ek die motor se neus reghoekig teen die pad van die son, en bekruip die Oranjerivier vanuit die Suide. Die pad is stil en sonder verkeer, maar die hobbels en ongelyke oppervlakte herinner mens nogmaals op die verval van infrastruktuur wat die kanker van ons platteland geword het. Ek het nog altyd ‘n effense treurigheid gevoel om ou Grootrivier oor te steek, en so ook moes ons voorvaders gevoel het toe hulle in die 1830’s hulle land vir goed verlaat het. Dit laat my so terugdink aan hoe hulle die rivier op vlotte oorgesteek het. Daar, kan ek my voorstel, het hulle vir oulaas die harpe aan die wilgers opgehang soos die Israeliete langs die riviere van Babel, en die laaste gesange gesing voor hulle die vreemde aangedurf het.

‘n Ent voor Philippolis draai ‘n grondpad na regs, en die bande knars weer op die miljoene-jare oue modder-skalie wat sag en vriendelik lê en selfs nie eers besonders baie stof maak nie. Dis ‘n wyd-gestrekte wêreld vol mooi Karoo koppies en wuiwende horisonne wat mens altyd naderlok om nog ‘n nuwe uitsig te probeer vind. En so, na ‘n paar myle—want op grondpaaie voel dit of mense nog van “myle” moet praat, vind ek die witgeverfde hekke van Bokpost wat soos wydgestrekte arms die stof-bedekte besoeker nader wink. Die opstal is nie ver nie, en ek kom uiteindelik voor ‘n wit muur en ‘n statige dubbelverdieping woning te staan. ‘n Vriendelike Jack Russel kom kennis maak terwyl ek vyf minute lank met ‘n geelkoper klepel aan die dik voordeur tik. Uiteindelik ontvang ‘n bediende my en lei my na ‘n ronde tafeltjie in ‘n baie groot sitvertrek. En toe kom Rolene Kolver in, half uitasem soos ‘n tipiese boervrou wat altyd agter pligte en verantwoordelikhede aanjaag.

“Ek is die vêraf-familie wat julle nog nooit ontmoet het nie,” stel ek my self bekend.
En toe begin die groot gesels. Haar man, Kolbe Kolver, kom ‘n rukkie later ook in, en ons gesels oor Tant Dana se Kolbes, oor familiegeraamtes, Nguni beeste en oor hoe ons nou eintlik aan mekaar verwant is. Ons is “vyfde neefs,” sou ek later uitwerk—alhoewel ons oor-oor-oupagrootjies seker byna ‘n eeu laas kontak gehad het. Maar dit maak nie saak nie, want ons praat nog dieselfde taal en dink nog dieselfde. Bokpost, vertel Kolbe, is nog deur een van Nico Vermaak se mense van ‘n luitenant van Adam Kok verruil. Hy het uit die Kolonie getrek en toe sy wa en osse oorhandig vir die plaas.

Later het Andreas Tobias Kolver en Anna Sophia Kolbe hier geboer. Onder die Kolvers is grond bygekoop en het die ouwêreldse kultuur van Bokpost wat vandag nog so prominent is, sy gestalte gekry. Kolbe en Rolene beveel toe aan dat ek vinnig nog op Ruigtevlei ‘n draai moet gaan maak. Dit is nog ‘n ou Kolbe plaas, maar heelwat verder, Bethulie se kant toe. Die plaas grens aan die Hendrik Verword dam, en aangesien daar ‘n groot ou familiebegraafplaas is wat ek nog altyd wou fotografeer, willig ek sonder veel aanmoediging in. Ek het nie gedink daar sal tyd wees nie, maar die nodige oproepe word gemaak en ek trek weg, nogmaals verwonderd oor hoe ‘n genealogiese uittog partymaal sulke onvoorspelbare draaie kan maak. Langs die pad stop ek eers ‘n rukkie by ‘n sementdam en ‘n windpomp waar seker ‘n goeie dertig bloukraanvoëls waardig staan en pronk terwyl die vlakte-wind hulle nek-vere oop en toe kam. Dis darem maar mooi—die simbool van ons Ou Suid-Afrika. Snaaks, hier in die diep Karoo voel dit of dinge nog nie eindelik verander het nie en al is die Karoo vir my vreemd, voel die hele omgewing sommer vriendelik en bekend.

Ek verdwaal bietjie by die dam, en toe die polisie padblokkade my stop, sê ek sommer dadelik: “Dagsê! Niks varke aan boord nie. Ek soek eintlik die pad Bethulie toe.”
Die man lag. Ek het nou al genoeg met hierdie padblokkades te make gehad wat probeer keer vir een of ander vark-siekte.
“Meneer, dis eintlik verskriklik—VERSKRIKLIK maklik. Jy mik net so ‘n kort entjie verder aan, dan draai jy regs. Jy kan dit nie mis nie.”
Ek groet die dienaar plegtig en trap die petrol. Sy instruksies is in die kol, maar nou moet ek brand want die dag loop uit. Eintlik het ek half skuldig gevoel, want ek het gesit en biltong eet toe ek gestop word. En ek is gewoond daaraan dat waar die gereg jou stop en jy biltong het, daar gewoonlik moeilikheid is. Die dat ek toe maar die sak biltong onder die sitplek ingestop en die krummels vinnig weggevee het. Ek weet die man soek varkvleis, maar mens kan nooit te versigtig wees nie…

Maar nou is ek dors en kom tot my irritasie agter ek het per ongeluk gegeurde mineraalwater gekoop. Ek haat die goed en rol die bottel om na die etiket te kyk. Nes ek gedink het. Kunsmatige versoetmiddels wat jou beter sal preserveer as wat die balmerings-kundiges van Egipte met die lyk van jong Toetankamen kon regkry. En dis ‘n lietsjie-geur wat waarskynlik uit steenkool gedistilleer word. In my biltong-nadors is al wat oorbly ‘n blikkie rissie en tamatiesap wat ek nog in Johannesburg gekoop het—net omdat die Bybel sê: “beproef alle dinge en behou die goeie.” Ek drink die tamatiesap en besef dat hierdie een van die dinge is wat nie behou hoef te word nie. Nou is ek dors, én ek sit met ‘n bek wat brand… Maar die teer rol op, al op die ver-oewer van die kronkelende dam en ek weet dat ek my nou in Simon du Plooy se wêreld bevind.

Dis mooi hier. My pa en ek het nog altyd gedink dit moet goed wees om hier grond te kan besit. Ek moet nou kyk vir die bordjie “Ruigtevlei” wat “op ‘n’ draai lê,” maar twintig kilometer later is daar nog niks nie. Die pad gee so een kronkel, maar sny dan sonder ‘n kinkel of ‘n knak tot by Bethulie. Kort buite die dorp besef ek ek het die afdraai gemis, of miskien het ek selfvertroue en onnoselheid gekombineer en dalk heeltemal die verkeerde pad geneem. Ek kyk weer na my padkaarte, maar daar is nie lig nie. Ek ry dus maar weer terug—net om te vind dat ek die bordjie misgekyk het op die enigste plek waar die pad wel ‘n knakkie maak.

By Ruigtevlei se opstal maak ‘n jong dame met haar twee seuntjies die deur oop en verras my deur nie die gewone agterdogtige kyk na my lelike “GP” nommerplaat te gee nie. Hulle tuimel ook sommer dadelik die motor in om my die grafte te gaan wys. Ek is nogmaals verbaas oor hoe maklik die Karoo mense vreemdelinge aanvaar. Waar ek vandaan kom uit die Suid-Oos Transvaal se middelveld sou jy eers baie mooi moes verduidelik wie jy is en wat jou besigheid behels. Seker maar omdat ons grensboere was wat jare van moordbendes, landmyne op ons grondpaaie en terroriste in die bosse moes oorleef. Die begraafplaas is egter net so ‘n kort entjie van die opstalle af. Op pad soontoe vra ek uit oor Ruigtevlei se perde stoet. Karien du Plessis verduidelik dat haar skoonpa opgegee het toe byna al sy perde eendag van lamsiekte gevrek het. Maar haar man het stadig weer aangegaan, en vandag is die perde van Ruigtevlei weereens bekend en gerespekteer.

By die begraafplaas tuimel die seuntjies uit en vra onskuldig by die eerste graf: “Mamma, wie is hierdie?”
“Dis oupa se graf,” verduidelik die moeder.
“En hierdie?” vra enetjie, terwyl hy na die grafsteen langsaan wys.
“Dis ouma s’n, vir wanneer sy eendag doodgaan.”
Ek vind die jeugdige onskuld waarmee die vrae gevra word, treffend. Veral toe die seuntjie by-vra: “Sal Mamma ook eendag hiernatoe gebring word?”
En die moeder antwoord met die ongestoorde praktiese natuur van ‘n boervrou wat in die lewenslig van die natuur al vrede gemaak het met die pad van die mens: “Wanneer die tyd kom, ja,” is min-of-meer haar antwoord.

Wat die seuntjies aanbetref, hanteer hulle die inligting met die gelatenheid van jonkheid. Vir hulle is dit eenvoudig anderdag se bekommernis daardie. En skielik verlang ek na die tyd toe ons almal nog so kon voel. Na die jare dat ons geglo het dat kinders onsterflik was en dat net ou-oumense op rype ouderdom die volgende skof aanpak. Daardie illusie is in my 12de jaar vernietig toe ‘n klasmaat in ‘n motorongeluk gesterf het. En kort daarna toe nog ‘n maat se pa verongeluk het. En van daar af het ek geweet dat ook die pad van kinders deur die dal van doodskaduwee loop en dat mens maar liewer nie daaraan moet dink as dit jou gaan pla nie.

“Jy weet,” sê ek vir Karien terwyl ek fotografeer. “Ek het hierdie grafte nog nooit voorheen gesien nie, maar ek ken hierdie name al. Soos ek deur die stene gaan besef ek elke nou en dan ek kan maar knik en groet, want ons ken mekaar al jare lank. Ons het nog net nooit ontmoet nie.”
Baie van die grafte is ou vriende van my wat tot nou toe nog net op ‘n stamregister bestaan het. Maar nou kan ek die foto’s van hulle grafte by hulle name voeg, en die volgende keer wat ek op een van hulle se naam klik, sal daar ‘n foto van ‘n granietsteen verskyn om my te begroet. Sulke dinge word vir my die versiersuiker op die koek.

Terug in Ruigtevlei se opstal wil Karien vir my ‘n klomp ou familie papiere wys, maar die laai waarin dit gebêre word se sleutel is weg. Na ‘n lang soektog groet ek maar my nuwe ver-af niggie en kry my ry. Karien belowe om sommer die volgende dag al kopieë te laat maak en vir my te pos. Min het ek besef dat haar woord so goed soos goud sou wees. Na my tuiskoms het ‘n pakkie my bereik wat ‘n wonderlike bron van genealogiese skatte sou wees. Geslagsregisters wat deur die ou pioniere van Ruigtevlei opgestel was waarmee ek die Kolbe stamregister kon kruis-verifieer, en ryklik kon aanvul. En so het ‘n onbeplande besoek wat amper nie sou plaasgevind het nie, uiteindelik gelei tot een van die hoogtepunt-ontdekkings van die jaar. Ek skud nou nog my kop by gedagte aan al hierdie goeie geluk en vriendelikheid van mense wat my beslis niks skuld nie. In Karien se pakkie lees ek van ‘n wonderlike perd met die naam Sultan, wat volgens oorlewering deur Lord Kitchener gebuit was tydens die Anglo-Boereoorlog. Die perd is Engeland toe geneem as teelmateriaal, maar later-aan is besluit dat die dier so uitsonderlik was dat hy teruggestuur moet word om as teelmateriaal vir die herstel van Suid-Afrika se perde-poel te doen. Maar Sultan se geluk het uitgeloop, want op Kaapstad se hawe was daar ‘n vreeslike storm. Sultan het in die see geval en versuip—en Suid-Afrika moes maar sonder sy beroemde gene sien kom klaar. Maar toe het die romantikus in my begin raai hoekom my Oos-Transvaalse familie al ‘n honderd jaar ons teel-hingste by die Louw familie van Colesberg se wêreld gekoop het: Sê nou maar dis omdat die verdwaalde gene van ou Sultan se perde-familie nog al die jare daar rondgeloop het? Ek sal graag so wil dink—selfs al is dit miskien te vergesog om waar te wees.

Van Ruigtevlei is ek terug Bokpost toe. Ek moes nog die Kolver begraafplaas op die plaas gaan afneem—ook ‘n mooi, goed-versorgde begraafplaas met ‘n lieflike sterk gepleisterde muur om. Ook hier loop ek een of twee bekendes raak wat ‘n teenwoordigheid op die stamregister handhaaf. En hulle stel my weer bekend aan hulle familie wat nog al die tyd daar lê en wag om ook opgeteken te word.
“Wel-te-kenne,” dink ek in die taal van oumense wat lank nie meer gebruik word nie. Ek is nog steeds bly vir die kennismaking. Dis vir my lekker om tog weer op ‘n regte ou Merino plaas te wees. My Labuschagnes en Kolbes was Merino telers sedert die middel- tot laat 1800’s en ons is grootgemaak met ‘n liefde vir skape. Ek herinner my aan hoe groot-oupa Izak Hermanus Labuschagne op ‘n tyd saam met sy maat twee ramme van Spanje ingevoer het—seker so  rondom 1885, skat ek. Met die aankoms is een ram toe ooglopend baie beter as die ander. Soos sy Bybelse naamgenoot se vader met sy neef Lot gemaak het, bied Oupa Izak toe sy vriend maar die eerste keuse aan. En dié kies toe onmiddellik die beter ram. Ook maar goed so, want nes met Lot se keuse wat dit nie ‘n goeie een nie. Die beter ram het binne ‘n paar dae gevrek, en Oupa Izak s’n het bly leef. Die blinde sambok, sou die oumense seker gesê het…
Die opstal van Bokpost

Daardie middag trek ‘n geweldige stofstorm los sodat die hele landskap vergaan in ‘n rooi waas van tierende geweld. Die stof-wolke kom oor die ope vlaktes aangegalop en breek teen huis en boom soos ek nog nooit tevore ervaar het nie. Naderhand weet ek nie meer of dit net stof is en of dit reën ook nie, maar dit lyk na so ‘n mengsel van albei. Ek gaan knip toe maar ‘n uiltjie en hoop daardie driedoring boom val nie op my motor nie. Ten minste het ek wind-op geparkeer, maar dis nogtans ‘n hinderlike gedagte. Ek dink so aan ou Vermaak wat sy wa en osse vir dieselfde plaas verruil het. Ek het nogal dadelik gewonder hoe hy toe met vervoer reggekom het? Sou ek dieselfde pad as hy moes loop?

Gelukkig het die storm uiteindelik bedaar. Kolbe het eers na donker teruggekom, want hy moes gaan vuur slaan in die berge. Seker die weerlig wat die droë veld aan die brand geslaan het. Ek is skoon verstom want ek het nooit geweet Karoo bossies kan brand nie. Maar heimlik oortuig ek myself dat Karoo boere seker ook nie weet wat regte veldbrande is nie. Ken hulle my wêreld se ses voet tamboekiegras wat klink soos masjiengewere op ‘n kommando oefen skietdag? Ken hulle ons dekgras en terpentyngras wat as jy moet vuur slaan in die berge,  jou naderhand so moeg en moedeloos maak dat jy die vuur uit radeloosheid maar met klippe wil doodgooi? Seker nie. Maar laat staan maar,” dink ek. Elke wêreld het sy eie probleme en niks is so irriterend soos ‘n boer wat die heeltyd neul met: “…daar by ons, maak ons mos so-en-so” nie. Hierdie wêreld is nog totaal vreemd vir my.

Kolbe en Rolene was so gaaf om hulle ouers uit te nooi sodat ons mekaar oor aandete kan ontmoet. My oom hou al jare aan dat ek tog op Bokpost moet gaan kuier—oor die beroemde aandetes en stylvolle mense—het hy volgehou. En so is dit ook. Aandete is by loodglas kristal en swaar silwer aan ‘n enorme tafel in ‘n eetkamer met hout paneelwerk wat aan die Titanic se banketsaal herinner. “Hier gaan ete nie net om jou maag vol kos te kry nie,” besef ek. “Dit is ‘n kultuur.” Jare gelede het ‘n Amerikaanse intellektuele reus vir wie ek die wêreld se respek gehad het, eendag gesê: “Every meal should be a learning experience.” Van my beste herinneringe wentel nou nog om lang aande se gesels om ‘n swaar-belaaide eetkamertafel in die groot ou eetsaal op die plaas. Dis hier waar ons ou boere die wêreld se probleme opgelos—en nuwes uitgedink het. En ek eet my Karoo skaaptjops met ‘n privaat glimlaggie van tevredenheid. Iewers in ons Afrikaners se gebeente, loop daar nog ‘n pype waarvan die murg uit goud bestaan. En ek dink ek vind daardie goud nog in die Karoo na ek gedink het dit het al byna uitgesterf.

Bokpost, www.bokpost.co.za  word as ‘n kommersiële skaap- en wild en gasteplaas bedryf. Die plaas is nie so vreeslik ver van die N1 snelweg af nie. Daar waar die pad na die Hendrik Verwoerd dam uitdraai—by die brug waar die spietkops so graag met hulle kamera’s sit en geld in-oes soos die rowerbaronne langs die Rynrivier, draai mens eenvoudig noordwaards, instede van suidwaarts. Die grondpad is nie te sleg nie en die plaas is maklik om te vind. Dit is ouwêreldse vierster elegansie. Swaar-geborduurde linneware op die beddens, donker hout met glimmende geelkoper knoppe, pragtige marmer badkamers met vergulde krane, pootjie-baddens, mooi meubels en tydlose styl. Na Colesberg se treurige akkommodasie voel alles sommer vriendelik en verwelkomend. ‘n Mens doen jouself ‘n skade aan om nie op Bokpost te oornag op die lang reis tussen die Kaap en die Transvaal nie. Ek neem myself ook net daar voor om beslis seker te maak dat Bokpost my weer sal sien.

‘n Plaas kan hoe mooi wees, maar dis die mense wat sy warmte verskaf. So was dit ook met die Kolvers van Bokpost. Tot laat die nag het ons nog gesit en gesels oor die ekonomie van boerdery en toerisme, oor die stand van die wêreld en die toekoms vir ons wat nog nie naby genoeg aftrede is om te kan opsy-staan vir die resies van Afrika nie. Maar ons voorvaders kon Afrika se probleme nie oplos nie, en ons wat hulle kinders is, voel soos hulpelose toeskouers wat ewe onmagtig is om die verloop daarvan te beïnvloed. Afrika van jou heen waar sy wil gaan. Die nie ‘n plek vir sissies nie. Maar Afrika is ook iets wat in jou siel inkruip en hier in die Karoo besef mens opnuut waarom dit so moeilik is om weg te gaan. Dit help nie mens probeer dit beskryf nie, want woordeskat bestaan nog nie om die Karoonagte se sterreprag te besing, of die mankolieke eensaamheid van ‘n tarentaal se roep vroeg in die oggend te besing nie. Ek sou seker lankal in  Nieu-Seeland of Amerika gewoon het as omstandighede makliker daartoe gelei het. Maar die groot kombuis van Bokpost en die mak eland by die agterdeur laat my besef dat ‘n mens iets van jouself sal amputeer as jy hier wegloop. Jy breek nie hier weg sonder om iets te los wat jy nooit weer sal kan vervang nie. Ek sal die skuif maak as die geleentheid daar is, maar op ‘n aand soos hierdie besef ek wat die prys sal wees-een dit is hoog.

No comments:

Post a Comment