Die volgende dag was ‘n dag wat bestem was
om ou vriende te gaan opsoek en te gesels oor tye van weleer. Ek het byna 11
jaar laas die voorreg gehad, en daar was baie om in te haal in die
restaurant-tuin van ‘n Langenhovenpark kwekery, en later op ‘n plot aan die
ooste van Bloemfontein. My vriende het intussen na ‘n ou huis getrek waar dit
glo geil spook. Op die voorstoep is ek in die fynste besonderhede vertel
omtrent die aard en karakter van die huishoudelike spook. Spookstories het ek
al bitterlik baie gehoor, en ek het selfs ‘n nag in ‘n spookhuis deurgebring
waar ek self die voetstappe op die dak en geluide gehoor het—so erg dat die
plafonne gedreun en vuilgoed uit die krake neergesif het.
Ek is egter nie ‘n
persoon met ‘n groot belangstelling in die bonatuurlike nie, en het dus maar
lankoniek daaraan herinner dat die oumense altyd gesê het dat jy ‘n rooi hond
moet kry. Spoke is glo bang vir ‘n rooi hond. Hoekom weet ek nie. En as ‘n
spook jou jaag moet jy oor ‘n water-stroompie spring. Spoke is bang vir water
en sal nooit oor ‘n stroompie trek nie. En die beste van alles—wanneer mens ‘n
spook met kookwater gooi, forseer jy hom om in sy oorspronklike gedaante te
materialiseer. Persoonlik glo ek natuurlik ‘n lading dinamiet is enige spook—en
spookhuis—se finale moses. Ek bly oortuig daarvan dat dit beter sal werk as
kookwater, rooi honde of waterstroompies.
Een ding van tyd is dat dit jou soos ‘n ou
blinde vrou in die donker bekruip—stadig, onverwags en van agter af. Voor jy
weer sien gryp dit jou met ‘n seningrige arm om die nek, druk jou oë toe met
benerige vingers en fluister skor in jou ore: “Raai bietjie wie’s hier!” So was
dit ook met my. Die klein dogtertjie wat ek 11 jaar gelede geken het, trou
volgende jaar met ‘n aantreklike jong man op ‘n groot rooi motorfiets. Ek is
nie eers die ouer nie, maar dit het my keel onwillekeurig laat toetrek. Maar
dis ten ene male die weg van die lewe. Voor motorfietse was dit ‘n jong man op
‘n wilde perd. Niks verander regtig nie. Die kêrel dra egter my goedkeuring
weg, en toe hy begin gesels oor voorvadergrafte en waar die Kruger miljoene na
bewering op sy oupa se plaas onder ‘n bloekomboom begrawe lê—wel, toe is ons so
goed as familie! My ore lig altyd as die Kruger miljoene genoem word. Vandat my
oupa na ‘n toegevalle bergingsgrot uit die Anglo-Boereoorlog gegrawe het toe ek
‘n klein seuntjie was, het ek ‘n fassinering met gesonke skepe, verborge
skatte, en ander eksotiese legendes.
Daardie aand gaan kuier ek by Cobus en
Martie Venter wat net om die draai van Marthinus Jordaan se gastehuis woon. En
weereens word dit ‘n leersame ervaring. Met die intrap-slag sien ek hierdie is
een van ons, want die sitkamer se muure staan toe van leêrs vol navorsing.
Cobus en Martie het ‘n interessante benadering tot genealogie. Hy het sy
lessenaar met rekenaar en sy het hare—reghoekig tot mekaar gerangskik in
dieselfde vertrek. Hy doen sy stamme en sy doen haar stamme. En so deel hulle
baie vriendelike uure in wat anders moontlik ‘n stokperdjie van relatiewe
eensame afsondering kon gewees het. Ek ken Martie al ‘n jaar of twee vanweë ons
gemeenskaplike navorsing op die Kolbe tak. Marthinus het my egter gewaarsku dat
Martie en Cobus twee van daardie beskeie navorsers is waarvan min mense weet,
maar wat enorme groot en goeie werk doen. Dit was inderdaad ook die geval.
Daardie nag sit ons tot laat en krap tussen die beendere van ons voorvaders.
Martie wys my waar daar ‘n groot fundamentele fout in my Van Breda
geslagsregister lê—en dan kom die foto’s en leêrs vol afskrifte van testamente,
sterftekennisse en ander bewyse tevoorskyn. Met verwondering besef ek opnuut
hoeveel waardevolle materiaal daar altyd is waarvan ons nog net nie weet nie.
Vir die eerste keer sien ek foto’s van ou karakters op ons stamboom waarvan ek
nie gedink het dat ek ooit ‘n afbeelding sou kon sien nie. Pragtige afskrifte,
almal van hulle. Een foto bevat selfs ‘n spook in die bekende ou Van Breda woning naby
Bredasdorp. So ‘n klein, vaal mannetjie wat dofweg eenkant op ‘n stoel sit en
die kamera met ‘n suurse kykie dophou. Ek glimlag maar en vertel Martie dat ek
al voorheen sulke spoke gesien het. Ek het self so ‘n spook-foto. ‘n Pragtige
spook van ‘n meisietjie in Voortrekker klere wat bo die Voortrekker monument
hang tydens die inwydingsfees. Die spook hang egter mooitjies 90 grade skeef,
sodat ek glo dat hierdie “spoke” meer ‘n oorsprong het by primitiewe
donkerkamer tegnieke as wat dit het met rustelose gesê wat rondswerf as straf
vir hulle sondes. In iedere geval, sou ek ooit die Van Breda woning besoek moet
ek tog onthou om ‘n blik Doom saam te neem en die stoel te gaan afspruit—net om
seker te maak…
Die "spookmeisietjie" in die lug bo die Eeufees Gedenkterrein |
Cobus en Marthie is al tien jaar met
genealogie besig en het in hierdie tyd reeds ‘n enorme hoeveelheid werk gedoen.
Aangesien ons belangstellings oorvleuel het ek meer na Martie se werk gekyk. Sy
is een van daardie navorsers wat ‘n uiters konserwatiewe benadering tot
navorsing volg sodat haar data-integriteit werklik hoog is. As jy oor ‘n datum
uitvra, kan
sy baie keer vir jou ‘n fotostatiese afdruk van die oorspronklike brondokument
wys. Om met sulke navorsers te kan
werk is werklik inspirerend en dit laat mens opgeruimd en entoesiasties voel om
self nog meer moeite te doen om seker te maak dat jou eie werk van gehalte en kwaliteit
is.
No comments:
Post a Comment