Baviaansvallei na Bathurst en Port Alfred
Op spoor van die Britse Setlaars
Van die
Baviaansvallei en omstreke, is ek af Port Alfred toe waar ek meer tyd gaan
bestee het aan my ou 1820 Britse voorvaders wat vandag nog ‘n die dorpie Bathurst lê en rus.
Daarvan sal ek nie nou veel vertel nie, aangesien meeste GenFormers waarskynlik
nie ‘n besonderse groot belangstelling by die Setlaarsgeskiedenis het nie. Wat
ek wel mag noem is dat Bathurst
‘n paar interessanthede het wat die moeite werd is om te besoek. Vir diegene
wat dink dat die oumense nie ook oud geword het nie—gaan kyk maar in die
plaaslike begraafplase. Daar lê een of twee ou tannies wat lag-lag ‘n 100 jaar
of meer oud geword het. Mens moet ook maar moeite doen om genoeg tyd heir te
spandeer, want die plaaslike mense is vriendelik en as hulle eers begin gesels
kom jy nie weg nie.
Daar is ‘n
ou boekwinkel (agter in iemand se tuin, langs die grootpad) wat ‘n groot
versameling Africana het, en waar ek onbeheerst gaan kwaad doen het. Ook ‘n
antieke/snuistery winkel me tdie naam “Pennyfarthing”, waar ‘n ou koper lamp so
hard met ope arms gestaan en soebat het dat ek hom moet huis-toe vat, dat ek
maar moes ingee. Onthou om hier fudge te koop. Vra vir “Mud Pies.” Ek hou van
fudge en het al goeie fudge geniet, maar hierdie fudge is in ‘n klas van sy
eie. Dis iets soos R6 ‘n pakkie, maar dis die moeite werd. By die ingang van
die dorp is ook ‘n ou landboumuseum wat ‘n redelike goeie versameling ou
landbou implimente en masjienerie het. Weereens, maak maar reg vir groot
gesels, want die kurators is vriendelik en baie gretig om enige belangstellende
alles te gaan wys en alles te verduidelik.
By die dorp
se toposkoop het ek heiligskending gepleeg deur vroeg vroeg die oggend bo-op
die klip pilaar te klim om 360 grade panorama foto’s te neem. Gelukkig het
niemand my gesien nie, behalwe een vrou wat uitgeklim het, baie vinnig
rondgekyk het, en toe laat spat het asof sy baie haastig was of groot geskrik
het. Daar is een pertinente voordeel daaraan verbonde as mens vroeg by die
toposkoop kan
opdaag—mens spring op die manier die hordes bedelaartjies vry wat gewoonlik uit
die bosse genael kom sodra ‘n motor opdaag. Dan moet jy net keer of jy verloor
alles van jou brille tot jou valstande, tensy jy ‘n afkoopsom van kleingeld of
toebroodjies betaal. Wees gewaarsku. Ek sien darem iemand het die koper plate
wat deur booswigte gesteel was, weer vervang. Die toposkoop, vir die wat nie
weet nie, is gebou op die terrein van ‘n ou Britse militêre kamp. Van hier af
is die Britse setlaars se plase toegeken en aan hulle uitgewys. Die plek het ‘n
pragtige uitsig oor die omliggende gebied.
Die ou Pig
& Whistle hotel in Bathurst
is intussen ook bietjie opgegradeer. Ongelukkig is baie van die ouwêreldse
sjarme myns insiens daarmee verlore, maar miskien moet ek maar eers oordeel
wanneer die restaurasiewerk voltooi is. Ek was vertel dat daar tydens die
restaurasie ‘n onontdekte kelder onder die vloer van die restaurant gevind is.
Daar vind hulle toe ‘n baie, baie ou bottel sjampanje. Ongelukkig was daar ‘n
klein gaatjie in die kurkprop en die inhoud het lankal uitgeloop. Dit is
jammer. Ek het gehoor dat sjampanje wat baie oud word, uiteindelik in iets taai
soos sjerrie verander en wou nog altyd weet of dit waar is.
Die aand
toe ek by die Pig & Whistle hotel eet vra die kelnerin my wat ek wil hê. Ek
sê toe: “I’ll have what Lord Charles Somerset had the last time he was here.”
Sy kyk my
toe so half verslae aan en antwoord: “I’m sorry, I don’t know him.”
Duidelik
weet nie almal in Bathurst
ewe veel omtrent die dorp se geskiedenis nie. Die kelnerin vra toe waar ek
vandaan kom en ek antwoord dat ek van Johannesburg
kom—broeiplek van elke sonde wat in die Goeie Boek genoem word, plus nog ‘n
hele paar wat die mense vir hulleself gaan uitdink het. Sy sug toe en sê sy is
op Bathurst
gebore, het daar skoolgegaan, was vir ‘n kort rukkie weg, en nou is sy weer
terug. Sy murmereer toe ewe mankoliek ‘n grafskrif vir haar klaaglied: “And
nothing EVER happens here!”
Dit kon ek
sien, maar oor haar versugting na die liggies van die stad kon ek maar net
stilweg prewel: “Poppie, jy moet oppas waarvoor jy wens. Die Chinese het ‘n
gesegde wat sê: ‘Oppas waarvoor jy wens—want wense word soms wel waar…’”
No comments:
Post a Comment