Saturday, 2 June 2012

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 5


In Glentana sou ons ‘n aangename tien dae deurbring met vriende en familie van oor die hele land. Dit is soms nodig om moeite te doen om ‘n belegging in vriendskap en verhoudinge tussen mense te belê. Ek het eendag een van my beste vriende—‘n mediese spesialis hieroor gevra. Waaroor lê mense en verwyt hulleself wanneer hulle alleen in ‘n hospitaalbed lê met die aasvoëls wat bokant draai—wagtend op die laaste asemteug. Is dit omdat hulle nie harder gewerk het, of meer geld gemaak het, of beter kon leef nie?
Glentana se hoofstrand
“Nee,” het my vriend geantwoord. “Wanneer die aasvoëls draai, dan druk ‘n pasiënt jou hand en beklae hoofsaaklik net twee dinge—die feit dat hulle nie meer tyd met hulle geliefdes gespandeer het nie. En ook dat hulle nie meer kanse in die lewe gevat het nie. Hulle is nie jammer oor hulle foute nie. Dis die kanse wat hulle nooit gevat het nie. Die vakansie wat hulle nooit geneem het toe die kinders nog klein was nie. Die aandag wat hulle nie aan hulle ouers bestee het nie, of die dinge wat hulle altyd saam wou doen, maar nooit kans voor gehad het nie. Dít is waaroor mense in hulle laaste uur die grootste spyt het.”

Ek het hierdie woorde nooit vergeet nie, en ek haal hierdie storie dikwels aan. Wat is die belangrikste inskripsie op ‘n grafsteen? Die persoon se naam? Of sy geboorte of sterfdatum, miskien? Of is dit dalk die Bybelversie wat soms onderaan geskryf staan. Al hierdie dinge is tog belangrik. Maar die heel belangrikste van alles is die klein strepie wat die geboorte datum van die sterfdatum skei. Die klein woorde “tot” wat 1928 van1988 skei. Want daardie strepie of woordjie verteenwoordig die somtotaal van ‘n mens se hele bestaan. Alles wat tel lê opgesluit in die diskrete spasie tussen die uur van ‘n geboorte en die sekonde van ‘n sterfte. En as ons nie tyd maak om daardie gaping te vul nie, word die spyt later dalk te groot. Ek ken ‘n tagtigjare oue dame wat hierdie feit met oortuiging sal beaam…

Die weer in Glentana was onverbeterlik. Soggens het dolfyne in die golwe baljaar en walvisse naby die strand het besoekers vermaak deur die water se oppervlakte met hul sterte te slaan. Ek wil my verbeel dat ek iewers gelees het dat dit iets te doen het met hofmakery of geboorte skenk, maar miskien onthou ek verkeerd. Dalk is dit maar net wat walvisse doen wanneer hulle ‘n lotery kaartjie sonder wen-nommers gekoop het. In elk geval, ek het oral rondgevra waar ek ‘n walvis-jag lisensie kon koop, in die hoop dat ek ‘n bewaringsbehepte Kapenaar kan kwaad maak, maar niemand het my ernstig opgeneem nie. Nou ja, ek het probeer, maar wanneer die Derde Boereoorlog uitbreek sal dit klaarblyklik nie as gevolg van my agitasie wees nie. Snags het ek dikwels gestaan en kyk na die ligte van Mosselbaai wat vrolik anderkant die water lê en blink het. Die lighuis se sein—blink—donkerte, blink-blink, gevolg deur nog ‘n lang donkerte. ‘n Unieke sein wat deur enige skip op aarde geïdentifiseer kan word. Iewers tussen daardie ligte woon Ben Cilliers, weet ek. Ek het gehoop ek sou geleentheid kry om vir Ben te gaan opsoek om oor Voortrekker beendere te gaan uitlê, maar ek het geweet tyd sal dit waarskynlik nie toelaat nie. Soos gewoonlik was ek reg omtrent dinge waaroor ek nie graag reg sou wou wees nie.

Alle dinge kom tot ‘n einde en uiteindelik was dit weer tyd om vir Mev. Ihnken te gaan haal.
“My bags are ready,” het sy gesê, “but I’m not!”
Glentana teen sonsondergang
Ja, dan glimlag ons maar. Ek ken ouer mense. Ek het dus maar eers langs die strand gaan parkeer en toe vir ‘n tyd lank op die sand gaan sit en kyk na die see met die oë van ‘n Transvaler wat spoedig weer die skoon lug vir die stank van Johannesburg moet verruil. Toe ek ‘n kind was het ek gedink dat ek graag ‘n matroos sou wou word. Ek het baie boeke oor see-verhale gelees en ek dink ek sou op die water kon aard. Die see en Antarktika is tog die laaste vry plekke wat oor is op aarde. Met die jare saam het ek begin besef dat iets van my oor-groot neef Andries Hendrik Potgieter se geaardheid nog in my bloed bruis. Noem dit maar die verset teen ingehoktheid. Het ek byna twee eeue gelede op Brakfontein gewoon, sou ek seker onder die eerstes gewees het wat sou saamstem dat ons heil anderkant die Grootrivier gesoek moes word. Maar vandag is daar nie meer ‘n Grootrivier waaroor ‘n man kan trek wat genoeg gehad het van ‘n samelewing vol misdadigers wat gekenmerk word deur die stadige kanker van die verval van moraliteit en beskawing nie. Vandag bly nog net die see en die wildernis van die suidpool oor en beide hiervan is nie eintlik veel van ‘n opsie nie. Nee, Johannesburg met haar koue hart van goud het geroep en haar onwillige slaaf moes maar gehoor gee. ‘n Klomp jellievisse het op die strand uitgespoel na die vorige twee dae se storms. Ek voel-voel aan een en rol sy dooie vlees om met die voet. “Cheers, ou pêl. Ek sien jou soort eers volgende jaar weer.” En toe draai ek maar die rug op die bloue horison en stap die duin weer uit. My ou passasier was by hierdie tyd gereed, en in ‘n japtrap brand ons weer die berge uit op pad na die noorde toe.

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 4


Die volgende dag het gebreek soos dagbreek dikwels in die Karoo kom—vaal en stil met die gekrys van fisante en die gesketter van tarentale iewers langs die rivier. Fourie het ‘n nuwe plaas gekoop en moes vroeg roer om daar te begin dinge doen. Joan moet Cradock toe, en voor ek die hek gaan oopmaak waar ‘n rooi perd aan die veld-vygies staan en peusel, kom sy aangestap met ‘n pakkie padkos. Joan is van Engelse afkoms, maar sedert Voortekkertye al het Engelsprekendes en Boere dieselfde taal gepraat in die grensgebiede. Die kultuurverskille maak hier nie saak nie, want hier staan almal rug teen rug teen die natuur en wat ookal anderkant die berge met die tande ontbloot lê en wag. Dit is hoe ek my mense nog altyd geken het—ware Afrikaners. Gasvry, hartlik en vol van die liefde van ou Afrika. Ons groet soos ou familie en ek moet belowe om kontak te hou. Dit is iets wat mens met graagte doen by hierdie wêreld se mense.

Van Commandodrift af kronkel die pad seker ‘n goeie 40 km of meer verby Lake Arthur, om uitendelik weer by die Tarkastad-Cradock teerpad met sy onnosele spoedgrens aan te sluit. Langs die pad kom ek net een bakkie teë, en in die ry sit ek en dink wat Fourie my omtrent die ekonomie van die streek vertel het. Hier kan jy goed leef, het hy gesê, solank jy nie meer spandeer as wat jy maak nie. “Ek sal jou in hierdie valleie huise wys wat soos South Fork lyk.” Ek weet. Ek het al van hulle gesien, en dit hoort so. So ‘n waardige landstreek verdien waardige tuistes.

Op Cradock was geen kans vir stop nie. Almal waarsku my in elk geval elke jaar om nie sommer met goed in die kar in Cradock te stop nie, want die dorp het maar sy eie kompliment grypdiewe en tsotsi’s. Dit kan seker nie erger as Johannesburg wees nie, maar ek is nie lus om die bagasie op die agtersitplek weg te steek nie, en ek is in elk geval te haastig. Ek het ‘n afspraak om 9-uur op Aberdeen te wees. Van Cradock af is dit ‘n baie mooi pad Graaff-Reinet toe. Ek verlustig my in die uitgestrekte skoonheid van die Karoo wat dynend die verte inrol totdat dit tussen pastel-blou bergreekse oplos en in die sagte oggendlig verdwyn. Die spietkops slaap nog hierdie tyd van die oggend, maar ek hou iewers naby die verspotte spoedgrens en dit voel vir een maal vinnig en vry. Die motor brand sorgeloos oor die breë horisonne terwyl Joan Baez op die radio sing:

May God bless and keep you always
May your wishes all come true
May you always do for others
And let others do for you
May you build a ladder to the stars
And climb on every rock
And may you sta-a-a-a-y forever young!

Dit laat mens voel asof die Voortrekkertye en die ruimte eeu hier, op die teerpad alles saam kan meng, en asof daar uiteindelik tog ‘n toekoms vir ons stom-vernielde land kan wees. Miskien nie dadelik nie, maar uiteindelik tog—al is dit in die verre toekoms in. “Forever young—forever young—forever young—may you sta-a-a-a-y forever young…!” Dis ‘n mooi lied en ‘n mooi pad en mens wens teen die verwagting van redelikheid in dat dit nooi sal ophou nie. Maar dan kom die volgende snit aan die beurt. Melankonies en rustig. “Well I’ll be damned—here comes you ghost again. But that’s not unusual. It’s just that the moon is full and you happened to call…”

Graaff-Reinet lê soos hy nog altyd gelê het—waardig beskut in die beskermende ellemboog van berge wat gebore was in die tyd toe dinosourusse die aarde bewandel het. Ek het te min klere ingepak in my oornagtassie, en kom een hemp kort—tensy ek lus is om onder al die bagasie my groot tas uit te sleep. Ek stop en loop gou die klerewinkels deur wat al oop is, maar daar is niks wat my geval nie. A wit cowboy hemp wat te klein is, en ‘n klomp sintetiese skeppings wat meer geskik lyk vir tieners en strand-hippies. My sin vir avontuur is nie groot genoeg om die generasiegaping suksesvol te oorbrug nie, dus betaal ek die parkeermeter-kêrel wat bakhand met ‘n ding in sy hand staan wat lyk soos ‘n sakrekenaar wat rekord hou van wie hoe lank waar geparkeer het.

Ek het al vantevore geleer dat Graaff-Reinet nie eintlik ontbyt bied so vroeg in die oggend nie, en vir ‘n Steers ontbyt sien ek regtig nie daardie dag kans nie. Dus dreun ons maar deur die ou dorp waar reisigers vir 200 jaar lank op die rand van beskawing gehuiwer het nie. Aan die regterkant troon Spandaukop vol misterie, en dan rol die berge glorieryk en majestieus terwyl die teerpad suidwaarts golf in die groeiende somerhitte. Hier weet ek sit die spietkops ook graag, dus stel ek maar die motor se spoedkontrole versigtig in en sit agteroor sodat tegnologie die versoeking elimineer om die gesag van die wet uit te daag. Nee, daar is nie nodigheid op so ‘n mooi dag nie.

Op hierdie manier maak ou Aberdeen homself bekend, omtrent so diskreet soos altyd. Die dorp het in ‘n hele jaar nog niks verander nie, en ek glo dit kan seker van die laaste tien jaar ook gesê word. ‘n Wilde draai om die statige ou NG Kerk met sy buitengewone hoë toring, en dan ‘n stop langs die huisie van Annelise Ihnken. Ek het verlede jaar van haar geskryf, en het besluit dat dit in orde sal wees om haar maar weer saam te neem kus toe. Ek arriveer op die minuut 9:00 uur, en vind haar reeds wagtend op die stoep—asof enige persoon wat van ver gekom het sonder uitsondering altyd betyds sal wees. En dan draai ons die neus weer suidwaarts en skeur die breë Karoo oop terwyl die jare terugrol. Dis die Vallei van Verlatenheid, maar binne die motor word dit 1943 terwyl Geallieerde bomme op Duitsland neer reën.

Mev. Ihnken se tagtig somers word weer 18, en ek luister met verwondering hoe ‘n jong meisie van haar ouers geskei moet veg om te oorleef. Die hitte-gloed terwyl Dresden brand, die angs van Russiese soldate wat haar sou doodskiet as hulle kon sien dat sy die soldatestewels van haar vader dra—‘n Pruisiese offisier in die Duitse Geheimediens op die front van Siberië. Die hongersnood en gevoel van verlatenheid terwyl sy verwese deur die strate van verkrummelende stede rondswerf op soek na herberg en ‘n maaltyd. Aan weerskante van die pad lê die wêreld grys en eensaam in die enormiteit van die landskap. Die horisonne staan gesmelt sodat hulle vormloos in die hittegolwe en deinserigheid hang.  Hitler, vertel sy my, het aan hulle ‘n nasie-trots en selfrespek gegee. En dit daarvoor, ten minste, kan niemand hom verkwalik nie. Ek stry nie, maar maak tog melding van die skadu-kant van sy karakter. Daar is goed in selfs die boosaardigste moordenaar wat ‘n muis met tere liefde grootmaak in sy sel van eensame afsondering, maar soms is die geweld van ‘n man se karakter so groot dat dit moeilik is om die sprank van goedheid raak te sien. “You must remember,” sê sy my, “no matter what the history books say—I was there. I personally heard Hitler speak…”
Mev. Anneliese Ihnken voor haar huisie in Aberdeen

Die woorde herhaal myle ver nog in my gedagtes terwyl die ou dame se verhaal verby ‘n verpletterde Duitsland in laat 1945 verby loop en dan mik na ‘n advertensie vir ‘n goewernante in Duitswes-Afrika. ‘n Nuwe lewe en ‘n nuwe hoop na ‘n verbryselde volk waar vrouens mans soms met 10 tot 1 oortref het. En daar, in die sonverbrande sand van Luderitz, Karabib en Windhoek het ‘n nuwe lewe begin. Liefde en leed wat oor die jare herhaal het soos in die lewens van so baie oorlogverwaaide swerwers wat elders ‘n heenkome moes soek. Die gespartel van ‘n enkel-ouer om ‘n kind suksesvol groot te maak. Ongeluk en elende. Die oorlewingstryd van 1945 sou dekades lank nog voortduur. Dit is ‘n treurige lewensverhaal vol tragedie. Maar oumense het soms ‘n manier om oor sulke dinge te praat asof die jare die trauma daarvan versag het.

Ek luister vervoerd terwyl ons by Uniondale verbyskuur. Alta Roux se stories oor die Spookmeisie van Uniondale maak ‘n danspassie deur my gedagtes en ‘n glimlag speel oor my gemoed as ek haar vertelling uit die ou GenForum dae onthou. Vir ‘n oomblik is ek terug op ‘n donker, stormagtige nag in Oktober, 2000. Ek het daardie dag die Outeniekwaberge met sononder oorgesteek en op hulle kruin het dik wolke en duisternis my ingesluk. In die Langkloof was dit reeds middernag-donker met rukwinde en ‘n bitsige ysreën wat teen die motor se ruite getimmer het soos die krom naels van ‘n onsigbare swart kat wat wil binnekom. Daar sou daardie nag nie slaap wees nie, want ek moes skuins na sonop die oggendvlug na Amerika op Jan Smuts haal en ek het geweet dit sou ‘n uitmergelende reis wees. Die perfekte resep vir ‘n ontmoeting met die Spookmeisie van Uniondale. Hoe het Anton Goosen se storie nou weer gegaan?

Blommetjie gedenk aan my, en sy lig haar duim na bo.
Blommetjie gedenk aan my, sing die spook van die Klein Karoo

Ek het nogal daardie aand uitgekyk, maar al was die tyd en omstandighede perfek, het die Kamanassie berge nie “geil gespook” by daardie geleentheid nie. Ook maar beter so, dink ek, want daar was nie tyd vir stop en speletjies nie. Dis ‘n lang pad na die Goudstad toe.

Maar dis maar een van vele gedagtes terwyl die ou dame onophoudelik praat. By Willowmore was my ou vriend, Dr. Don Diespecker in Australië, se pa die bevelvoerder tydens die Boereoorlog. Ek het nog net eenmaal daar gestop om brandstof in te gooi en toe het dit nogal gelyk of daar nog nie veel kon verander het sedert die Boereoorlog nie. Dit tref my elke keer om te besef hoe futiel die struwelinge van die mensdom tog is. Dat ou Don en ek nou vriende moet wees terwyl ons voorouers skaars ‘n eeu gelede so hard probeer het om mekaar om die lewe te bring. Die ou dame langs my se verhale bevestig hierdie gedagte as ek dink hoe haar pa en my oupa sou gereageer het as hulle mekaar oor die oop visier van ‘n geweer sou moes gesien het. En vandag maak dit eenvoudig nie meer saak nie. Ek deel wat op my gemoed is, maar ek is nie seker of sy my mooi verstaan nie, dus besluit ek om maar liewer weer stil te bly. Met die ouer geslag is dit soms geriefliker om eerder luister as om te praat.

So tussen die gesels deur sprei die Langkloof onverwags en ontvang twee vreemde reisigers ontvang asof nog twee siele geen verskil aan sy rus en vrede gaan maak nie. Dis sommer grys van die droogte soos ons verbyry. In die Langkloof luister ek hoe my ou vriendin se bejaarde ouers in Duitsland in ‘n woonstel teruggetrek het met hulle herinneringe aan die verlede en hulle verbittering oor verpletterde drome en ideale. ‘n Ou geheime diens offisier van die Derde Ryk wat verfrommel weggegooi word, onopgemerk deur die boeke van geskiedenis, en sy eggenote. Die een half-doof en die ander half-blind sodat hulle vreemdelinge in dieselfde huis geword het. En dan die afsterwe en die verdriet wanneer die irriterende ou lewensmaat van soveel dekades skielik nie meer daar is nie. Kort daarna, het die ou offisier ook gevolg—soos so dikwels die geval was. ‘n Familie uitmekaargedryf deur die Tweede Wêreldoorlog en ‘n enkele dogter in Suid-Wes Afrika wat opgespoor kon word om haar vader ter see in die gebiedswaters van moderne Duitsland te gaan begrawe.

Dit herinner my opnuut daaraan hoe vlietend die lewe is. En hoeveel pathos en ironie daar so dikwels agter die name, datums en plekke op elke genealogiese geslagsregister lê. Agter elke stel datums, so klinies afgerond en netjies, skuil die skadu van ‘n siel wat eens op ‘n tyd ‘n mens was. Iemand wat liefgehad en verloor het, wat gelag het, en uit hierdie lewe alleenlik kon saamneem dit wat hy geslaag het om agter te laat. Alles ‘n gejaag na wind, het die Prediker gesê, maar ook net as mens jou oë toelaat om die horisonne van ‘n menslike lewe as die finale grensgebied te beskou. Vir my was horisonne nog altyd ‘n illusie. ‘n Misterie waaroor ek bly wonder het sedert ek ‘n kind was. Horisonne is altyd sigbaar, en tog bestaan hulle nie werklik nie. Want solank mens vorentoe bly beur, sal horisonne altyd plek maak voor jou, en nuwe wêrelde sal bly ontvou vir solank as wat daar beweging is—selfs in die Langkloof met sy skurwe ou berge en droë landerye waar vaal volstruise met oop bekke in die son staan en hyg.

Mev. Ihnken se lewensverhaal rol met die gemaklike tempo van iemand wat wil seker maak dat haar lewe deur ten minste een ander mens op aarde onthou sal word. En ek luister geduldig want ek weet eendag sal daar nie weer ‘n geleentheid wees nie, en elke woord is kosbaarder as wat dit juis nou voorkom. Jare in die geselskap van oumense het my geleer dat die grootste geskenk vir ‘n oumens dikwels net ‘n gewillige oor is. Geld en goed het sy in elk geval tog nie nodig het nie.
“Look my dear, I’m nearly eighty,” het sy aan my verduidelik. “What do I want with money?”
En met daardie woorde kom die lieflike hops-lande van die Klein Karoo in sig, en begin die pad die statige Outeniekwa berge uitkronkel. Ek wens altyd ek kon net vir ‘n oomblik ‘n paar honderd miljoen jaar terugkyk toe daardie berge gebore was. Maar nou kan ons maar net die majestueuse hoogtes aanskou en stilweg wonder. Dit is ‘n plesier om te voel hoe moderne tegnologie die styltes opvreet sonder om te huiwer. Die pad loop die vlies-agtige wolke binne, en dan bars jy oor die toring-hoë bergpieke in ‘n ander wêreld in.
“Look—the sea!” beduie die ou dame met haar vinger en ek moet glimlag.
In elke tagtig-jarige skuil opsluit nog steeds ‘n klein dogtertjie wat borrelend kan lag by die aansig van die blou water in die vertes. Elke jaar wens ek ek kon stop en eers proteas en heide gaan pluk in die berge, en elke jaar doen ek dit nie. Dis tog ‘n jammerte, want eendag sal ek terugkyk en wens dat ek dit tog maar gedoen het.

Tyd is egter almal se vyand, en die dag se ure loop al weer stadig-aan leeg. Ons gaan koop die noodsaaklikhede vir ‘n week by die see en sak dan rustig af Glentana toe. Dit is ‘n lieflike kus-dorpie wat onder die haaslip van ‘n landkors verskuil lê. Mooi groot, nuwe huise sonder ‘n deurloop van vreemdelinge, of die aantrekking van winkels. Daar is geen branderplankryers wat sit en bier drink op die strand, of verveelde sonverbrande vleispaleise in spieël-glas sonbrille wat ruik na klapper-sonbrandolie nie. Ook geen wit-haar blondines met tattoeërmerke van skoenlappers en Chinese tekste op hulle skouers, en ringe deur hulle oogbanke, neusvleuels en naeltjies nie. Ek is progressief wat denke aanbetref met baie dinge, maar liggaamsperforasies en ink onder die vel, duinebesies en hare wat net een maal per maand onder die volmaan gewas word het my nog nooit beïndruk nie. Dis maar die ou Boer in my, dink ek. Iets wat resoneer met die waardes van ons voorvaders—ten goede of ten kwade, dit kan elkeen maar vir homself besluit.

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 3


Na ‘n vrugtevolle nag van genealogiese kruisbestuiwing waar ek helaas by verre die grootste ontvanger was, kon ek weer terugkeer na ‘n rustige in die Statige Gastehuis. Die volgende oggend het Marthinus reeds in die gastehuis se restaurant gereed gestaan met ‘n uitgebreide ontbyt en ‘n lekker geselsie vir oulaas. Die restaurant het heelwat gaste wat vroeg ontbyt eet en die oom en tannie langs my sê hulle is op pad Pretoria toe van die Kaap af. Ek waarsku dat die spietkops van Gauteng aggresief is. Ek het vyf stelle van hulle teëgekom voor dit donker geword het. Dis soos die rowerbaronne langs die Rynrivier in Duitsland. Langs elke tweede brug sit een en kyk deur ‘n kamera op ‘n driepoot. Die oom en tannie sê egter dat hulle nie gepla is nie want hulle is nie haastig nie. Ek knik en begin kriewel om self te ry. Daar is nog ‘n lang pad vorentoe.

Met my vertrek voel dit soos dit gewoonlik voel na ‘n ontmoeting met ‘n genealogiese mede-navorser. Mens voel so bietjie soos ware familie. Ek hoop om Marthinus Jordaan en sy vriendelike gastehuis vorentoe weer te besoek, en ry weg met my nuut-gekoopte eksemplaar van sy uiters leersame proefskrif: “Die Jordaan Familie. ‘n Historiese ontleding van hulle genealogie en die vestiging van ‘n toerismeroete.” Iets om lekker te lees wanneer die spoke die slaap verdryf in nagte wat kom.

Na Bloemfontein draai die pad slap links en dan weer regs na Dewetsdorp - ‘n tipiese klein, vaal Vrystaatse dorpie. Stil en verlate op ‘n Sondag-oggend. Ek stop by ‘n monument in die hoofstraat en neem foto’s om met Fotki te deel. Dis maar ‘n kort stoppie. Die dorp se trekker-museum is toe so ek vertrek dan weer—sig-sag om die gate in die teerblad. Die pad dra omtrent geen verkeer nie maar die spoedgrens is ‘n misrabele 100km/h. Een van daardie onbegryplike onnoselhede wat die verduideliking van alle logika sekerlik ontwyk. Ek wonder wie het die pad se spoedgrens oorspronklik uitgedink? Seker een van daardie dik-raam bril omies met borselkop hare vol Brylcreem wat lankal al pakket gevat en by die see gaan aftree het. Die held van geslagte van spietkops wat motoriste kan beboet waar hulle geen gevaar vir enigiets anders as ‘n meerkat inhou nie.

Daarna kom Smithfield aan die beurt. Nog ‘n slaperige, aantreklike ou dorpie. Ek stop by ‘n monumentjie langs die hoofstraat en neem sommer deur die venster ‘n foto of twee. ‘n Kombi vol skoolkinders ry verby, waai en skree vriendelik woorde van groete of aanmoediging. Of miskien het ek verkeerd gehoor en was dit eerder, “wat kyk jy, ou Gautenger?” Ewenwel, ek verwens opnuut my wit en blou GP nommerplaat wat vir die hele heelal aankondig dat ek ‘n ontsnapte inwoner van die Hoofstad van Misdaad en Universiteit van Tsotsi’s is.

Van hier af begin die wêreld geleidelik interessanter word. Aliwal-Noord is ver suid maar die “enjin word dromerig stil,” soos Laurika Rauch sing, en ek hou aan foto’s neem—sommer so in die ry. Al is dit net om te wys hoe die wêreld hierlangs lyk. Aliwal-Noord self lyk of dit in die nuwe Gestapo hoofkwartier omskep is en ek begin al voel hoe ek die hele kar sal moet afpak by ‘n pad blokkade—totdat hulle dalk ‘n vergete pakkie .22 patrone ontdek, of enigiets waarvoor ‘n onskuldige naïewe Suid-Afrikaner ‘n naweek in die tronk kan spandeer. Dis egter maar net ‘n vragmotor wat in die hoofstraat gebreek het. Ek is nogal beïndruk. In Johannesburg gebeur sulke goed elke dag en geen spietkop of polisieman verwerdig homself om in te gryp nie. Die verkeer kan maar van Johannesburg tot in Pietersburg opdam en  dis maar goed want as die vragmotor nie vanself verdwyn nie sal hy in elk geval na 800 jaar weggeroes wees. Maar in Aliwal-Noord word alles afgesper, vriendelike polisiemanne kanaliseer die verkeer langs ‘n ander roete, en laat mens weer voel of jy in ‘n beskaafde land woon. Volpunte vir Aliwal-Noord!
Die konsentrasiekamp gedenkterrein op Aliwal-Noord

Net buite die dorp stop ek by die konsentrasiekamp gedenktekens. Die ou grafstene is binne die gebou agter hekke toegesluit teen vandale. En op hierdie manier kon ek hulle nie lees of fotografeer nie. Treurig. Ek word egter wel bygeloop deur ‘n ryloper met die naam van Shane wat begin deur te sê, “mooi né?”
Wel, ek weet nie of ek persoonlik die woord “mooi” sou gebruik het nie, maar daar is wel iets spesiaals aan hierdie gedenk terrein waar soveel onskuldige lewens so onnodig verlore gegaan het. Die man verduidelik sy voertuig is in Bloemfontein gesteel en hy soek ‘n geleentheid Port Elizabeth toe. Na die vyfde keer wat ek met sulke sop-stories gevang is het ek myself belowe dat ek nie weer ‘n teiken gaan wees nie, dus moet ek maar simpatiek vir die man verduidelik dat ek enige tyd vir hom hulp per selfoon sal ontbied, maar rylopers met lang stories en ek het nie meer ‘n toekoms saam nie. Niks persoonliks nie, maar dis die land waarin ons woon. Die ryloper trek sy skouers op en gaan staan weer by die kruispad. Ek dag ek sou hom later ‘n pak soutige aartappelskyfies gee, maar ek kry ‘n vuil kyk met die uit-draai en toe dog ek miskien sal die skyfies hom dors maak en dan vloek die man my eers. Ek huiwer tot die motor in tweede rat is, en toe is dit te laat om te stop, dus druk ons maar deur Queenstown toe.

Van Aliwal af raak die wêreld al mooier en mooier en ek is altyd jammer dat ek die geweste nie eintlik ken nie. Sonder verkeer vorder alles vlot en kort voor lank daal die pad af na Queenstown toe. Daar kruip die gebruiklike spietkop weer agter ‘n kamera weg soos ‘n bosluis op ‘n grashalm wat wag om die bloed uit ‘n agtelosige toeris te suig. Ek wonder wie het spoedkamera’s uitgevind en sukkel om my gedagtes rein te hou. Uit protes besluit ek om nie brandstof in Queenstown in te gooi nie. Laat hulle dan maar hulle valuta uit spoekaartjies verdien. Die pad draai na regs af Tarkastad toe, en weereens is dit ‘n belaglike 100km/ spoedgrens op ‘n pad waar ek presies drie voertuie teëkom. Dit is om van gek te word as die son begin water trek en mens is haastig. Ek dink weer aan die dikraam bril omie wat die reëls uitgedink het en hoop die seelug het sy kar al drie maal vrot laat roes.

Tarkastad is soos hy nog altyd was. Ek gooi brandstof in by die garage, omring deur Taxis en luidrugtige Xhosas wat doef-doef musiek speel sodat die hele ekologie ineenkrimp. Dis my straf omdat ek nie op Queenstown wou brandstof ingooi nie. Vies probeer ek onthou waar ek my traangas kannetjie gebêre het, maar dis nou te laat. Dis iewers onder al die bagasie. In die hoofstraat van Tarkastad loop ‘n bruin koei, rustig en sonder stres. ‘n Klompie kinders kyk my skeef aan soos ek kruis en dwars ry om die regte uitdraai pad te kry, en dan vind ek hom—reg verby die lokasie en suid-wes, Commandodrift toe. Dis waar ek wil wees. Dis so 25 km of so iets, die plaasmense was nie baie definitief nie, maar die pad is betreklik seker.
Slang-stert langs die pad. As hy jou byt...

Ek stop om ‘n enorme geel slang met ‘n swart stert af te neem. Ek weet nie wat dit is nie, maar ek is seker as hy jou byt gaan jy die Tarkastad Herald se voorblad haal—of wat hulle koerant ookal heet. Na hom is daar ‘n bietjie ape in die pad maar verder is dit afgesonder en verlate. Grondpad. Nie te goed nie en nie te vrot nie. Eg Suid-Afrikaans. En dan moet ek begin motorhekke tel. Net voor die derde motorhek moet ek regs draai na die Commandodrift Reservaat, maar dit lyk nie soos ek my voorgestel het nie, en ek ry eers verby totdat ek besef dit was ‘n fout. Omdraai en terugry, dan links draai en uiteindelik by die eerste plaaswerf stop. ‘n Groot man in kakie klere kom uitgestap en beduie ek moenie onder die doringboom parkeer nie want hy vertrou nie die boom se wortels nie. Ons groet. Fourie Schoeman is die naam, sê hy. “Kom binne dan drink ons iets.”

Ek is heel opgewonde om te kon arriveer. Die huis lyk modern maar die hart daarvan is nog dieselfde huis waarin die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter en sy familie gewoon het. Dit is vir my ‘n besonderse historiese ervaring en ‘n ware voorreg. Ek beduie nog dat ek net gou moet reëlings tref vir akkommodasie op ‘n gasteplaas daarnaby, maar Fourie waai die voorstel onmiddellik af. “Op my plaas ry niemand na 12:00 nie. Ons vat nou jou goed spaarkamer toe.”

En dit was die einde van die argument. Een ding het ek al van Karoo boere geleer. As jy nie oppas nie sal hulle jou stukkend kuier. Dis hartlike mense daardie. Sout van die aarde. Mense van karakter soos daar onder die moderne geslag nie meer baie van bestaan nie. Dis my soort mense met gewoontes en maniere waarmee ons nog grootgemaak is. Sy vrou is Engels en haar naam is Joan, maar sy bring koffie en tee op ‘n skinkbord met beskuit, netsoos dit in die Potgieters se tyd sou gedoen gewees het. Ek verkyk my aan die huis. Die muure is baie dik en Fourie verduidelik dat daar omtrent enigiets in die muure ingebou was, van klippe tot planke en ander rommel.

Die huis is natuurlik oor die jare baie verander, maar hulle wys my foto’s van hoe die huis oorspronklik gelyk het en ons raai dat dit seker ‘n rietdak en –plafon sou gehad het. In die eetkamer staan ek voor ‘n ou voorlaaier teen die muur en wonder: hoeveel keer sou my oupagrootjie se oupagrootjie se oupagrootjie Frans Labuschagne hier met sy Potgieter familie gekuier het? Hoeveel jagstories is tussen hierdie vier muure vertel? Hoeveel keer is daar gekla en gesug oor die Xhosa aanvalle, die verval van infrastruktuur, die sukkelende landbou kommoditeitspryse, die stygende insetkostes, veediefstal, burokrasie en politieke dubbelsinnigheid? Dit is alles tema’s wat ons daardie middag in die sitkamer sit en herhaal asof byna 195 jaar nooit verbygegaan het nie. En toe sê Fourie: “Nou kom ek gaan wys jou my ysters en dan gaan kyk ons bietjie by Brakfontein.”

Eintlik is ek verskriklik haastig want die son sak en die lig word min en ek wou nog foto’s by Brakfontein neem. Maar ek kyk eers na die lapa wat Fourie twee jaar lank aan gebou het. Ongelooflik. Gebou uit karaktervolle stukke hout van die plaas af, en die oorskot van ou ossewaens wat op die plaas gestaan het. Elke plank en balk diep verweer deur rysmiere en die elemente soos die plooie op die voorkop van ons oupas en oumas. In een hoek is ‘n ry geelkoper krane waaruit jy drank kan tap soos water in ‘n wasbak. “Booze on tap,” dog ek by myself. Daarnaas staan ‘n yskas wat Fourie verniet gekry het, en toe met yster beslaan het en opgedollie het sodat dit na iets tussen Art Deco en X-files lyk. Regtig oorspronklik. Die braaiplek is tussen die vellings van wawiele gebou, en aan een muur is ‘n spit-braai es waarin jy ‘n lang maer vark met elegansie op die spit sal kan braai. Wel, seker ‘n bok of ‘n skaap, maar dit is groot genoeg vir ‘n lang maer vark. Regtig. Die ligte is uit koedoe horings gemaak. En oral is kleinighede en dekor wat wys dat die Boere van die Karoo nog die kuns verstaan om dinge uit niks te kan maak op so manier dat dit vir stadskinders na iets lyk wat baie geld moes gekos het.

En dan die ysters. Dis Fourie se 1950’s Unimog wat hy vir R2,000 op ‘n skrootwerf gekoop en byna perfek gerestoureer het. En ‘n pragtige ou John Deere trekker wat bottel-blink nuutgemaak is en vandag weer so goed ploeg soos toe hy nuut was—lank voordat ek gebore was. En toe ry ons Brakfontein toe. My belangstelling in Brakfontein berus op ‘n raaiskoot en lê gewortel in die fassinering met die woonplekke van ons voorvaders. Tydens die Slagtersnekverhore in 1815, het my oupagrootjie se oupagrootjie se jonger broer getuig dat hy gebore was op sy vader se plaas Brakfontein aan die Groot Visrivier. Hierdie plaas Brakfontein was weliswaar nie besonders naby die Groot Visrivier nie, maar by gebrek aan ander ooglopende plase met dieselfde naam moes ek raai dat met “Groot Visrivier” eintlik ‘n generiese streeksverwysing bedoel was. Maar daar was nog ‘n potensiële leidraad.

My oupagrootjie se oupagrootjie was Leendert Labuschagne. En dié se pa was Frans, of “Ou Labuschagne,” soos hy tydens die Slagtersnekverhore genoem was. “Ou Frans” Labuschagne was goed bevriend met Hermanus Potgieter, die vader van Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter. Hy was ook met Hermanus Potgieter se suster, Cornelia, getroud gewees, en het jare gelede saam met die Potgieters in die Bruintjieshoogte gebied gevestig. Daar was dus bande van familie, vriendskap en die verlede wat die Labuschagnes en die Potgieters aan mekaar verbind het. En toevallig lê die plaas Brakfontein langs die Potgieter plaas, Commandodrift aan die Tarka. Sou dit bloot toevallig wees, of kon daar ‘n verbintenis wees? Op Brakfontein het ek gehoop om minstens ‘n leidraad te vind.

Genealogie is baie soos ‘n speurverhaal en ongelukkig is die verlede nie noodwendig altyd oorgretig om kritiese leidrade bekend te maak nie. Hierdie was so ‘n geval. Die son het al laag begin sak toe ons die pad Brakfontein toe gevat het. Netsoos in die Baviaansriviervallei, nie ver daarvandaan nie, is Brakfontein in ‘n lang, smal kloof geleë wat diep die berge in kronkel en op verskeie plekke ‘n droë rivierlope kruis. In die swak lig moes ek maar my foto’s so in die ry neem terwyl Fourie Schoeman vertel van die streek en sy mense. Aan regterkant lê ‘n ou murasie van klip en mens kan maar net wonder wie het eens op ‘n tyd daar gewoon en watter familie se heil en trane is hier gevorm. Verder aan staan ‘n ou kerkie—nog goed behoue, maar dig gesluit en sonder lewe. Hier in die Palmkloof kerkie, vertel Fourie my, is tot in sy dae nog bymekaargekom deur die mense van die omgewing. Rondom staan nog die oorblyfsels van nederige klein nagmaalshuisies—droog gebakte muure wat ‘n lêplek vir wilde diere van die veld geword het, met leë vensters wat soos die oogkaste van ‘n skedel oor die Karoo tuur. Tyd vir stop was daar egter ongelukkig nie, want Brakfontein lê nie veel verder aan nie, en die lig begin kwyn.

By Brakfontein self was daar egter ongelukkig nie veel om te sien nie. Die ou opstal wat eens op ‘n tyd hier gestaan het, is tot op die grond afgebreek. Agter hom is ‘n nuwe huis in die 1950’s gebou, en dit het beteken dat daar nie juis vêrdere leidrade was nie. Geen grafte nie, niks. Dit is eintlik nie heeltemal verbasend nie, want in alle waarskynlikheid was die Labuschagnes soos baie ander pionier families maar betreklik nomadies van aard. Heel moontlik was hulle verblyf op Brakfontein—as ons eers van dieselfde Brakfontein praat—relatief kortstondig. Hoe dit ookal sy, daar was nie werklik getuienis van inwoning wat pertinent dui op ‘n voor-Groot Trekse teenwoordigheid nie, en dus was dit ook nie moontlik om verdere afleidings te maak nie. Ewenwel, ek het so in die ry maar ‘n paar foto’s afgedruk en gehoop dat indien daar later dalk vêrdere helderheid gevind kan word, die foto’s miskien iets sou kon beteken.

Op Brakfontein is daar egter wel iets wat redelik uniek is. Naby die opstal staan ‘n taamlike groot, moderne minerale water fabriek. Dit lyk baie skoon en gesofistikeerd. Die groot wit gebou kom egter byna as ‘n skok van kontras in die stil vallei waar mens net jou oë hoef te sluit om die geklap van Voortrekker swepe en die geknars van wawiele te kon hoor. Van hier af loop die pad verder die berge in, om uiteindelik by die Baviaansrivier vallei se grondpad aan te sluit, nie ver berg-op van die historiese ou Glen Lynden kerkie waar so baie bekende Boere families se wortels lê nie. Ons het egter op Brakfontein omgedraai want Fourie wou my nog in die laaste lig gou die Commandodrift dam gaan wys. Dit was vir my jammer om so gou te moes omdraai, want ek sou graag nog eers wou rondstap en dink en wonder. Maar ek wou darem die dam ook graag sien, en die besoek was inderdaad die moeite werd. Dit is ‘n verbasende groot dam met ‘n reusagtige opvanggebied.

Rondom die dam is mooi klein Parkeraad kliphuisies—regtig basies, maar baie skoon en netjies. ‘n Paar vissermanne het rondgestaan en begin gereed maak om huis-toe te gaan terwyl die Tarka se Karoo stil en waardig in ‘n sagte salm-kleur gebaai was deur die ondergaande son. Dis ‘n ander tipe wêreld hierdie wat ek nie ken nie, maar ek kon sien dat mens vir hom sou kon lief word. Fourie Schoeman het eens op ‘n tyd naby Ermelo geboer, maar die Karoo is waar hy wortel geskiet het. “Jy sien, dis winter en dis groogte, maar kyk net hoe vet is die vee nog,” het hy beduie. Vir my is dit ‘n paradoks, want vir my oog was daar byna niks om te vreet nie. Maar dit is maar net omdat die land van my voorvaders vir my vreemd geword het. Om te Karoo te leer ken is duidelik om hom te leer lief kry.

Daardie aand gesels ons tot 10:00 in die sitkamer—langs die ou Voortrekker Potgieters se eetkamer. Fourie en sy pragtige vrou, Joan, laat my toe om hulle foto-album te kopieer. Hierin is ‘n klomp foto’s van hoe die huis oorspronklik gelyk het. Dit is ‘n tipiese ou pioniershuisie—dik muure, spits dak—‘n stil en waardige plek waar ‘n groot familie saans om ‘n olielamp sou boeke gevat het. ‘n Rietdak-bedekte hawe waarin hulle snags moes lê en luister of daar nie miskien die geluid van Xhosa voete om die hoek kom nie, of die sagte rumoer wanneer Fingos die beeste uit die kraal kom steel nie. En laat-aand, wanneer ou Hermanus Potgieter uitgestap het om bekommerd ‘n pypie te gaan rook in die aand-bries, sou hy sekerlik die donker bosse ingetuur het op soek na die glim van die maan se lig op ‘n staal assegaai lem. Dit was nog vreemd vir my om behoorlik in te dring. Die wêreld van my voorgeslagte. Die grond van hulle liefde en die produk van hulle verset teen verdrukking en vreemde oorheersing.

Fourie vertel my hoe ryk die aarde hierlangs is. Sy plaas lê op die walle van die Tarka rivier en ek kon nie help om my verwondering oor die sterk struktuur en mooi kleur van die grond uit te spreek nie. “Jy weet,” het hy gesê, “ek het hierdie landerye, laat ek sien… omtrent vyftig jaar gelede gemaak. En ek het nog nooit ‘n enkele keer kunsmis toegedien nie.” Dis nie groot landerye by die standaarde waaraan ek gewoon is nie, maar ek kon sien dis grond waar lusern geil kon groei. Vir my wat gewoond is aan suur grond waar niks meer as ‘n jaar behoorlik wil groei sonder bemesting nie, klink dit soos die Paradys soos dit was voor Adam en Eva alles vir ons loop en opfoeter het.

Vir ‘n Voortrekker familie sou dit ‘n vriendelike land gewees het. Voedingsryke weiding, mildelike water, diep grond wat groot oeste sou kon lewer, en ‘n gevoel van vryheid, maar ook ‘n gevoel van verborgenheid so diep tussen die berge. Hier sou mens jou maklik kon verbeel dat die moordlustige hordes in die ooste en die inmengerige Engelse in die suide en weste nie bestaan het nie. Maar die realiteit was heel anders. Selfs hier, het die lang arm van Imperiale Brittanje bygekom, en selfs hier het die gejil van Xhose krygskrete die stilte verstoor. En toe wonder ek of dit vir die Potgieters en die Labuschagnes dieselfde gevoel het as wat dit vir baie Afrikaner families vandag voel om eendag oor hulle land heen te kyk en te besef dat hulle dit al reeds verloor het. Vir ‘n vader om eendag aan tafel die moeder se hand te druk en te vra hoe die familie sal voel om na die onbekende vreemde te verhuis. Vir my, as buitestaander, is dit deels moeilik en deels maklik om in te dink. Ek het nie die emosionele verknogtheid aan hierdie valleie nie—maar ek kan my die verlies nogtans indink. ‘n Boer en sy grond is een, want in baie gevalle definieer die een die ander. Dit kon nie maklik gewees het nie.

Eintlik is dit belangrik dat mens moet onthou dat die Voortrekkers nie net getrek het weens een enkele rede nie. Die Engelse regering se inbraak op hulle waardigheid en selfbeskikking was ‘n faktor. Die jarelange geplunder van wilde nasies was nog ‘n groot rede. Die eensydige wetstoepassing, die droogtes, die gesukkel met landbou kommoditeitspryse, die beperkings op die selfverdedigingsregte van geteisterde families—die verbysterende klap in die gesig van Slagtersnek-dit was alles goeie redes. Maar daar was nog ‘n rede en Fourie Schoeman het my hieraan herinner. Die Trekkergesinne was groot, en die Tarka, die Visrivier en die Baviaansrivier was nie onbeperk nie. Selfs tot in onlangse jare was plase klein—veels te klein om ‘n gemiddelde gesin ‘n goeie lewe te kon besorg. Die Voortrekkers moes al hierdie dinge mooi besef en versigtig opgeweeg het voor hulle hulle dramatiese besluit geneem het om die land vir altyd vaarwel te roep. En soos in jare vantevore kon ek nie help om op te merk dat al hierdie tekens vandag weer herhaal word nie. En dat ons volk eenvoudig voortgaan om te trek na nuwe horisonne, netsoos 160 jaar gelede nie. Waar mens ookal kom kan jy maar vra. Een kind sit in London. Nog een in Kanada. Die kleinkinders woon in Nieu Seeland, en die ander studeer in Amerika. Miskien vir goed, en hoewel die ouers verlang, is dit nie altyd dat hulle die kinders ‘n terugkeer toewens nie.

Ons nasie kyk vorentoe en hy sien sy donker wolke op die horison. Miskien met ‘n onbewustelike drang na selfbehoud stuur die volk toenemend sy kinders na nuwe lande sodat sy voortbestaan meer seker sal wees. Maar is daar ‘n voortbestaan wanneer die nuwe geslagte in nuwe lande noodwendig hulle taal, kultuur en gewoontes sal verloor? Dit is vrae wat te groot is vir een aand se gesprek, en netsoos in die Potgieters se tyd kon die Tarka geen raad gee nie.

En so bring ek die nag deur in die historiese woning van Andries Hendrik Potgieter se familie, in ‘n slaapkamer so groot soos ‘n muurbalbaan. In die laat-nag wil mens lê en luister of jy nie nog ou Blouberg se stem saggies kan hoor soos hy en sy bejaarde ou vader Hermanus die meriete van ‘n volksverhuising anderkant die Grootrivier sit en bespreek nie. Maar Commandodrift se opstal sou daardie nag sy stil geheime vir homself hou. Ek kon maar net lê en wonder totdat die nagwind my gedagtes kom bymekaarmaak en stil in die Tarka rivier laat afdryf na ‘n toekoms wat vir my nog net so duister en onseker lyk soos in die tyd van die Potgieters, die Labuschagnes, die Nels, die Vosloos, die Bothas, die Kloppers, Fabers, Krugers, Groblers en ander families wat lank gelede hier gewoon het nie.

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 2


Die volgende dag was ‘n dag wat bestem was om ou vriende te gaan opsoek en te gesels oor tye van weleer. Ek het byna 11 jaar laas die voorreg gehad, en daar was baie om in te haal in die restaurant-tuin van ‘n Langenhovenpark kwekery, en later op ‘n plot aan die ooste van Bloemfontein. My vriende het intussen na ‘n ou huis getrek waar dit glo geil spook. Op die voorstoep is ek in die fynste besonderhede vertel omtrent die aard en karakter van die huishoudelike spook. Spookstories het ek al bitterlik baie gehoor, en ek het selfs ‘n nag in ‘n spookhuis deurgebring waar ek self die voetstappe op die dak en geluide gehoor het—so erg dat die plafonne gedreun en vuilgoed uit die krake neergesif het. 

Ek is egter nie ‘n persoon met ‘n groot belangstelling in die bonatuurlike nie, en het dus maar lankoniek daaraan herinner dat die oumense altyd gesê het dat jy ‘n rooi hond moet kry. Spoke is glo bang vir ‘n rooi hond. Hoekom weet ek nie. En as ‘n spook jou jaag moet jy oor ‘n water-stroompie spring. Spoke is bang vir water en sal nooit oor ‘n stroompie trek nie. En die beste van alles—wanneer mens ‘n spook met kookwater gooi, forseer jy hom om in sy oorspronklike gedaante te materialiseer. Persoonlik glo ek natuurlik ‘n lading dinamiet is enige spook—en spookhuis—se finale moses. Ek bly oortuig daarvan dat dit beter sal werk as kookwater, rooi honde of waterstroompies.

Een ding van tyd is dat dit jou soos ‘n ou blinde vrou in die donker bekruip—stadig, onverwags en van agter af. Voor jy weer sien gryp dit jou met ‘n seningrige arm om die nek, druk jou oë toe met benerige vingers en fluister skor in jou ore: “Raai bietjie wie’s hier!” So was dit ook met my. Die klein dogtertjie wat ek 11 jaar gelede geken het, trou volgende jaar met ‘n aantreklike jong man op ‘n groot rooi motorfiets. Ek is nie eers die ouer nie, maar dit het my keel onwillekeurig laat toetrek. Maar dis ten ene male die weg van die lewe. Voor motorfietse was dit ‘n jong man op ‘n wilde perd. Niks verander regtig nie. Die kêrel dra egter my goedkeuring weg, en toe hy begin gesels oor voorvadergrafte en waar die Kruger miljoene na bewering op sy oupa se plaas onder ‘n bloekomboom begrawe lê—wel, toe is ons so goed as familie! My ore lig altyd as die Kruger miljoene genoem word. Vandat my oupa na ‘n toegevalle bergingsgrot uit die Anglo-Boereoorlog gegrawe het toe ek ‘n klein seuntjie was, het ek ‘n fassinering met gesonke skepe, verborge skatte, en ander eksotiese legendes.

Daardie aand gaan kuier ek by Cobus en Martie Venter wat net om die draai van Marthinus Jordaan se gastehuis woon. En weereens word dit ‘n leersame ervaring. Met die intrap-slag sien ek hierdie is een van ons, want die sitkamer se muure staan toe van leêrs vol navorsing. Cobus en Martie het ‘n interessante benadering tot genealogie. Hy het sy lessenaar met rekenaar en sy het hare—reghoekig tot mekaar gerangskik in dieselfde vertrek. Hy doen sy stamme en sy doen haar stamme. En so deel hulle baie vriendelike uure in wat anders moontlik ‘n stokperdjie van relatiewe eensame afsondering kon gewees het. Ek ken Martie al ‘n jaar of twee vanweë ons gemeenskaplike navorsing op die Kolbe tak. Marthinus het my egter gewaarsku dat Martie en Cobus twee van daardie beskeie navorsers is waarvan min mense weet, maar wat enorme groot en goeie werk doen. Dit was inderdaad ook die geval. 

Daardie nag sit ons tot laat en krap tussen die beendere van ons voorvaders. Martie wys my waar daar ‘n groot fundamentele fout in my Van Breda geslagsregister lê—en dan kom die foto’s en leêrs vol afskrifte van testamente, sterftekennisse en ander bewyse tevoorskyn. Met verwondering besef ek opnuut hoeveel waardevolle materiaal daar altyd is waarvan ons nog net nie weet nie. Vir die eerste keer sien ek foto’s van ou karakters op ons stamboom waarvan ek nie gedink het dat ek ooit ‘n afbeelding sou kon sien nie. Pragtige afskrifte, almal van hulle. Een foto bevat selfs ‘n spook in die bekende ou Van Breda woning naby Bredasdorp. So ‘n klein, vaal mannetjie wat dofweg eenkant op ‘n stoel sit en die kamera met ‘n suurse kykie dophou. Ek glimlag maar en vertel Martie dat ek al voorheen sulke spoke gesien het. Ek het self so ‘n spook-foto. ‘n Pragtige spook van ‘n meisietjie in Voortrekker klere wat bo die Voortrekker monument hang tydens die inwydingsfees. Die spook hang egter mooitjies 90 grade skeef, sodat ek glo dat hierdie “spoke” meer ‘n oorsprong het by primitiewe donkerkamer tegnieke as wat dit het met rustelose gesê wat rondswerf as straf vir hulle sondes. In iedere geval, sou ek ooit die Van Breda woning besoek moet ek tog onthou om ‘n blik Doom saam te neem en die stoel te gaan afspruit—net om seker te maak…
Die "spookmeisietjie" in die lug bo die Eeufees Gedenkterrein

Cobus en Marthie is al tien jaar met genealogie besig en het in hierdie tyd reeds ‘n enorme hoeveelheid werk gedoen. Aangesien ons belangstellings oorvleuel het ek meer na Martie se werk gekyk. Sy is een van daardie navorsers wat ‘n uiters konserwatiewe benadering tot navorsing volg sodat haar data-integriteit werklik hoog is. As jy oor ‘n datum uitvra, kan sy baie keer vir jou ‘n fotostatiese afdruk van die oorspronklike brondokument wys. Om met sulke navorsers te kan werk is werklik inspirerend en dit laat mens opgeruimd en entoesiasties voel om self nog meer moeite te doen om seker te maak dat jou eie werk van gehalte en kwaliteit is. 

Ooskaapse Reisverslag 2005 - Deel 1


In die film Gladiator het Maximus aan sy troepe gesê: “What we do in life echoes in eternity.”

Ek dink soms hieraan as ek met die tydsame moeite van ‘n argeoloog vee oor die spore van ons voorvaders wat begrawe lê in die waai-sand van tyd. Mens kan nie help om te wonder hoeveel van ons antieke voorouers se dade nog in ons tyd ‘n impak het nie. Gewone mense kyk in ‘n spieël en sien bloot hulle eie beeld—‘n twee-dimensionele beeld wat vlak en eentonig terugstaar sonder emosie. Hulle sien nie want hulle oë is dof en blind van onkunde. Maar ons wat genealoë is kyk in die spieël en sien ons voorvaders—en hulle vaders en vaders se vaders—wat agter ons gesigte terugstrek tot in die grysheid van ons verlede.

Daar kyk ons na ons eie beelde en soek na die tekens wat ons voorvaders vir ons laat beërwe het—gelaatstrekke en karaktereienskappe. In ons eie gesigte soek ons met ‘n mengsel van opwinding en vrees na oorblyfsels van die heldhaftigheid en skandes wat ons vaders en hulle vaders oor tyd laat eggo het. Dit, ten minste, is een van die redes waarom ek maar altyd bly terugkeer na die studie van name en datums van persone wat lank reeds gesterf het. Vir baie is hulle blote inskripsies op grafstene. Maar vir my, en vir diegene wat deur die lense van die bril van die genealoog kan sien, verteenwoordig elke persoon nie ‘n dood nie, maar ‘n lewe. Iemand wat gebore was om spore in tyd te trap, wat kon liefhê en vrees, wat kon droom oor die toekoms waarvan ons vandag die gevolg is, en wat ook maar menslik bly wonder het oor die verlede. Ek wonder dikwels wat ons ou stamvaders sou gesê het as hulle kon weet watse groot nageslag hulle eendag sou hê—hulle wat dikwels self so amper-amper deur die traumatiese gebeurtenisse van die geskiedenis ingesluk en uitgewis kon gewees het.

Elke jaar in Oktober probeer ek dus ‘n reis onderneem na streke waar my voorvaders gewoon, geleef, gewerk en gesterf het. Weliswaar is die spore van hulle inwoning dikwels nie meer daar nie. Die hopies grond van hulle grafte is lank reeds gelyk gespoel, en die stene wat hulle moes merk, het lankal reeds verdwyn. Maar tog bly daar ‘n konneksie. Iets wat die stroom van tyd oorbrug en wat dit moontlik maak om die oumense van die verlede weer die hand te reik—en kennis te maak. Al is dit ook hoe newelagtig. Daar bly nogtans iets wat aan mens roer wanneer jy op grond staan waar jou voorvaders geleef het. Dit laat mens rondkyk na die hemel en die berge en woordeloos knik, soos ‘n Zoeloe by ‘n voorvadergraf wat saggies prewel: “Sawubona Baba”—Ek sien jou my vader.

My eerste skof was op ‘n winderige, stormagtige aand. Ek sou vroeër die middag al ry, maar daar was te veel sake om af te handel en ek mos omdraai om vir iemand iets te gaan optel wat vergete gebly het. Dit het my mooitjies in die 4-uur spitsverkeer geplaas en gemaak dat die reis na Bloemfontein redelik inspannend was. Neute en biltong het die pyn verdoof maar dit kon ongelukkig nie slaag om die frustrasie te demp van talle motortjies en bakkies en bussies met naweekgangers wat bestuur ‘n toets van geduld maak nie. Ek noem dit die kokkerot verkeer. Na sononder op Vrydag en Sondag-aande kruip al wat ‘n onpadwaardige en oorlaaide voertuig is mos versigtig uit—nes kokkerotte na die ligte-uit sein. Veilig in die wete dat die spietkops rustig by die huis lê en Sewende Laan kyk. Dan poer hulle teen 60 die opdraandes uit en snel teen 80 die afdraandes af met een geel, flikkerende hoof-lig en ‘n gestert-waggel wat getuig van skokbrekers wat in Jan van Riebeeck se tyd al van ‘n ossewa afgesteel was. Die nuwe geslag onder hulle jaag weer verby teen 140, rem dan skerp en daag jou uit om hulle, plus drie lorries wat kop aan stert sit en aankruip weer verby te steek sonder om deel van die land se ongeluk statistiek te word. Dis nogal ‘n ervaring, om drie lorries en ‘n kokkerot-motor verby te steek sonder om die klankgrens te breek en die spietkops wakker te maak. Die adrenalien het darem ‘n opkikkerings-effek—veral op ‘n donker nag met donderstorms en plek-plek reën naby Ventersburg en Winburg.

So kom ek uiteindelik Bloemfontein ingesluip met ‘n motor wat die middag gewas was, maar nou vuil en vol strepe is. Elke vetkol, bloedsmeer en wags-streep die selfmoord-briefie van omtrent twaalf duisend motte, muggies en muskiete tussen die Goudstad en die Rosestad. My plan was om die eerste twee aande by die gastehuis van Marthinus Jordaan tuis te gaan. Marthinus, soos meeste van ons weet, is een van die ou aristokrate van genealogie met sy asembenemende groot Jordaan geslagsregister wat onlangs publikasie gesien het. Die kennismaking was inderdaad ook meer as die moeite werd. Marthinus se “DieStatige Gastehuis,” is in ‘n rustige, boomryke straat van Universitas geleë—gerieflik naby die snelweg en digby die hospitaal, universiteit en ander aantrekkings. 

Marthinus was so hoflik om my met Vrystaatse koffie te ontvang en tot laat te sit en gesels oor die verlede. Ek wens Marthinus geluk met sy doktorsgraad wat hy nie lank gelede verwerf het nie, en die gesprek draai spoedig na ons gemeenskaplike belangstellingsveld—ons Waldensiese voorvaders. Betreklik min mense dra meer as net ‘n oppervlakkige kennis omtrent hierdie uiters interessante voorvaders van ons Afrikaners, deels waarskynlik omdat hulle deur populêre geskiedenisbronne hoofsaaklik onder die meer generiese vaandel van “Hugenote” geklassifiseer was.
Marthinus Jordaan voor Die Statige Gastehuis

Die Waldense was natuurlik ‘n uiters interessante groep mense wat vir hulleself ‘n enorme hoofstuk uit die Europese geskiedenis gekerf het. Inderdaad is die Waldensiese era met soveel onskuldige martelaarsbloed gewas dat dit ‘n monumentale verhaal nagelaat het wat eenvoudig nie misgekyk kan word nie. Ongelukkig is by verre die meeste Waldensiese geskrifte lank reeds vernietig is. Tog kan mens selfs uit die annale van hulle vyande aflei dat hierdie dapper manne en vroue epiese lewenservarings deurgemaak het wat sonder enige oordrywing, net so aangrypend en dramaties was as enigiets wat Hollywood al op die silwer-doek kon vaslê. Die Waldensiese beweging se oorsprong lê baie ver terug in tyd—en die wortels daarvan kon volgens antieke skrywers soos biskop Sylvester, tot na die Apostoliese era teruggefors word. 

As ‘n geloofsgroep, het die Waldense baie kontrasterend van hulle mede-landsgeote in die streke van Piedmont, Angrognia, Luberon Provance en Languedoc in die suide van Frankryk verskil. Inderdaad was die Waldensiese beweging op ‘n stadium so groot dat die oor dele van die Italië, Duitsland en Switzerland gestrek het, en selfs tekens gelaat het sover as die oos-Europese state. Die Waldensiese beweging van was die staanspoor af gekant teen baie tradisionele Katolieke gebruike, en was veral ingestel op ‘n buitengewone hoë peil van sedelikheid, werksetiek, eerlikheid, opvoeding en geloofs-reinheid. Om die waarheid te sê, die eerbaarheid van die Waldense was so bekend dat die Nobla Leycon die volgende inskrywing opgeteken het: "If there be an honest man, who desires to love God and fear Jesus Christ, who will neither slander, nor swear, nor lie, nor commit adultery, nor kill, nor steal, nor avenge himself of his enemies, they presently say of such a one he is a Vaudes [sinomiem met “Waldenser], and worthy of death."

Deur die eeue heen het die Waldensiese beweging verskeie denkrigtings deurgegaan, en die oorwegende doktrines het dikwels van streek-tot-streek en van groep-tot-groep verskil tussen die afgeleë bergvalleie. Nietemin, van die mees-opvallendste kenmerke van die Waldense was die feit dat hulle die Sabbat dag onderhou het, dat hulle die Nuwe Testamentse teëkanting teen militêre diens gehoorsaam het, dat hulle die Bybel self oorgeskryf en persoonlik bestudeer het, en dat hulle die Skrif letterlik geïnterpreteer het. Ook dat alhoewel hulle by tye florerend was, hulle ‘n najaag van geld en materialisme en die verdrukking van armes ten sterkste afgekeur het. Verder het hulle hulleself ook die gramskap van die Roomse kerk op die hals gehaal deur nie die doktrine van pouslike onfeilbaarheid ondersteun het nie, en deur ander sienings rondom die doop, die hiernamaals, en Katolieke kerk-tradisies soos die vrykoping van sonde te huldig. Dit het die kerkvaders ook nie geval dat hulle predikers in tale gepreek het wat gewone mense kon verstaan nie, en die Bybel beskikbaar gemaak het aan die massas nie.

Een van die inkwisisielede, Rainier Sacco, het geskryf hoe Waldense geïdentifiseer kon word. “By their manners and their language,” kon hulle geïdentifiseer word, het hy geskryf, “for they are well-ordered and modest in their manners; they avoid pride in dress... They do not amass wealth, but content themselves with what is necessary. They are chaste... temperate in eating and drinking... [and] do not frequent taverns or dances... They labour constantly... they may also be known by their concise and modest discourse; they guard against indulging in jesting, slander, or profanity.[1]

Die Waldensiese beweging het natuurlik die Protestantse Reformasie met geslagte voorafgegaan, en het daar by tye oorvleueling met die Reformasie sodat die geskiedenis soms sukkel om ‘n akkurate onderskeid tussen die twee bewegings te tref. Nietemin, uit hierdie groep verdruktes wat vir honderde jare lank ‘n vlugtelingsbestaan in die voetheuwels van die Pireneë en Alpe gevoer het, het baie van ons Suid-Afrikaanse families gestam. So kan ons verwys na my eie familie Minnaar/Mesnard/Maynard, sowel as Le Grange, en ander families soos Cordier, Durant, Faure, Hugo, Lombard, Malan, Meyer, Olivier en Roux, waarna Marthinus in sy proefskrif verwys. 

Verskeie van hierdie families het in 1688 na Suid-Afrika gekom op die HOIK spiegelschip, die “China.” Hierdie skip word betreklik algemeen verkeerdelik as die “Berg China” geïdentifiseer in byna alle geskiedenisbronne. In die suide van Frankryk het die Waldense verskeie oorloë en kruistogte teen hulle deurstaan. Die wat gevang was, is op onmenslike wrede wyse doodgemartel of mishandel. Deur die eeue heen sou duisende lewendig verbrand word, of in kookende olie sterf. Party sou gehang word, of as teiken deur boogskutters gebruik word. Ander was op die wiel gebreek of lewend in stukke gesaag en vir wilde honde gegooi om verskeur te word. Sommiges is uit torings gegooi en ander is gestenig of op diaboliese wyse stadig met gloeiende ysters doodgefolter. Die tonge is uitgeruk, oë is uitgesteek, en ore en neuse is afgesny. En tog, getuig geskrif op geskrif van die heldedood wat hierdie martelaars vir hulle geloof gesterf het. So bv is die Dauphinese en Piedmontese Waldense in 1488 deur ‘n gepeupel van 18,000 soldate en gewerfde moordenaars en opportuniste aangeval en in die Aigue-Froid grot vasgekeer en uitgerook. Die wat gevlug het, is voor die voet van kant gemaak. Na die tyd is 3,000 Waldense dood gevind in die grot—waaronder 400 babas, en talle oumense en kinders. 
Waldensiese gevangenis in 'n kerker in Frankryk

In 1558 weer, is een van die Waldensiese leraars, Geofroi Varaile van Busco, in Piedmont, op die brandstapel verbrand. Met luide stem het hy bly sing terwyl die vlamme gebrand het, sodat selfs die skare rondom hom trane in die oë gekry het. Twee jaar voor hom het ‘n boekhandelaar op soortgelyke wyse omgekom omdat hy Bybels versprei het. Hugu Chiamps van Finestrelle se ingewande is lewend uitgeryg, en so ook in die geval van Peter Geymarali, waarna ‘n wilde kat in sy buik geplaas is om hom verder te krap en te byt. Maria Romano was lewendig begrawe by Rocco-patia, Susan Micheleni is dood deur honger en koue, Barholomew Fache is met sabels stukkend gekap, en die wonde toe met ongebluste kalk ingevryf, en Daniel Michelini se tong is uitgeskeur omdat hy God geprys het. Vuurhoutjies is in die vlees van James Baridari se gesig ingedruk en toe is dit aan die brand gesteek. Daniel Revelli se mond is met buskruit gevul en ontlont, waarna dit sy hele kop aan stukke geblaas het. Maria Monnen se wang en ken is van vlees oopgeslag, waarna sy gelaat was om so in gruwelike lyding te sterf.[2] 

So het die wrede moordsug geslagte lank voortgeduur. Soldate en kruisvaarders het by tye onverwags op onverdedigde dorpies toegesak en honderde inwoners brutaal om die lewe gebring, geslaan, in die tronk gegooi en verkrag. Dit was ‘n skrikbewind soos wat die Hugenotebeweging in sy hele geskiedenis nooit geken het nie. Uit hierdie heldhaftige manne en vroue het baie van ons voorvaders gekom—mense wat tot die dood toe getrou gebly het aan dit waarin hulle geglo het.

Met hierdie sobere geskiedenis in ons gedagtes kon ek en Marthinus kuier totdat hy sy seuns na die middernagtelike feesfieringe van Grey Kollege se eeufeesherdenking kon neem. Na ‘n vol dag het Grey Kollege se makietie nie vir my veel aantrekking ingehou nie, dus het ek die aftog geblaas na ‘n gerieflike kamer met ‘n pragtige ou dubbel gietyster bed met koperknope—nes ouma s’n op die plaas.


[1] Monastier, Antoine., A History of the Vaudois Church., New York., 1849., 98.
[2] History of the Waldenses., Wylie., J.A., Cassell and Company., London., 1860.

Ooskaapse Reisverslag 2004 - Deel 5


George, Glentana, en die Swartbergpas

Die res van my verhaal het nie veel met genealogie en geskiedenis te make nie en ek sal dit maar uitlaat. Langs die kus in Glentana het ek en die familie bymekaargekom om ‘n week in die soutlug te spandeer om hopelik van die binneland se roet uit die longe te kan spoeg. Omtrent al wat van genealogiese belang was, was toe ek een middag teen sonsondergang gaan stap het, en op die rotse langs Glentana ‘n gedenkmonumente ontdek het van ‘n gestorwe persoon wie se as waarskynlik daar in die see gestrooi is. Dit lees as volg:

In memory of our beloved son and Boet
Gary Thomas Nefdt
01/01/1969 – 03/03/201
Rest in peace Gaz

Ek is saam met die familie, en ‘n groepie vriend van Amerika wat uitgevlieg het vir die kuier, op ‘n dag uit na dis Swartbergpas, oor na Prins Albert, en toe via Meyringspoort weer terug. Die wonderlike skoonheid van die hele reis het die Amerikaners totaal oorweldig en in ekstase gehad.

Skuins Draai by Colesberg Verby 

Met my terugreis het ek weer vir Mev. Ihnken opgelaai, en haar gesels het die pad terug na Aberdeen grootliks verkort. Ek het eintlik beplan om ‘n paar dae te spandeer op pad huis-toe, maar teen hierdie tyd het ek al boodskap ontvang dat ‘n werker by die werk gevang is toe hy produkte probeer steel het, en dat ‘n ander een byna sy vingers in ‘n ongeluk verloor het. Ek was haastig om terug te kom. Naby Smithfield wou ek oornag by die gastehuis Bokpost, waar ek ‘n ou Kolbe—Kolver verbintenis wou gaan opvolg en familiegrafte wou fotografeer, maar die vriendelike dame het teleurgesteld verduidelik dat hulle besig was met opgraderings en verbouiings, en dat dit nie moontlik was nie. Gevolglik het ek in ‘n Karoo gastehuis naby Middelburg oornag, waar die kamers se geyser nie gewerk het nie, en waar ‘n vriendelike resiesperd vrypostiglik hooi uit jou hande kom vreet. Nogmaals sonder ‘n ordentlik dosis van my aller-belangrike seep agter die ore is die reis hervat. By Colesberg het ek afgedraai om halfpad tussen die Verwoerd-dam en Colesberg, by my ou 1820 Kolbe stamvader se plaas, Eenzaamheid, verby te ry. Dit is altyd vir my mooi wêreld. Ek wonder of ou George Augustus Kolbe en Margaret Downing ooit sou kon dink dat hulle nakomeling nog eendag hulle ou opstal sou kon vind nie. Die pad loop van hier oor die Oranjerivier by Norvalspont, en mens se gedagtes dwaal onwillekeurig terug na die gebeur wat hier rondom plaasgevind het tydens die Anglo-Boereoorlog.

Onze Rust van President MT Steyn 

Net voor Bloemfontein het die honger my weer oorval, en ek het besluit om tog vir eenmaal op Onze Rust, president MT Steyn se ou familieplaas te gaan aandoen vir ete. Onze Rust is jare lank al bekend vir sy gasvryheid en goeie etes. Daar aangekom kon ek egter sien dat daar een of ander geleentheid aan die gang was. Tussen die blink motors het ek my stof-besmeerde wa gaan intrek, en toe die dig-begroeide opstal gaan bekruip. Sommer by die ingang van die tuin het twee of drie kaalvoet-seuntjies verbygekom met windbukse in die hand en het ek geweet: hier is my mense weer! So mik-mik na muisvoëls en tiptolle is die brawe penkoppe die bosse in, terwyl ek restaurant toe gemik het.
Onze Rust - die ou woning van President Steyn
Onze Rust is duidelik ‘n eet- en kuierplek van kwaliteit. Die restaurant is besonders smaakvol en deftig ingerig met goeie porselein en kristal, en pragtige silwerware op die tafel. Gelukkig was ek nie te toiingrig in voorkoms nie, die gebrek aan seep van die vorige nag ten spyte—of so het ek myself ten minste wysgemaak. Diskreet het ek gaan vra of daar ‘n privaat funksie aan die gang was, en die dame het bevestig dat dit so was.

“Maar kom gerus vir ‘n gratis koppie koffie in die kroeg hieragter,” het sy dadelik vriendelik genooi. “Dit is die minste wat ons kan doen.”
Ek wou nog bedank en my heil elders loop soek, maar is behoorlik nie die kans gegun nie. Op die ou end ook maar ‘n goeie ding. Die kroeg was ‘n belewenis op sy eie. Van vloer tot plafoen bedek in ou foto’s uit die Anglo-Boereoorlog, verroesde ou gewere teen die muure, Vrystaatse- en Vierkleurvlae teen die plafon. By die ingang het Colin Steyn—wyle regter Tinie Steyn se seun—se bekende Bittereinder jas van leer, aan ‘n kapstok gehang, met die ou koper verkyker daarom gedrapeer.
Dit was nie hoe lank nie, of ek het ‘n koppie koffie ontvang, en boonop ‘n bord volgelaai met regte boerekos wat van die onthaal langsaan oorgebly het. Die dame het van tyd-tot-tyd kom inloer en so bietjie kom gesels. Sy het vertel dat Onze Rus nog as ‘n familie besigheid bedryf word. Die grond word meestal uitverhuur, en die seuns, wat advokate is, woon almal nog daar.
“Jy moes eintlik hier gewees het as Colin hier was,” het sy gesê. “Hy vertel die mees-interessantste stories omtrent die oorlog.”
”Ek weet,” het ek geglimlag. “Ek het Colin al ontmoet. Volgens familie-legende is ons so vêrlangs familie.”
En is dit nie ‘n aardigheid nie—omtrent oral in die land kan ons Afrikaners inloop en geraamtes begin uitlê, en kort voor lank sal ons seker familiebande vind.
Die kroeg van Onze Rust

Slot 

Onze Rust en sy gulhartige gasvryheid was ‘n wonderlike manier om ‘n lang en aangename reis mee af te sluit. 3,200 kilometer, baie stofpad en so ‘n bietjie moeite en kanse waag, het darem ‘n hele paar herinneringe opgelewer. Wie weet? Miskien, wanneer ons eendag in die katel lê en kyk vir die aasvoëls wat bo ons draai, wagtend op die laaste asem se uitblaas, is hierdie dalk die soort gedagtes wat ons sal koester. Herinneringe aan gebeurtenisse op paaie wat somtyds afgedraai het van die autobahn van die lewe. Dit en familie is kosbaarder as wat ons dink. Ons vergeet soms, maar eintlik behoort ons almal elke geleentheid aan te gryp om ons huidige lewens aan die stories van die verlede te verkleef. Uit die verlede word die toekoms gebore, en in die newels van geskiedenis, sien ons dikwels die sonsopkoms van ons toekoms.

Hier in Johannesburg sien ons dit nie altyd nie. Partymaal moet mens eers terugdink en so bietjie jou verbeelding gebruik.

Ooskaapse Reisverslag 2004 - Deel 4


Van 'n Vermeende Tsotsi tot 'n Gentleman

Die volgende oggend dou-voor-dag het ek my breek-deposito gaan terugvra, en met ‘n sinkende gevoel weer teruggedraai sodat die sekuriteitswag nogmaals inventaris kan neem om te sien hoeveel ek die nag gesteel het.

Nadat hy klaar was en die lys presies geklop het, het ek droogweg opgemerk: “See, I wasn’t a tsotsi after all!”

Hierop het hy breed geglimlag en geantwoord: “No sir, I can see that you are a gentleman!”

Na dit kon ek weer glimlag en die brekende dag in die oë kyk. Ek het nie soos ‘n gentleman gevoel nie, want die pype in die badkamer het gelek en by gebrek aan handdoeke was ek nie lus om in die kar te gaan krap op soek na myne nie, dus het ek maar sonder water die nag deurgebring. Ek doen dit selde, vas oortuig daarvan dat die ontdekking van seep—meer as Gutenberg se drukpers—die beginpunt van ware beskawing op aarde verteenwoordig het.

Somerset-Oos na Graaff-Reinet 

Van die mooie Somerset-Oos na Graaff-Reinet was ‘n mooi pad wat al aan die voet van ‘n lang bergreeks oor die vlaktes gedein het. By Bruintjieshoogte begin die pad klim, en op een of twee plekke kry mens ‘n pragtige panorama oor die uitgestrekte landskap. 20 kilometer verder kon ek die venster oopdraai en die laaste vlieg van Brakfontein formeel vrylaat, naby waar ‘n kraai op die punt was om ‘n platgetrapte jakkals op die teerpad vir ontbyt te kom nuttig. “Daar is geluk by elke ongeluk,” kon ek peins. “Eers word die vlieg ontvoer vanaf sy vriende, familie en bekende landskap, maar dan deponeer die lewe hom weer reg langs ‘n heerlike hoop vrot vleis, en netso werk dinge in die lewe baie keer beter uit as wat dit lyk…”
Die pragtige berge naby Graaff Reinet waar soveel van ons voorvaders gewoon het.
Op ‘n stadium loop die pad deur ‘n verbysterende misbank wat buitengewoon dig en dik aan die voet van die berge lê en wag dat die sonsopkoms sy nukke moet uitsorteer. Die vroeë lig maak die snaakste lig-effek in die misnewels, en met sy skerp kante lyk die spul vir my netsoos die wolk wat die Israeliete bedags deur die woestyn gelei het. Kilometers later spoeg die wolk my weer uit, en kort voor lank trek ek Graaff-Reinet binne. Ek het my met die afstand vergis, en vind die dorp nog haf-sluimerend en grootliks verlate. Dood-honger soek ek ‘n eetplek en kry darem ‘n Steers wat oop is. Ek het eendag iets aakligs in ‘n Steers melkskommel ontdek en eet sederdien nie graag daar nie, maar teen hierdie tyd het ek al net so min kieskeurig gevoel soos die vlieg ten aanskoue van die jakkals.

Ek bestel die grootste ontbyt wat op die spyskaart is, en beplan die dag se roete oor ‘n bord met koue gebakte eiers, en koffie waarmee daar te oordeel aan die smaak duidelik iets bizars verkeerd gegaan het. Miskien was daar Woestersous in die koffiemoer… Die res van die ete is egter goed.

Na ete ry ek bietjie deur die dorp om die groot NG kerk te gaan afneem, en om na die monument oorkant die straat te gaan kyk. Ek word egter deur ‘n lieplapper oorval wat my met alle geweld wil oortuig om my volgelaaide motor aan sy sorg toe te vertrou, terwyl ek binne in die kerk moet gaan rondkyk. Dis miskien die produk van jare-lange agterdog, gekweek in die vuil strate van Johannesburg, maar aan daardie aas byt ek nie. Ek kan nie dink dat die kerk so vroeg al oop sal wees nie, en synde dat die heining om die monument oral toegesluit is en ek nie oor die heining wil kleim en deur die blomme wil ploeter nie, laat ek die lieplapper agter om ‘n ander toeris te gaan lastig val.
Die alombekende NG Kerk in Graaff-Reinet

Aberdeen en 'n Ooggetuie Verslag uit die Tweede Wereldoorlog

Eintlik had ek geen verdere genealogiese ontdekkingstogte beplan vir die dag nie. Ek moes die aand in George wees vir ‘n geleentheid, en sou op Aberdeen stop om ‘n ou dame op te tel sodat ek haar naby George kan gaan aflaai. Ek doen eintlik ‘n vriend ‘n guns, want hy sou andersins van George moes ry om haar te kom haal. Maar eers lees ek van ‘n graf langs die pad, naby die voet van die berge noord van die teerpad, waar daar glo ‘n ou ysterkatel in die veld staan. Blykbaar het ‘n Trekker se vrou langs die pad gesterf, en het hy haar daar begrawe, met die katel wat oor haar graf sou waghou. Volgens die brosjure wat ek lees, staan die katel nou-nog daar. Wel, ek het gekyk en gekyk, maar die katel was nêrens te sien nie. Miskien het ‘n taksi al gestop en hom opgelaai.

Aberdeen is ‘n mooi ou dorpie. In die middel is ‘n NG kerk wat na bewering een van die grootstes in die land is, met ‘n toring wat glo op 50 meter die hoogste in die land is. Die pad maak ‘n sirkel om die kerk sodat jy hom van alle kante kan beskou. Ek neem foto’s van die kerk en die pragtige poskantoor, en verkyk my aan die “Papsak Pub & Grill,” wat met toegerolde garage deure voor die deure en vensters in die oggendson staan en hyg. “Dan maar eerder ‘n pizza by ‘n vuilbek-kelnerin,” sug ek en gaan soek my gas wat ek moet oplaai.

Mevrou Annelise Ihnken is ‘n dame wat haar tagtigs al begin bekruip, en terwyl ek haar bagasie inlaai besef ek al dat hier ‘n groot gesels voorlê wat die pad baie korter gaan maak. Dit was ook so. Haar lewensverhaal was aangrypend. “Ek is ‘n genealoog, en nog nuuskierig daarby,” het Johan Erasmus soms gesê, en wanneer ek my stywe Afrikaner-ordentlikheid waarmee ek grootgemaak is partykeer kan oorkom, kan ek ook nogal nuuskierig genoeg raak om persoonlike vrae te vra. Mevrou Ihnken het beslis nie teleurgestel nie.

'n Pragtige gastehuis in Aberdeen
“I remember it as well as if it were yesterday,” het sy begin, met ‘n krom wysvinger wat voor haar in die lug beduie het. 
“I saw things in that war that you will never, ever forget in you life…” 
So vertel sy my in gebroke Engels met ‘n swaar aksent, breek die Tweede Wêreldoorlog aan toe sy nog ‘n jong tiener dogter was. Teen die einde van die oorlog is Duitsland in chaos, en sy en twee van haar vriende moet vlug na waarheen hulle ookal ‘n heenkome kan vind. Toe hulle in Dresden aankom, moes hulle vind dat daar ‘n reuse invloei van vlugtelinge was, en dat die stad met ‘n volle miljoen hawelose swerwers, basies uit sy nate bars. 

Dieselfde dag nog trek die lugaanval sirenes los, en hulle word van die strate af gejaag na die naaste ondergrondse skuiling. Blykbaar het die stadsbevolking omtrent in enigiets wat onder die grondoppervlakte was, moes skuiling vind. In hulle geval is hulle afgekeer en in ‘n groot kelder onder ‘n gebou ingejaag. Nie lank nie of die bomme het begin val, en toe die aarde begin sidder, het haar vriende skielik rusteloos begin word. Een was ‘n tenkbestuurder wat pas van diens aan die front in Siberië teruggekeer het, en die ander was ‘n radio- of ander tegniese operateur. Om een of ander rede het hulle besluit dat die skuiling nie goed genoeg was nie, en met die meisie aan die arms gesleep, het hulle die gevaarlike straat daarbuite binnegehardloop. Dit ook net betyds, want nie lank daarna nie, val ‘n bom dwarsdeur die hele gebou en ontplof reg binne die kelder waar hulle aanvanklik skuiling gesoek het, sodat nie ‘n enkele siel die ontploffing oorleef het nie.

Anneliese Ihnken - steeds glimlaggend ten spyte van haar droewige lewensverhaal.
“Jy het geen idieë watse angs dit was om in daardie stad rond te hardloop terwyl die bomme val nie,” het sy my vertel. “Oral om ons,” het sy vertel, “het die bomme uit die hemel neergereën en alles onder ons geskud. Die ergste van alles was die rook. Jy kon eenvoudig nie asem kry nie. Ons het in ‘n lang straat beland, en elke huis in daardie hele straat was in vlamme. So het ons blindelings voortgehardloop totdat ons die enigste huis in die hele straat gekry het, wat nog gestaan het.”

Teen hierdie tyd was hulle so moeg dat hulle by die huisinwoners kom vra het of hulle daar asiel mag kry. Die huisinwoners het ingestem, aangesien hulle by die ingange wou waak, en vir haar en haar vriende verlof gegee om in hulle beddens te slaap. Die volgende oggend is hulle egter met ‘n groot geraas uit die huis ontruim nadat daar ontdek was dat ‘n bom wat die huis getref het, nog onontplof deur die muur van die kelder gesteek het. Met dié het die bombardement weer losgetrek, en het hulle doelloos die strate ingehardloop—sy sukkelend om haar geswelde voete in haar enkel-hoë stewels te kan inkry. By ‘n sekere straat het ‘n bom langs hulle ontblof, en die drie het reg langs mekaar op die sypaadjie neergeval. Nog bomme het geval, en toe daar weer bietjie stilte kom, en sy omkyk, het sy haar vriend die tegnikus langs haar gehoor kerm: “My knie—my knie!”

Dresden, na die bombardering.

Dit ontdekking was verskriklik. Sy hele been onderkant sy knie het aan net twee of drie senings gehand, plus die verflenterde oorblyfsels van sy broekspyp se materiaal. Sy knie was vergruis deur ‘n klip so groot soos ‘n pomelo.

Met groot moeite het sy en die tenkbestuurder hulle vriend, hinkend gehelp tot by ‘n groot ou Mercedes wat tussen die puin gestaan het met ‘n houtskool-brander in die kattebak ingebou. Hier moes hulle by die bestuurder smeek en soebat dat hy hulle na die hospitaal moes neem. Sy beswaar was dat hy deur sy werkgewer gestuur was om kos te gaan koop, en dat hy nie nou tyd het om ambulans te speel nie. Hy het hom egter laat ompraat, en hulle vriend het veilig by die hospitaal aangekom.

Ek en Mev. Ihken drink tee by 'n piekniekplek in die Langkloof
Jare na die oorlog, vertel sy, het sy hom weer gaan opsoek. “But he was—you know? Not the same man anymore,” het sy nakenkend vertel terwyl haar vaal-grys oë ver verby die Karoo se vlaktes oor meer as ‘n halwe eeu teruggekyk het. “He was—not pleased because we had not left him there that day. They had put off his leg righ by the hip, you know? And he was not… happy to be alive…”

Maar haar avontuur in Dresden was hierna nog nie op ‘n einde nie. Van die hospitaal af het sy en die tenkbestuurder gehardloop na die stasie sodat hulle kon probeer om uit die vervloekte stad van bomme en skrapnel te kan ontvlug. Toe hulle egter die trein se deur oopmaak was dit tot barstens toe vol vlugtelinge gepak. Hulle was net daar aangesê om te gaan sit en wag vir die volgende trein. So gesê, so gemaak, maar voor die volgende trein eers opgedaag het, het die boodskap hulle bereik: die trein waar hulle sopas weggewys was, het die volgende stad binnegestoom net toe ‘n nuwe lugaanval begin het. Die bomme het die trein reg van bo getref en totaal vernietig. Slegs enkele van die vlugtelinge het die bombardement oorleef. Die meeste ander was gedood of grusaam vermink.

Na hierdie episode het Mev. Ihnken die platteland ingevlug na waar haar tante ‘n plaas gehad het. Hier is hulle later deur die Rusiese soldate oorweldig, en moes hulle elke dag met groot versigtigheid te werk gaan om te oorleef. Haar vader was ‘n Pruissiese offisier gewees, en sy het sy soldatestewels aangehad, wat haar groot moeilikheid kon besorg het. Sy moes derhalwe baie lang rokke dra om altyd haar voete te verberg. So is sy op ‘n stadium deur die Russiese soldate aangesê om die koeie te gaan melk. Sy, wat ‘n stadsmeisie was, kon natuurlik geen druppel melk uitkry nie, en toe die Russe dit sien wat dit vir hulle baie snaak. Sy is summier van haar plig onthef en aangesê om ‘n mishoop met ‘n kruiwa te gaan wegkry. 
“Dít,” het sy met ‘n laggie van trots gesê, “kon ek baie goed doen. Maar op ‘n sekere plek het die voorwiel vasgeval en ek kon die kruiwa nie beweeg nie. Dis toe dat ek vir die naaste soldat gesê het: “Du—hilfen Sie mir!” Dood gedweë het die soldaat haar kom help met die kruiwa.

Op hierdie manier, vertel sy, het sy geleer dat Russiese soldate van nature baie gehoorsaam aan skerp bevele was. Sy het hulle geleer bestuur, vertel sy. Maar wanneer hulle dronk was, het sy onmiddelik die vlaktes ingehardloop, want dan het die soldate geen rede verstaan nie. Naderhand dreun ons om die draai naby Willowmore, en haar storie gaan nog steeds voort. 
“Somtyds het die soldate by ons aangekom, en dan wou hulle kos en ander benodighede hê,” het sy voortgegaan. “Maar dan het ek eenvoudig vir hulle gesê: “Papiere, Kommandant?” en as hulle geen rekwisisie bevel kon toon nie, het ek eenvoudig vir hulle gesê: “Ach, ja-ja—bye-bye!”

Haar ervaringe in Duitsland het tot ‘n einde gekom in 1945 toe sy in ‘n gebroke en werklose Duitsland as 18-jarige ‘n adertensie vir ‘n pos as goewernante in Suid-Wes gesien het. Haar applikasie het misluk, maar toe die aanvanklike applikant siek geword het, is sy tog laat kom. In Suid-Wes het sy op haar eie ‘n nuwe bestaan begin maak. Sy is getroud en het ‘n seun gehad, maar haar man het haar nie lank daarna nie verlaat, en sy weet nie of hy vandag nog leef of wat van hom geword het nie. Selfs haar seun, sê sy, het sy laas in 1986 mee gepraat. Hy woon in Duitsland as radio en TV tegnikus. Dinge het skeefgeloop toe sy geweier het om sy huwelik in ‘n Katolieke kerk by te woon. Ek vra toe of sy nie dink dit is tyd om dalk weer met hom kontak te maak nie, waarop sy net haar kop geskud het. “Nee wat,” dit is al te lank gelede. So vertel sy my van haar lewe in Suidwes. Hoe sy op gevorderde leeftyd vir ‘n paar jaar terug is Duitsland-toe, en daar haar bestuurslisensie bekom het toe sy ‘n paar dae langer vir haar vlug na Suid-Wes moes wag. Sy bestuur vandag nog met daardie Duitse lisensie!


Na al die jare van swaarkry sy nog steeds die hart van 'n jong meisie gehad.
Uiteindelik kon ek nie wag om te vra of sy nie maar haar eksotiese lewensverhaal op skrif wou stel nie.
Hierop het sy dwars gedraai en my met opregte verbasing aangekyk terwyl sy vra: “But why? Who would ever be interested in my stories?”

Ek het probeer verduidelik, maar sy het dit eenvoudig nie ingesien nie. Om vir my haar lewensverhaal te vertel was een ding, maar op die groot skaal van die lewe om haar, kon sy eenvoudig nie sien dat haar ervaringe enigiemand anders sou interesseer nie. Hierop het ek nadenkend in die pad bly staar, terwyl die wolke van die Tweede Wêreldoorlog nog in my gedagtes bly draai het. Dit het terselftertyd na ‘n vreeslike opwindende en ook ‘n besonders-treurige lewensverhaal geklink. Vandag woon sy in Aberdeen omdat sy nie met haar inkomste meer in Duitsland sou kon oorleef nie. Sy het geen vriend daar nie, en het eenvoudig op Aberdeen besluit toe Suid-Wes onafhanklik geword het. Sy het gehoor dat die berge naby Aberdeen soos die berge van Suid-Wes lyk, en dit was vir haar genoeg.

Ek dink amper my oupa het op ‘n dag vir my gesê, “my kind, die lewe is nie jou maat nie.” Ek het aan Mevrou Ihnken se lewe bly dink en ek het geweet dat die woorde waar was. Hy is waaragtig partykeer net nie jou maat nie.